ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Onkruid… jy kan dit selfs eet

First published in Die Burger, October 2018

(Since this article has been published some details have changed) 

Onkruid vergaan nie… jy kan dit selfs eet of dra

As jy met plante werk, moet jy probeer om met die ritme van die seisoene te werk. Aldus Gundula Deutschländer, die meestertuinier by die inspirerende en voortdurend veranderende tuin van Babylonstoren.

Dit klink soos ‘n versreël uit ‘n gedig, mymer ek stilweg. Dít komende van iemand wat nie met groen vingers of ‘n noemenswaardige belangstelling in plante geseën is nie.

Vir die res van die Saterdagoggend hang ek egter aan Gundula – en mede-aanbieder Louise Steenkamp van The Wild Bunch-blomplaas en Wild at Heart Cordials – se lippe.

Hul aanbieding wentel om plante – oorwegend dié wat mense gewoonlik as onkruid beskou – wat ‘n mens kan eet en dra.

Tussenin vertel Gundula staaltjies uit haar persoonlike lewe. Haar oupa wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Rusland as krygsgevangene moes oorleef na hy van sy perd afgeval het en beseer is, het dit gedoen deur aan perdeblomme (dandelion in Engels) te knaag.

Gelukkig vir Gundula se oupa het perdeblomme ‘n lang penwortel wat beteken as die sneeu in Rusland begin smelt, die perdeblomme vinnig opkom.

Gewoonlik is melk in ‘n plant ‘n aanduiding dat die plant giftig is, maar dis nie die geval met die perdeblom nie, leer Gundula ons groepie by die Breytenbach Sentrum in Wellington wat die ‘Edibles and Wearables’-demonstrasie gereël deur Wineland Vitamins bygewoon het.

As dit nie vir die perdeblommetjies was nie, was Gundula dalk nie vandag met ons nie, vertel sy self laggend. Tot vandag toe gebruik sy as huldeblyk aan haar oupa perdeblomme in haar kos.

Onkruid en ander plante wat jy kan eet

Tee kan van die wortels van die perdeblommetjie gemaak word.

Die vars wortels ruik so ‘n bietjie soos borrie; gedroogde wortels kan ook gebruik word.

Sny die wortels in stukkies. Omdat die wortels ietwat bitter is, is dit ‘n goeie idee om stukkies van die wortel van die Glycyrrhiza glabra  (liquorice root in Engels; te koop by apteke) en repies vars gemmer by te voeg.

Perdeblommetjies herinner Gundula – en vir my – aan surings.

 Wie van ons het nie kleintyd aan hierdie suurderige steeltjies gekou nie? Dié plantjie met sy goudgeel blommetjies en lang steeltjie sommer so in die speel gepluk en in die mond gedruk.

Sommerso in die praat druk Gundula spontaan ‘n uintjie in haar mond. ‘n Mens kry verskillende soorte uintjies, vertel sy. “Daai een, daai een is ‘n pes,” wys sy amper liefderik uit.

Gundula ryg die name van die plante waarmee ‘n mens kan kosmaak, uit.

Misbredie – ook bekend as marog – groei soos spinasie, net makliker en vinniger. Dis heerlik om as vulsel vir spanakopita (Griekse filodeegdriehoekies met feta en spinasie) te gebruik. Marog oftewel misbredie kom ook in Griekeland voor

‘n Mens kry ook rooiblaarmarog wat lieflike pluime het wat goed droog.

Min mense weet dat brandnetels ook eetbaar is. Gebruik die netels vóór hul saad skiet.

Plaas jou hande met die plukslag in plastieksakke sodat die netels jou nie brand nie. As jy wel gebrand word, smeer die blare van die steenboksuring aan die brandplekkies. Sodra netels verwelk, brand hulle nie meer nie.

Braai uie in botter of olie en voeg die netels by as jou uie na smaak reg is. Prut hierna vir sowat twee minute.

Moenie sterk kruie hierby gebruik nie sodat jy die subtiele smaak van die netels kan proe. Brosgebraaide salie bo-op gesprinkel is heerlik. Siedaar, brandnetelbredie soos waarmee ek grootgeword het toe my pa al doerie jare daarmee geëkspirimenteer het!

Jy kan ook brandnetelrisotto, brandnetel-en-preie-sop of brandneteltee maak.

Verder kan jy ook bredie van die blare van die wildeklawer maak. So ook wildeklawertee.

Roosmalva maak lekker tee. Of plaas ‘n paar blaartjies in ‘n potjie room en sit dit vir ‘n draai of drie in jou mikrogolf. Room met die geur van roosmalva is heerlik by aarbeie of gebakte malvapoeding.

Inheemse nastergal maak heerlike konfyt; die kleur laat ‘n mens aan die purper dink waarna in die Bybel verwys word.

Dit wys jou, sê Gundula, ‘n pers plant is nie noodwendig giftig nie. Toe eiervrug die eerste keer in Engeland geland het, is daar geglo dat dit juis vanweë die kleur giftig is, deel sy ons mee.

Gundula raak liries oor boegoe. Interessant genoeg is boegoekwekers se vel en klere altyd deurdrenk van die reuk van boegoe. Dís hoe aromaties dit ruik. G’n wonder my ander helfte sit soms ‘n takkie boegoe in sy bottel lawaaiwater nie, dink ek so by myselwers.

So tussen al die wenke deur, waarsku Gundula dat ‘n mens nooit plante uit besoedelde areas moet eet nie. Moenie sommer langs ‘n hoofpad iets pluk wat jy by die huis wil gaan voorberei nie.

Onkruid en ander plante wat jy kan dra

Terwyl Louise Steenkamp begin om raffia behendig te vleg, wil ‘n mens sommer neurie: “Die byeboer, byeboer, byeboerwa, blom in die hare en bye wat pla…”.

Blomme in die hare is egter ou nuus. Wat van ‘n gevlegte das, ‘n plantaardige haarverlenging, ‘n gordel, ‘n tros armbande of ‘n sigeunerkopband?

Van alles op die tafel is die wortelblom – of altans die saad wat die wortel uitskiet – die héél mooiste. Dit lyk soos ragfyn kant of ‘n knoets spinnerakdrade, maar dis ‘n sterk blom met ‘n sterk stingel wat dit uiters veelsydig maak. Dit herinner aan die kantblom, maar dis nie so petieterig nie.

Die raffia help om alles bymekaar te hou. As jy klaar ‘n raffiavlegsel gemaak het, steek jy die stingels van die plante wat jy wil gebruik deur die raffia.

‘n Dunner raffiavlegsel is ideaal om hippie-juweliersware uit plante van jou keuse te maak. Maak jou groen halssnoer of armband ‘n dag voor jy dit gaan dra, maar bêre dit in die yskas tot jy dit aansit.

Kooigoed – en boegoe – werk goed hiervoor en hul sagte skakering van groen pas by alles.

Laventelkatoen (Santolina chamaecyparissus) met hul silwergrys blare en klein, geel blommetjies wat soos pompoms lyk, is ook ‘n goeie keuse. So ook lilapers Nigella-blommetjies wat ook love-in-the-mist genoem word.

‘n Artisjokblom maak ‘n treffende borsspeld. Plaas dit na jy dit gedra het onder ‘n bloemiste-glasklok as versiering in jou voorportaal.

As jy meer wil weet:

  • Lees op Babylonstoren se blog meer oor wat Gundula Deutschländer alles in hul tuin aanvang: www.babylonstoren.com/blog
  • The Wild Bunch in Wellington kweek rare snyblomme. Kyk op Facebook.
  • Wild at Heart Cordials in Wellington maak vrugtestrope van boegoe, roosmalva, suurlemoen en gemmer. Kyk op Facebook.
  • Lees meer oor Suider-Afrikaanse plante in Flora se Geheime Taal – Stories oor Suider-Afrikaanse plante deur Madine Swart, gepubliseer deur Strandveld Boeke.

2 comments on “Onkruid… jy kan dit selfs eet

  1. Tannie Frannie
    December 9, 2023

    Jy skryf so onderhoudend, en altyd met ‘n vonkel – “‘n draai of drie in die mikrogolf” 😊

  2. ilsez
    January 7, 2024

    Wat ‘n mooi kompliment! Dankie, Tannie Frannie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 9, 2023 by in Iemand - of iets - wat my fassineer.