ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

My voete loop na Wellington

First published in Beeld, April 2019

(Since this article has been published some details might have changed)

Wellington: Die onontdekte Bolandse juweel

Wellington is die (redelik) onontdekte juweel van die Boland. As’t ware die Aspoestertjie wat reeds haar baltabberd aanhet, maar nog raakgesien moet word.

Beleef Breytenbach Sentrum

Begin jou dag by die Breytenbach Sentrum waar kunsuitstallings, tekstieldruk en mosaïekwerke in die tuin jou begroet. Daar is ook ‘n boekwinkel waar jy met ‘n armvol boeke uitstap.

By die Bordienghuis word konserte en boekbekendstellings (kyk op hul webwerf) gehou.

Op elke laaste Woensdag van die maand word ‘n wynproe deur die wynprodusente van Wellington aangebied. Die toegangsfooi van R50 sluit die proe van ‘n reeks wyne in. As hongerpyne begin knaag, is daar pizza te bestel.

www.breytenbachsentrum.co.za

‘n Perfekte plek vir koffie in Wellington

'n Skildery van Perfect Place in een van hul knus vertrekke

‘n Skildery van Perfect Place in een van hul knus vertrekke

Net mooi tyd vir ‘n koppie boeretroos? In Kerkstraat kan jy by Perfect Place in die tuin, op die voorstoep, of knus binne aansit, veral as jy lees: Dis makliker om maer mense te ontvoer; eet dus koek.

In aangrensende vertrekke is antiekware te koop:‘n houttabakfles circa 1890, ‘n Victoriaanse medisynehoutkissie, ‘n kleurvolle Monk&Glass vlapoeierblik en ‘n houthobbelperd.

Op die mure is ou plakkate van vanmelewe soos dié van ‘n Jamie Uys-fliek, ‘n versamelaarskartonplakkaat waarop ‘Eendragt maakt macht’ staan en ‘n advertensiebord van Pens en Pootjies Gastehuis in Bloemfontein.

As jy hoor Perfect Place bedien al 14 jaar lank koffie en koek aan Wellingtonners en toeriste, dan weet jy sommer hulle het ‘n suksesresep.

www.theperfectplace.co.za

‘n Bielieburger by The Stone Kitchen

Met die inry let ‘n mens eers twee hondesilhoeëtte op ‘n klipmuur by die ingang op. Dis die twee geliefde hondekinders van Dunstone-wynlandgoed, ‘n Weimaraner genaamd Rosé en ‘n rifrug, Merlot.

Só verduidelik die bestuurderes van The Stone Kitchen na sy haarself op versoek van haar selfoon wegskeur. Ook vertel sy dat mense spesiaal na The Stone Kitchen ry om aan die Dunstone-burger met bokmelkkaas en merlot-uiemarmalade te smul.

www.dunstone.co.za/bistro/

Waar Welvanpas met sy ryke geskiedenis lê

Sodra jy Welvanpas se plaaswerf betree, voel dit of jy in tyd terugreis. Die gewelhuis staan onder stokou skadubome wat – as hulle sou kon praat – menige stories sou hê om te vertel.

Dis die einste plaas waar Piet Retief gebore is en waar hy tot op 26-jarige ouderdom gewoon het. Die Retief-familie woon steeds hier – meer as 300 jaar later!

By die intieme koffiewinkeltjie, Die Ou Meul, kan jy die lekkerste wortelkoek in die dorp geniet en ook wyn proe en aankoop.

Bergfietsryers wat die Welvanpas-bergfietsroetes wil aanpak, begin en eindig by Die Ou Meul. Die roetes is asemrowend mooi, maar, pasop, jy moet fiks wees as jy dit wil aanpak!

www.welvanpas.co.za

Moenie verdwaal op pad na Doolhof nie

Doolhof se wynproelokaal is in skakerings van wit en blou gemeubileer; die diens is flink en vriendelik

Doolhof se wynproelokaal is in skakerings van wit en blou gemeubileer; die diens is flink en vriendelik

Doolhof is nie veel meer as ‘n hanetree vanaf Wellington se kern nie hoewel die Bovlei-Heuwelpad só mooi is dat dit verder voel.

Aan die einde van die pad waar jy by Doolhof arriveer, verkyk jy jou aan ‘n tuinlushof.

In Wellington word dit nog warmer as in die res van die Boland, maar by Doolhof se wynproelokaal betree jy ‘n koel oase waar flink en vriendelike diens geld wanneer jy wyn proe.

Ligte middagetes word op die terras bedien. Piekniekmandjies kan ook bestel word.

www.doolhof.com

Oupagrootjies, oupas, pa’s en seuns

Bosman Wingerdkwekery is al agt generasies in dieselfde familie. Die eerste Bosman was ‘n sieketrooster aan die Kaap.

Nie net is hul bekend vir hul wingerdonderstokke nie, maar ook vir hul gemeenskapsbetrokkenheid. Elke plaaswerker is ‘n aandeelhouer in die plaas.

Bosman-wynproeë word in een van die mooiste kelders in Suid-Afrika aangebied. Die kelder is meer as twee en halwe eeu oud; in een kamer is ‘n wynmuseumpie ingerig.

www.bosmanwines.com

Lig jou hoed vir Linton Park

Linton Park is die oorspronklike De Slange Rivier wat in 1699 deur Willem Adriaan van der Stel aan die Franse Hugenoot, Louis Fourie, toegeken is. Louis Fourie is die stamvader van die Fouries in Suid-Afrika.

Die oorspronklike titelakte is goed bewaar en kan in die herehuis besigtig word as jy mooi vra.

Die herehuis huisves ook die grootste versameling koolstrykysters in die land. Jy sal jou boonop verkyk aan die reuse koperpotte waarin ‘n kleuter kan wegkruip sowel as die samovars en ‘n oupa-staanhorlosie.

www.lintonparkwines.co.za

Slaap oor in die hart van die Bovlei-vallei

Oud en nuut vorm 'n goeie kombinasie by Val Du Charron

Oud en nuut vorm ‘n goeie kombinasie by Val Du Charron

Val Du Charron is seker die mees onontdekte juweel van Wellington. Val Du Charron beteken Wagenmakersvallei oftewel Vallei van die Koetsmakers.

Op dié plaas word wyndruiwe en olywe verbou, maar die groot aantrekkingskrag is ongetwyfeld die luukse gastehuis wat oor die hele Bovlei-vallei en die Limietberge uitkyk.

Met die aankoms knipoog ‘n sementengel skeefweg; op die uitgestrekte grasperk staan ‘n lewensgrootte standbeeld van ‘n olifant met ‘n láng slurp én ene van ‘n perd, ewe kordaat met ‘n pluimstert.

Elke kamer – dis vierster-verblyf – het sy eie balkonnetjie wat ideaal is vir oggendkoffie of skemerkelkies.

Nie lus vir ry nie? Val Du Charron het sy eie restaurant.

Lus vir iets dramaties? ‘n Wynproe as teatervertoning kan gereël word. Die wynvertoning behels drie bedrywe waarin Die Swart Gravin ‘n verskyning maak. By Val Du Charron glo hulle dat ‘n versnitwyn soos ‘n simfoniekonsert is… As jy meer wil weet, gaan loer self.

www.vdcwines.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 5, 2020 by in In die Boland and tagged .