ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Beloer blomme en verken die omgewing

First published in Die Burger, August 2017

Baie te sien op die blomroete in die lente

Tapyte blomme begin al kop uitsteek

Tapyte blomme begin al kop uitsteek

Dis weer blomtyd. Vrolik is die wêreld, vrolik rant en vlei, soos C. Louis Leipoldt, wat sy kinderjare in Clanwilliam deurgebring het, gedig het.

As nie al jou mede-reisigers Job se geduld het om blomme te kyk nie, bied dorpe op die Veldblom-roete tronke en kerke om te besigtig sowel as ouwêreldse hotelle en gesellige restaurante om by te kuier.

Clanwilliam – 231 km van Kaapstad  

Die Engelsman se graf is in die Pakhuispas

In die Pakhuispas

 

As jy vroegoggend op die N1 klim, is Clanwilliam sowat 2 en ‘n half uur se ry vanaf Kaapstad.

Na ‘n uur en ‘n half se ry sit Kardoesie (www.kardoesie-n7.co.za) op die knop van die Piekenierskloofpas. Kardoesie is ‘n gewilde stilhouplek vir ontbyt of ligte etes. Skaf sommer die koerant en biltong, nartjies en suiglekkers vir die pad by Kardoesie se Padstal aan.

As die bestuurder en passasiers hul kele in die uur se ry vanaf Kardoesie tot by Clanwilliam droog gepraat het, het jy by die regte plek ingedraai. Clanwilliam is die hartland van rooibostee.

Rooibos is sinoniem met Clanwilliam

Rooibos is sinoniem met Clanwilliam

Besoek die Rooibostee-fabriek en drink tee by Netmar Rooibosteehuis (www.netmar.co.za) en koop ‘n geskenkie vir die vriendin wat by die huis moes bly.

Na die teelafenis besoek die Blomskou – die tema is hierdie jaar ‘Linte’ – in die Blomkerk Stap ook deur die kerkhof waar Leipoldt se ouers begrawe is. Om die hoek is Oom Karel se Winkel.

Amper alles in die dorp van Clanwilliam is binne stapafstand van mekaar

Amper alles in die dorp van Clanwilliam is binne stapafstand vanaf die Ou Tronk

Skuins oorkant die straat is die Ou Tronk-museum (www.clanwilliammuseum.webs.com) met interessante uitstallings oor die omgewing insluitende ‘n Nommer Asseblief-handsentrale. Stap weer oor die volgende straat en verkyk jou aan die Yellow Aloe-gastehuis (www.yellowaloe.co.za) se feetjietuin. As jy in Clanwilliam oornag, is aandete by Reinholds ‘n moet.

Sakkepak oor die Pakhuispas

Die Pakhuispas begin net buite Clanwilliam en verbind Clanwilliam met Calvinia. Kruie stadig hierlangs en kyk blomme – veral magrietjies – berge en dale.

Op Die Engelsman se Graf in die Pakhuispas staan 'Brave and True'

Op Die Engelsman se Graf in die Pakhuispas staan ‘Brave and True’

Trek af by die Engelsman se Graf. Luitenant Graham Vinicombe Winchester Clowes het in 1901 hier tydens die Tweede Vryheidsoorlog hier gesneuwel. Op die kruisgrafsteen wat sy familie opgerig het, staan Brave and True.

Calvinia – 383 km van Kaapstad

Die groot rooi posbus in die middel van Calvinia is 6.17 meter hoog en is blykbaar eintlik ‘n  wateropgaartenk hoewel jy briewe daarin kan pos. Jou brief kry ‘n spesiale stempel.

Ry Calvinia se strate op en af om na al die mooi Victoriaanse huise te kyk.  Kyk uit vir die Hantam-Huis, Tuishuis, die Russies-Victoriaanse Huis en die Karoo-Boekehuis.

Die ou sinagoge huisves die Calvinia Museum en die NG Kerk is ‘n nasionale gedenkwaardigheid.

Jy hoef nie juis na Stiglingstraat nommer 37 te soek nie. Van ver af sal jy al die geroeste skedonke sien wat soos beeldhouwerke op die sypaadjie uitgestal word. By die Republic of Rustica (www.republic-of-rustica-za.book.direct) kry swartraam-dikwiel-fietse, skopgrawe, padtekens, rolle draad en petrolkanne nuwe lewe.

Eet Hantam-lam by die Blou Nartjie Restaurant (www.nartjie.co.za), want Calvinia is die hart van die Hantam(berge), soos trots by die dorpsingang verkondig word.

Carnavon – 627 km van Kaapstad

Die Medisynekas is langs die Lord Carnavon Gastehuis

Die Medisynekas is langs die Lord Carnavon Gastehuis

Die Carnavon-distrik is bekend vir sy korbeelhuise. Korbeelhuise is kliprondawels wat trekboere tussen 1825 en 1875 gebou het. Omdat hier rond nie juis bome groei nie, moes die trekboere wonings sonder hout of riet bou. Korbeel beteken ‘n steen uit ‘n muur, skoorsteen of pilaar wat ‘uitspring’ of uitstaan en waarop ‘n ander steen weer kan rus.

In die dorp self is ‘n korbeelhuis in Sterrenbergstraat te sien asook gerestoureerde historiese huise – insluitende Lord Carnavon Gastehuis (www.lordcarnarvonguesthouse.co.za ) – en ‘n paar kerke.

Die Blikkiesbar by Carnavon Hotel is legendaries. Die kroeg spog selfs met ‘n braai-area en hulle sal jou van hout en vleis voorsien as jy vooraf laat weet.

Prieska – 621 km van Kaapstad as jy kortpad vat

Sou dit na 'n biddag vir reen wees...

Sou dit na ‘n biddag vir donderstorms wees…

Prieska lê op die oewer van die Oranjerivier. Dit was eers bekend as Priskab wat in Korana-taal ‘plek van die verdwaalde ooi’ beteken. Volgens Wikipedia is Prieska een van die grootste uitvoerders van ‘tieroog’-edelstene in die wêreld.

Bo-op Prieska Koppie is ‘n Britse klipfort wat tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 gebou is en daar is grafte van Britse soldate in Prieska se gedenktuin.

Coffee at Home in Derde Laan bedien heerlike koffie sowel as ontbyt en soetgebak.

Op 25 Oktober 2017 word daar ‘n groot beesveiling op die plaas Lowerland, waar hulle  organies boer en ook hul eie wyn, polenta en meel verbou, gehou.

Jy raak sommer lus om op die daad soontoe te ry as jy op hul webtuiste (www.lowerland.co.za) lees: Waar die Bo-Karoo hom disnis loop/teen die duine duskant Niekerkshoop/waar Bonsmaras herkou/as die visarend skrou/loop rooiwyn en rooivleis hand aan hand/op ons geliefde plaas, Lowerland.

Op 3 – 4 November hou die Noord-Kapenaars Oewerfees (www.facebook.com/Oewerfees?_rdc=1&_rdr) waar daar van ‘n fotokompetisie vir lawwe troeteldiere is tot ‘n tertdeegkursus wat aangebied word.

Rondom Prieska lê gehuggies soos Niekerkshoop, Marydale, Copperton, Omdraaisvlei en Putsonderwater.

Nieuwoudtville – 353 km van Kaapstad

Nieuwoudtville bemark hulself as die plek wat met weggesteekte juwele of skatte kan spog.

Die dorp lê op die Bokkeveld-plato en dis waar Kaapse fynbos met Hantam Karoo, Boesmanland en die Knersvlakte in aanraking kom. Dis ‘n plek van stilte, ruimte en sterre, spog die Nieuwoudtvillers. Dis weliswaar ‘n omgewing wat jou onwillekeurig tot rustigheid stem.

Protea Motors in Nieuwoudtville se roomyspienk motors laat jou 'n vinnige es gooi

Protea Motors in Nieuwoudtville se roomyspienk motors laat jou ‘n vinnige es gooi

Jy kan nie Protea Motors met die inry by Nieuwoudtville misry nie, want daar is roomyspienk neuse en boude van motors wat weerskante van die vensters in die gebou ingemessel is.

Nieuwoudtville se Neo-Gotiese NG Kerk het nog steeds genoeg spasie rondom dat ossewaens oor ‘n Nagmaal-naweek hier sou kon uitspan. Dis ‘n lieflike en imposante sandsteengebou.

Eet afval by Die Nedersetting en gaan drink ‘n drankie, of drie, in die ouwêreldse kroeg van die Nieuwoudtville Hotel. As jy in die dorp self bly, is alles binne stapafstand van mekaar.

Kokerbome is nie bekend daarvoor dat hulle in groepe groei nie, maar tussen Nieuwoudtville en Loeriesfontein is ‘n kokerboomwoud, die grootste in Suid-Afrika (www.southafrica.net/za/en/articles/entry/article-southafrica.net-quiver-tree-forest). Daar word geskat dat sommige van die kokerbome in hierdie woud ouer as 250 jaar is.

Vanrhynsdorp – 303 km van Kaapstad

Die Ou Tronk in Vanrhynsdorp huisves iets om te koop, iets om te kyk en iets om te eet

Die Ou Tronk in Vanrhynsdorp huisves iets om te koop, iets om te kyk en iets om te eet

As jy nie soos ons in Vanrhynsdorp geëindig het nie, is dié dorp die poort na die Namakwaland, Hantam-Karoo en die Sederberge.

Vanrhynsdorp het twee museums: die Van Rhijn Museum in Van Riebeeckstraat (www.wheretostay.co.za/topic/4240-van-rhijn-museum) en die Latsky Radiomuseum (www.radiomuseum.org/museum/za/latsky-radio-museum-western-cape/.html) in Kerkstraat.

Die Ou Tronk in Vanrhynsdorp (www.facebook.com/outronkvanrhynsdorp/?_rdc=1&_rdr) dien ook as ‘lewende museum’ met ‘n regte plaaskombuis en ‘n geskenkwinkel daarnaas.

Synde blommekykers saam met jou in die motor, benut die Kokerboom Kwekery se verlengde besigheidsure tydens Augustus en September wanneer hul vir sewe dae per week van 8h00 – 17h00 oop is. Die Kokerboom Kwekery is spesialiskwekers van inheemse vetplante en kokerbome.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 10, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .