ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kuier-kuier na die Wildtuin

First published in Beeld, May 2017

(Since this article has been published some details might have changed)

Hier teen die middel van die jaar wyk baie Suid-Afrikaners uit na die Krugerwildtuin. Die droë winterseisoen lok baie besoekers hoewel elke seisoen natuurlik sy eie aantrekkingskrag bied.

Kuier-kuier na die Wildtuin

Kuier-kuier na die Wildtuin

As jou motor se neus in die middel van 2017 in hierdie rigting neig, is dit dalk juis die tyd om ‘n paar bestemmings oppad soontoe – vóór jy die hekke van die wildtuin bereik – te verken.

Dullstroom

2 uur 18 minute se ry vanaf die wildtuin

Vanaf Dullstroom na die naaste hek van die Krugerwildtuin neem om en by twee en ‘n half uur. Jy kan met die R536, R37, R540, R533 of N4 ry.

Wild About Whisky is die kroeg met die meeste soorte whiskys in die suidelike halfrond

Wild About Whisky is die kroeg met die meeste soorte whiskys in die suidelike halfrond

Dullstroom het meer gastehuise as whiskeys wat jy op een aand kan drink. Dis ‘n dorp waar jy móét whiskey drink – Wild About Whisky het die meeste whiskies op een plek in die suidelike halfrond.

Van rekords in die suidelike halfrond gepraat, Dullstroom se Clock Shop het die meeste horlosies op een plek – ja, jy het reg geraai – in die suidelike halfrond. Daar is koekoekhorlosies, pienk uilhorlosies, kitaarhorlosies, groen appelhorlosies – ag, te veel om te beskryf.

By Udderlicious Melkskommelkroeg is meer as twintig geure roomys om van te kies. Besluit tussen zoo-koekie-, suurlemoenmeringue- of melktertbruismelk. Die toonbank, yskas en mure is wit met swart kolle – dit laat jou sommer lus voel om soos ‘n koei te loei.

By Walkersons Hotel en Spa, Dullstroom kan jy nie net (leer om) jou eie forel (te) vang nie; jy kan dieselfde aand daaraan smul. Hul (of jou) forel verskyn met peperwortelroom, snytjies appel en Parma-ham op kruieblaartjies, bedruip met vinkelvinaigrette.

Eintlik is die slaai-voorgereg ‘n verrassingspakkie – tussen lagies forel word repies piekelgemmer as’t ware versteek. Dalk verklap ek nou ‘n geheim!

Bellingham Homestead Sauvignon Blanc is ‘n perfekte pasmaat hierby – díé wyn blyk verlief op forel te wees, verduidelik die bestuurderes, Kate Christie.

Jy gaan nie net na Walkersons Hotel en Spa om te ontspan en forel te vang nie; jy gaan ook hiernatoe om kos-en-wyn-pasmaataande te beleef en Kaapse wyne te leer ken.

Walkersons Hotel en Spa lê in ‘n pragtige heuwelagtige vallei net buite Dullstroom. Vroegoggend as die mis lig weerkaats die hotelsuites – daar is 27 – en selfhelpkothuise – daar is vyf – in die foreldamme.

Selfs ‘n Kapenaar leer hier in Mpumalanga wyn ken wat ‘n nuwe gunsteling word. Ver van die huis kom ek agter dat Baleia Tempranillo in my smaak val. Veral saam met brosgebraaide eend geglaseer met swartbessiesous en bedien op aartappelkrokette soos wat die sjef, Adri van Wieringen, by Walkersons se restaurant dit voorsit.

Die verruklikste smaakkombinasie van die aand was egter die proeseltjie suursuiker (sherbet) saam met ‘n slukkie Boschendal Grande Cuvee Brut. Die kwadraat-borrelsmaak is ‘n treffer ver bo die waarde van korale.

By Buffelskloof Lodge in die rigting van Lydenburg (45 minute se ry vanaf Dullstroom en minder as 2 uur se ry vanaf die Krugerwildtuin) sit daar nie uile op kluite nie, maar daar is ‘n uilrelïef teen ‘n muur, klein en groot uilstandbeelde, uile wat tone op ‘n leertjie punt en ‘n reusagtige hangmobiel met klein individuele uiltjies wat elkeen met die hand gemaak is.

Die chalets en kamers by Buffelskloof Lodge is keurig gemeubileer en die etes herinner aan jou ouma se kreunende kostafel sou sy ‘n moderne kinkel aan haar resepte gegee het.

www.wildaboutwhisky.com/whisky-bar/

www.theclockshop.co.za

www.walkersons.co.za

www.buffelsklooflodge.co.za

www.dullstroom.co.za

 Kaapsche Hoop

1 en ‘n half uur se ry

Kaapsche Hoop of Kaapse Hoop het sy ontstaan aan die ontdekking van goud in 1882 te danke. Daar was destyds ‘n totale stormloop na iemand ‘n goudklont opgetel het. ‘n Delwerbegraafplaas – met baie kindergraffies – getuig van die leed wat met die soeke na ‘n fortuin gepaardgegaan het.

Met die inry by Kaapsche Hoop is daar 'n uitdruklike waarskuwing om nie hul wildeperde te voer nie

Met die inry by Kaapsche Hoop is daar ‘n uitdruklike waarskuwing om nie hul wildeperde te voer nie

Deesdae is dit ‘n gewilde bestemming onder toeriste en kunstenaars juis omdat dit so prentjiemooi is. Dis selfs nog mooier as dit in mis gehul is, wat gereeld gebeur.

Met die inry staan daar op ‘n verwelkomingsbord: “Ons plek in die wolke, waar kinders, wildeperde en vriende in die natuur kom speel.”

Jy mag nie die perde – daar is omtrent 150-180, maar nie almal loop in die dorp rond nie – voer nie en verantwoordelike gedrag word vereis; anders lei dit tot slegte gewoontes onder die perde, en dit kan selfs tot beserings lei.

Daar is verskeie teorieë, maar niemand is heeltemal seker waar hierdie perde oorspronklik vandaan kom nie. Die mees waarskynlike teorie is dat hul afstammelinge van die polisie se berede eenheid is. Die berede eenheid is in die vroeë sestigs ontbind.

In en rondom Kaapse Hoop kan jy perdry, watervalle gaan kyk, op ‘n spooktoer gaan of sommer net pannekoek eet.

www.kaapschehoop.co.za/kaapsche.htm

www.kaapsehoop.com

Ohrigstad

1 uur 45 minute se ry

Ohrigstad is allesbehalwe ‘n stad, inteendeel dis ‘n piepklein dorpie 45 kilometer noord van Lydenburg. Die dorp is oorspronklik deur ‘n groep Voortrekkers gestig, maar die malaria het hul so opgekeil dat hulle aangeskuif het.

Twintig kilometer noord van Ohrigstad is die Shoe Guesthouse. As jou kinders kriewelrig raak, sal hierdie reuse skoen van 20 meter lank en twee verdiepings hoog lank hul aandag aflei. Die skoen is ontwerp en gebou om soos die skoenhuis van die kleuterrympie ‘Die Ou Vrou in die Skoen’  te lyk. Binne-in is ‘n museum, galery en winkeltjie. Grillerige grottoere kan ook onderneem word.

Kinderloses kan by The Lamb and Ale in Ohrigstad ‘n sopie brandewyn geniet wat uit ‘n vlakvark se boude geskink word. Dis minder grillerig as wat dit klink! The Lamb and Ale is ‘n kroegrestaurant.

www.theshoe.org/site/the-shoe-2/

www.where2eat.co.za/listings/ohrigstad-limpopo-south-africa-lamb-and-ale-2/

Sabie

50-60 minute se ry

Ry met die Long Tom-pas langs na Sabie. Ruim tyd in om herhaaldelik langs die pad af te trek om die uitsigte te bewonder.

Sabie kry sy naam van die Tswana-woord ‘ulu-Saba’. Dit beteken ‘rivier van vrees’. Lank terug was hier blykbaar baie krokodille in die rivier.

Sodra jy die vark met polvye sien staan, moet jy inklok vir tee en wortelkoek by Coffee etc.

Sodra jy die vark met polvye sien staan, moet jy inklok vir tee en wortelkoek by Coffee etc.

Deesdae kan jy maar net uitkyk vir die vark op polvye wat jou by Coffee etc. innooi en drinkgoed en muffins bedien.

Die St Peter's Kerkie is in die middel van die dorp

Die St Peter’s Kerkie is in die middel van die dorp

Sabie was in 2012 Kwêla se Dorp van die Jaar.

In die omgewing van Sabie is verskeie gewilde bergfietsroetes.

Sabie is ook bekend vir die Groot Vyf – eintlik is daar meer – in hierdie geval wys dit na watervalle.

Boekwurms sal hul in die keuse van boeke, nuut en tweedehands, by Book Case verlustig

Boekwurms sal hul in die keuse van boeke, nuut en tweedehands, by Book Case verlustig

Boekwurms sal dit geniet om by Book Case – daar is meer as 20 000 boeke beskikbaar – in te loer.

Baie van die vrugte- en groenteverkopers verkoop ook makadamianeute waarsonder jy nie die dorp behoort te verlaat nie

Baie van die vrugte- en groenteverkopers verkoop ook makadamianeute waarsonder jy nie die dorp behoort te verlaat nie

‘n Mens kan nie net van lees alleen leef nie. In Sabie word macadamia-neute spotgoedkoop op straat verkoop. Dis heerlik as ‘n versnapering en nog lekkerder om daarmee te kook of bak. Sorg dat jy genoeg huis toe neem andersins gaan jy na die tyd baie spyt wees.

www.mountainpassessouthafrica.co.za/find-a-pass/mpumalanga/item/340-long-tom-pass.html

www.sabie.co.za

Graskop

Minder as 50 minute se ry

Graskop is ‘n pannekoekdorp. Orals eet mense pannekoek. Mik vir die minder bekende koffieplekkies vir dunner pannekoeke.

Graskop is die pannekoekdorp van Suid-Afrika

Graskop is die pannekoekdorp van Suid-Afrika

As pannekoek te koekerig vir jou klink – en jy ‘n voorliefde vir treine, stasies en tattoes het – gaan drink ‘n koue by The Loco Pub and Grill in die ou stasiegebou kompleet met Suid-Afrikaanse Vervoerdienste- en Kaartjies vir Eerste en Tweede Klas-naamborde.

As jy moeg vir soet en sout pannekoeke is, kan jy by The Loco Pub & Grill ietsie gaan wegslaan mits jy nie 'n sensitiewe siel is nie

As jy moeg vir soet en sout pannekoeke is, kan jy by The Loco Pub & Grill ietsie gaan wegslaan mits jy nie ‘n sensitiewe siel is nie

By Diggers Hut Foto-ateljee kan jy opdres en jouself in uniform, met ‘n volstruisveerhoed, korset of kruisbande, of met ‘n jaggeweer oor die skouer gedrapeer laat afneem.

Graskop Hotel het kuns- en tuinkamers. As jy nie hier oorbly nie – hoewel dit aanbevole is – vra die vriendelike personeel of jy na die kunskamers kan gaan kyk. Die kontemporêre kuns sal jou asem wegslaan. Dis speels, dis eklekties, dis ongewoon.

Daar’s hout- en geroeste skrootmetaaltelevisies, daar’s boksrame in die vorm van die letter X wat met rooi laproosknoppe gevul is, daar’s oranje en grys tuinslange aan hake teen die muur, daar’s rooi en geel dakwaaiers, daar’s foto’s van krane en daar’s bedrolle wat as koppenente ingespan is.

Spaar die kamer met ‘n magdom wit pyltjies met rooi stiksels – en een bloedrooi pyltjie – vir laaste, want dit is die treffendste een.

Graskop verwelkom almal

Graskop verwelkom almal

Net soos Sabie is daar in die buitewyke – noord en suid – van Graskop ook verskeie watervalle om te besoek. God’s Window – met ‘n panoramiese uitsig oor die Laeveld – is 9 kilometer buite die dorp. Bourke’s Luck Potholes waar die Blyderivier Canyon begin, is 35 kilometer buite die dorp.

www.graskop.co.za

www.graskophotel.co.za

 Hazyview

19 minute se ry

Hazyview is ideaal geleë om as wegspringplek vir ‘n besoek aan die Krugerwildtuin of die Panoramaroete in Mpumalanga te dien. Die naam van die dorp is ontleen aan die wasigheid wat op somerdae die dorp en omstreke omhul.

In Hazyview eet jy piesangs, mango’s en lietsjies, en handevol makamianeute. Sorg vir ‘n gaatjie in die motor vir padkos of om huis toe te neem.

Op die R536 of die Sabie-pad is daar baie verblyfopsies. Jy kan elke aand op ‘n ander plek slaap as jy gou verveeld raak.

Ons het een aand ‘n eenkamerwoonstel op ‘n makadamiaplaas gehuur – baie plase het selfsorgakkommodasie – en ‘n volgende aand by Gecko Lodge oorgebly. Gecko Lodge is ook op ‘n plaas; daar is ‘n lieflike tuin en die gastehuis is sjiek plattelands.

Pioneers Butcher & Grill in Hazyview was die streekswenner in die 2015 Wolftrap Steakhouse-kampioenskap.

www.hazyviewinfo.co.za

www.geckolodge.co.za

www.pioneersbutchergrill.co.za

Lief vir die langpad?

De Hoek Country Hotel

Minder as 5 uur se ry

Werf punte by jou wederhelf en bederf julself by De Hoek Country Hotel – in die Magaliesburg – met die gaan of terugkom vanaf die Kruger.

De Hoek is ‘n vyfster-boetiekhotel waar jy rustig en luuks kan ontspan en bowenal die ongelooflikste maaltye in hul restaurant, The Conservatory, kan geniet.

As jy vooraf op die internet loer, sal jy orals raaklees dat De Hoek met drie s’e beskryf word: smaak, stilte en saligheid. Voeg nog twee na jou besoek by – jy gaan ook swig voor hul styl.

http://www.dehoek.com

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 24, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .