ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Vertoef op die Klapmuts-pad

First published in Die Burger, November 2013

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership) 

Draai af by die matrooskêp

Probeer bietjie bereken hoeveel verlof jy sou nodig hê as jy elke Bolandse wynplaas, restaurant en besienswaardigheid sou wou aandoen. Ek’t ‘n goeie spesmaas dit sal maande eerder as weke neem.

Van Klapmuts tot waar jy Stellenbosch binnery, is dit maar sowat 18 kilometer. Hierdie deel van die R44 gaan jou egter ‘n paar dae besig hou as jy orals wil vertoef.

Stop; al is hier nie ‘n spietkôp

By die ou vierrigtingstop – deesdae spog hierdie oorgang met ‘n verkeerslig – kan jy van vars vrugte tot wynvate, draadwindpompe en soms snoek aanskaf. Die buurtkafee word al om die ander jaar oorgeverf – van kola-advertensies tot ‘n reuse blou waspoeierboks; op die oomblik is dit ‘n rooi Chinese hoekkafee.

Straks wil jy ‘n kroegman ontmoet wat al 51 jaar in dieselfde keelnatmaakplek dorstige klante bedien. Glip dan vinnig in by die Klapmuts Hotel om met Dougie hand te skud. Dit was sy eerste joppie en soos dit nou lyk, gaan dit dalk sy laaste jop ook wees. Teen die muur pryk Afrikaanse sêgoed van bekende advertensies soos Pure Neef, Komma In en Eishkas. Ook ‘n kaart wat deur Bertie Reed, die legendariese seiljagvaarder, onderteken is.

‘n Uitsig, ‘n bestemming, ‘n werf

Lievland reflekteer op 'n wintersdag

Vanaf die R44 lei ‘n knobbelpaadjie na Arra. By Arra is die ontvangs warm en vriendelik; daar’s lang tafels op die buitestoep en die avontuurlustige buurvrou laat haar nie deur ‘n Harley Davidson onderkry nie.

Potbelly is als-in-een: deli, plaasstal, koffiewinkel, slaghuis en geskenkwinkel. Die rakke is propvol en hul pasteie het al naam verwerf.  By Olivello Restaurant op Marianne kyk jy oor ‘n riet-omsoomde dam uit. Lievland se swane verwerdig hulself nie eers om op te kyk  as hul ‘n voertuig hoor aankom nie; daar word net vere gepluis en snawels skoongevee.

Vandag waai die wind tot die swane deurmekaar by Lievland

Warwick se werk is ‘n besige werf. Kinders speel in leivore; ‘n buitelugvoertuig wag vir Groot Vyf Wynsafari-kykers; die piekniekpeule – na Warwick-wyne vernoem – lyk uiters uitnodigend; en met jou aankoms word pastelkleurkaarte uitgedeel sodat almal weet waar wat is.

‘n Kaai kyk uit oor wingerde, ‘n skietding en ‘n ontdekking

Laibach se dek herinner aan 'n kaai

Laibach het een van die mees individualistiese wynkelders op die Stellenbosch Wynroete. Tog kom jy eers met die tweede of derde opsommende kyk agter dat die uitkykpunt aan ‘n houtkaai herinner.  In die wynproelokaal hang persblou druiwetrosse – so groot soos Jan se boontjierank – op groot skilderdoeke.

As jou plaasnaam Kanonkop is, is dit sekerlik gepas dat ‘n ou kanon – tot die plesier van onnutsige Maties – voor jou plaashek staan.

'n Soldertrap by Uitkyk

Uitkyk Wynlandgoed teen die hellings van Simonsberg dateer uit 1712. ‘n Paar jaar gelede is  muurskilderye onder verskeie lae verf  in die voorportaal van die herehuis ontdek. Tans is van die muurskilderye nog onder restourasie. Met die aanstap terwyl herfsblare onder jou voete knars en eekhorings akkers versamel, kan jy in jou geestesoog sien hoe vroue in veterbandjierokke oor die grasperk sou gewandel het.

Flat Roof Manor-wyne word deur Estelle Lourens gemaak. Die wyne – ook van Uitkyk – word as ongekunsteld beskryf en hul webtuiste se leuse is ‘tuiste van elegante wyne en ‘n kat’. ‘n Kat wat op die dak slaap en wat op elke etiket in ‘n ander katterige posisie uitgebeeld word.

‘n Plaaslike, Europese of Argentiniese maaltyd

Dis moeilik om Del Vera se opgestapelde wynvate mis te kyk. Van September tot April is daar elke maand met volmaan ‘n staptog na die bopunt van Klapmutskop. Dié wat al daar was, kan nie uitgepraat raak daaroor nie. Moenie laat opdaag nie; anders gaan jy nie die sonsondergang betyds beleef nie. Flitse en warmjakkies is nodig vir die terugstap.

Muratie het by verre die mees atmosferiese wynproelokaal in die industrie. In die ou aangenaam-muwwe kelder besef jy watter skoonheid in spinnerakke skuil. Solank jy net nie arachnofobies is nie. Afval-aande by Muratie is legendaries, so verneem ek van skaapkopeters.

By Delheim is parkering vir ‘n skare aangesien hul restaurant ‘n gewilde bymekaarkomplek is. In die winter word Switserse kaasfondue’s aangebied; Sondae is Jazz-en-Kaasdae in die ondergrondse kelder wat beteken die parkeerplek kan stampvol raak.

Towerbosch by Knorhoek het ‘n ou, verbeeldinglose lapa in ‘n toorlandskap van wit omskep.  Sodra die weer na die lang Kaapse winter draai, kan hier Sondae vir asado-etes  (volgens die Argentynse braaistyl) met tipies Suid-Afrikaanse bykosse aangesit word.

Aaa, hier was die ou Wine Route Hotel mos lank terug. In die vroeë tagtigerjare het die balke gerittel soos hier by De Balke gedans is. En aan die oorkant is ‘n tikkie Frans by Morgenhof met hul immergewilde restaurant te beleef.

Net voor jy by die heuwel Stellenbosch toe begin afsak, draai jy af – wees tog versigtig met die in- en uitry, want die aankomende verkeer van beide kante kan bedrieglik wees – na Blue Jay Plaasstal by Timberlea. Laai jou kattebak vol boepensbeet, growweskilsuurlemoene, vye in seisoen, grenadellamoes en die lekkerste vars sappe duskant die ewenaar.

Die volgende kan ook nog op die R44 besoek word:
·        Remhoogte bied keldertoere, perdry, verblyf en pieknieks aan volgens www.remhoogte.co.za
·        Lees meer van L’Avenir se wyne en geskiedenis by www.lavenir-south-africa.com
·        By Slaley is ‘n nuwe restaurant sowel as tango-klasse een keer per week. Kyk na www.slaley.co.za
·        Nog nooit in rooiwyn gebad nie!? Daar’s altyd ‘n eerste keer. Kyk na www.montdestin.co.za/winebath.htm
·        Kyk ook na www.mountvernon.co.za, www.mitres-edge.co.za,  www.nattevalleij.co.za en www.lebonheur.co.za
·        Marklew Family Wines is slegs per afspraak oop vir wynproe.
·        Quion Rock belowe om allerhande interessante ontwikkelinge in die nabye toekoms aan te pak – hou dus hul spasie dop.

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 13, 2018 by in In die Boland and tagged .