ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

WAAG MET VODKA!

First published in Rapport, March 2019

Vodka is die nuwe jenewer, by wyse van spreke.

Die afgelope jaar of drie het handgemaakte, uniek-gegeurde jenewers van privaatdistilleerders as die gewildste mengeldrankie onder oud en jonk ontpop. Nou is dit egter tyd vir hierdie jenewers om plek te maak vir handgemaakte vodkas wat beloof om ieder en elk te oorrompel.

Aardjie na sy vaartjie by Pienaar & Son

Andre Pienaar en sy geliefde Bear by Pienaar & Son in die hartjie van Kaapstad

Andre Pienaar en sy geliefde Bear by Pienaar & Son in die hartjie van Kaapstad

 Andre Pienaar, die seun van Pienaar & Son, was eers musikant, toe distilleerder.  Daar is tog baie raakpunte tussen musiek maak as die hoofsanger van die indie-rockgroep Ashtray Electric of ‘n jenewer of vodka ontwikkel, reken hy. Met beide kom jy met die idee vorendag en daarna werk jy op jou eie om dit te ontwikkel. Sodra jou produk vrygestel word, spandeer jy die meeste van jou tyd om iets wat na aan jou hart is met ander te deel sodat hulle ook entoesiasties daaroor kan raak. Dis nie net liedjies wat bewonderaars het nie; dit geld ook vir vodka!

Pa Schalk en seun Andre vervul verskillende rolle in die besigheid. Andre verduidelik dit só: “My pa het die stoof gebou en ek is die sjef.”

Andre Pienaar van Pienaar & Son verduidelik hoe sy distilleringsproses verloop

Andre Pienaar van Pienaar & Son verduidelik hoe sy distilleringsproses verloop

Elkeen se rol word apart gehou. Andre brei uit: “My pa is ongelooflik slim en hy bou al potketels (“stills”) vir dekades; ek sal nooit met die proses probeer inmeng nie. Op my beurt is ek weer goed met geurkombinasies – dit laat my brein soos ‘n Kersboom skyn!”

Om met ‘n nuwe besigheid te begin is altyd moeilik, reken Andre, soos ook die ander distilleerders met wie ek gepraat het.

Pienaar & Son distilleer nie net Waskis-wodka nie, maar ook Empire- en Orient-jenewer

Pienaar &Son distilleer nie net Waskis-vodka nie, maar ook Empire- en Orient-jenewer

Om vodka te begin maak, was ook nie maklik nie. Die aard van vodka is sodanig dat dit jou nie toelaat om enigiets weg te steek nie. Verstopte pype het ook gesorg dat Andre sy mop goed leer ken het!  Teen hierdie tyd ken hy egter sy distilleerdery beter as sy vrou!

Dis dalk veiliger om liewer te vra watter drankie verteenwoordig sy persoonlikheid, reken ek. Dié vraag verg bietjie dinkwerk. Oplaas kom die antwoord. Dis die Waskis Vodka van Pienaar & Son. Nie net is Waskis sy ma wat van Lituae afkomstig is, se nooiensvan nie; die vodka is ook eenvoudig en onpretensieus, dog interessant. En op ‘n subtiele manier kompleks. Soos Andre self.

Siedaar! As dit nou nie genoeg rede is om Pienaar & Son digby Roelandstraat in Kaapstad te gaan opsoek nie, weet ek nie so mooi nie! Hou ook hul webwerf dop – daar is groot planne om whiskey by die Pienaar-reeks te voeg.

Op Saterdagoggende word proeë van 10h00 tot 14h00 aangebied. Dis gratis en geen voorafbespreking is nodig nie.

Durbanville Distilleerdery daag konvensies uit

 As jy in Azerbeidjan leer vodka drink het, dan wéét jy hoe dit moet smaak. Vra maar vir Eugene Kleyn. In Azerbeidjan het elke gas by ‘n troue selfs sy/haar eie vodkaskinker, brei hy uit.

Eugene Kleyn en Stefan Vermaak van Durbanville Distillery is 'n gedugte span as dit by distillasie kom

Eugene Kleyn en Stefan Vermaak van Durbanville Distillery is ‘n gedugte span as dit by distillasie kom

Eugene en sy pa, Robert, sowel as Stefan Vermaak, is die driemanskap by Durbanville Distilleerdery. Durbanville Distilleerdery is die enigste distilleerder in Suid-Afrika wat van koue distillasie, ‘n proses wat tegnies redelik moeilik is, gebruik maak. Só verseker hul dat die smaak van hul vodka anders as die res is.

By Durbanville Distilleerdery word drie vakuumketels (eerder as potketels) gebruik. Eers is Eve gebou – tydens die leerproses het dit beteken dat hul soms 1000-liter ‘foutjies’ begaan het. Tweede is Adam gebou; dit het darem beteken dat die ‘foutjies’ net vyf liter behels het, lag Eugene lekker.  Laastens is Delila, ‘n regte werkesel, gebou. Eersteling Eve het selfs haar eie bladsy op hul webwerf.

Pa en seun Robert en Eugene Kleyn het self die vakuumketels gebou en oorspronklik eers bier gebrou. Deesdae is Robert administratief betrokke, Stefan Vermaak is verantwoordelik vir die produksie en Eugene Kleyn kry die een “gloeilampidee” na die ander, volgens Stefan.

As ‘n distilleerder kan jy heerlik kreatief wees, sê Eugene. En per slot van sake het goeie Russiese vodka sy palet gekalibreer.

Durbanville Distilleerdery maak ook jenewer en rum. Hulle is op weeksdae van 10h00 tot 17h00 oop vir proeë; om op ‘n naweek te proe moet vooraf bespreek word.

 Drie broers ‘vry’ in ‘n bondel by De Vry Distilleerdery

 Op die plaas Oppermanshoogte tussen Oranjeville en Deneysville in die Vrystaat boer die Du Plooy-broers met mielies, bees en skaap. Met soveel mannemoed bymekaar – en na ‘n naweek van saamkuier in die Kaap – het die drietal besluit om te begin stook.

(Foto verskaf) Die Du Plooy-broers van De Vry Distilleerdery deel 'n grappie oor 'n mengeldrankie

(Foto verskaf) Die Du Plooy-broers van De Vry Distilleerdery deel ‘n grappie oor ‘n mengeldrankie

Pasch du Plooy, die middelste broer en ‘n gekwalifiseerde sjef, het toe al geruime tyd op sy eie met jenewer geëksperimenteer.

Na die De Vry Distilleerdery op die been gebring is, is daar besluit om ook vodka – ‘n eg Vrystaatse sorghumvodka, die eerste een ter wêreld – te maak.

Al hul produkte het speelse name, so ietwat tong-in-die-kies en in ‘n mengeltaal van Afrikaans en Engels.

De Vry Distilleerdery in die Vrystaat is per afspraak oop vir proe

(Foto verskaf) De Vry Distilleerdery in die Vrystaat is per afspraak oop vir proe

Die vodka heet Die Groot Komunis en spog, heel gepas, met ‘n bloedrooi etiket. Dan is daar ook Original Boereraad Brandy, Warm Rasta Rum, Soet Rooinek Cherry Gin en Droe Rooinek Dry Gin. (Spelling is deurgaans gebruik soos wat dit op De Vry se webwerf voorkom.)

Pasch doen steeds die meeste van die distillering en kom met die geurkombinasies vorendag. Die oudste broer, Gerhard, is verantwoordelik vir bemarking en Albert, die jongste, is die presiese ou wat die verspreiding hanteer en sekermaak alles verloop seepglad.

As die drietal broers nie oor ‘n sakebesluit saamstem nie, roep hulle hul vrouens se hulp in! Wat ook help is om saam om ‘n tafel te sit en die kwessie uit te stoei tot hulle met ‘n oplossing vorendag kom. Soos wat hulle kleintyd fisies gestoei het, spot hulle.

As jy weer deur die Vrystaat ry, kan jy nie net die vars plaaslug inadem nie, maar ook sorghumvodka op die proef stel. Bespreek ‘n proe vooraf.

  • De Vry Distilleerdery, Oppermanshoogte-plaas, tussen Oranjeville en Deneysville, Vrystaat
  • devrydistillery.co.za

Ons vodka, hulle vodka, almal se vodka

 In 2011 het ses Sweedse entrepreneurs met ‘n buite-die-boks-idee vorendag gekom. Hul konsep was om mikrodistilleerderye in inspirerende stede regdeur die wêreld op die been te bring. In elke stad sou ‘n unieke vodka gedistilleer word en na die stad vernoem word. Elke stad se vodka sou ‘n smaak eie aan die stad hê.

Elke boepensbotteltjie Our Vodka het twee doppies - die eerste lyk soos 'n bierbottel se doppie en die tweede word gebruik om te herverseel

Elke boepensbotteltjie Our Vodka het twee doppies – die eerste lyk soos ‘n bierbottel se doppie en die tweede word gebruik om te herverseel

In 2014 is die eerste mikrodistilleerdery in Berlyn, Duitsland geopen.

Sedertdien het die reeks so uitgebrei dat Our/Vodka nou ook mikrodistilleerderye in Amsterdam en Londen en in Amerika in Detroit, New York, Los Angeles, Seattle, Houston en Miami geopen het.

In Suid-Afrika kan Our/Amsterdam, Our/Berlin en Our/London aanlyn by www.yuppiechef.com bestel word.

Our/Vodka is ook beskikbaar by uitgesoekte skemerkelkiekroeë.

Ook hier is die konsep buite-die-boks. Jy bestel ‘n botteltjie met 375 ml van jou gunsteling (stad se) vodka. Die botteltjie het ‘n doppie soos dié van ‘n bierbottel, maar ‘n tweede proppie van plastiek verseker dat die boepensvodkabotteltjie weer verseël kan word.

Elkeen by die tafel kan dan self besluit vir watter vodkamengeldrankie hul lus is. As die kroegman sy storie ken, kan jy ‘n Our/Vodka-drankie bestel wat met die behulp van ‘n sifoon nog smaakkomponente bykry. Die hele proses is iets om te aanskou!

Daar is tentatiewe planne vir ‘n Our/CapeTown-vodka, doen fluisteringe die rondte.

Kyk na die storie van Our/vodka by: www.ourvodka.com/our-story/

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 24, 2020 by in Afrikaans foodies and tagged .