First published in Beeld, January 2018
Suzdal (Soezdal) is ‘n plek wat jou laat huil. Om meer spesifiek te wees, is dit die ikoonmuseum in die Veronderstellingkerk by die Verlosserklooster van St. Euthymius wat die trane laat stroom.
In die ikoonmuseum is nie net ikone wat drup van goud, naïewe uitbeeldings van ikone, houtblok-ikone, ikone wat skitter met pêrels en juwele en ikone beslaan met silwer nie, maar ook fluweelmantels wat deel van die drag van die destydse priesters was, Nagmaalbekers en beskilderde ikonostases of beeldewande wat die altaar van die res van die kerk geskei het.
Dis egter by verre nie al rede waarom jy – sou jy jou in Moskou bevind – jou na Suzdal móét begewe nie.
Hoewel dié dorp – as jy douvoordag vertrek en per motor of georganiseerde toer gaan – as ‘n dagekspedisie vanaf Moskou besoek kan word, is dit nie ideaal nie.
Suzdal is een van die oudste dorpe in Rusland. In die 1100’s was dit die hoofstad van die vorstedom en selfs Moskou het toe onder Suzdal geval. Vandaar Suzdal se Kremlin wat een van die hoogtepunte van ‘n besoek aan die dorp is.
Binne die Kremlin-mure is ‘n hele paar katedraaltjies om te sien. Met die instap lyk die kobaltblou koepeldakke – met goue sterretjies en kruise bo-op – van die Geboorte van die Maagd-Katedraal soos iets uit ‘n magiese verhaal. Die ikonostase en kandelare binne laat weereens die trane loop. Die muur- en plafonskilderwerk dateer uit die dertiende en sewentiende eeu.
Vóór jy die Kremlin-gronde betree is ‘n klein baksteenrooi kerkie met goue broekieslace waar jy ook gou moet inloer. Gebruik jou tyd hierbinne om ‘n dankiesê-gebed te prewel dat jy die grootsheid van so ‘n klein aanbiddingsplekkie kan beleef.
Stap agter by die Kremlin uit en kies kortpad na ‘n opelugmuseum met houthuise, twee kerke en meulens wat die lewe van die kleinboere van ouds uitbeeld.
Die langdradige naam van die opelugmuseum is die Museum van Houtargitektuur en die Lewe van Kleinboere. Die huisies is uit verskillende distrikte hiernatoe gebring en weer kom oprig. In een huisie hang ‘n babawiegie uit die dak van die kombuis sodat die ma ‘n oog oor die baba kon hou terwyl sy kook.
Net buite die hek verkoop ‘n sypaadjiestalletjie lagwekkende T-hemde van Poetin, die Kommunistiese Party en Vladimir Lenin.
Die Verlosserklooster van St. Euthymius is net ‘n paar blokke se stap van die Kremlin. Tussen elfuur en drie-uur laat ‘n beiaardier die kerkklokke van die Katedraal van die Bevryding van die Verlosser, een van die vier katedrale by dié klooster, lui wat ‘n hoendervleisbelewenis vir almal wat daarna geluister het, was.
Oppad soontoe laat ons twee Bolanders ons nie twee keer nooi toe ons ‘n wynwinkeltjie – so ewe met gegote afdakkie en –lanterns – aan die oorkant van die straat opmerk nie. Op die toonbank pronk ‘n bottel Kanonkop Cabernet Sauvignon 2008 trots. Helaas, geen Engels word gebesig nie;dus moet handgebare maar aan die verkoopsdame probeer verduidelik dat ons van dieselfde plek as die wyn afkom.
Suzdal is bekend vir heuningbier. Bykans elke restaurant of kroeg – baie met kantgordyntjies soos wat in die sewentigerjare by ons gewild was – skink graag mildelik hiervan aan die Russe en aan buitelandse toeriste, of dit nou op die spyskaart is, aldan nie.
In Suzdal het die tyd stil gaan staan. Op die Handelsplein verkoop baboesjka-tannies vars groente, piekels, konfyte en wildesampioene. Almal vra plegtig dieselfde prys vir dieselfde produk. Elke tuin en sypaadjie het vrugtebome – veral appelbome – wat geil dra. Tussen die houthuisies met blou, groen of geel hortjies en houtbroekieslace is plek-plek weivelde. Die meeste mense loop of ry fiets om te kom waar hulle wil wees.
Die Kamenkarivier kronkel deur een kant van die dorp. Aan die relings van ‘n brug is ‘n klomp slotte wat huwelikspaartjies daar vassluit om ewige trou aan mekaar te beloof.
Suzdal voel soos ‘n Russiese Clarens (Vrystaat) of Greyton (Wes-Kaap). Op ‘n vreemde manier laat dit ‘n mens sommer tuis voel.
Lees meer van Suzdal in geradbraakte Engels: www.suzdal.org.ru/en/index.htm
(Baie van die indiwiduele webtuistes is slegs in Russies.)
Wat dit jou sal kos:
Een nag in ‘n privaatkothuis: R420 per persoon
Ontbyt in die dorp: R60
Toegang: Kremlin: R106
Verlosserklooster R106
Opelugmuseum: R75
Middagete (bier, salmtoebroodjie, vegetariese aartappelgebak en kersielikeur): R200
T-hemp: R125
Lang, warm geweefde wolsokkies: R106
Vir reisigers op ‘n begroting:
Die maklikste manier om na Suzdal te reis, is om ‘n trein vanaf Moskou na Vladimir, die naaste groot dorp, te neem. Die treinrit duur minder as twee uur. Moenie skrik as jy absoluut niks op jou treinkaartjie – behalwe as jy die Cyrilliese alphabet magtig is – kan lees nie.
Die Russe mag ‘n reputasie vir wodka drink en rowwe partytjies hê, maar hier is galante optrede nog aan die orde van die dag. Keer op keer het wildvreemdelinge aangebied om my (swaar) tas te dra en een heer het selfs op die stasie teruggedraai toe hy agterkom nog ‘n stel trappe wag op my.
Vanaf Vladimir-stasie loop rammelkasbussies na Suzdal. Met die ry stoom die vensters toe terwyl almal om ons ‘n geselsie probeer aanknoop. Ons kan natuurlik nie kop of stert uitmaak wat hulle sê – of eerder uitvra – nie.
Die vriendelike busbestuurder ry nét vir ons ‘n blok of drie in ‘n ander rigting om ons nader aan ons verblyf af te laai. ‘n Kopdoektannie raas met hom omdat hy ons nie voor die deur van ons blyplek aflaai nie.
Maak net seker jy klim op die regte minibus in Vladimir. Party busse loop net tot by ‘n busstasie wat twee kilometer buite die dorp geleë is.
Taxi’s vanaf Vladimir na Suzdal (of andersom) is ook ‘n opsie en bekostigbaar teen sowat R100 per persoon.
Recent Comments