ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

RONDA – ‘N DORP IN TWEE GESKEUR

First published in Die Burger, June 2011

Vergeet van wat om te sien - absorbeer eerder die atmosfeer

Ronda is een van die wit dorpies (pueblos blancos) van Spanje. Ronda het ‘n kleurryke geskiedenis met ‘n skeut berugtheid bygeroer. Reisigers is in die negentiende eeu deur bandaleros geterroriseer, van hul juweliersware beroof en soms vermoor. Sommige rowers soos El Tempranillo The Early Bird het legendariese status verwerf.

Hier moet jy nie aan lighoofdigheid ly nie

Die liedjie “Help me R(h)onda” spring onwillekeurig na vore en raak ‘n draalliedjie. Wat in jou kop bly maal en waarvan jy nie ontslae kan raak nie.  Maar Ronda het nie hulp nodig nie. Ronda is meer as mooi genoeg soos wat dit is.

Malvas lyk amper mooier in die Mediterreense lande

Tog word Ronda deur relatief min toeriste besoek (behalwe in September gedurende Feria Goyesca). Soek jy egter na ‘n paar dinkdae wat deur Spaanse sjerrie (jerez) aangehelp kan word, is dit die plek vir jou.

Ronda is deel van die bergagtige binneland van Costa del Sol, maar dis soveel rustiger as die kus. Baie pueblos blancos is grensdorpies wat spog met fort-kastele , nou stegies, en wit huisies met skaduryke binnehoffies; en dateer uit die tydperk van Moorse heerskappy.

As jy by Ronda se brug staan en na die distrik kyk, is dit wat jy sien

Teen die tyd wat ons in Ronda aankom, was ons sat van soveel moontlik in ‘n dag inprop. Oppad soontoe het velde sonneblomme (girasol in Spaans wat draai-na-die-son beteken) ons reeds in die regte gemoedstemming gebring. Ons wou rus, ronddwaal, sjerrie drink en die klein-dorpie-gevoel ervaar. Ons het.

In die valleie van Ronda lyk selfs vervalle geboutjies mooi

Dinge begin sommer dadelik in plek val. Ons verblyf is goedkoop en het die mooiste Morokkaans-geïnspireerde teëls. Erg Calvinisties spaar ons die lekkerte vir later en stap na die nuwe deel van die dorp. El Mercadillo het ontstaan toe belastings in La Ciudad, die ou deel, verhoog is. Hier’s min te sien, maar Spaanse fraiingserpe is billik(er) geprys.

Maak vooraf planne om breekbare keramiek by die huis te kry

La Ciudad is dramaties mooi. Die skeur, El Tajo, in die middel van die dorp verleen die drama. Die hoofbrug is saans verlig. Hoeveel tonne konkreet was nodig om dit te bou, wonder ons. Later lees ons dat die argitek van Puento Nuevo (nuwe brug) na sy dood geval het toe hy sy hoed wat deur die wind weggewaai is, probeer vang het.

Die dimensies van die brug slaan jou asem weg

Regs van Plaza de Espana is ‘n voetpaadjie langs die parador. Die uitsig laat jou oopmond staan. Soos jy stap, ontvou die vallei – ou plaashuise, laslappie-landerye, vervalle plaasgeboue, selfs heinings is mooi.

'n Deel van Ciudad Vieja van die Nuwe Dorp gesien

Terug op Plaza de Espana – waar ou omies oor die lewe peins, en dalk oor weduwees skinder –  stap ek oor die brug na ou Ronda. Stegies, klipkobbels en kenmerkende wit huisies met verweerde terracotta dakke. Santa Maria la Mayor katedraal, ‘n sanatorium, ‘n laning bome. Selfs ‘n paleis, Palacio de Mondragon, wat uit 1314 dateer. Eers het Moorse heersers hier gewoon; later Ferdinand en Isabella, die Katolieke heersers. La Casa del Rey Moro is nie oop vir die publiek nie. Dis interessant dat ‘n ry Christenslawe gebruik is om emmers water van die rivier na die huis te kry.

Net voor donker stap ons na ‘n deftige restaurantjie wat oor die vallei hang. Bra versigtig gaan sit ons op die oorhangende dek. Teen die tyd wat ons romerige Crema Catalana vir nagereg bestel, het ons al geakklimatiseer. Solank ons stilsit.

Bittereinders is ons ook, want laatnag gaan soek ons ‘n tapas-kroegie. Hier kry ons droë sjerrie en gasvrye Spanjaarde. Nog later strompel ons huis toe. Meer as uitgerus.

Nou’s dit tyd vir minder rus en meer kultuur. Plaza de Toros, die stiergeveg-arena, is van die oudste in Spanje. Dit dateer uit 1785. Dis ‘n eienaardige gevoel om in die middel van die arena te staan; al is dit sonder mense wat olé olé skree. Volgens die museum is nog net een matador in 1820 hier dood. Ons begeer die ou plakkate, gril vir primitiewe dolke en beskou helderpienk matador-mantels as on-macho.

Dis amper hartseer om van Ronda afskeid te neem, maar ons voel verfris en uitgerus.  Die kombinasie van ietwat afgeleë, meer as ‘n proeseltjie geskiedenis, ‘n tikkie argitektuur en ‘n paar skeppies Crema Catalana het die ding gedoen.

Elke huis sy kruis - elke land sy eie probleme

Klimaat:  somertyd is 38°Celsius nie ongewoon nie
 
Pasop vir: muskiete met venynige byte wat maklik ‘n allergiese reaksie ontlok
 
Onthou: gedurende siesta gebeur niks; amper alles is toe
 
Kry jou rigting: dis sowat ‘n uur per motor na Costa del Sol
 
Lees: For Whom The Bell Tolls en Death In The Afternoon – Ernest Hemingway (dié man was ook  oral).

 

Hoe om Crema Catalana te maak
 
Bestanddele:
1 koppie suiker
4 eiergele
1 eetlepel maizena
1 stukkie kaneel
gerasperde skil van een suurlemoen
2 koppies melk
 
Metode:
Klits eiergele en ¾ van suiker tot skuimerig. Voeg kaneel en suurlemoenskil by. Voeg melk en maizena by; verhit stadig. Roer deurentyd. Sodra dit verdik, verwyder van hitte.
Verwyder kaneel. Skep in 4-6 ramekins. Laat afkoel. Plaas  2-3 uur in yskas. Strooi net voor bediening orige suiker bo-op en karameliseer in oond. Siedaar, ‘n Spaanse crème brulee.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 16, 2017 by in Europa.