ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

So kleurryk soos paprika

First published in Rapport, January 2015

Stil jou honger in Hongarye

Paprika is sinoniem met Hongarye

Paprika is sinoniem met Hongarye

Hongarye laat ‘n mens dadelik aan paprika en goelasj dink.

Hongaarse goelasj is egter nie die vaal koshuis- of kafeteriabrousel wat ‘n mens gewoonlik oproep nie; Hongaarse goelasj is ‘n geurige sop, eerder as ‘n bredie, weliswaar met geroosterde vleis, waarvan die oorsprong tot in die Middeleeue strek.

Goelasj (gulyás in Hongaars) is tradisioneel deur beeswagters gemaak terwyl hulle beeste na die groot Europese veemarkte gedryf het. Omdat goelasj goedkoop was om te maak en groot hoeveelhede op een slag op ‘n oop vuur gemaak kon word, was dit ook gewild onder soldate.

In 1793 het die Hongaarse koerant Magyar Merkurius berig dat Hongaarse troepe deur Franse soldate langs die Rynrivier aangeval is terwyl hulle besig was om goelasj te maak.

Hoe proe paprika

Paprika of kapsikum is inheems aan suidelike Noord-Amerika en noordelike Suid-Amerika. Na paprika ‘n draai in Spanje, Portugal en Turkye gemaak het, het dié rooirissie in Hongarye beland. Dit was nie lank voor paprika sinoniem met die Hongaarse kookkuns geraak het nie.

Hongaarse paprika is donkerrooi, baie geurig en effens soet of soms rokerig. Party soorte paprika is redelik skerp, maar nie so skerp soos brandrissies nie; die skerp smaak is te wyte aan ‘n chemiese stof, kapsaïsien, wat in die rissies voorkom.

Gedroogde rooipepers en -rissies begroet jou by elke hoeveelste groentestalletjie by die Sentrale Marksaal

Gedroogde rooipepers en -rissies begroet jou by elke hoeveelste groentestalletjie by die Sentrale Marksaal

Vars paprika word soos appels geeet en is 'n gewilde bykos saam met 'n kaas- of salamibroodjie

Die Hongare eet vars paprika soos appels en dis ook ‘n gewilde bykos saam met ‘n kaas- of salamibroodjie

Wanneer die soetrissies heeltemal ryp is, word dit tot poeier gemaal of fyngemaak. Dié poeier word paprika, die Hongaarse woord vir rissie, genoem.

Paprikapatee word ook in buise soos dié van tandepasta verkoop; jy kook daarmee op dieselfde manier as met die gemaalde paprika-speserypoeier. Die Hongare gebruik paprika rojaal in ‘n dis; ‘n knypie bestaan nie in hul koswoordeskat nie.

Paprika is baie gewild in die Hongaarse kookkuns omdat dit kleur én geur aan kos verleen.

Vars paprika of rooipepers word ook netso geëet, soos wat ons ‘n appel sal eet. In Hollands word vars paprika heel gepas puntpaprika genoem.

Die voormalige redaktrise van die modetydskrif Vogue, Diana Vreeland, het op haar dag gesê, “’n Titseltjie slegte smaak is sooos ‘n goeie knypie paprika. Almal van ons het so ‘n titsel slegte smaak nodig – dis, soos paprika, goed vir ons”.

Ontmoet by die mark

‘n Besoek aan die varsproduktemark in Boedapest is ‘n móét.

Die Sentrale Marksaal is in 'n imposante gebou op die oewer van die Donau

Die Sentrale Marksaal is in ‘n imposante gebou op die oewer van die Donau

Die drie-verdieping Sentrale Marksaal is in 1897 gebou; dié kosmark is in 2013 deur CNN as Europa se beste en mooiste mark bekroon. Die gebou neffens die oewer van die Donau in Pest is ‘n pragstuk op sigself, veral die dak met sy Zsolnay-teëls.

Die markbrosjure spog dat Prinses Diana, Margaret Thatcher, George Bush en Keiser Hirohito van Japan al hier inkopies gedoen het.

Die Sentrale Marksaal doen elke dag van die week, behalwe Sondae, flink besigheid. Daarby is dit so gewild dat dit deel van die roete van die rooi hop-op-hop-af-bus uitmaak.

Wulpse voorskote word by toeristestalletjies op die boonste verdieping van die kosmark verkoop

Wulpse voorskote word by toeristestalletjies op die boonste verdieping van die kosmark verkoop

Slaan ag op die reiswenk om vroegerig in die oggend reeds by die mark te wees. Dit beteken jy kan saam met die markhandelaars by die kosstalletjies ontbyt eet sonder om verdring te word deur groepe toeriste wat ‘n toerleier wat ‘n vlaggie omhoog hou, volg.

‘n Tradisionele Hongaarse varkworsie toegedraai in repe spek en kaas by Halsütő Büfé-stalletjie was koningskos.

Voor ons besoek het ons ewe getrou beplan om ag te slaan op die advies van Andrew Zimmern, die aanbieder van die reis-en-kos-program, Bizarre Foods, wanneer ons die Sentrale Marksaal besoek. Toeriste koop by die stalletjies regs, die Hongare links. Dis egter heeltemal ooglopend as jy die marklokaal betree.

Aan die linkerkant is die vars groente opgestapel en staan besnorde omies en tannies met gekreukelde inkopiesakke geduldig en wag om hul bestelling te plaas. Aan die regterkant pryk laventelstroop, druiwepitolie, pruimtoffie en swartbessiekonfyt.

Mmm, dis lekker by M-restaurant

M-restaurant (M.etterem in Hongaars) word deur TripAdvisor as een van die top-tien restaurante in Boedapest gereken.

Dit het ons nie geweet toe ons toevallig daar verbystap en die knus plekkie met enkele sypaadjietafels ons aandag trek nie. Ons moes wag vir ‘n tafel aangesien hul baie gewild is; bespreek dus voor jou vertrek uit Suid-Afrika by www.metterem.hu/#/en

M-restaurant se spyskaart verander daagliks. Die restaurant behoort aan ‘n pa, die sjef, en sy dogter, die restaurantbestuurder.

Met my eerste besoek het my voorgereg van breins met geposjeerde vye in rooiwynsous my hart verower. My hoofgereg van biefwange het my hart in twee geskeur.

Met ‘n daaropvolgende besoek ‘n paar maande later het ek vooraf ‘n e-pos gestuur om te vra of hul weer hanekam (ja, die kam van ‘n hoenderhaan) op die spesifieke aand wat ons bespreek het, op hul spyskaart kon hê. Met my vorige besoek het ek dit nie bestel nie … spyt kom altyd te laat.

Sowaar, my wens is vervul. In die somer word die hanekam met Chinese slaai opgedien; in die winter met room en groente.

Dis beslis nie iets wat ek weer gaan eet nie, maar dit is nie M-restaurant se skuld nie. Ek wou dit proe, ek het. Dis soos om die binneband van ‘n fiets te kou. Nie eers ‘n sousie kikker die rubberagtige tekstuur op nie.

Sou ek ooit weer gaan, hoop ek die murgsagte breins is weer op die spyskaart. Of die wildevarkterrien met bloubessies en frambose of die beenmurg met paprika en knoffel. Eintlik is daar te veel om uit te kies.

Red ‘n ruïne

Die Joodse buurt van Boedapest is die ín plek om uit te hang. Dis nie net oor die ruïnekroeë wat uniek aan Hongarye is nie.

Die dekor by Szimpla Kert-kroeg is heeltemal eklekties

Die dekor by die Szimpla Kert-kroeg is heeltemal eklekties

Szimpla Kert is die eerste ruinekroeg wat sy deure in Budapest oopgemaak het

Szimpla Kert is die eerste ‘ruin pub’ wat sy deure in Budapest oopgemaak het

Szimpla Kert-ruinekroeg het sitplek binne en buite, selfs in 'n ou skedonk in die binnehof

Szimpla Kert het sitplek binne en buite, selfs in ‘n ou skedonk in die binnehof

In 2002 was Szimpla Kert die eerste ruïnekroeg wat die lig gesien het. Die eienaars het met die idee vorendag gekom om ‘n partytjiekroeg in ‘n vervalle gebou in te rig. Daarna het dit ‘n gewilde tendens geword.

Die ruïnekroeë is boheems en so gemaak, so laat staan. Die dekor is eklekties, selfs gehawend en jy moet dit vat soos dit kom.

By sommige ruïnekroeë kan jy ligte maaltye bestel; by ander is daar slegs bier, wyn en skemerkelkies om van te kies.

Drink ten minste een keer edellaatoeswyn van die Tokaji-distrik in die noordooste van Hongarye. Tokaji-wyn word selfs in die Hongaarse volkslied besing.

‘n Ruïnekroeg is die ideale plek om ‘n dag se besigtiging van Boedapest af te sluit.

Nog interessante feite oor paprika

  • Paprika is die nasionale spesery van Hongarye.
  • Paprika het meer vitamine C as sitrusvrugte.
  • In Spanje word paprika pimentón genoem.
  • As paprika by hoendervoer gevoeg word, lê die hoenders eiers met helderder eiergeel.
  • Palinka is tradisionele Hongaarse vrugtebrandewyn. Jy kry selfs palinka wat met skerp paprika gegeur is.

Watter kosse is nog tipies Hongaars?

Die Hongare is baie lief vir sop (leves in Hongaars) en varkvleis. Vrugtesop is ‘n gewilde nagereg.

Bredies word met kluitjies en suurroom bedien. Souterige paprikakaas en ‘n verskeidenheid van aartappelgeregte word as bykos voorgesit.

Hongaarse gerookte wors en salami is heerlike peuselhappies of piekniekkos

Hongaarse gerookte wors en salami is heerlike peuselhappies of piekniekkos

Hongaarse salami en pekelworsies is heerlike peuselhappies.

In Hongarye eet hulle ook baie brood. Voor die val van kommunisme in 1990 was witbrood ‘n stapelvoedsel. Die Hongare is baie trots daarop dat witbrood tydens die kommunistiese bewind oral beskikbaar was veral aangesien dit in baie ander Oos-Europese lande nie die geval was nie.

Sou jy gaan:

  • Dis glad nie so maklik om ‘n visa van die Hongaarse ambassade (pretoria.mfa.gov.hu/eng) te verkry nie. Die proses is maklik genoeg; dis om hulle in die hande te kry om ‘n afspraak te maak wat hare op die tande verg. Sorg dat jy lank voor jy gaan reeds hieraan begin beplan.
  • Aventura Boetiekhostel (aventurahostelbudapest.com) verhuur vakansiewoonstelle wat baie sentraal geleë is. Pryse is uiters billik en die diens baie goed.
  • M-restaurant is in Kertész Utca (straat) 48 naby die Operahuis in die Pest-deel van Boedapest.
  • Szimpla Kert-ruïnekroeg is in Kazinczy Utca in Pest.
  • Die Sentrale Marksaal is in Vamhaz-boulevard 1-3 op die oewer van die Donau.
Om in die Sentrale Marksaal rond te loop, maak 'n mens honger

Om in die Sentrale Marksaal rond te loop, maak ‘n mens honger

2 comments on “So kleurryk soos paprika

  1. selmaohlsson
    December 27, 2019

    So enjoyed reading this and seeing these colourful images. We love cooking with your paprika that you stock from time to time!

  2. ilsez
    January 4, 2020

    It was so lekka to write, Selma. I dread finishing my paprika as it makes such a difference to certain dishes. Hungarian paprika is the best!

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 27, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .