ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Pollie, ons gaan Paarl toe

First published in Rapport, September 2021

Om die Paarl te proe

Ontvlug na die Paarl vir ‘n wegbreek

Het jy geweet Paarl is die derde oudste dorp en Europese nedersetting in Suid-Afrika? Die Paarlvallei is in 1687 gekoloniseer toe grond aan 23 families van Stellenbosch toegewys is. Dié vallei was is eers Drakenstein genoem; in 1690 het dit as die Paarl bekend geraak.

Die Paarl spog met die enigste monument ter wêreld wat aan ‘n lewende taal opgedra is – die Taalmonument op Paarlberg. Die langste hoofstraat in Suid-Afrika – ‘n volle 12 kilometer lank – is in die Paarl. Die Strooidakkerk en die Het Gesticht-kerkgebou, beide in die hoofstraat, is van die oudste kerkgeboue in Suid-Afrika. Die Paarl is een van die enigste dorpe waar ‘n rivier deur die dorp kronkel – die Bergrivier.

Dít – en vele ander feite – is wat jy op Paarl Toerisme se webtuiste (www.paarlonline.com) raaklees om jou belangstelling in dié Bolandse dorp te prikkel. Geslaagd is dit wel.

Neem hierdie olyftakkie

Die d’Olyfboom-familielandgoed en -gastehuis (www.dolyfboom.co.za), lid van Cape Country Routes (www.capecountryroutes.com), is enkele straatblokke vanaf Paarl se hoofstraat geleë. Aan die agterkant van die gastehuis verrys Paarlberg; vanaf die onderste oprit noop dit amper iedere en elke gas om eers gou ‘n foto van die wingerde vóór die landgoed en die imposante berg daaragter te neem.

Vlugvoetiges sal bly wees om te verneem dat jy binne ‘n paar minute se stap vanaf jou gastesuite die Paarlberg-natuurreservaat (www.paarlonline.com/places/paarl-mountain-nature-reserve/) kan bereik. Dié reservaat is ideaal vir rustig wandel of energiek voetslaan, bergfietsry, voëlkyk, rotsklim, hengel, braai en piekniek hou.

Terug by d’Olyfboom wag die swembad op jou om af te koel, voor of na jy en jou medegaste mekaar oor ‘n potjie skaak met die tuinskaakstel aangevat het.

Vir ‘n sjiek piekniek

In en om die Paarl is verskeie plekkies, insluitende die grasperke van d’Olyfboom, wat ideaal vir pieknieks is.

As ‘n lus vir koffie en gebak jou oorval of as jy jou eie piekniekmandjie wil pak, is MOM-koffiewinkel (www.mealsonmain.co.za) dié plek!

MOM (of “Meals on Main”) – gelukkig is moederskap nie ‘n vereiste om hier aan te doen nie! – maak deel uit van die Hurst-kookskool (www.thehurstcampus.co.za).  

By MOM kan jy aansit, of wegneemetes en –gebak van die hoogste kwaliteit aanskaf. Al die produkte word deur die kulinêre studente en sjefs van die kookskool voorberei.

MOM bak die lekkerste beskuit wat ek nog ooit geëet het, die geure van hul eg Franse makrolletjies is legendaries en geen Bolandse piekniekmandjie is sy sout werd as daar nie van hul spinasie-en-feta-pasteitjies ingepak is nie.

Die rots van die Paarl

Sedert November 2020 is sjef Kevin Grober – saam met sy kosstilis-vrou, Inemarie, en sy skoonouers, Celia en Rayno Rabie – aan die stuur van sake by Grande Roche Restaurant (www.granderoche.com/restaurant-2/).

Sjef Kevin Grober was vanaf 2015-2018 die hoofsjef by Restaurant JAN in Nice, Frankryk. Jy het nie veel meer motivering nodig om hier te kom eet nie!

Hoewel Grande Roche fênsie verby is, is die atmosfeer ontspanne en die spyskaart bekostigbaar. Ek beskou dit as een van die beste kosbestemmings in ons land.

Kevin Grobler sê die grootste lekkerte by Grande Roche Restaurant is dat hy kan doen net wat hy wil! Hy het groot planne om sy eie groentetuin by die hotel aan te plant en nog verdere spasies binne die hotelgronde te benut.

Op mooiweersdae bied die hotelstoep ‘n onverbeterlike uitsig oor die tuin en omringende berge.

As jy een van die volgende op die spyskaart bespeur, moet onder geen omstandighede die geleentheid deur jou vingers laat glip nie: die groen sjaksjoeka-ontbyt, ‘n gesmelte kaastoebroodjie met steak tartare bo-op gestapel as voorgereg, enige varklieshoofgereg, ‘n vegetariese dis met eiervrug, feta, geroosterde amandels en gerookte paprika en kaaskoek en/of tahiniroomys as nagereg.

Grande Roche is oop vir ontbyt, middag- en aandete. Die spyskaart verander elke 2-3 weke.

‘n Regte vuurvreter

Soos www.paarlonline.com te kenne gee, is KWV die grootste wynkelder onder een dak ter wêreld. Die KWV (Ko-operatiewe Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika) is in 1918 gestig.

Die KWV Emporium (www.kwvemporium.co.za) is sewe dae per week oop. By die Emporium kan jy wynproeë doen, wyn koop sowel as begeleide toere doen.

Die House of Fire-brandewyntoer is insiggewend en die voormalige brandewynkelder, deesdae ‘n museum, is ‘n fees vir die oog. Die stoomketels lyk of dit deur ‘n koperbeeldhouer geskep kon wees en sal die bloed in steampunk-liefhebbers se are laat bruis. Jy kan ook loer na al die uitgestalde trofeë wat KWV-brandewyn al verower het.

Op die brandewyntoer leer jy meer oor die kuns van brandewynmaak waarna ‘n brandewyn-en-sjokoladeproe aangebied word. Boek vooraf vir die House of Fire-brandewyntoer op weeksdae om 11h30 en 14h30.

Benewens gewone wynproeë en brandewyn-en-sjokolade is daar ook die volgende proe-ervarings: soetwyn en likeurs met koekhappies sowel as kaaskoek en MCC (Méthode Cap Classique). 

Eietydse sjarme

Simondium’s Country Lodge (www.simondiums.co.za), op die R45 tussen die Paarl en Franschhoek, neem jou op die spore van die verlede, met ‘n goeie skeut humor en aweregse elegansie uit die 1950’s.

Soos wat hul webtuiste getuig, vind jy “die sjarme van gister… met die gemak en gerief van vandag” by dié ou-styl hotel – in die uitgestrekte tuine waar poue kom groet, tussen lieflike ou meubels wat jou aan jou ouma s laat dink sowel as art deco-dekor wat ‘n tikkie andersheid verleen én in die gesellige Gordyntjies Bistro & Kroeg waar Kerrie-afval en beesstertbredie – en die beste burgers in die Boland, sê dié wat weet – bedien word.

Die kroeg se naam is ontleen daaraan dat die boere uit die distrik toentertyd gepraat het daarvan dat hulle na “Gordyntjies” gaan sodat hul vroue nie moes agterkom dat hulle op pad kroeg toe is nie. Vanaf die pad kon ‘n mens net die gordyne van die hotelvensters sien, nie veel anders nie.

Simondium’s Country Lodge is al jare die gasheer van gereelde en gereëlde vintage markte waarvoor hulle reeds wyd en syd bekendheid verwerf het. Die volgende mark, die Festive Ideas-mark met “vintage flair”, is van 28-31 Oktober 2021. Antiekware, geskenke, klere, dekoritmes, plante, en deliprodukte word te koop aangebied; hul uitstallings is werklik inspirerend en etes word bedien.

Ingang is gratis; kyk op Facebook onder Simondium Ideas Market vir meer inligting.

4 comments on “Pollie, ons gaan Paarl toe

  1. Letty-Ann
    March 5, 2022

    BAIE GOED TIEGELIG MET FOTO’S EN BRONVERWYSINGS!

  2. daisyopdiestoep
    March 5, 2022

    Dankie, ek het nou lekker saamgetoer deur die Paarl. Pragtige foto’s en die kos lyk so heerlik.

    • ilsez
      September 26, 2022

      Dankie van my kant af, daisyopdiestoep. En ja, die kos was werklik lekker.

  3. ilsez
    March 6, 2022

    Dankie vir die kompliment, Letty-Ann.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 5, 2022 by in In die Boland.