ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

FIETERJASIES IN FIGUERES

First published in Die Burger, March 2013

Die pleintjie by die museum is na Salvador Dali en sy geliefde vrou, Gala, vernoem

Net een mens het so ‘n weglê-krulpunt snor soos Salvador Dali (1904 – 1989) gehad. Of liewer, net een kunstenaar. Dís dalk debatteerbaar, maar daar is sekerlik niemand anders wat sy snor vol heuning gesmeer het en‘n swerm bye daarop laat sit het nie. Behalwe Dali. Wat mal was oor aandag.

Dali se handtekening op een van die ruite

Salvador Dali – net so bekend vir sy swierige snor as vir sy skildery van sakhorlosies wat soos sagte, gesmelte malvalekkers lyk – het tot en met sy dood in 1989 in Figueres gewoon. Vanaf Barcelona is dit net ‘n dagekspedisie ver. Die dorpie Figueres, in die noordelike deel van die Costa Brava, is nie so spesiaal dat dit andersins ‘n dagekspedisie hierheen sou inspireer nie.

As jy die res van Figueres wil verken, help aanwysingsborde met jou aankoms by die stasie

Die Dali Museum is egter die mees besoekte museum, naas die Prado in Madrid, in Spanje. Ja, meer mense besoek hierdie eienaardige museum as wat die Picasso Museum – Dali het ‘n groot bewondering vir Picasso gehad en is in ‘n redelike mate deur hom beïnvloed – in Barcelona besoek.

SO LYK DIE DALI MUSEUM VAN BUITE

Sommer so met die aanstap, sien jy dis‘n plek wat net ‘n erg eksentrieke man met ‘n heuningsnor sal kan uitdink. Die Dali Museum lyk soos‘n fort-kasteel waarvan die bouplan midde-in die bouproses nie langer opgespoor kon word nie.

'n Fort of dalk 'n kasteel met bisarre dakversierings

Die gebou is donkerboergonje met‘n tikkie geel. Lang, dun, groen bome lyk soos roomyse op stokkies. Dit lyk asof groot, knoetsige croissants op die mure vasgeplak is. Op die rand van die dak balanseer massiewe eiers. Ons bespiegel of Dali sy inspirasie by volstruiseiers sou gekry het. Maar waar sou hy volstruiseiers teëgekom het?

'n Glaskoepel en oorgrootte eiers is eerste sigbaar

As jy om die hoek van die Dali-skepping stap, sien jy ‘n liggroen glaskoepel omhul deur geruite draadwerk van etlike meters hoog. Die vensters lyk of hul petjies teen die son dra en spog met tipies Spaanse diefwering soos wat in die sewentigerjare baie gewild in Suid-Afrikaanse voorstede was.

Ilse20000_0006

Op die Placa de Gala i Salvador Dali langs die Dali Museum is ‘n standbeeld met ‘n Franse baguette op sy kop asook ‘n standbeeld met ‘n voetstuk van trekkerbande. Dis maar eens meer onlangs wat herwinning van rubberbande ietwat van ‘n groen neiging geraak het. Dié standbeeld is sy tyd vooruit.

Ilse20000_0004

SIEN IS GLO

Wat op deeske aarde gaan ons binne sien? As dit so van buite lyk! Sonder versuim koop ons toegangskaartjies. Binne gekom staan ons (stom en) verstom.

Dali het ‘n magdom kuns in sy lewe produseer. Onder andere vir Gala, sy vrou – eens een van sy vriende se vrou. Hy was lief daarvoor om gesigte, poppe, neuse, borste en mielies (ja, gooi mielies!) in die kunswerke in sy huis te gebruik.

Ilse20000_0012

Dali het geglo dat om te skilder en om te eet, verwante aktiwiteite is; dat dié twee na aan mekaar lê. Om te eet, is soos om na ‘n skildery te kyk, is een van die goed – ander sêgoed baie meer absurd – wat hy kwytgeraak het. Kreef, repies spek, granate, seekastaiings, lamtjops, boontjies en – hier’s dit weer – eiers word in baie van sy skilderye uitgebeeld.

Nie al sy werk is ewe bisar nie – La corbeille a pain (Die mandjie met brood) en verskeie skilderye van Gala getuig hiervan.

Een van Dali se werke van etlike meters hoog

EENDAG WAS DAAR TWEE SALVADOR’S

Salvador Dali se pa was uitermate streng; sy ma meer beskermend en sy het sy kunssinnigheid aangemoedig. Nege maande voor sy geboorte is sy jong boetie, ook genaamd Salvador, oorlede; op vyfjarige ouderdom is hy na die graffie geneem en meegedeel dat hy die reïnkarnasie van die ontslape boetie is. Mettertyd het Dali dit self geglo en die eerste Salvador het gereeld in sy werke voorgekom.

KNIP JOU Oë TWEE KEER EN KYK WEER

Salvador Dali het graag met oëverblindery gespeel en is bekend vir sy surrealistiese uitbeeldings. Hy was mal oor aandag trek en sommige kritici het gevoel dat sy manewales die aandag van sy uitstekende werk steel. In 1936 het hy in ‘n diepsee-duikpak met duikhelm, ‘n biljartstok en twee Russiese wolfhonde by ‘n surrealistiese tentoonstelling in Londen opgedaag waar hy ‘n lesing moes lewer.

Dali blyk die verpersoonliking van malheid wat baie na aan genialiteit grens, te wees. Of andersom.

Ons verkyk ons. Dit help nie om te probeer verstaan nie. Een penskets is ‘n aanpassing van ‘n diagram van jou neusbeen. ‘n Ander is getiteld “Self-Kannibalisme”; dit beeld ‘n man uit wat – amper met ‘n pinkie wat regop staan asof hy tee drink – met ‘n mes en vurk ‘n deel van sy bobeen afsny. ‘n Derde skets is van ‘n vliegtuig wat van mensvleis gemaak is.

Een van Dali se skilderye – geïnspireer deur Freud – is getitel Droom veroorsaak deur die vlug van by om ‘n granaat ‘n sekonde na wakkerword. Huh? In hierdie werk het hy vir die eerste keer die beeld van ‘n olifant gebruik, maar hy sou hierna telkens na olifant-uitbeeldings terugkeer.

In ‘n ander vertrek is ‘n flambojante rusbank wat soos oorgrootte rooi lippe lyk. Mae West se lippe het klaarblyklik as inspirasie vir hierdie rusbank gedien.  Om die volledige prentjie soos wat Dali dit wou voorstel, te kan sien, klim jy op teen ‘n kameel. Dan kyk jy deur ‘n multi-dimensionele tipe bril – my gedorie, voor jou verrys ‘n gesig waarvan die sofa as die mond dien; kompleet met gestyfde, blonde krulhare wat alles omring.

By die geskenkwinkeltjie is weliswaar nie 'n lippe-sofa te koop nie

Bokant ‘n deur is ‘n onderstebo poplyf met mieliestronke (ja, gooi mielies!) vir hare en popkoppe vir oë. ‘n Ander het ‘n onderstebo poplyf waarvan die kop afgesny is, as ‘n neus. Ons mae draai so ‘n bietjie.

Uit by die deur, in by nog verrassings

In die binnehof is ‘n regte, egte Cadillac wat Reënerige Taxi heet. Binne-in sit mannekyne met klimop begroei. Ontlok ‘n paar giggels deur ‘n paar muntstukke deur die gleuf te gooi – die mannekyne kan sowaar besproei word vandaar die titel van hierdie werk. Kyk op – ‘n bootjie hang aan ‘n palmstam bo-oor die Cadillac.

Terug binne-in die museum self kom ons agter sy graf is ook in die kasteelhuis. Bo-op die graf is ‘n beeld van ‘n man in ‘n glaskas wat aan Sneeuwitjie herinner. Dalk Dali se laaste kreatiewe skepping voor hy hierdie wêreld verlaat het?

Daar’s nog baie meer by die Dali Museum te sien. Gaan kyk self – ek weet net nie of jy vooraf moet eet nie.

 

Dali het gesê:
·        Elke oggend as ek wakker word, ervaar ek weer die sublieme plesier – om Salvador Dali te wees.
·        Die enigste verskil tussen my en ‘n mal mens is dat ek nie mal is nie.
·        Toe ek ses jaar oud was, wou ek ‘n sjef word. Op sewe wou ek Napoleon wees. Sedertdien het my ambisie elke dag nog meer gegroei.
·        Ek gebruik nie dwelms nie. Ek is ‘n dwelm.
·        Party dae voel ek of ek van ‘n oordosis van tevredenheid gaan sterf.
Voor jy die Dali Museum besoek, kan jy by http://www.salvador-dali.org/en_index.html vasstel of daar spesiale werkswinkels of karnaval-etes aangebied word; jy kan ook toegangskaartjies hier bespreek.

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 13, 2017 by in Europa and tagged .