ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

KAMPEER LANGS ‘N STILLE STROOM

First published in Die Burger, November 2014

20181114_181321

Kleintyd het ons gesing “Liefde, Liefde is ‘n stille rivierstroom, wat vloei deur ons woestynland, droog die rivier weg,dan sal al die klein vissies sterf”. As jy langs ‘n stadigvloeiende rivierstroom kamp, kom al daardie herinneringe spontaan terug.

Dis immers die refrein van die liedjie van Sias Reinecke, as ek nou reg onthou, wat by van die Kinderkrans tot by Voortrekkerkampe gesing is.

In die omtrek van Robertson is daar sommer twee kampplekke wat jy op die oewers van die Breederivier kan kamp. Dis so hittete of jy sou jou tone in die water kon laat afkoel vanaf die afdakkie van jou tent.

‘n Uitsig oor die rivier

Rivierzicht River Resort is op die Goree-Pad (ook bekend as Riverside Road) geleë. Dis die ideale kampeerplek vir natuurliefhebbers wat die skoonheid rondom hulle wil indrink en hul batterye wil herlaai.

Op welige, groen gras op die rivieroewer is 25 kampeerplekke asook twee dubbel- en twee enkel-selfsorghuisies sowel as agt boskamptente met houtdekke. In die boskamptente kan altesaam ‘n maksimum van 26 persone oornag. Twee van die boskamptente is meer luuks as die ander ingerig. Die dubbelhuisies is geskik vir tot ses mense.

Terwyl “die middagson helder en klaar van sy blou hemelbaan neersien”, soos die liedjie lui, is daar amper nie ‘n kampeerder wat nie met sy/haar neus in ‘n boek sit nie. Só verdiep in hul boeke dat die kano’s en rubberbootjies onder die lowerstruike en skadubome lê. Net af en toe swem iemand met lang hale deur die stil water voor die leesgoed weer opgeneem word.

Die koeltebome en rietpolle sorg dat daar genoeg privaatheid is sou jy nie geneë wees om vandag met jou buurman praatjies te maak nie.

‘n Boottaxi luier verby en laat rimpels op die rivier agter. Dis al wat jy hoor, weliswaar nie ‘n hemelse koor soos Sias (en Nic Taylor) vanmelewe se dae gesing het nie. G’n niks van weemoed of ‘n hart wat – o so melodramaties – leeg geween is nie.

Diegene wat nie sulke groot boekwurms is nie, het ‘n lyn in die water. Plek-plek is die visstokke op dooie rus in die water; die hengelaars knip ‘n uiltjie of kyk watter voëls verbyvlieg. G’n niks van woestynland of riviere wat wegdroog, geld hier nie.

Die omgewing leen homself tot voëlkyk, voetslaan en perdry. Afhangende van die weer – dis nou as die somerbriese níé waai nie – is Rivierzicht in die winter (gewoonlik van Junie tot September) toe.

As jy in die week kom kamp, kan jy Donderdagaand verniet bly mits jy vir Maandag- tot Woensdagaand bespreek het. Dis wel nie geldig gedurende openbare vakansiedae en skoolvakansies nie.

Hout en ys word te koop aangebied vir diegene wat hierdie twee noodsaaklikhede vergeet het of net eenvoudig te lui was om dit saam met die res van die pakkaas aan te ry.

‘n Blik op die Skurwekoppe

Skurwekop Karavaanpark is op Vinefera Wynplaas, ook in die Goreevallei en ook op die Breederivier. Dis net mooi 8.5 kilometer van Robertson.

Behalwe vir die kampplekke, met kragtoevoer, op groen gras op die rivieroewer, is hier ook ‘n omheinde swembad en speelpark vir kinders. As jy nie jou eie kano het nie, kan kano’s en roeibote gehuur word.Vanaf die karavaanpark kan bergfiets gery word.

Die plaas is deel van die Rooiberg Biodiversiteitsgebied en is ryk aan plant- en dierelewe. As jy gelukkig is, kan jy muishonde, otters, skilpaaie, tarentale, bobbejane, meerkatte en ystervarke te siene kry. Of ‘n visarend hoor roep en sien verbyswiep.

Visvang en rivierpret is hoog op die lys vir kampeerders by Skurwekop. Daar word gesê, of eerder gefluister, dat hier al bielies uit die water getrek is.

Skurwekop is veral geskik vir die kampeerder wat daarvan hou dat alles georganiseerd is (daar is selfs haardroërs in die badkamers) en vir wie ‘n kindervriendelike omgewing belangrik is. Ook is die karavaanpark rolstoelvriendelik. Hout en ys word te koop aangebied.

 

Daguitstappies in die omgewing

Sou die wind opsteek of jy is vir eers moeg geswem, bied die Robertson-omgewing meer as genoeg afleiding. Proe brandewyn by Klipdrift Brandewynkelder of wyn by een van die 48 wynkelders, neem deel aan ‘n olyftoer of ‘n kaasproe, besoek Sheilam Kaktustuin of speel 18 putjies gholf.

Montagu is net 25 kilometer weg as die wind dan nou nie wil ophou waai nie, soos dit maar soms in die Kaap gebeur.

 

Vind meer uit:
·        Op www.rivierzicht-resort.com is alles wat jy sou wou weet, volledig uiteengesit insluitende waarmee die selfsorghuisies toegerus is.
·        Op www.skurwekop.co.za is daar drie maklike stappe om te volg, sou jy wou bespreek.
Luister na:
·        Nick Taylor se weergawe van Liefde is ‘n stille rivierstroom: http://www.youtube.com/watch?v=Sw5si3H_3jI

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 14, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .