ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

COLONIA DEL SACRAMENTO -DRENTELDORPIE IN URUGUAY

First published in Die Burger, July 2010

sypaadjie-tafeltjie-naby-die-ou-stadshek-van-colonia-del-sacramento

Maklik om hier te kom, is dit nie. Eintlik moet jy êrens anders heen gaan om hier op te eindig. So as jy ‘n vlugkaartjie in die kluis het wat jou na Buenos Aires of Montevideo neem, skribbel Colonia del Sacramento voor in jou reisgids neer. Of maak planne om dit jou volgende mini-bestemming te maak.

Colonia del Sacramento is ‘n drenteldorpie. Die meeste buitelandse toeriste is dagbesoekers van Buenos Aires – hoogs bekostigbare veerbote vaar ‘n hele paar keer per dag heen en weer . Skribbel egter op dieselfde plek in jou reisgids ‘n sielsverkwikkende 2-  of 3-dag wegbreekplan neer. En hou daarby.

Honger jouself uit, want al die semi-kosmopolitaanse restaurantjies sal jou tongpapille en smaaksintuie verkwik. Dan’s daar ook nog oorgenoeg rooiwyne – bekende en onbekende kultivars – om (goed) te leer ken.

Afhangende van die seisoen of die publieke vakansiedae, is dit óf sielsaligstil óf aangenaam bedrywig soos Paasnaweke by ons; net hier    speel candombe-tromme in die straat. Die restaurante is nooit tot boordenstoe vol nie; daar is in elk geval weinig verkeer; en die plaaslike mense kuier oor en weer eerder as in die openbaar of so wil dit voorkom.

boomryke-lane-met-skadu-bome

Klim die faro (vuurtoring) en kyk uit oor die Rio de la Plata sowel as oor Colonia self. Die naam beteken silwer rivier, maar dit blyk ‘n geromantiseerde weergawe te wees. Sorg dat jy mooi kyk vir foto’s met die afstap – veral as daar ‘n huisie by die see wag waarvan die mure maar kaal vertoon.

Na iets aktiefs soos vuurtoring klim – dalk ietwat relatief in soverre dit oefening aangaan – agter die rug is dit tyd vir ‘n jenewer en tonikum gevolg deur  ‘n outentieke caipirinha by die seiljagklub. Op stormagtige aande sláán die rivierbranders oor die kaai, selfs teen die vensters van die klubrestaurant, en word jy draf-draf waternat. In ruil daarvoor kyk jy oor die Rio de la Plata wat net soos ‘n bruinerige see lyk. Warm gekoester binne kyk ons hoe seiljagvaarders terug na hul jagte keer, en wonder stilweg hoe hul slaapplek dit  met ons knus gastehuiskamer vergelyk.

Ongelukkig was Posada del Angel  lank vooraf volbespreek;  hierdie gastehuis met ‘n engele-tema as dekor het ons hart gesteel. Die vriendelike eienares het vir ons elke kamer gaan wys toe sy ons entoesiasme – en teleurstelling omdat ons nie hier kon bly nie – sien.

Calle de los Suspiros is die skoonheidskoningin onder al die straatjies. Stokou hobbelrige kobbels, uitgewaste pienk geboutjies, sigsag dakkies en geen ander toeriste in sig om die foto te bederf nie. Calle San Pedro smeek ook om afgeneem te word.

n-straatjie-wat-smeek-om-afgeneem-te-word

Drentel, drentel. Gedorie, is dit alweer tyd vir aandete…

Die intense skema van El Drugstore roep ons na binne. Buite is ‘n antieke motor geparkeer . Met die naderstap sien ons daar’s ‘n gedekte tafel binne-in. Ons verwagting is dat hulle toeris-gerig is, maar ons word aangenaam verras.

die-binnekant-van-el-drugstore

Die volgende middag se drentel laat ons by La Florida eindig. Ons begin met Tannat Posada del Virrey – die onbekende kultivar word gou ‘n gunsteling. Met limoncello (verfrissende suurlemoenlikeur) wat ons maal afsluit, voel ons of ons in die Italiaanse platteland kuier.

Hierna drink ons telkemale tannat – wat begin het as nuwe-ding-van-die-dag, word gou ‘n vakansie-roetine.

Keuses, keuses. Ons was reeds by Pulperia de los Faroles, ‘n baie gewilde opsie onder ieder en elk. Met ‘n vorige dagekskursie was ons ook reeds by El Meson de la Plaza en als was onoortreflik – diens, kos, atmosfeer en bowenal ‘n plattelandse blieng wat ons nog nie vantevore ervaar het nie. Dus meld ons weer hier aan. Na ‘n versadigende pylinkvis-ravioli met salm-en-Roquefortvulsel voorafgegaan deur ‘sweetbreads’ in sjampanjesous met druiwe as garnering, weet ons dit was ongetwyfeld die beste besluit.

Dit bly darem nie net by eet nie. Ons doen ons deel vir die plaaslike ekonomie (in die res van Uruguay, veral in die hoofstad Montevideo, voel dit of daar ‘n dekadelange resessie aan die gang is) en ‘n swaar, sjokoladebruin skaapvelkaros word huis toe gesleepdra. Ook Delft-agtige blou en wit koffiebekers met die faro-motief – vir die huisie by die see natuurlik wat toevallig ook oor ‘n vuurtoring uitkyk.

Met my uiters geradbraakte Italiaans en die minimale Engels wat ons teëkom, probeer ons ‘n bietjie van die Spaanse geskiedenis van Colonia del Sacramento agterkom. Vir eeue het die Spanjaarde en die Portugese tougetrek oor besit van hierdie dorpie wat op ‘n kardinale plek op die rivieroewer geleë is. Daar is twee museums wat hiervan getuig. Colonia del Sacramento is die oudste dorpie met die oudste kerk in Uruguay. ‘n Deel van die ou stadshek het behoue gebly en ‘n kaart  van die Ou Stad saamgestel uit keramiekteëls is ook interessant om te sien. Casa de Nacarello is ‘n Portugese herehuis wat uit die agtiende eeu dateer.

nie-n-siel-op-straat-te-sien

Al hierdie gepraat oor geskiedenis laat sommer gou weer hongerpyne knaag. Dalk is dit net omdat ons weet daar is nog ‘n paar eetplekkies wat uitprobeer moet word. By een piepklein klipgeboutjie was daar juis ‘n spelerige klein katjie wat gelyk het of sy geselskap soek. Nou in watter straatjie was dit nou weer…

Lees meer:

www.candombe.com

www.vino-uruguay.com

www.posadadelvirrey.com

www.welcomeuruguay.com/colonia/

wynproe-by-bodegas-carrau-n-taxi-rit-buite-montevideo

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 5, 2017 by in Suid-Amerika.