ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

KRUIE MET DIE SIMONDIUM-PAD LANGS

First published in Die Burger, April 2012

Onderweg, maar net so heerlik as eindbestemming

Dis die pad wat die Kaapse stedelinge ry as hulle vir luilekker middagetes oor naweke na Franschhoek gaan. As jy nie die pad ken nie, kan jy jou misgis deur te dink dis ietwat stowwerig, soms windverwaaid en jy moet maar deurhou tot jy binne-in Franschhoek aankom. Toe nou nie.

Voor jy by die R45 indraai, kan jy gerus vars aarbeie – maar net in seisoentyd – by Strawberry King inlaai. Peusel sommer so in die ry. Of pak ‘n koelerboks in en gooi aarbeie in jou vonkelwyn as jy by die huis kom.

‘n Ponie wat knaend ontsnap

Die eerste indraai is by Lindhorst Wines. Nie meer regs nie, nou aan die linkerkant van die pad. Deesdae eintlik net oop per afspraak; juis daarom sien jy nie meer die trekkerwa met twee poppe wat by ‘n regop wynvat sit en in mekaar se oë staar nie. As die eienaar daar is, nooi hy jou gul na binne en stel die Walliese ponie, Didi (afgelei van Houdini) aan jou voor. As geoktrooieerde rekenmeester in ‘n vorige lewe het hy sy “sommetjies gemaak” en baat dit hul meer om wynproeë aan geselekteerde groepe in Johannesburg aan te bied eerder as om ‘n voltydse wynproelokaal, en ‘n restaurant, te bedryf.

Raak wild by Wilderer’s

By Wilderer’s gaan jy uitslinger as jy hierdie tyd van die oggend al begin grappa proe. Benewens verskeie geure grappa en flammkuchen by die Pappa Grappa restaurant, kan jy ‘n bottel grappa met ‘n sigaar binne-in ‘n glasproefbuis huis toe neem.

Knap duskant is die Bergrivier Resort vir dagbesoekers en kampeerders. Net na jy oor die treinspoor gewip het – die teerpad is ietwat hobbelrig – sien jy wapperende wasgoed en leepooghonde by die plaaswerkerhuisies waarvandaan soms vriendelik gewaai word. Besluit of jy wil afdraai na Le Bonheur om ‘n krokodil se koue snoet te gaan vryf.

Sonder Genis, maar soos ‘n negosiewinkel

Kooperasiestories se mannekyn is misleidend - in hierdie ou skuur is meubels en dalk 'n slaappop of twee te koop

Ek’t nog nie iemand ontmoet wat by Koöperasiestories verbyry en wat níé wil uitklim en gaan kyk nie. ‘n Kaal mannekyn staan op die dak; ‘n wa is uitgespan; hooivurke makeer hooimiede; en die halfgeroeste tee-advertensies is ongelukkig nie te koop nie. Met die binnestap is al die ware holderstebolder opgestapel en jy stap so skuur-skuur tussenin deur.

Simondium’s Country Lodge is ‘n eienaardige plek. ‘n Lékker eienaardige plek. Hier pas niks bymekaar nie, of alles, afhangende van jou eie smaak. Een vertrek so groot soos ‘n saal het gepoleerde vloere en buksie Art Deco stoele. Drentel deur ‘n kort gangetjie en jy kom op ‘n nes emalje en geroeste voorwerpe af. Die outydse kroeg en die omskepte teekamer heet beide Gordyntjies. Uit die hotelportaal – ‘n mens kry mos nie meer deesdae eintlik portale nie – stap jy ‘n temporêre roomwit vertrek met goingsak-aksente binne.

Plaisir de Merle is ‘n plesier om te sien

Die herehuis op Plaisir de Merle

Plaisir de Merle het dalk nie imposante hekke en ‘n groen laning nie, maar die plaas wat van 1693 dateer, is van die oudste en sekerlik van die mooiste. Daar’s fynbos, veral proteas; en daar’s blykbaar nog luiperds en rooikatte in die klowe. Die herehuis –in 1764 gebou – se dekor is subtiele elegansie. Elke kamer spog met sy eie tema: bome, voëls, proteas en reis. In die kamer met die reistema is kajuitkoffers as bedkassies ingespan en op die strooikussings is ‘n Afrika-kaart.

Allée Bleue is vir almal wat van blou hou. Hoe nader jy aan Franschhoek kom, hoe meer eksklusief raak die opsies.

Wroem, wroem

Jy het meer tyd by L'Ormarins se Motormuseum nodig as wat jy heel moontlik inisieel gaan beplan

By L’Ormarins is, behalwe vir die wynproe, ‘n motormuseum. Jy hoef nie ‘n petrolkop te wees om jou hier te vergaap nie. Van romantiese name soos Bugatti, Aston Martin, MG en Bentley tot twee glimmende Porsche’s en ‘n paar rooi Ferrari’s.

Meer as een motor word as onbetaamlik vinnig vir sy tyd beskryf; ‘n ander kon heeldag 120 kilometer per uur ry; en een vroegerige model se topspoed was effens vinniger as wat ‘n man kon loop. Die 1934-Ford was ewe gewild by polisie en kriminele weens sy krag en spoed. Teen die mure is Penny Farthing-fietse gemonteer en ‘n vuilblou skoetertjie staan so half verwese eenkant. Ek het bly hoop dat daar êrens ‘n Isabella Borgward te sien sou wees. Helaas.

DSC_0117

Solms-Delta het met sy jaarlikse oesfees en sy Musiek van de Caab al meer bekendheid verwerf. Die restaurant op die plaas heet Fyndraai en ja, hulle is goed bewus van die betekenis wat die uitdrukking in die volksmond het.

Alle goeie dinge kom tot ‘n einde

Bederf jouself met 'n vonkelwynproe by Graham Beck terwyl daar nog tyd is

Sorg dat jy voor die middel van 2012 by Graham Beck se swart-en-blink vonkelwynproelokaal tyd verwyl. Die ongewone argitektoniese styl trek eerste jou aandag. Dan die beelde in die tuin. As jy binnestap, verrek jy jou nek om na die borduurmuurpaneel te kyk. Jy stap nog so omkyk-omkyk; dan groet die personeel hartlik. En gesels onderhoudend en gemaklik terwyl die borreltjies van die een vonkelwyn na die ander jou neus kielie. Hoe jammer dat hierdie huidige opset sy deure binnekort sluit.

Sodra jy verby die Wemmershoek-afdraai gery het, is die opsies amper legio. Lekkerbekke kan kies tussen die volgende restaurante: die moeilikste keuse is seker tussen Pierneef by La Motte en Bread and Wine by Môreson; ander opsies is Rickety Bridge en Grande Provence.

Hierna sal jy wil gaan dut

Andersins kan jy hoed vasdruk en net daardie entjie verder ry. Net mooi waar jy Franschhoek binnery, draai jy by die tweede straat berg op. As jy nie jou uitstappie by Roca, Dieu Donné se nuwe restaurant, kan afsluit nie, maak sommer vooraf ‘n afspraak met ‘n gespreksgenoot om gou daarna soontoe te gaan. Tot dusver was die die nuwe styl en die oorwegend Italiaanse spyskaart ietwat van ‘n geheim. Hier laat ek nou die kat uit die mou. Die uitsig is, wel, steeds daar, maar nou kan jy kies tussen Spaanse paprika-slakke, charcuterie op ‘n houtbord, parmesan met heuning en rooi chillievlokkies as tapas, babaghanoesj (gerookte eiervrugpatee), 5-minute vissop, vier verskillende soorte risotto – my mond water al klaar weer!

Om jou dag beter te beplan:

  • Kyk na die lang lys produkte wat by Pappa Grappa beskikbaar is: wilderer.co.za
  • Simondium’s Country Lodge raak al meer bekend vir hul jaarlikse geskenkmark wat losweg op Kamersvol Geskenke blyk geskoei te wees. In 2012 vind dit van 31 Oktober tot 4 November plaas. Lees meer by festiveideas.co.za
  • Plaisir de Merle se nuut gerestoureerde herehuis het ‘n konferensiekamer asook ‘n biblioteekkamer met ‘n kaggel. Dit kan vir intieme troues of vir groter troues met markiestente gebruik word waartydens die bruidspaar ook hier kan oorslaap sowel as vooraf hul foto’s hier laat neem. Kontak Estelle Vos by 021 874 1071/2.
  • Pierneef Restaurant op La Motte wynlandgoed is ‘n belewenis. Laat jou oë feesvier en kyk na die detail van die rugkante van die stoele; die porseleinstuk-kandelare in die restaurant self; die Pierneef Museum; die swart-en-wit lampkappe; en les bes, na die kos wat voor jou neergesit word. Bespreking is noodsaaklik: skakel 021 876 8800.
  • Wees bewus daarvan dat dieudonnerestaurant.co.za nog nie opgedateer is nie; dus is die spyskaart nie dit wat jy daar gaan geniet nie. Maar geniet sal jy dit geniet. Verskoon my, ek gaan gou my volgende bespreking hier maak!

Paprika-slakke volgens 'n Spaanse resep by Roca Restaurant

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 19, 2017 by in In die Boland and tagged .