ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Green School Suid-Afrika – Groen koring op die land

First published in RooiRose, July 2023

By die Green School knap buite die Paarl in die Kaapse Wynlande word daar nooit ‘terug hok toe’ gemompel as die einde van ‘n skoolvakansie aanbreek nie. Stokkiesdraai kom glad nie voor nie.

Inteendeel, die kinders wil nie met vakansie gaan nie, want hier “gebeur so baie”, lag Alba Brandt, medestigter van die Green School Suid-Afrika.

Die Green School Suid-Afrika is inderdaad soos geen ander skool wat jy al gesien het nie. Vergeet van skooluniforms en skoolgange waar in rye gestap word. Detensie wat selfs op Saterdae by sommige tradisionele skole gehou word – word hier as heeltemal uit die oude doos beskou.  Is jy – of jou ma of jou ouma – toenterdae met ‘n liniaal op die kneukels getik? Dis mos uit die bose, dan nie?

By dié skool is die klaskamers rond. Jy kan soek soos jy wil; nêrens is daar ‘stout hoekies’ vir stout kinders nie.

Vir die kleintjies is daar hangmatte en sandputte met dwergkruiwaentjies. As daar ‘n pikkie met skeidingsangs is kan een of beide ouers op die skoolgrond by die koffiewinkel Coffee Pod sit en werk, selfs heeldag sou dit hulle pas. Boonop mét ‘n uitsig oor die Bolandse berge.

Skooldrag blyk vir die voëls te wees – hier kan jy elke dag dra net wat jy wil, mits dit natuurlik binne algemene riglyne val. Gedurende pouse sit almal by lang tafels en geniet ‘n plantgebaseerde maaltyd van restaurant-gehalte. Weeklikse saalbyeenkomste word om die beurt deur die verskillende grade aangebied.

Kortom, alles wat by die Green School gedoen word, is kindgesentreerd.

Ken jou wêreld

Green School Suid-Afrika is een van net vier groen skole ter wêreld. Die eerste leerlinge het in Februarie 2021 die skoolperseel betree. Die oorspronklike Green School is in Bali  ̶  hul deure is al sedert 2008 oop; in Nieu-Seeland het die susterskool in 2020 geopen en Mexiko open binnekort.

Goed begonne is half gewonne

Alba Brandt borrel oor van entoesiasme as sy vertel hoe dit gebeur het dat sy en haar man, Herman, Suid-Afrika se groen skool gebou het.

Ná sy in 2008 na ‘n TED Talk-video van John Hardy, stigter van die eerste Green School, gekyk het, het sy vir Herman gesê: “Sodra die kinders oud genoeg is om te kan onthou, vat ons hulle soontoe.” So gesê, so gedaan.

Toe hul drie dogtertjies onderskeidelik in Graad R, Graad 2 en 3 was, het dié ouerpaar gereken dis ‘n “goeie tyd” om te gaan. Die hele gesin het vir ses maande in Bali gaan woon waar die kinders die plaaslike Green School bygewoon het.

Die Brandts het reeds van anderkant die water begin planne maak vir ‘n Green School sodra hulle weer tuiskom. Daar was 60 aansoeke van regoor die wêreld om ook ‘n Green School te open wat deur Green School Bali ondersteun sou word; die Brandts s’n was een van drie wat goedgekeur is.

Alba verduidelik dit so: “Hoe sal jy dan nou in ‘n land reis waar daar selfone is, terwyl jou eie land net landlyne het, en nie ook die gemak daarvan wil hê nie? Na jou voorsmakie wil jy mos ook jou lewe só verander dat dit tot jou voordeel strek.”

Alles van die grondperseel tot hersonering, van padtoegang tot die gebou se ontwerp – het baie vinniger in plek geval as wat hulle in hul wildste drome kon dink.

Op jul merke, gereed, weg

Vandag is daar sowat 170 leerlinge, vanaf 3-jariges tot Graad 10. In 2024 sal die eerste Graad 11-leerders (en Graad 12 in 2025) hul skoene onder die lessenaars uitskop. Behalwe vir dié wat kaalvoet loop verkies, want dit word ook toegelaat, indien nie aangemoedig nie.

Die leerlinge se ouers kom – behalwe vir die Suid-Afrikaners – van Portugal, Spanje, Duitsland, Kenia en Japan. Baie gesinne het na die Boland verhuis sodat hulle kinders die Green School kan bywoon.

Daar is 30 onderwysers in totaal; elke klas van maksimum 20 leerders het ‘n voltydse Afrikaanse en ‘n Engelse onderwyser.

Green School Suid-Afrika se visie is elke kind moet vóél en gló “Ek is genoeg”. Niemand word in ‘n boks gedruk nie. Elkeen is sy eie mens.

Hierdie visie bou die gees van die skool. Elkeen voel of hul behóórt en hul “eie plekkie” vul. Identiteit en kreatiwiteit is aan die voorpunt van die skool se denke.

Dis waarom die oogmerk is dat daar nooit meer as 500 leerders hier sal skoolgaan nie. Dit beteken ook dat alle ouers en leerlinge insette kan gee, juis omdat die skool klein genoeg is.

Die fokus van die Green School is om die wêreld waarin hul beweeg volhoubaar te maak. Die skool is heeltemal van die netwerk af en het hul eie herwinningsdepot.

Daar is drie komponente in die Green School se kurrikulum (leerplan): akademiese doelwitte, 21ste-eeuse vaardighede en ‘n sterk klem op waardes, wat respek, integriteit en verantwoordelikheid insluit.

Rigiede metodologië het nie vatplek by die Green School nie. Een voorbeeld hiervan is dat hulle probeer om nie angs by die jongeres te kweek nie, wanneer daar byvoorbeeld oor onderwerpe soos uitgestorwe spesies en aardverwarming gepraat word.

“Wys eerder vir die Graad Eentjies ‘n wurmpie in die grond en gesels oor wat die diertjie doen en hoekom hy dit doen, wys die mooi kleure van ‘n skoenlapper,” sê Alba. Leer hulle stap vir stap op hul eie vlak van verstaan en beleef.

“Vóór jy oor plastiek in oseane praat, wys vir hulle wat in die asblik lê en gesels daaroor,” gee Alba nog ‘n voorbeeld.

“’n Skool is soos ‘n brood. Elkeen rys op sy eie manier,” plaas Alba die Green School se onderrigkonsep in perspektief.

Sy voeg by: “Die wetenskap wat ons opvoedkundige benadering steun is verskriklik belangrik asook ons akkreditasie deur NEASC (New England Associaiotn of Schools and Colleges) wat ook  onder andere Harvard en Yale akkrediteer.”

Die kafeteria is KOS-telik

Hoe klink quiche met gekarameliseerde uie, sondroogtamatie en feta? Wat van ‘n spinasie-en-ertjie-frikkadelbroodjie voorgesit met Griekse koeskoes en ‘n appelslaai met bosbessie en amandel? Eerder murgpampoentjie-en-suurlemoen-macaroni (met versteekte cannellini-bone)?

Dís wat op die spyskaart van die Green School se kafeteria pryk.

Die beleid by die skool is dat geen kosblik – of enige ander kos – by die skoolhek mag inkom nie. Uitsondering word wel gemaak vir leerders wat spesifieke allergieë het.

Madelein Roets, voormalige restauranteienaar en Kokkedoor-deelnemer, is verantwoordelik vir die kombuis en die plantgebaseerde spyskaarte.

Tydens oggendpouses kry elkeen ‘n happie soos kaas-en-blomkool-kolwyntjies, pampoen-en-hawermoutstafies of sesam-en-dadelkoekies, gewoonlik saam met ‘n vrug.

Elke dag se spyskaart word fyn uitgewerk. Dit sluit in hoeveel stysel en proteïen elke porsie bevat en hoeveel krag gebruik word. Volhoubaarheid is ook die kombuis se leuse.

Glo dit of nie, die meeste leerders smul aan hul groente!. Dalk help dit dat hulle weet baie van die groente kom uit die skool se eie groentetuin.

Vir diegene wat miskien langtand kou, word daar soms bone in die macaroni of pasteie, of lensies in ‘n pastasous versteek. ‘n Bietjie vermomming het niemand nog skade gedoen nie, glimlag Madelein.

Dan deel sy ‘n kosgeheim uit haar kombuis: “Eiervrugte moet altyd afgeskil word. Kinders, veral die kleintjies, eet nie eiervrug mét skil nie, maar daarsonder kan jy hulle fnuik.”

Madelein bak haar eie brood, slegs volgraan, want “langlewe-brood” het nie ‘n plek op hierdie skoolwerf nie. “Dink daaraan,” raak sy passievol oor wat sy hier verrig, “ons het almal grootgeword op toebroodjies met kaas en konfyt. Hier maak die kinders hul eie broodjies waarop hulle uit eie keuse slaaiblare, tamatie en komkommer stapel.”

Om leerders aan te moedig om nuwe geure te ontdek, kan hulle kies of hulle ‘n proetjie of ‘n porsie wil skep. ‘n Proetjie is ‘n mondjievol, so groot soos ‘n teelepel. Menige keer is dit al wat nodig is; die fiemies verdwyn en hulle kom vra nog ‘n skeppie.

Op die dag van my besoek is daar gortslaai op die spyskaart. ‘n Leerder kom vra vir nog terwyl hy die smaak probeer uitpluis: “Dis rys. Nee, dis nie rys nie. Dis anderste rys. Ek moet sê – ek hou hiervan.”

Elke klas het hul eie lang tafel waar hulle aansit. Dit gee ‘n heerlike geskerts af; die samehorigheid is amper voelbaar. Kort-kort hoor jy “Leinie!” opklink, soos wat Madelein nader geroep word om te verduidelik wat opgeskep is. Hier gee sy ‘n drukkie, daar por sy met humor ‘n neusoptrekkerige enetjie aan met: “As jy minder praat, sal jy meer kan eet!”

Almal word ook geleer om nie kos te mors nie. As jy klaar geëet het krap jy jou eie bord in ‘n skottel uit. Dit skep ‘n bewustheid van hoeveel vermors word, al gaan dit na die komposhoop. Hier duik daai woord weer op: volhoubaarheid.

Wat vir Madelein as ‘n “ongelooflike uitdaging” begin het, is nou die ene lekkerte. Op die tong én in die hart.

Sy voel of dit haar roeping is om juis hier, by die Green School Suid-Afrika te bak en brou.

Net soos wat Alba Brandt voel dat sy – en die res van die personeel – geroep is om ‘n alternatiewe realiteit by die Green School te skep. ‘n Realiteit waar die skoolstelsel nie “’n drukgang” is waar almal “dieselfde kleur haarrekkie moet dra, maar niemand weet meer hoekom” nie.

Green School Suid-Afrika fokus ook daarop om ander skole te nooi om te kyk wát en hoe hulle dit doen. Só versprei hulle die impak van wat hulle self leer en toepas.

“Weet jy wat?,” borrel Alba weer oor, “op Insta(gram) lyk alles pragtig hier by ons, maar dis (nog) soveel beter!”

2 comments on “Green School Suid-Afrika – Groen koring op die land

  1. Tannie Frannie
    January 23, 2024

    Baie interessant en bemoedigend dat die kinders soiets kan beleef.

  2. ilsez
    January 23, 2024

    Uit die gewone ‘skoolboks’-denke, Tannie Frannie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 22, 2024 by in Iemand - of iets - wat my fassineer.