ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Dans, skep, leef en staan verstom

First published in Beeld, March 2018

(Since this article has been published some details might have changed) (This might not be a travel destination but yet it is in many ways)

(Eintlik is hierdie blog post eerder IETS as iemand wat my fassineer)

Dans by Afrikaburn (’n woestyndisko) asof niemand jou sien nie

“Jy kom om te skep. Daar is nie toeskouers by die fees nie.” Dís die woorde van skrywer Piet van Rooyen in sy boek “Die Brandende Man” wat by die jaarlikse Burning Man-fees in die weste van die VSA afspeel.

Die Burning Man-fees word elke jaar by Black Rock City in die Black Rock-woestyn in Nevada gehou. Dié fees het eintlik in 1986 op Baker-strand in San Francisco ontstaan toe ‘n paar vriende ‘n 2.7 meter houtfiguur van ‘n man en ‘n kleiner beeld van ‘n hond verbrand het. In 1988 het die fees sy amptelike naam van “Burning Man” gekry. In 2015 het 70 000 mense die Burning Man bygewoon.

Die Afrikaburn-fees is die kleinboet van die Burning Man. Sedert 2007 word Afrikaburn in die tydelike Tankwa-dorp langs die Tankwa Karoo Nasionale Park gehou. Die Tankwa-dorp is langs die R355, ‘n berugte grondpad van 250 km lank tussen Ceres en Calvinia. Op die R355 is geen selfoonsein of vulstasies nie.

Dus is jy op pad na Afrikaburn op jouself – en barmhartige Samaritane van wie daar baie in die gees van die fees is– aangewese. Die spreekwoordelike poort na die Tankwa-dorp is die Tankwa Padstal waar jy jou grondpad-dors kan les, ‘n hoed, kralesnoer of jas kan aanskaf om jou tema-uitrusting vir Afrikaburn op te tert en solank self gees kan begin vang.

Jy kom Afrikaburn toe om te skep. Niks – absoluut níks behalwe ys – word by Afrikaburn verkoop of geadverteer nie. Daar’s ook nie ruilhandel nie. Jy kom om te géé. Die ontvang gebeur vanself.

In die verbystap stop iemand jou ‘n gevlegte armbandjie in die hand. Die geur van geelstertsosaties in ‘n braaidrom lok jou nader. Vroegoggend gee ‘n kampplek se moerkoffie met witblits jou skop vir die dag. En daaropvolgende nag.

Die tydelike Tankwa-dorp is rofweg in ‘strate’ verdeel. Die Binnekring is ‘n groot, oop sandplein waar daar altyd iets aan die gang is en waarop die temakampe of –tente meestal uitkyk. Die Buitekring lê agter die Binnekring.

In die Binnekring is daar skouermasserings, fortuinvertellers, toulopers, goëlaars en mutante voertuie soos ‘n Bakgatti waarvoor ‘n Bugatti, ‘n edel en historiese motorhandelsmerk, die inspirasie was. As jy só ‘n omskepte wa, bus of motorfiets wil inbring, moet jy om spesiale toestemming aansoek doen.

Die temakampe sorg vir groot pret. Daar was al die Koffie-Vuvustasie, Rust ‘n Dust, Memory Lane, Camp Skaduwee, Smoke Xcreen, Have you kissed an Alienz today?, Stofadil, Love All, Skyn & Wyn, Boerassic Park (waar ‘n kleinhuisie met pampoene op die dak staan) en Steam Punk Saloon.

By die 100% Naked Birthday Suits kan jy halfgeklee of heeltemal kaal stort; by die Transit Lounge luister jy musiek en by Burning Mail skryf en laat pos jy poskaarte met ‘n Afrikaburn-tema. By Mystical Lounge doen jy joga en tai chi of span jou liggaam as kunswerk in. By Pancake Pozzi kry jy sekere tye van die dag gratis pannekoek. By Sweet Love Cinema word daar flieks gekyk en skemerkelkies helder oordag bedien.

Hoe benader jy Afrikaburn as dit jou eerste ervaring is?

Laat jou deur Piet van Rooyen se woorde lei: “Bou vir jou ‘n skerm wat soos ‘n eier lyk, trek ‘n pakkie van stekelrige besembos oor jou kaal lyf, dans daarmee in die maanlig, dra ‘n silwer hoed, druk ‘n olyf in elke oorholte en saai van jou persoonlike radiostasie uit, Radio Vrye Branding. Ry wydsbeen op ‘n kammakastige sirkusperd, doen ‘n flikflak of ‘n salto as jy soepel genoeg is. Kom net en geniet dit.”

By Afrikaburn spéél jy soos jy laas kleintyd gespeel het. Jou verbeelding werk oortyd. Jy dans asof niemand na jou kyk nie. Jy trek elke dag ‘n ander kostuum aan. Of jy verklee sommer elke paar uur van die dag omdat jy wíl.

Dís waarom jy oor die vlakte ‘n groep burners – soos wat die feesgangers bekend staan – met jellievis-sambrele gestap sien kom. Na ‘n paar danspassies in die son en stof stop hulle jou onseremonieel een van die sambrele met lang kleurlinte in die hand sodat jy daarmee kan tiekiedraai.

Dís waarom amper niemand ‘n oog knip as ‘n kaal man met ‘n uitgeholde wit boksrekenaarskerm op sy kop verbygeslenter kom nie.

Die okselfotograaf het honderde oksels by Afrikaburn 2016 afgeneem en na afloop van die fees die foto's op 'n spesiale webwerf geplaas

Die okselfotograaf het honderde oksels by Afrikaburn 2016 afgeneem en na afloop van die fees die foto’s op ‘n spesiale webwerf geplaas

Dis ook waarom die een burner na die ander hul arms gemoedelik lig sodat hul oksels afgeneem kan word. Na afloop van die Afrikaburn kan jy dan na jou eie oksel – en dié van al die ander deelnemers – op ‘n spesiale webwerf gaan kyk.

Die atmosfeer by Afrikaburn is speels, dis pret, dis vry. Afrikaburn laat jou met nuwe oë na jouself kyk; jy leer jouself van voor af ken – aldus Piet van Rooyen oor die Brandende Man-fees. Hy sê ook: Die manier waarop só ‘n fees jou denke verander, is bedwelmend.

Kortom – by Afrikaburn kom vier jy die lewe.

Temas uit vorige jare sluit in: Speel, Argetipes, Droom en Lugspiëeling

Lees: Die Brandende Man deur Piet van Rooyen ISBN 1-919825-68-1

Trots Afrikaans by Boerassic Park by Afrikaburn

Trots Afrikaans by Boerassic Park by Afrikaburn

2 comments on “Dans, skep, leef en staan verstom

  1. Tannie Frannie
    November 21, 2019

    My bek hang oop!

  2. ilsez
    November 22, 2019

    Dis omtrent ‘n belewenis, Tannie Frannie! Ek kan nie wag om weer te gaan nie!

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 21, 2019 by in Iemand - of iets - wat my fassineer and tagged .