ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Stoksielalleen op verlate strande

First published in Die Burger, July 2014

Stap van Brandfontein na Suiderstrand

'n Ongerepte strand na Suiderstrand in die rigting van Brandfontein

‘n Waarlik ongerepte strand waar jy vir ‘n paar uur se stap net enkelinge teëkom. Daar’s nie so baie plekke waar dit nog gebeur nie.

Blouselblou en spierwit orals om jou

Die vier-uurlange stap – dis nou as jy draal en baie foto’s neem – van Brandfontein na Suiderstrand, omtrent vyf kilometer van die L’Agulhas Vuurtoring, is so ‘n plek.

Duimgooi gaan nie werk nie

Jy het nodig dat iemand jou by Brandfontein aflaai. En by Suiderstrand kom haal. Andersins kan jy  met die rotsagtige kus (of grondpad langs) na die vuurtoring loop en daar opgetel word terwyl jy terselfdertyd nog oefening inkry.

Sus Kwadraat se groot stap begin

Vroegoggend is sekerlik die mooiste tyd van die dag hoewel dit nie regtig soveel van ‘n verskil maak nie. Mooi bly mooi. Sorg verkieslik dat dit laaggety is. Andersins gaan jy dalk sukkel om by die groot sandduin waar vars water aangetref word, verby te kom.

Stap net so ‘n entjie op die strand langs en draai om vir ‘n blik op die pragtige klipgeboue  met groen deure en vensters van die plaas Brandfontein wat al geslagte lank in privaatbesit van die Albertyn-familie is.

Aan’t soek na blinklywe

Veral vroegdag is daar plek-plek hengelaars – ek moet nog die een sien wat ‘n lekker vet galjoen (in seisoen) of steenbras uittrek. Dis juis blykbaar ‘n gewilde plek vir steenbras vang mits jy daai lyn diep kan ingooi.

Hengelaars is plek-plek te sien

As die vis nie byt nie, kom jy nie hiernatoe omdat jy moeg vir jou vrou is nie; jy kom die sereniteit en die natuurskoon indrink.

Daar’s wel ‘n kans dat jy perlemoensmokkelaars kan aantref, maar solank jy nie jou neus in hul sake steek nie, is alles dooddollies. Self het ek al telkemale hierdie kusstap aangepak en nog net suspisieuse wielspore op die sand gesien.

Die lekker (stap) hou nie op nie

Soos wat jy stap, is dit van die een baaitjie na die ander. Met die aanvang is die strand spierwit en plat; ‘n ent later is dit bestrooi van die bamboes wat uitgespoel het; nog later raak dit klipperig. Dis egter groterige ronde klippe wat nie die stap vreeslik bemoeilik nie. Waar dit bietjie skuins raak, is daar ‘n veldpaadjie ‘n tree of drie weg wat sorg dat jy nog vlugvoetig kan aangaan.

Hou jou oë oop vir varswaterfonteintjies langs die pad en vir swarttobies (ook bekend as swartoestervangers) op die rotse. Hul broei naby die hoogwatermerk al langs die kus af.

Jy hoor die geruis van die klippe voor jy nog die spoelklipstrand kan sien

Soos jy nader aan Suiderstrand beweeg, stap jy verby Die Walle. Lank gelede het hierdie deel – en Ratelrivier – aan Lord Saumarez behoort. In die ou dae was dit ‘n uiters gewilde visvangplek.

Jy hoor Pebble Beach voor jy dit nog sien. Soos die water terugtrek, is die geruis van die ronde spoelklippe soos musiek wat die natuur self komponeer.

As die see omgeklits is, lyk die branders en skuim soos ‘n ry bruide met sluiers wat in die wind wapper. Aldus Maureen Fourie, die toerismebeampte van Agulhas.

Agulhas Nasionale Park se Agulhas Ruskamp (met twee-bed en vier-bed) chalets kan net-net raakgesien word; so goed smelt dit met die omgewing saam.

Die turkoois lagune is ‘n gunsteling speel- en afkoelplek vir kinders en honde.

Op ‘n klein skiereilandjie tussen die lagune en Suiderstrand self, is ‘n historiese huisie wat in die volksmond as Pietie se Huis bekend gestaan het. Deesdae heet dit gepas die Lagune Huis.

Idilliese verblyf met die see op jou voorstoep

Die grond is in 1898 deur een van die Albertyns by een van die Breda’s gekoop. In dieselfde jaar is die huise as verjaardaggeskenk vir mevrou Breda gebou. Die baaitjie aan die westekant van die huis het haar herinner aan ‘n boek genaamd Blue Lagoon wat sy gelees het en so het sy toe haar huisie Die Lagune gedoop.

In 2001 het die Agulhas Nasionale Park dit as deel van hul eiendom aangekoop en gerestoureer. Van hier het jy ‘n 270-grade uitsig oor die see.

Net enkele voetspore op die strand

Sou jy vanaf Suiderstrand verder aanloop, loop jy verby die wrak van die Meisho Maru en die mees suidelike punt van Afrika. Daar is ‘n nuwerige plankpad van 960 meter vanaf die suidpunt – waar die Atlantiese en Indiese Oseaan ineenvloei – tot by die vuurtoring.

Die skeepswrak van die Meisho Maru

Die Meisho Maru was ‘n Japanese vistreiler wat in 1982 hier op die rotse by Rasperpunt geloop het. Al sewentien bemanningslede kon daarin slag om veilig land toe te swem.

In een van die berugte Kaapse storms het die gure weer en onstuimige see die skeepswrak letterlik omgeswaai sodat bakboord stuurboord geword het. Of was dit nou andersom…?

Stories oor Brandfontein – soos deur Piet van As vertel
Brandfontein het vir sowat ‘n jaar in die laat 1800’s aan die Van Asse behoort.
Tussen 1880-1895 het ‘n klein seilskip (of die vrag daarvan) aan die brand geslaan. Die kaptein het sy vrou op ‘n vlot agter die skip laat dryf om haar te red. Niemand weet wat van die skip of die bemanning geword het nie, maar die vrou het op Brandfontein uitgespoel na die vlot se tou losgeraak en weggedryf het!
In daardie selfde tyd het daar ‘n lyk van ‘n man uitgespoel; hy is naby die huidige begraafplaas begrawe. Oom Hendrik Bergplaas, wat die begrafnis gehou het, was ongemaklik oor daardie diens, want die dooie sou mos nie Afrikaans verstaan het nie!
Dit was in die tyd toe Grootoupa Van As veldkornet in die omgewing was.

 

Kyk na:
www.sanparks.co.za/parks/agulhas/tourism/accommodation.php  as jy verblyf by Lagoon Huis of die Agulhas Ruskamp wil bespreek. Verder is daar ook verblyf by Rietfontein Gastekothuisies, Bergplaas Gastehuis en Rhenosterkop Gastekothuisies – aldrie deel van Agulhas Nasionale Park.

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 12, 2018 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .