ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Ljubljana – lieflik soos ‘n legkaart

First published in Rapport, February 2019

DSC_0725

Ljubljana is lieflik!

‘n Muis wat brul. Dis hoe die Lonely Planet-reisgids Sloewenië beskryf. Sloewenië ís klein; dié land het nie veel meer as twee miljoen inwoners nie.

Die voormalige Kooperatiewe Sakebank word algemeen as die mooiste gebou in die stad van Ljubljana beskou

Die voormalige Kooperatiewe Sakebank word algemeen as die mooiste gebou in die stad van Ljubljana beskou

In Ljubljana, die hoofstad, woon maar sowat ‘n kwartmiljoen mense. Dis dus geen wonder dat daar ‘n dorpsgevoel aan Ljubljana kleef nie. Boonop is die hoofstad – sowel as die platteland en die kus van Sloewenië  –  só mooi dat die een legkaarttoneel na die ander voor jou oë verrys.

Die Ljubljanarivier verdeel die stad in twee dele – aan die westekant is die Nuwe Dorp met heelwat besighede en meer moderne geboue; aan die oostekant is die Ou Dorp met geplaveide voetgangerstrate, kobbelstegies en die Ljubljana-kasteel wat vanaf Kasteelheuwel op die bedrywighede aan die onderkant neerkyk. Die Ou en Nuwe Dorp word met die Drielingbrug (Triple Bridge) aan mekaar verbind.

Ljubljana is die tipe stad waarin jy vir dae kan ronddrentel – die geboue is werklik prentjiemooi, daar is ‘n sypaadjiekafee om elke hoek en draai en die Sloeweniërs is vriendelik en onopgesmuk.

Die meeste mense praat genoeg Engels sodat julle mekaar sal verstaan en hulle vir jou aanwysings kan gee; diegene wat nie Engels magtig is nie, wink gou-gou iemand gemoedelik nader.

Hoewel Sloewenië lid van die Europese Unie is en die euro as geldeenheid gebruik word, is dit ‘n bekostigbare bestemming vir Suid-Afrikaners. Ons het wel gevind dat dit duur is om wyn in restaurante te bestel. As jy wyn by ‘n supermark koop, is dit egter uiters billik; ons het gereeld só piekniek gehou.

‘n Draak wat saakmaak

Die stadsimbool van Ljubljana is ‘n draak. Die draak verteenwoordig grootsheid, mannemoed en mag en word as die gelukbringer van die stad beskou.

Op die Draakbrug pryk ‘n draak met oopgesperde bek en geribde vlerke, daar is ‘n draakuitstalling by Ljubljana-kasteel en op die oewer van die Ljubljanarivier is verskeie uitbeeldings van drake, klein en groot. Daar is drake op die stadsnommerplate, stadswapens en stadsvlag.

As jy nie ‘n selfie by een van die drake neem nie, tel jou besoek aan Ljubljana nie. So sê die stadsvaders.

Graffiti waarvoor jy gril én glimlag

Behalwe op die barok- en Art Nouveau-geboue staar graffiti op baie mure jou in die gesig. Baie daarvan is betekenisloos – net krulletjies en draaitjies asof iemand naarstiglik hul spuitkannetjies wou opgebruik; nog meer is in Sloewenies wat dit onverstaanbaar vir ons maak; en dan is daar naïewe kuns wat ‘n hobbelperdjie, ‘n stywestertkat of ‘n blomtuin uitbeeld.

Graffitistegiee

Trubarjeva Cesta (Trubarjevastraat),  sowel as die stegies wat van hierdie straat na die rivier lei, bied baie fotogeleenthede vir graffiti-aanhangers en Instagram-volgelinge.

Die gelukbringer van die stad is 'n draak; baie draaklegendes word oorvertel en uitgebeeld waar jy ookal gaan

Die gelukbringer van die stad is ‘n draak; baie draaklegendes word oorvertel en uitgebeeld waar jy ookal gaan

Ek lees selfs draakgraffiti raak: Die dapper manne het nie drake doodgemaak nie. Die dapper manne het op die drake gery.

Baie van die graffitikunstenaars hang by die Republiek van Rog uit. Sommige van hulle woon op hierdie ou fabriekperseel en hulle maak mildelik van die geleentheid gebruik om hul omgewing te verfraai. Of ontsier, afhangende van hoe jy daarna kyk.

Sneuwel op ‘n heuwel

Ljubljana-kasteel is vyf eeue gelede op die heuwel bokant die Ou Dorp gebou. Die kasteel het as fort diens gedoen; deesdae is dit die mees besoekte besienswaardigheid in Ljubljana.

Om by die kasteel uit te kom, kan jy óf met ‘n kabelkarretjie tot bo ry óf jy kan met een van die kronkelende steil paadjies vanaf die Ou Dorp boontoe loop.

Die mooiste paadjie deur die Ou Dorp is met Gornjistraat langs. Loop vanaf Stariplein met Staristraat langs; as jy boontoe kyk, sal jy die kasteel tussen die lang, regop geboutjies deur sien. Draai links op Gornjiplein en weer links sodra jy die eerste kerkie sien. Die aanwysingsbordjies lui ‘Grad’ wat ‘kasteel beteken; dis eintlik onmoontlik om te verdwaal solank jy net die voetpaadjie volg. Dit is sowat 20 minute se loop vanaf Gornjiplein; op die laaste steil paadjie buig die bome bo-oor jou.

Vanaf Kasteelheuwel kyk jy oor die hele stad en tot by die Kamnik Alpe uit. Vanuit die Uitkyktoring kan jy op ‘n helder dag een derde van die hele Sloewenië sien, spog die Ljubljankski Grad-brosjure.

Binne die kasteelgronde is twee permanente uitstallings: die eerste dek die Sloeweniese geskiedenis van prehistoriese tye tot nou; die tweede dek die tydperk – van die 1800’s tot die eerste helfte van die 1900’s – toe Ljubljana-kasteel as staatsgevangenis ingespan is. Hierdie tweede uitstalling is binne-in ‘n tronksel wat destyds vir eensame aanhouding gebruik is.

Die Marionette-museum het die eienaardigste marionette: daar is swaardvegters, ‘n grillerige pop in ‘n laboratoriumfles, ‘n vis aan toutjies wat bokant ‘n net spartel, ‘n ballerina en ‘n man met ‘n tulband saam met ‘n prinses op ‘n gevleuelde perd. Die interessante verhoogvinjette noop jou om heelwat langer hier te vertoef as wat jy beplan het.

Kul jou hier, kul jou daar

 Dis maklik om in die keisteenstraatjies van die Ou Dorp van Ljubljana te verdwaal. Dis egter een van die groot lekkertes van dié stad.

Die een stegie na die ander verlei jou in Ljubljana

Die een stegie na die ander verlei jou in Ljubljana

Volgens Ljubljana se toerismeraad is daar meer as 1000 kulturele byeenkomste per jaar

Volgens Ljubljana se toerismeraad is daar meer as 1000 kulturele byeenkomste per jaar

Die Ou Dorp van Ljubljana het 'n magdom Art Nouveau- en barok-styl geboue

Die Ou Dorp van Ljubljana het ‘n magdom Art Nouveau- en barok-styl geboue

Dis groot pret om met die kabelkarretjie na Ljubljana-kasteel te ry, maar jy sien meer as jy soontoe stap

Dis groot pret om met die kabelkarretjie na Ljubljana-kasteel te ry, maar jy sien meer as jy soontoe stap

Dit maak nie saak hoeveel dae jy in die hoofstad spandeer nie; ‘n groot deel van elke dag word jy verlei deur ‘n stegie, ‘n hoekie, ‘n plekkie. ‘n Mens kan ure op en af stap en steeds elke keer iets nuuts sien.

By Gostilna Sokol sit toeriste graag aan by sypaadjietafels om tradisionele Sloeweniese disse ten proef te stel; by Klobasarna eet al wat leef en beef worsies en sop; by die Dragon Shop gaan jy heel moontlik met ‘n aandenking uitstap wat jou later gaan wonder wat jou besiel het om dit te koop. Ikona is ‘n boetiekwinkel wat jou kredietkaart laat kreun; by Pritlicje sit jy binne of buite terwyl byderwetse kelners ‘n wye verskeidenheid wyne per glas bedien; This & That is ‘n geskenkwinkel wat spesialiseer in skryfbehoeftes, voorskote, afdroogdoeke en muurdekor met motiewe soos eenhorings, pynappels en alpakas. Jy sien Devur se lewensgrootte houtbeer raak lank voor jy agterkom dat hulle handgemaakte houtitems en -juweliersware insluitende houtringe verkoop.

Daar is ‘n paar brûe oor die Ljubljanarivier wat dit maklik maak om heen en weer tussen die Ou Dorp en die Nuwe Dorp te drentel. Loer elke slag aan weerskante van die brug na die uitsig en na die weerkaatsing in die rivier.

Aan die relings van een brug is honderde der honderde slotte vasgemaak om paartjies se ewige liefde te verteenwoordig. Bo-op die reling is selfs ‘n bronspadda met ‘n klomp gekleurde slotte wat by sy mond uitpeul. Ironies genoeg is die naam van dié brug Slagtersbrug.

Die Franciskaanse Kerk van die Menswording sowel as die voormalige Koőperatiewe Sakebank pryk in pienk naby die Drielingbrug. Die salmpienk kerk is tussen 1646 en 1660 gebou. Die eertydse bank is nou vernoem na die argitek en staan as Vurnik-huis bekend. Dié flaminkpienk gebou word as die mooiste gebou in Ljubljana beskou.

‘n Park ‘n hanetree weg van die stad

Ljubljana het geen geroesemoes waarvoor jy kan moeg raak nie, maar sou jy wou wegbreek, kos dit net ‘n paar minute se stap voor jy by Tivoli Park uitkom. Die park is vyf vierkante kilometer groot en sluit Roznik-heuwel in.

Tivoli-park is 'n hanetree buite die stadsgewoel

Tivoli-park is ‘n hanetree buite die stadsgewoel

Jy’t skaars die park betree deur met Jakopic Promenade langs te loop of daar is drie voetslaanpaaie om uit te kies. Hoe verder jy stap, hoe meer bebos raak dit. Sommer gou bevind jy jou in ‘n woud wat jou nooit sal laat raai dat die stad net hier duskant lê nie.

Ljubljana raak gewilder onder buitelandse toeriste, maar daar is slegs in piekseisoen 'n toestroming van reisigers

Ljubljana raak gewilder onder buitelandse toeriste, maar daar is slegs in piekseisoen ‘n toestroming van reisigers

Dit wys jou net – Ljubljana bied iets vir almal.

Wanneer jy gaan:

 Jy spreek Ljubljana so uit: Ljoeb-lja-na.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 2, 2019 by in Europa.