ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Weskus: Skink tee en skil ‘n bokkom

First published in Die Burger, November 2017

Rooibostee is trots Suid-Afrikaans, eintlik trots Wes-Kaaps as ‘n mens meer spesifiek wil wees. Rooibos – daar is baie verskilende spesies – groei net in die Sederberg-gebied van Suid-Afrika.

Tee-en-kos as pasmaats hou groot verrassings in

Tee in herfsskakerings

Die blare van die bossie word geoes, gekneus en op teebane in die son laat lê om te oksideer. Dit is wat aan rooibostee sy kenmerkende kleur gee. In distrikstaal word rooibostee soms naald-, speld- of koopmanstee genoem.

Rooibostee bevat nie kafeïen nie, het ‘n hoë vitamien C-inhoud, is ryk aan anti-oksidante en het heelwat minder tannien as gewone tee.

Daar word ook gesê dat rooibos die immuunstelsel help om virusinfeksies te bestry, dit het anti-inflammatoriese en anti-allergiese eienskappe, dit gee verligting van hooikoors en velprobleme soos aknee en enseem, dit help met slapeloosheid en spanning en baie ma’s sweer dit verminder koliek by hul kinders.

Dis egter ‘n nuwigheid om ‘n tee-en-kosproe met Carmién Tee te beleef.

Carmién Tee het in 1998 in ‘n ou plaaswinkel op die plaas Brakfontein naby Citrusdal die mark betree. Die tee wat hulle deesdae wyd en syd – ook internasionaal – versprei, kom van areas soos die Piekenierskloof, Nieuwoudtville, Wupperthal en Gifberg.

Met ons aankoms by Herons Nest net buite Velddrif aan die Weskus is daar nie ‘n wynglas – wat gewoonlik met pasmaatproeë geassosieer word – in sig op die keurig gedekte tafels nie.

In stede daarvan gloei die herfskleure van gegeurde rooibostee in boepensglasteepotjies, elk op hul eie brandertjie, tussen stillewes van vetplante en rivierklippies.

Hoe word ek toe nie verras met ‘n teeproe nie!

Vis- en seekos van die Weskus word keurig voorgesit en saam met Carmien tee as pasmaats bedien

Vis- en seekos van die Weskus word keurig voorgesit en saam met Carmien tee as pasmaats bedien

'n Perfekte rolletjie rollmops by 'n Carmien teeproe

‘n Perfekte rolletjie rollmops by ‘n Carmien teeproe

Wildeknoffelsop en 'n snoekdeegrolletjie is saam met rooibostee met chai-speserye voorgesit

Wildeknoffelsop en ‘n snoekdeegrolletjie is saam met rooibostee met chai-speserye voorgesit

Nartjie-en-mentjellie is met gegeurde groen rooibostee bedien

Nartjie-en-mentjellie is met gegeurde groen rooibostee bedien

Die eerste gang is rollmops (gepiekelde haringfilette) met ‘n mentteesmakie, mossels wat met groen rooibos, vinkel en anys gegeur is en ‘n kerrievishappie eie aan die Weskus. Daarmee saam skink ons ‘n mengsel van groen rooibos-, heuningbos- en menttee. Soos die naam van hierdie tee-‘versnit’, Refresh, aandui, is dit ‘n verfrissende warm drankie.

Die tweede gang is wildeknoffelsop met organiese groente wat saam met ‘n snoekdeegrolletjie voorgesit word. Die Weskus se snoekskuite is juis reg deur die land bekend.

Gegeurde rooibostee saam met vis- en seekos van die Weskus verower nuwe harte aan tafel

Watwou, wyn! Tee word hier die pasmaat.

Daarmee saam geniet ons rooibostee met chai-speserye soos wat in Indië gewild is. Die speserymengsel sluit in kaneel, gemmer, kardemom, naeltjies en swartpeper en die naam van die teemengsel is Focus Chai.

Die teeproe word afgesluit met ‘n elegante jellie waarin skyfies nartjie en mentblaartjies soos juwele skyn en Carmién Cleanse, ‘n mengsel van groen rooibos, sitroengras, gemmer, ment en senna-kruie.

Ander pasmaats wat jy tuis kan probeer, is die Carmién Rooibos met Sitroengras en Gemmer wat met Chai-tee vermeng word en wat saam met Thai-disse met lemmetjie, rissie, vars koljander en ment gekombineer kan word.

Rooibostee raak net gewilder en gewilder deesdae – op sy eie en as bestanddeel van allerhande produkte van brood tot bier.

Dit smaak my dit is oor hoe dit proe sowel as oor al die ander gesondheidsbyvoordele wat daarmee gepaardgaan.

  • Carmién Tee bied tee-en-kosproeë aan wat wyn ook kan insluit by:
  • Eenheid 32, Northgate Besigheidspark, Brooklyn, Kaapstad

Besprekings: sales@carmientea.co.za of skakel 021 510 2685

  • Hebron (die eerste stop op die Rooibosroete), Citrusdal

Besprekings: admin@hebron.co.za of skakel 022 921 2595/022 921 2581

  • Loer na die reeks produkte by carmientea.co.za
  • Herons Rest Gastehuis is net-net buite Velddrif op die Ou Piketberg-pad. Verblyf is beskikbaar in ‘n gerestoureerde plaashuis of kothuis.

Kyk hoe dit lyk en bespreek by: www.heronsrest-velddrif.co.za

Bokkoms is bobaas

Trosse bokkoms hang om droog te word na dit in lae in sout gepak was

Trosse bokkoms hang om droog te word na dit in lae in sout gepak was

Bokkoms is kontreikos, Weskus-kos. As jy fiemies het, trek jy perdalks jou neus op daarvoor, maar jy weet nie wat jy mis nie.

Bokkoms is nie so ‘n verfynde happie as rollmops nie, maar beide het ‘n Nederlandse konneksie.

Die woord bokkom kom van die Nederlandse woord ‘bokkem’. Op sy beurt is dié woord afgelei van die Nederlandse woord vir bok of boerbok. Die ontstaan is te danke daaraan dat die gedroogde bokkomvissie lyk asof dit dieselfde vorm as die horings van ‘n bok het. Bygesê, dit ruik ook amper ewe sleg.

Vis hang soos wasgoed by Bo-Rivier Visserye

Vis hang soos wasgoed by Bo-Rivier Visserye

Bokkoms (dit word ook as bokkems gespel) is heel, gesoute en gedroogde harders.

Die jong harders word in die oop see gevang, nie meer in die rivier soos in die ou dae nie.

Al langs die Bergrivier af – dis nou in Velddrif – is klein bokkomfabriekies of –werkswinkels in wat as Bokkomlaan bekend staan. Die meeste het ‘n klein kaaitjie op die rivier wat eens deur die vissermanne gebruik is om hul bootjies vas te bind en hul vangs af te laai.

Loop in Bokkomlaan af tot jy 'n plekkie kry wat bokkoms bedien; ver sal jy nie hoef te loop nie

Loop in Bokkomlaan af tot jy ‘n plekkie kry wat bokkoms bedien; ver sal jy nie hoef te loop nie

By die bokkomfabriekies word die bokkoms in lae gepak en gesout.

Na die harder gesout is, word dit in die son en die wind gedroog. Soms word dit ook gerook.

Na ‘n paar dae word die bokkoms in trosse geryg en dit is wat jy orals in Bokkomlaan te siene kry. Die klimaat van Velddrif is ideaal vir bokkom droog, want die somers is droog en daar is relatief min reën in die winter.

Velddrif is die bokkomhoofstad van Suid-Afrika, eintlik van die wêreld, want dis eg Suid-Afrikaans.

Die Weskussers eet bokkom saam met brood, konfyt en koffie. Dis ook net ‘n Weskusser wat ‘n bokkom met soveel presisie in die fynste repies kan sny.

Stadsjapies verkies ‘n glas wit wyn saam met hul geskilde bokkom.

Bokkomrepies in olyfolie is net soos Italiaanse ansjovissies ‘n heerlike toevoeging tot bredies, tapenades, pastasouse en sop.

As jy nog nie aan ‘n bokkom geknibbel het nie, is dit dalk net tyd om jou kulinêre horisonne te verbreed.

Moet net nie soos die Weskussers op jou bek geval wees en na iemand as ‘pure bokkom en biltong, maar min vir die jakkalse’ verwys nie. Jy kan dalk net ‘n smoelopstopper kry.

Volstaan dan maar eerder daarby om vir jou ‘n T-hemp waarop ‘Velddrif – Plek van die Bokkomvreters’ staan by Ek en Djy Vissery in Bokkomlaan aan te skaf.

  • Kyk wat jy nog in Velddrif kan doen: velddriftourism.co.za
  • As jy ‘Velddrif’ op youtube.com intik, kan jy na stories oor bokkoms en visvang in die kenmerkende Weskus-aksent luister.

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 14, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .