ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Hier is dit reg deur die jaar Krismis, my china

First published in Die Burger, October 2012

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

MEER AS ‘N TIKKIE ANDERSGEIT

In die Moederstad is daar ‘n paar poskantore, mooi ou kerke en wonderlike winkels. Kaapstad is nie Slaapstad – soos so baie Pretorianers soms (hopelik grappenderwys) terg – nie. Kapenaars maak – wanneer dit hul pas – hul eie innoverende reëls.

DIS NIE ‘N POSKANTOOR NIE

Nee, dis nie ‘n poskantoor nie, maar dit lyk so van buite! Met ‘n allemintige rooi publieke posbus én rooi persoonlike posbussies in die muur ingemessel. En die naam so ewe THIS IS NOT A POST OFFICE. Niks anders verraai die aangename wanorde wat binne heers nie.

Dit lyk maar net soos 'n poskantoor

Hier’s sneeusproei vir Kersbome, giggelgeel volstruisvere, feetjierokke vir peuters, heliumballonne, gelukbringers, oranje kamma-pampoene, gorilla-maskers en kitsch goue Chinese katte met battery-gedrewe regterpootjies. Of was dit nou linkerpootjies? Hier’s enigiets wat jou kan vermom of jou in ‘n partytjiebui kan plaas. Hier’s meer hoede as in ‘n NG-Kerk van ouds en tussenin stoute veerboa’s.

Jy gaan ver soek vir 'n sexier foonSmall Sonbrille en hoede is orals uitgestal

Soms is hier blykbaar nie ‘n driebeenresies met ‘n eier-in-die-lepel nie, maar wel ‘n handsakresies. Of dit waar is, weet nugter alleen – hier word mos aan fantasie geglo.

This is not a post office

Kloofstraat 114, Tamboerskloof

Tel: 021 423 7817

www.madamezingara.com/thisisnotapostoffice.com/ – die oopmaak van die webblad laat jou al klaar glimlag, en net daarna skrik!

DIS NIE ‘N KERK NIE

Hulle noem hulself die president se geskenkwinkel. Hmmm, ek wonder na watter president hulle verwys.

Alhoewel Comme des Garcons parfuum, T-hemde met stoei-embleme en kaal kewpie-poppies hier verkoop word, kan jy hier inloer net om ‘n oog oor die veranderende winkeldekor te gooi. Tans – hoewel dit vannag kan verander – is die mure in opgepofte goud met ingedrukte knope gestoffeer. Die winkelvenster was ‘n tyd gelede met droë herfsblare beplak – wie anders sal dit waag om hul vertoonvenster te bedek sodat niemand kan sien wat binne-in tentoongestel word nie? ‘n Paar maande later was daar ‘n wanordelike hangende tuin in die einste venster.

'n Rooikop Bruce wil nie na klante by die Church Gift Shop luister nieDalk is dit die president van die (tans) goue winkel

Daar’s nie so baie te koop nie – wel soms iets koels van Bolivië, kitsch-nou-koel sout-en-peperpotjies, ‘n skaap in een of ander vorm, koekiesnyers, so vyf of ag glansbladboeke (waaronder Koekemakranka en The Big Book of Breasts) en retro-speelgoed. Ook miniatuur gaskoeldrankbotteltjies, ou skoolkalenders en serpe met perde-prentjies van Argentinië. O ja, en verweerde strokiesboeke vir versamelaars.

Church Gift Shop

Spinstraat 12, Kerkplein (skuins agter die Groote Kerk)

www.churchgifts.blogspot.com – kyk maar verby die lammetjie met ‘n mes in sy kop wat jou heel eerste met so ‘n Bambi-uitdrukking aanstaar.

‘N WIT HAAS EN ‘N KLOMP GOUE KATTE

As jy vinnig verbystap of –ry, lyk dit maar net soos enige ander wassery met toegewasemde vensters en ‘n ry wasmasjiene daarbinne. As jy die naam dalk raaklees, laat dit jou aan ‘n Chinese voëltjie dink: Wash Wash Cheap Cheap. Eintlik is hierdie wassery se naam White Rabbit, kom jy agter as jy die wasem met jou handpalm wegvee.

Laat 'n haas jou wasgoed was'n Hardebolkeil en waterlelies in 'n wilde wassery

Teen die agterste muur is rye goue Chinese katte – ‘n Chinese instroming met ‘n verskil, want die einste katte is ook erg sigbaar by die poskantoor-kostuumwinkel – op small lysies. Uit die dak hang wit Chinese papierbollampe en hier en daar ‘n kontrasterende swart hardebolkeil. Teen die muur is plastiekwaterlelies vasgeplak.

Vir ‘n vlietende oomblik dink ek aan die beskrywings van die sirkus in The Night Circus (die skrywer van hierdie uiters verbeeldingryke boek is Erin Morgenstern). Ek wonder of hul soms White Rabbit koulekkers in die kenmerkende blou-wit-en-rooi papiertjies uitdeel.

Studente en pensioenarisse sowel as almal wat in die restaurant- of filmindustrie werksaam is, kry nogal afslag.

White Rabbit

Buitenkantstraat 138, Kaapstad

www.madamezingara.com/whiterabbit/

NOOI ‘N SWAAN VIR KERSFEES

Dis min mense wat die waagmoed het om dit wat ín is, te systap en te kies wat hul van opwinding laat tintel. ‘n Plek waar dit in oorvloed geskied, is by Shelley’s Gourmet Kitchen. En dit nogal in Kloofstraat.

Sierlike – en minder sierlike, maar darem blink – swane. Net een eend met ‘n goue snawel sit aspris tussen die elegante swane. Die swaan met die afgeskilferde oranje snawel kry ‘n bos syblomme om beter te voel. ‘n Groepie glaspoedels waak oor almal. Kersversiersels regdeur die jaar. So baie blink dat jy vat-vat na ‘n sonbril.

Rooi harte. Rooi kunsbessies. ‘n Rooi Murano glasbak met sulke krulle wat die lig vang. ‘n Rooi stoel wat aan koraal herinner.Rooi vase. Wit poedels met rooi tonge. Wit getekstureerde muurpapier. Wit tafels en stoele. Wit engeltjies. Baie wit swane. Pienk kolwyntjies onder spieëls.

Alles spel lewensvreugde. En moedswillige andersgeit. Soos die berugte skildery van die orgidee op die trap.Waarvoor ‘n mens selfvertroue moet hê – maar hier het die eienares en die plek dít. Sommer damme met swane vol.

Shelley’s Gourmet Café

Kloofstraat 90, Kaapstad

Tel: 021 424 2740

EK IS LIEF VIR MY WASGOED

Nie net bondels wasgoed nie. Hierso hou hulle ook van kuns, van wyn, en van dim sum.

As jy so koel soos ‘n komkommer wil wees, kan jy hier aan ‘n glas vonkelwyn kom teug terwyl jou wasgoed in die rondte tol. Wat van Brasiliaanse koffie? Iemand met ‘n visie het hier ‘n gier met ‘n verskil na Buitengrachtstraat laat waai. Of is dit wapper?

Sit aan by die lang tafel; loer oor jou skouer na Arno Carstens (hy sing nie net nie) se ongewone kuns (elke drie weke kry ‘n ander plaaslike kunstenaar ‘n beurt); kyk op na die spelerige wasgoedlyn met tuisgebreide wolmusse en vetplante in glashouertjies; en bevind jou midde-in die nuwe neiging in die stad.

Jy kan ‘n T-hemp aanskaf wat met jou wasgoed (en hul winkel) spog terwyl jy jou van die spesiale aanbiedinge oor middagete vergewis.

Op die kamma-soldertjie kry jou wasgoed aandag; terwyl jy op die grondvloer(tjie) aansit en ontspan. Jy kan kies tussen stryk of ongestryk en boonop doen I Love My Laundry verstellings en kan hul ook jou ou denim of verbleikte baadjie kleur.

I Love My Laundry

Tye: 7h00 – 19h00

Buitengrachtstraat 59, Heritage Plein, Kaapstad.

Skakel Mico 083 602 0291 of Clayton 084 660 0777

www.ilovemylaundry.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 16, 2017 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged , .