ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

WRAGGIES, ‘N WARMLUGBALLON

First published in Die Burger, January 2014

So lyk dit binne-in die lugballon terwyl alles nog reggetrek word

Dís nou die moderne lewe se kitskuur vir depressie. Om ‘n rit met ‘n warmlugballon te onderneem. Geen siel kan daarna áf voel nie.

So begin die dag - met 'n onderstebo mandjie

So besluit ons almal wat in ‘n mandjie (daar is vyftien van ons) oor wingerde en plaasbedrywighede sweef. En dit vóél na sweef in absolute stilte. Behalwe vir almal se oe’s en a’s – net twee passasiers het al voorheen ‘n lugballonrit meegemaak en dit lyk nie of hul verwondering oor die belewenis enigsins getaan het nie.

Staan op voor die hane begin kraai

Die reuse ballon word opgeblaas

Dit kos ‘n paar oggende se vóór douvoordag opstaan voordat die weergode saamspeel. Maar jy wil nie hê die kondisies moet enigsins anders as perfek wees as jy in ‘n mandjie in die lug gaan rondhang nie.

Na ‘n paar oggende se vals alarms, breek die windstil en mislose dag aan. Dit voel amper te goed om waar te wees, dink twee avontuurlustige Paarliete wat nog die slaap uit hul oë vryf terwyl die motor se neus na Joostenberg Deli & Bistro mik vanwaar ons gaan opstyg.

Nou’s ons in vir ‘n ding

'n Vreemde idee om te dink ons gaan met hierdie kontrepsie vlieg

Selfs toe die allemintige ballon – dis ‘n volle nege verdiepings hoog – voor ons opgeblaas word, is daar nog so ‘n knaende gevoelentjie dat iets kan skeefloop soos ‘n hardnekkige wind wat perdalks kan opsteek. Die rooi warmlugballon lê uitgestrek op die gras en dit neem nogal ‘n aardige tyd voor dit met lug gevul is. Dan staan die einste ballon eensklaps op; selfs te vinnig om ‘n ordentlike foto te neem.

Synde meestal vreemdelinge vir mekaar, fluister ons maar so onderlangs oor die mandjie met afskortings waarin ons almal moet pas. Boonop nog opstyg én vlieg ook. Redelik vinnig opstyg, want ons moet bo-oor die bome wat hier knap by ons is.

Party teug aan kitskoffie; ander voel dat moerkoffie met ‘n versterkertjie meer vanpas sou wees. Tog is almal ewe gefassineerd deur die hele proses wat voor ons afspeel. Van ongeduld is daar nie ‘n greintjie te bespeur nie – selfs die hele prosedure vooraf is romanties sowel as iets wat min mense ooit die geleentheid kry om te aanskou.

Hup, ons klim in die mandjie

Woerts warts dryf die ballon omhoog

Een-twee-drie lig almal bene oor; kyk mekaar grootogig aan en luister aandagtig na Conrad van Wyk, ons vlieënier. Toe hy begin praat, straal die passie van wat hy doen, uit; terselfdertyd laat hy almal op hul gemak voel – selfs een vroulike passasier wat bleek om die kiewe van hoogtevrees is.

DSC_0714

Voor ons dit besef, het ons reeds ‘n paar sentimeter gelig. En toe styg ons stadig, héérlik stadig, na bowe – oor die toppe van daardie bome, oor die N1, oor alles daaronder wat ons kan sien, maar nie kan hoor nie. Net elke af en toe blaas Conrad warm lug in die maag van die ballon in; die res van die tyd sweef ons asof op ‘n wolk. Dis sereen, o so sereen.

Die son is net-net op; die Bolandse berge lê in skadu-lae; die gras blink nog nat van die dou. Vér onder ry fietsryers in gelid – hul oggend moes ook vroeg begin het.

‘n Ongeëwenaarde ondervinding

Verwonderd oor die ondervinding

In amperse fluisterstemme sê ons vir mekaar hoe ons voel. Hoe absoluut ongelooflik die ondervinding is. Ons wys vir mekaar die skaduwee van die ballon op die veld daaronder; ‘n dynserige Tafelberg Kaap se kant toe; skape, perde en koeie wat verward rondbeweeg as ons oorvlieg; die tekstuur van ‘n damwal en die patrone op die grond.

Conrad draai die warmlugballon sodat elkeen afskortinkie se passasiers op hul beurt vorentoe kan kyk. Tussendeur beantwoord hy almal se vrae en vertel meer van homself en sy ondervinding as lugballonloods.

DSC_0825

As ‘n kleuter van vier jaar oud het hy die eerste keer saam met sy pa gevlieg; hy vlieg ‘n paar maande per jaar vir Virgin Balloon Flights in die Verenigde Koninkryk; hy het al meer as 1300 vlugte onderneem en reeds in die meeste lande van Europa gevlieg; hy is gekwalifiseerd om onderhoudswerk aan warmlugballonne te doen sowel as om lugballonne (vir privaatgebruik) te bou.

Ons wil nie noual huis toe gaan nie

DSC_0819

Gou, te gou is alles oor. Die uurlange vlug voel of dit maar ‘n halfdag kon aanhou.

Ons landing is so sag dat een passasier teleurgesteld kreun: “Aggenee, ek wou gesléép geword het!” Dit gebeur wel soms; ook dat die mandjie omkantel, maar daar is geen veiligheidsrisiko daaraan verbonde nie.

Ballonprotokol vereis dat almal binne-in die mandjie bly staan totdat die boer in wie se (koeimisbestrooide) veld ons geland het, toestemming gee dat die ballon kom haal kan word. Dit gebeur dan sommer ook tjoef-tjaf, maar dit neem heelwat langer om ons ballon se lug uit te kry, dit soos ‘n láááng wors op te rol en dan nog boonop in ‘n seilsak te prop.

DSC_0867

Weereens is dit interessant om te sien hoe dit gedoen word. Die innerlike kind ontwaak en daar word platgelê om die lug te laat ontsnap en bo-op die ballon gesit om hom in die sak te laat pas. Eers dan word sjampanje (en/of lemoensap) uitgedeel.

DSC_0869

Die grondbemanning neem die blinkoog-passasiers terug na Joostenberg waar almal om ‘n tafel aansit en saam ontbyt geniet en vir ‘n laaste keer vir mekaar sê hoe elkeen dit beleef het.

DSC_0887

Conrad word gepeper met vrae wat hy deurgaans met ‘n glimlag beantwoord. As jou kantoor die wye blou uitspansel is, moet jy mos passievol oor jou werk wees.

En as ek kon kies, het ek wraggies een keer per maand in ‘n rooi ballon oor alles onder my gesweef.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

DIS nou 2 avonturiers!

Bespreek ‘n absoluut onvergeetlike warmlugballonrit.  
·        Die webtuiste: http://www.lifeballooning.co.za
·        Life Ballooning het drie plekke vanwaar jy kan vlieg: Joostenberg, Wes-Kaap; Cullinan, Gauteng en Hartebeespoort, Noord-Wes. Let wel dat hulle net sekere tye van die jaar in die Wes-Kaap is – gewoonlik na aan die einde van die jaar tot vroeg in die nuwe jaar.

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 29, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .