ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

PRINS ALBERT – ‘N GROEN OASE IN DIE KAROO

First published in Die Burger, May 2013

 (Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Stilte… en restaurante… en feeste

Prins Albert Galery en die Gallery Cafe deel hierdie gebou

‘n Besoek aan Prins Albert laat jou sommer lus voel om ‘n naweekhuisie êrens in die Karoo te koop. In ‘n dorp waar daar nog leivore is.

kunstige-vullisdromme-in-prins-albert-se-hoofstraat.jpg

Prins Albert is een van die min plattelandse dorpe wat genoeg afleiding selfs vir geswore stadsjapies bied. Hier’s die groot niks, hier’s groot oop ruimtes, hier’s oorverdowende stiltes – dis soos Prins Albert hulself bemark. Maar hier is ook kunsgalerye, ‘n kookskool, uitmuntende restaurante en ‘n paar jaarlikse feeste.

Lipleklekker

Dis geen wonder dat Kokkedoor, die nuwe werklikheidskookkompetisie van Kyknet, juis hier geskiet is nie. In Prins Albert word ongepasteuriseerde kase en joghurt by Gay’s Dairy gemaak; vye by een van die eerste vyeplase in Suid-Afrika, Weltevrede, verbou; en tonne olywe by Swartrivier Olyfplaas geoes.

Vars pasta by Relish

Aan uitmuntende restaurante ontbreek dit die dorp ook nie. Met die instap by African Relish hang vars pasta tussen twee toonbanke. ‘n Swartbord op ‘n prente-esel vertoon ‘n magdom woorde wat met kos verband hou om jou smaakkliere te prikkel. Wat sommer dadelik gebeur.

By The Gallery Cafe eet jy murgsagte lamskenkel of adamsvye gevul met gorgonzola; die diens is voortreflik en jy kan oor die hoofstraat uitkyk sou jy dit so verkies. Bespreek liefs, want die dorp se mense eet graag hier.

By The Lazy Lizard word tee en koek ‘n uitgerekte oggend; by Mix raak jy gou-gou deel van die dorpenaarfamilie; by Karoo Kombuis leen jy ‘n hoed wat by jou karakter pas en wat jy maar aan tafel mag opsit; Lah-di-Dah is ‘n deftige plaasstal wat ook aansit-etes bedien; en by Prince Albert Country Store voel dit of jy heeldag in hul tuin kan vertoef.

Voed jou siel

By die Watershed Galery is foto's wat eens in Drum gepubliseer is, te sien

Watershed Gallery spog met die enigste eksklusiewe uitstalling van die foto’s van Jürgen Schadeberg ter wêreld. Stilweg pink ek ‘n traan weg terwyl ek na hierdie beroemde fotograaf se swart-wit foto’s van jazz-musikante in die 1950’s in Sophiatown kyk. In sommige kringe word Schadeberg as die ‘vader van Suid-Afrikaanse fotografie’ beskou. Geraamde, ondertekende kopieë van ikoniese Drum-voorblaaie is hier beskikbaar.

Dis maklik om in Prins Albert kalm te bly

By Watershed is ook windpomp- en Steve Biko-kussings; werke van Alex Hamilton; leeumaskers; geverfde retro meubels; protea-draadlampe; en Afrika-bedrukte dasse, sambrele en hoede te  koop.

Die Prince Albert Galery is in die elegante Seven Arches-gebou oorkant die museum. Die galery is oorspronklik deur plaaslike kunstenaars gevestig ten einde uitstalplek vir hul werk te hê. Uitstallings van kunstenaars van regoor die land word op gereelde basis hier gehou. Die driedimensionele kremetarte teen die kaggelmuur steel my hart keer op keer.

My naam is Piet; myne ook

Stap oor die breë straat – dit lyk of ‘n ossewa met gemak hier sou kon omdraai – na die Fransie Pienaar Museum. In die gang pryk ‘n foto wat in 1947 geneem is – toe was daar 33 manne met die naam Piet op die dorp! Niemand het onlangs getel hoeveel Piete daar tans woon nie en of daar van die Piet-kindertjies op die ou foto nog leef nie.

Op die stoep van Prince Albert Country Store

Vanaf die museum is al die winkeltjies binne stapafstand. As jou kattebak nie te vol is nie, kan jy giggelgeel blikke met olyfolie , volstruiseierdop-mosaïekitems van Avoova, witblits van die museum, Bergwater Wyne (wat ook by Prins Albert en Charlene Wittstock se troue gedrink is) sowel as sjiek geskenke van Chic Karoo huis toe karwei.

n Fees vir elke gees

Frack = vrek

Prins Albert is deesdae ietwat van ‘n feesdorp met ‘n paar feeste van uiteenlopende aard wat gedurende die jaar gereël word. Behalwe vir die feesvieringe word hier ook allerhande ander interessante aktiwiteite bedryf. Voor jy jou wegbreek na hierdie groen oase beplan, kan jy netsowel seker maak wat op hul feeskalender in ‘n spesifieke maand aangebied word.

Almal het seker al van Prins Albert se Olyffees gehoor waar jy onder ander kan meeding om te kyk hoe ver jy ‘n olyfpit kan spoeg. In Spanje – waar daar ‘n olyfpitspoeg-kompetisie in Pamplona gehou word – is die olyfpitspoegrekord meer as 16 meter. In Prins Albert is die huidige olyfpitspoegrekord net oor die 11 meter.

Prins Albert hou ook hul eie Leesfees, die PArt (Prince Albert Art) Kunsfees, ‘n tweeweeklikse fliekklub, kookkursusse by African Relish, fotografie-werkswinkels en sterrekyk-aande.

Jy is mos nou hier

Terwyl jy nou tyd in hierdie omtrek verwyl, kan jy netsowel gaan kyk hoe lyk Die Hel oftewel Gamkaskloof. Daar is min bergpasse in ons land wat so mooi as die Swartbergpas is – as jy hierlangs ry, kan jy met die R62 terug na Kaapstad keer. As jy Prins Albert vanaf die N1 benader, kan jy by die Leeu-Gamka Hotel jouself verkyk aan die versameling ou kroegdekor, naaimasjiene en ‘n gefossileerde olifanttand wat klaarblyklik uit 1938 dateer terwyl jy aan ‘n koue bier teug.

Soos iemand op www.tripadvisor.com geskryf het: Ek smaak African Relish stukkend. Hierby wil ek byvoeg – ek smaak Prins Albert stukkend!

 

Wat jy nog moet weet:
·        Lees alles en nog wat van die dorp in die Prince Albert Vriend – hierdie gemeenskapkoerantjie word al sedert 1912 gepubliseer.
·        Met John se Donkie – dis nie ‘n donkie wat balk nie – kan jy na die Swartbergpas of Die Hel gaan as jy dit nie op jou eie wil aandurf nie. Skakel 023 5411 659 of 082 575 5133.
·        Vergewis jouself van die openingsure by Gay’s Dairy aangesien hul net ‘n paar uur per dag oop is; jy wil nie hierdie kase en joghurt misloop nie.
·        Loer na www.karoohandgemaak.co.za – die plaaslike vroue raak kreatief met breidraad.
·         Hou in gedagte dat dit Saterdagoggend markdag op Prins Albert is.
·         Op hierdie webtuiste http://www.patourism.co.za/ is amper alles wat jy moet weet – van verblyf tot restaurante, van die omringende omgewing tot geskiedkundige feite.

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 7, 2018 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .