ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Kerk met 40 000 geraamtes

First published in Beeld, May 2015

Jy gril jou dood

dis-sowaar-n-kruik-van-skedels-en-ander-gebeentes.jpg

‘n Kerk van menslike gebeentes. Skedels, ruggraatwerwels, elmboë, vingerbeentjies. Dis erg grillerig. Spookvingers gly teen ons rûe af. Of so voel dit. Hier is immers 40 000 geraamtes in hierdie einste kerk.

Vier verdwaasde Suid-Afrikaners verkyk hulle. Ons bevind ons in die Tsjeggiese Republiek. Na ‘n laat aand in ‘n rokerige jazz-klub maak ons redelik leepoog ons pad na Praag se Hlavní Nadrazi-stasie.

Agtuur op ‘n lente-oggend

Party brom nog onderlangs hoekom ons die dag-ekspedisie juis na so ‘n grieselrige bestemming moet wees. Ek hou my horende doof. Waar anders in die wêreld gaan ‘n mens so-iets sien?

Kwart oor nege na ‘n treinrit

Die stasietjie by Kutna Hora, binne stapafstand van Sedlec waar ons die kerk wil gaan kyk, is kleiner as ‘n middelklas-huis. En redelik verlate. ‘n Deur swaai oop. In ‘n kamertjie net ietwat groter as ‘n buitetoilet sit ‘n tannie wat op ‘n Vrystaatse dorp kon gewoon het. In geradbraakte Engels verduidelik sy waar en hoe nou.

Te voet suiker ons die pad af. Daar’s nie veel om te sien nie. ‘n Paar honderd meter verder hou hul Paasmark. Niemand sprak ‘n Engelse woord nie, maar almal glimlag breed.

Kyk net daai warm skaapvelonderbaadjie!

Ons proe gerookte kasies en heuning. Ons bevoel skaapvelle. Ons wonder wat wag in die All Saints-kerk wat uit 1142 dateer. Een van ons verdwaal in die senuweeagtigheid van die oomblik.

Net mooi tienuur

By ‘n karavaan met flitsende mallemeule-ligte draai ons regs. Tsjeggiese kindertjies ry al in die rondte op halfmas ponies.

Van buite lyk dit maar soos 'n gewone Oos-Europese kerkie

By die kerk aangekom lyk dit maar baie soos ‘n Europese buurtkerkie. Gewone graffies met vars blomme buite. ‘n Toeriste-bussie voor die kerk. Is ons ooit by die regte plek?

Kwart oor tien begin ons gril

Maar toe gaan ons na binne. Al rillende. Oopmond vergaap ons ons aan stringe bene soos feetjieliggies. Iemand moet ons op die skouer tik voor ons onthou om ons kaartjies te betaal. ‘n Volle R16. Wil ons regtig hier binne wees?

So kom ek om, so kom ek om. My lyf is die ene hoendervleis. Daar’s donker skadu’s in die hoekies. Dis ‘n makabere plek hierdie.

My oog val op ‘n familiewapen van bene. Mensbene. Is dit die Tibia en Fibula? En ‘n femur? Hoe het ek nou weer in die Biologie-klas geleer? Dan ook nog skouerbene en kakebene. ‘n Alleenstaande figuur dra ‘n bekkenbeen-rok. ‘n Kraai pik aan die oogbank van ‘n kopbeen. Twee skedels is gebruik om ‘n kroon te bou.

'n Kandelaar van bene

Daar’s kandelare wat uit die dak hang, ook van bene. As ‘n mens aan ‘n kandelaar dink, dink jy aan ‘n paleis. Nie sommer aan ‘n kerk nie. En definitief nie aan bene nie, eerder aan kristal en glas wat twienkel. Die kandelare is so ontwerp dat elkeen uit ‘n volledige geraamte bestaan.  Elke kandelaar is met werwels aan die plafon geheg. Kerse is in die skedels ingedruk. Grrr.

Ons is die enigste Suid-Afrikaners hier. G’n wonder – dis nie jou gewone dagekspedisie vanaf Praag nie. Nie almal wil omring deur dooies wees nie.

Terug in die geskiedenis

Aan die einde van die veertiende eeu was Kutna Hora (ook bekend as Kuttenberg) blykbaar net so groot soos die destydse Londen hoewel ‘n mens dit nou nooit sou kon raai nie. Waar jy nou deur groen velde ry, was daar toe armoedige krotjies. Met die ontdekking van silwer in die 1300’s het Kutna Hora gedy en mense het hiernatoe gestroom – amper soos met die gouddelwery aan die Witwatersrand.

baksteenrooi-en-mosterdgeel-e1524725689620.jpg

Toe die silwer opdroog – en na ‘n verswelgende vuur in 1770 – het die dorp weer leeggeloop tot daar vandag net knap oor die 20 000 inwoners in Kutna Hora is. Toe die Swede tydens die Dertig Jaar-oorlog in die vroeë 1600’s die dorp binne marsjeer, moes hulle met bier – die Tsjeggiese Republiek is steeds bekend vir hul bier – omgekoop word, want die silwer was reeds op.

Lank, lank gelede

Hoe op dees aarde het hierdie eienaardige beendere-kerk tot stand gekom? Na heilige grond van Golgota in die dertiende eeu in die begraafplasie uitgestrooi is, wou elke Jan Rap en sy maat hier begrawe word. Dis nou as jy dit kon bekostig en van die regte stand was.

Na die Dertig Jaar-Oorlog uitgebreek het, het Die All Saints-kerk nie meer plek gehad om mense te begrawe nie. Dit is maar ‘n klein kerkhoffie, het ons opgemerk.

‘n Halfblinde monnik, so lui die legende, het die grusame taak gekry om die spitwerk te doen ten einde die beendere uit te haal. Op die ou end is daar 40 000 mense, of altans hul beendere, opgegrawe, want dis natuurlik al wat van hulle oorgebly het. Die opgegraafde beendere was toe vir sowat drie eeue in die knekelhuis (‘n plek waar ‘n mens beendere bêre).

Frantisek Rint, ‘n skrynwerker, het in 1870 die bisarre besluit geneem – of die bisarre opdrag gekry – om die bene in die stoorkamer te gebruik om die kerk te versier. Wat op dees aarde sou hulle besiel het? Frantisek het sy werk so ter harte geneem dat hy sy eie naam op die muur in bene uitgespel het sodat mense sal kan onthou dat hy die skepper van die beenkuns was.

Bewend om 10h25

Met die afklim van die breë trap na onder kyk jy jou vas in ‘n kruis gemaak uit gewrigte, bekkenbene en kopbene. Skedels loer bo-oor die rand van ‘n kruik. Orals hang stringe bene, veral skedels.

In elke hoek van die grafkelder is ‘n reusagtige klok – soos al die ander kerkversierings –  natuurlik uit herwinde bene gemaak. Teen die plafon is bene, teen die mure is bene, in muurnisse is bene. Ménsbene – jy vergeet dit nie vir een oomblik terwyl jy verdwaas daarna staar nie.

Rillend om 10h30

Halfpad teen die trap af – ons stap maar so skuifelvoet – merk die tandarts in ons geledere ‘n rakkie  met skedels op. Party het aan kopwonde gesterf, ontleed hy. Kyk, hierdie ou se kopwond het herstel; dis toegegroei. Hy moes later aan iets anders gesterf het, borduur hy voort. Jig, bly liewer stil, reken ek. Ek wil liewers nie hiervan weet nie.

Dit raak elfuur

Dit bly grillerig; dit maak nie saak hoe lank jy daarna kyk nie. Dis nie of jy gewoond raak aan die idee nie. Jy kan nie glo wat jy sien nie. Jou brein sê vir jou dit kan mos eenvoudig net nie waar wees nie. Tog verkyk ons ons aan die simmetrie, die delikate inlegwerk, die ingewikkelde ontwerpe terwyl ons besef dat dit ‘n erg tydrowende projek moes gewees het. Deurentyd loop rillings deur ons lywe.

Dalk kan hierdie sleutel die geheim tot die inspirasie van die beendere oopsluit

Ons voel of ons vir ons (of ander mense se) siele moet bid na ons tussen die geraamtes rondgeloop het. Ons bespiegel of die kerk se naam – All Saints – heeltemal onvanpas is, of dalk juis gepas.

Halftwaalf is dit tyd om te gaan

Die dorpie van Kutna Hora

Dis ‘n kort rit van Sedlec waar die All Saints-kerk is, na die Saint Barbara Katedraal in die Ou Dorp van Kutna Hora. Saint Barbara was die beskermheilige van die silwer myners en hierdie katedraal dateer uit 1388. Sommige beskou hierdie Saint Barbara Katedraal as die mooiste katedraal in Sentraal-Europa. Groot torings, klein torinkies, ‘n Gotiese preekstoel, pilare, verbleikte muurskilderye en brandglasvensters. In die middel van die kerk is ‘n standbeeld van ‘n myner met ‘n lantern en ‘n pik.

Ons mae knor om halfeen

In Kutna Hora is genoeg plekkies om bier en rooiwyn te drink

Ons siele voel gereinig. Dit raak tyd vir wyn. Die honger knaag ook al. In ‘n kort stegie kom ons op die Dacicky Kroegrestaurant af.  Binne is dit volgepak met Tsjegge; dus net die plek om te wees. Ons bestel tong as voorgereg. Oeps. Onbewustelik pas dit by die makabere tema van die spokerige kerk waar ons vanoggend was.

Die bloeisels is vroeg in Kutna Hora

Lang wag van drie-uur tot vyfuur

Asof ‘n bose gees ons getoor het, daag die een bus na die ander nie  op nie.. Dis te ver om van die kleinerige middedorp van Kutna Hora na die treinstasie te stap. Ons reën nat. Ons raak moedeloos. Net voor ons heeltemal moed opgee, lyk dit of ons beskermengel weer aan diens is. Die bus arriveer, ons spring amper in die ry uit en is net-net betyds vir die trein terug na Praag.

seugnet-neem-kutna-hora-katedraal-af.jpg

Hoe om daar te kom:
·        As jy al vantevore gereis het waar jou taal nie gepraat word nie, is dit glad nie so moeilik om jou pad na en deur die Tsjeggiese Republiek te maak nie. Ons het onafhanklik – dus nie in ‘n toergroep – gereis.
·        Vanaf Praag, die hoofstad, is Kutna Hora ‘n daguitstappie ver. Die oggendtrein vanaf die hoofstasie, Praha Hlavni Nadrazi, vertrek om 08h10; vanaf Kutna Hora Hlavni Nadrazi is dit net sowat 10 minute se stap om by Sedlec, die beendere-kerk, te kom. Vanaf die kerk is dit 2 km te voet of 5 minute per bus om in die dorpie self te kom.

 

Wat jy nog in Kutna Hora kan sien:
·        Die dorpie van Kutna Hora is ‘n Wêrelderfenisgebied en dit beteken natuurlik dat dit so mooi is en dat daar genoeg is om te sien sodat jy kan ronddrentel om jou oë te laat feesvier.
·        Vanaf die hoofplein, Palackeho Nam, stap jy met Jakubska-straat langs tot by die St James-kerk.  Nie te ver hiervandaan nie, is die Tsjeggiese Silwer Museum waar ‘n toer van ‘n uur en ‘n half onderneem kan word.
·        Die Saint Barbara Katedraal moet onder geen omstandighede misgeloop word nie. Sommige reken dat hierdie katedraal meer indrukwekkend as die St Vitus Katedraal in Praag is.
·        Die pryse van toeriste-aandenkings en juweliersware is báíé laer in Kutna Hora as in Praag. In die enkele antiekwinkeltjies kan jy absolute winskopies raakloop.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 24, 2018 by in Europa and tagged .