ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Laat jou pad kruis met dié plaasstalle

 First published in Die Burger, October 2019

Die meeste Overbergers ken die Van Brakel Stoor op die pad tussen Caledon en Napier

Die meeste Overbergers ken die Van Brakel Stoor op die pad tussen Caledon en Napier

Plaas- of padstalle is so Suid-Afrikaans soos blatjang en bobotie, koeksisters en klapperys en tjops en tjips.

Die ruine van Kruispad Kontantwinkel op Roete 62 wat nie die toets van tyd deurstaan het nie, maar wat 'n lieflike fotogeleentheid bied omdat dit so mooi verweer het

Die murasie van Kruispad Kontantwinkel op Roete 62 wat nie die toets van tyd deurstaan het nie, maar wat ‘n lieflike fotogeleentheid bied omdat dit so mooi verweer het

Die Suid-Afrikaanse landskap sou heelwat droër daar uitgesien het as dié eet- en afdraaiplekkies nie daar was nie.

Bagdad Café op die R27 tussen Vanrhynsdorp en Nieuwoudtville

Bagdad Cafe op die Knersvlakte is allesbehalwe 'n gewone kafee of koffiedirnkplek

Bagdad Cafe op die Knersvlakte is allesbehalwe ‘n gewone kafee of koffiedirnkplek

As jy op die R27 tussen Vanrhynsdorp en Nieuwoudtville ry, kan – en behoort – jy nie die Bagdad Café mis te ry nie. Sodra dit lyk of jy twee duimgooiers op stoele langs die pad sien sit, kan jy maar gereedmaak vir afdraai.

Slaat briek aan as jy twee sittende duimgooiers buite Vanrhynsdorp sien; lees die bord; stap na binne

Slaat briek aan as jy twee sittende duimgooiers buite Vanrhynsdorp sien; lees die bord; stap na binne

Die twee pseudo-duimgooiers is opgestopte poppe met sweishandskoene vir hande. Bagdad Café het sy eie vibe, soos jy aan die kleredrag van die voëlverskrikkerpoppe en ‘n handgeskrewe bord teen die draad sal agterkom.

Op die bord word kammakastige redes aangegee waarom dié padkafee dalk toe mag wees. Dit wissel van ‘Dis Maandag’ tot ‘Dis bo 40 grade Celsius’ en van ‘Babalas’ tot ‘Genoeg gemaak gister’ en ‘Sooibrand’.

In die tuin staan ‘n trekker en ‘n skoppelmaai. ‘n Winkelmannekyn sonder arms, maar darem met ‘n kopdoek, kniel tussen vetplante.

Welkom op die Knersvlakte, by Bagdad Cafe

Welkom op die Knersvlakte, by Bagdad Cafe

Van 'n daggablaarvlag tot 'n sak botterskorsies en nommerplate word as versiering by Bagdad Cafe ingespan

Van ‘n daggablaarvlag tot ‘n sak botterskorsies en nommerplate word as versiering by Bagdad Cafe ingespan

Loop doeriekant toe en gaan sit aan by Bagdad Cafe

Loop doeriekant toe en gaan sit aan by Bagdad Cafe

Behalwe vir 'n T-hemp wat wys waar jy was, is hier ook piekeluie, ingelegde kwepers, sauerkraut en ou boeke te koop

Behalwe vir ‘n T-hemp wat wys waar jy was, is hier ook piekeluie, ingelegde kwepers, sauerkraut en ou boeke te koop

Die Bagdad Café bedien yskoue gemmerbier en warm sop met roosterkoek of soetsuurdeegbrood, plaasontbyte, kerriemaalvleis, pannekoek, draairoomys en melktert.

Óf jy nou binne of buite sit, jy gaan jou oopmond vergaap aan die dekor. ‘n Geroeste voëlhokkie wat vanaf die plafon hang, het genadiglik nie ‘n kanarie binnein nie; Coke-blikkieblomme omraam ‘n oopskuifvenster; ‘n ou winkelboek is meer as 100 jaar oud (blaai versigtig); ‘n paar goue polvye hang skunnig aan ‘n regop kerskandelaar.

As daar munte in jou beursie is wat pla, pak anysbeskuit, ingelegde kwepers, piekeluie, sauerkraut, boeke en tydskrifte van vervloë dae, kweperlekkers, ‘n bliklantern of ‘n knobbelrige pampoen in jou kattebak. Daar is ook T-hemde van Bagdad Café te koop.

Wees gerus, die ablusiegeriewe is nie werklikwaar die “naaste bos” nie soos ‘n speelse pyltjie aandui nie. Wat jy wel om die hoek van die gebou sien, is ‘n ry van Aspoestertjie se skoene wat al beter dae geken het. Op die muur bokant die skoene staan: “… en wat het van Aspoestertjie geword?” Kyk rond tot jy die ongewone spieël sien.

Hello Hopefield, Kerkstraat 42B, Hopefield op die Weskus

'n Plattelandse groet wat jou by Hello Hopefield laat welkom voel

‘n Plattelandse groet wat jou by Hello Hopefield laat welkom voel

Nommer asseblief? Dis waaraan jy dink – dis nou as jy oud genoeg is – as jy die rooi telefoonhokkie in Kerkstraat voor Hello Hopefield met die stilhouslag raaksien. Hello Hopefield is egter baie meer hedendaags as dié Afrikaanse TV-reeks van die sewentigerjare en die rolprent wat daarop gevolg het.

'n Telefoonhokkie wat aan 'Nommer Asseblief' herinner, staan op die sypaadjie by Hello Hopefield

‘n Telefoonhokkie wat aan ‘Nommer Asseblief’ herinner, staan op die sypaadjie by Hello Hopefield

Ilze Mostert, die energieke eienaar van Hello Hopefield, glo aan “mooi, mooi én mooi” in alles wat sy doen. Haar slagspreuk vir Hello Hopefield is “kwaliteit, vars en lekker”.

Elke item op haar spyskaart is “eerlikwaar” tuisgemaak. Al waaroor sy bieg, is dat sy wel “’n bekende tamatiesous uit ‘n bottel” gebruik. Daarby ondersteun haar kombuis sover moontlik plaaslike verskaffers. Eiers van vrylopende hoenders kom van ‘n kleinboer net buite die dorp; so ook die vleis soos springbok en volstruis wat voorgesit word.

Van volstruis gepraat, almal in die dorp praat deesdae van die nuutste toevoeging op Hello Hopefield se spyskaart: ‘n gourmet volstruisburger wat met rooipepers en roketpesto voorgesit word.

By Hello Hopefield eet jy nie net gesond nie; die spyskaart spog met innoverende disse soos Franse roosterbrood wat van mosbolletjies gemaak word, kaas-en-ham-muffins en vegetariese lensieburgers met brie-kaas.

Spokie, die grys-en-wit kat wat teen jou bene kom skuur, is Hello Hopefield se gelukbringer.

Nanaga Plaasstal, op die kruising van die N2 by R72, Alexandria, Port Elizabeth

Nanaga Plaasstal is sinoniem met pasteie wat die wat weet, in dosyne aankoop

Nanaga Plaasstal is sinoniem met pasteie wat die wat weet, in dosyne aankoop

Praat jy van Nanaga, praat jy van pasteie. Hier is hulle nie net gou by die bak nie, maar ook fluks, in stede van lui, by die vak, om ‘n outydse spreekwoord nek om te draai.

Hoewel Nanaga nie net pasteie verkoop nie, is dié padstal seker die bekendste vir hul gebak. Pasteie word gaar of gevries, enkel of familiegrootte, verkoop. Daar’s te kies en keur: kaas-en-spek, hoender, biefstuk, peperbiefstuk, spinasie-en-feta, wildsvleis, lamskerrie en lamsvleis-met-ment.

Eet pannekoek, pastei of roosterkoek by Nanaga Plaasstal

Eet pannekoek, pastei of roosterkoek by Nanaga Plaasstal

By Nanaga is ook roosterkoeke beskikbaar wat as padkos geniet kan word of by die huis gevul en gebak kan word.

Verder kreun die rakke onder saadbrode, beskuit, koffiedoopkoekies, stroopwafels, blatjang, konfyt, kaas en biltong. Daar is ook ‘n geskenkeafdeling.

In Oktober hou die Nanaga Plaasstal Nanagafees. Kyk op www.nanaga.co.za om meer hieroor uit te vind.

Oudebosch Plaasstal, op die kruising van die R102 en Eersterivierweg, Humansdorp

Neem 'n selfie by Oudebosch

Neem ‘n selfie by Oudebosch

By Oudebosch Plaasstal kan jy koffie drink, roosterbrood eet, geskenke – vir jouself of vir vriende – aanskaf, die uitsig bewonder en die vars Tsitsikamma-lug inasem, deel hul webwerf jou mee. Oudebosch is trots Oos-Kaaps, voeg hulle by.

Of jy nou buite, binne, in die koffiewinkel of biertuin sit, die Tsitsikammers kom maak kort voor lank ‘n geselsie. Daar’s speelplek vir jou kroos as die kuier dalk lank uitrek. As jy die uitgestalde rietmandjies en –besems op die stoep en al langs die tuinpaadjie bekyk, begin jy agterkom dis wat jy nódig het.

Nie net bied hulle proteaplaastoere aan nie, maar die meeste van die geskenke in die geskenkwinkel het proteamotiewe of is deur proteas geïnspireer. Aan die sykant van die gebou is ‘n toeristeinligtingsentrum waar jy meer oor Oos-Kaapse bestemmings kan uitvind.

Oudebosch Plaasstal is ook gelisensieerd om wyn te verkoop.

Van Brakel Stoor, op die kruising van die R316 en R326, tussen Caledon en Napier, Overberg

Trek af vir 'n pastei by Van Brakel Stoor in die Overberg

Trek af vir ‘n pastei by Van Brakel Stoor in die Overberg

Die oorspronklike Van Brakel Stoor dateer uit die 1920’s.  Vanaf die vroeë 1950’s was dit ‘n plaaslike kruidenierswarewinkel met ‘n werktuigkundige wat trekkers en ander landboutoerusting kon diens en ‘n bymekaarkomplek vir boere van die distrik.

In 2004 het Van Brakel Stoor soos dit vandag daar uitsien, hul deure geopen. Die boere gebruik nog steeds die ‘nuwe’ padstal of restaurant as vergaderplek of om sommer net te kom koffie drink.

As ‘n baaspasteibakker soos ‘n vriendin van my vir jou sê dat Van Brakel Stoor die beste padkospasteie verkoop wat sy ken, raak jy, soos ek, en sy,  ‘n gereelde indrawwer. Tradisionele middagetes word ook bedien en konfyte, ingelegde vrugte, soetkoekies en jêmtertjies is te koop.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 23, 2020 by in Die res van Suid-Afrika.