ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Spaar maar die roede…

First published in Rapport, February 2022

Skoolhoofde word op ‘n daaglikse basis met besluitneming op verskillende vlakke gekonfronteer. Een van die moeilikste hiervan – veral in hoërskole – is hoe om dissipline te hanteer.

Dr. Wikus Herselman, skoolhoof van Hoërskool Tygerberg in die noordelike voorstede van Kaapstad, het met ‘n suksesresep vorendag gekom; daar is ook ander skole wat dieselfde uit-die-boks-idee volg.

By Hoërskool Tygerberg is ‘n dissiplinêre hoof wat buite die opvoedkundige raamwerk staan, aangestel. Een van die hooffunksies van die dissiplinêre hoof is om ondersoeke te doen.

‘n Skoolhoof sowel as graadhoofde kan nie altyd gou genoeg gaan kyk hoe ‘n probleemsituasie ontstaan en ondersoek wat in die klas of op die skoolgronde gebeur het nie; daar is nie altyd tyd daarvoor nie en boonop is daar ander belangrike dinge wat deurgaans aandag verg.

Die ABC van die oorspronklike idee

Vóór sy huidige pos as skoolhoof van Hoërskool Tygerberg is dr. Herselman se denke geprikkel deur hoe die landswette ‘n baie groot invloed op skole en dissiplinêre howe het.

 Hy verduidelik dit so: “As ‘n mens gaan kyk na die Skolewet, word die pligte van ‘n hoof vervat in artikel 16A. Art 16A stel dit dat die hoof die skoolbeheerliggaam moet bystaan in die hantering van dissiplinêre aangeleenthede wat met die leerders verband hou. Verder stipuleer Art 16A dat die hoof die skoolbeheerliggaam oor beleid en wetgewing moet inlig.”

Die saadjie vir dr. Herselman se PhD-kursus is geplant. Hy het besluit om sy navorsing op die “kompleksiteit van hoof-wees en die regsraamwerk waarbinne beweeg moet word” te fokus.

Dr. Herselman verduidelik verder: “Die vraag wat ek in my PhD-studie gevra het, was of hoofde toegerus is met die nodige onderwysregskennis om aan Art 16A 2(d) en (f) te voldoen.  Die titel van my tesis was Lawful, reasonable and fair decision-making in disciplinary cases in secondary schools. My studie het bevind dat daar ‘n groot leemte is.”

Om skoolgeld te betaal, of nie

Met die voltooiing van sy studies was dr. Herselman reeds twee jaar skoolhoof van Hoërskool Tygerberg.

Sy hoofmotivering aan die skoolpersoneel vir dié aanstelling was dat ‘n dissiplinêre hoof of koördineerder die “skoolhoof se hande hoog kan hou” waar dit dissiplinêre besluitneming en die regsuitdagings daarvan aangaan.

Om die regte persoon met die nodige kundigheid te kry, was die volgende uitdaging.

Die pos van dissiplinêre hoof by Hoërskool Tygerberg is geadverteer, maar soos die geluk dit wou hê, het dr. Herselman by ‘n gemeenskaplike kennis van Riaan Booysen, ‘n afgetrede polisiebrigadier en voormalige stasiekommissaris van Wynberg, te hore gekom. Riaan Booysen was toe inderdaad die suksesvolle aansoeker.

Dit was allesbehalwe ‘n kwessie waar skoolgeld terugbetaal moes word. Booysen het 33 jaar polisie-ondervinding met die gepaardgaande kennis van wetgewing soos die strafproseswet en waardevolle kontakte met die SAPD en NGO’s  en hy wéét hoe om ondersoeke te doen.

Dr. Herselman, wat reeds genader is om vir ander skole opleiding in dié verband te gee, beklemtoon: “Dit is van kardinale belang om die regte persoon as dissiplinêre hoof aan te stel.”

Kies tussen die wortel en die stok

Die wortel of die stok? Watter benadering is die meer suksesvolle een? Wanneer gebruik jy die wortel en wanneer is dit tyd om die stok uit te haal?

Sonder om my oor die vingers te tik, antwoord Riaan Booysen dat hy verkies om eerder die beginsel van “goeie polisieman, slegte polisieman” te gebruik.

“Een van my sterkpunte is om ‘n ‘goeie polisieman’, eerder as ‘‘n slegte’ te wees,” sê hy. “Ek werk daaraan om elke keer in die kind se hart te kom – ek is die buffer tussen die kind en die res van die skool.”

Booysen glo daar is altyd drie kante aan ‘n saak. Hy gaan van die veronderstelling uit, “Wie beweer, moet bewys”.

Dis maklik om ‘n oortreder summier te straf en dit gebeur te veel in ons skole, maak ek die gevolgtrekking.

Die besluitnemingsmodel by Hoërskool Tygerberg behels dat die kernoorsaak van die oortreding bepaal en beraders ingebring word wanneer nodig; ‘n stelsel van herstellende geregtigheid eerder as strafgeregtigheid (restorative justice rather than punitive justice) is in plek.

Eerstens moet daar verstaan word hóékom maak die kind wat hy maak.

Wat na skoolsiek kan lyk, is dalk ‘n geval van bendebedrywighede rondom die leerder se huis wat verhoed dat hy/sy by die skool kan uitkom, vertel Booysen ter illustrasie. Wanneer huisbesoeke, hoewel slegs in uitsonderlike omstandighede, gedoen word, “sien jy wat by die huis aangaan” en weet jy met watter huislike omstandighede jy te doen het.

Tyd vir skoolsit

Oortredings word in vier grade ingedeel: ‘n graad 1-oortreding is bv. rook, vloek of versuim om huiswerk te doen waar ‘n graad 4-oortreding grens aan die kriminele soos opsetlike saakbeskadiging, aanranding of besit van dwelms.

Dr. Herselman en mnr. Booysen stap sáám ‘n pad met die ouers van leerlinge wat probleme in die skool veroorsaak.

Dis van kardinale belang dat almal, tydens die konsultasieproses, “moet kalm bly”, maan Riaan Booysen. Beide die skool- en die dissiplinêre hoof moet die vertroue van alle partye – leerders, ouers en voogde – wen.

Booysen laat ouers gereeld agter met die vraag of hulle by ‘n geloofsgemeenskap ingeskakel is. Hy verwag nie ‘n antwoord nie, hy plant net die saadjie waaroor hulle self verder kan gaan dink.

Dr. Herselman se visie is “om elke kind gelukkig te sien kom skool toe”. Die moeilikste is “om effektiewe maatreëls in plek te sit om hierdie visie elke dag reg te kry”.  Hiermee help Riaan Booysen, getuig dr. Herselman en voeg by “ek kan nie sonder hom nie”.

Vir Riaan Booysen pas sy pos as dissiplinêre koördineerder hom soos ‘n handskoen. Dit lê hom na aan die hart dat hy by skole en jongmense betrokke kan wees, een-tot-een met jongelinge kan werk en “deel van die familie van Hoërskool Tygerberg kan wees”.

“Ek hou nie op nie – al is dit die laaste week van Graad 12, gee ek nie op as daar ‘n leerder is wat ek kan help nie.”

“Dit kom alles neer op om gehê te wees en terug te gee.”

                                                                ***

Dr. Wikus Herselman en Riaan Booysen se wenke vir skole

  • Dis van wesenlike belang om die régte persoon as dissiplinêre hoof/koördineerder aan te stel – iemand met die regte gesindheid en die nodige vaardighede en “iemand wat weet hoe om ondersoeke te doen”.
  • As jy wil ondersoek instel wat presies in ‘n spesifieke situasie gebeur het, onthou die volgende vyf vrae: wie? wat? waar? wanneer?  en waarom?
  • Die skoolbeheerliggaam moet inkoop; só ‘n pos word nie deur die Departement van Basiese Onderwys befonds nie.
  • Hou konsekwent boek van elke saak en insident. Dit is onontbeerlik vir soortgelyke sake in die toekoms.
  • Wees ten alle tye regverdig.

2 comments on “Spaar maar die roede…

  1. Dr Christa van Staden
    January 31, 2023

    Interessant

  2. ilsez
    February 28, 2023

    Dankie, Christa.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 31, 2023 by in Iemand - of iets - wat my fassineer.