ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Hops is hups

First published in Rapport, December 2019

Só brou jy bier

Dis fassinerend om 'n toer deur SAB Maltings, 'n vermoutingsaanleg in Caledon te onderneem en te sien hoe gars in mout omskep word

Dis fassinerend om ‘n toer deur SAB Maltings, ‘n vermoutingsaanleg in Caledon te onderneem en te sien hoe gars in mout omskep word

Op ‘n Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) Erfenistoer leer jy hoe eenvoudig dog ingewikkeld dit is om bier te maak; al word daar net vier bestanddele gebruik.

Die vier basiese bestanddele is: gars, water, hop(s) en gis.

Hoe lyk die hop(s)

Die hopplant is inheems aan Europa, dele van Asië en Noord-Amerika. In Suid-Afrika word hop buite George gekweek.

Teen hierdie stellasies rank die hopplante totdat hulle so vyf meter hoog groei

Teen hierdie stellasies rank die hopplante totdat hulle so vyf meter hoog groei

Die eerste hop in Suid-Afrika is deur niemand anders as Jan van Riebeeck geplant nie. Dit was reeds met sy aankoms in 1652; in 1658 is die eerste bier hier by ons gebrou.

Die eerste kommersiële hop is in 1935 in Suid-Afrika aangeplant; ons produseer minder as 1% van die wêreld se hop.

Die hops (‘n term wat oor die algemeen vir die blommetjie van die hopplant gebruik word) gee aan bier sy kenmerkende aangename bitter smaak sowel as aroma. ‘n Olieagtige stof binne-in die vroulike kegelvormige blommetjies verskaf die bitter smaak. Hop bevat tot soveel as 400 geurkomponente.

Die manlike hopplante word nie geduld nie. In Duitsland is daar selfs ‘n wet – die Bavariese Verordening vir die beheer van wildehop van 21 November 1956 – wat vereis dat jy ‘n manlike hopplant moet uitroei as jy dié teëkom. Gelukkig geld dit net vir plante, giggel almal wat die SAB Erfenistoer meemaak, onderlangs.

Hopkultivars wat in Suid-Afrika gebruik word, spog met name soos Southern Passion, African Queen en Southern Aroma. Verskillende soorte hop word deur SAB en vlytbierbrouers gebruik afhangende van watter smaakkomponent aan die bier gegee word. Die vlytbierbrouers koop hul hops vanaf SAB aan.

Die hopranke word al swaaiend en dansend met 'n masjien opgetrek voor die hopskegeltjies gestroop word

Die hopranke word al swaaiend en dansend met ‘n masjien opgetrek voor die hopskegeltjies gestroop word

Die hop groei tot vyf meter hoog waarna die ranke begin uitsprei. Dit word op ‘n unieke manier geoes. Wanneer die lang ranke hop uit die boord in die hopsfabriek aankom, word dit met ‘n masjien opgetel en al dansend ingeryg tot waar die ranke gestroop word.

In 750 ml bier is daar maar so ‘n speldekoppie-grootte hop.

Gars word mout

By die Suid-Afrikaanse Brouerye se vermoutingsaanleg, SAB Maltings, op Caledon word al die (mout)gars uit die Suid-Kaap tot mout verwerk.

‘n Mens kry moutgars en voergars. Moutgars is amper dubbeld so duur soos voergars wat vir vee gebruik word.

In Suid-Afrika word daar jaarliks sowat 850 ton hops geoes

In Suid-Afrika word daar jaarliks sowat 850 ton hops geoes

Die brouproses behels vier stappe. Tydens die moutproses word die gars in water geweek sodat dit kan ontkiem. Na ontkieming word die mout gedroog en daarna word dit gemaal.

Tydens stap twee word die gemaalde mout met water gemeng en verhit. Na suikers gevorm is, staan die ‘beslag’ as wort bekend. Hops word by die gesuiwerde wort gevoeg.

Nou is die wort reg vir gisting, die belangrikste stap van die brouproses. Die gisting duur sowat 12 dae lank. Na gisting word die bier vir van drie weke tot ‘n paar maande verouder.

Met hierdie paneel word alles by die vermoutingsaanleg beheer en gemonitor

Met hierdie paneel word alles by die vermoutingsaanleg beheer en gemonitor

Op ‘n besoek aan SAB Maltings klim jy trappe van die een vlak na die ander totdat jou kop rondomtalie. Jy sien die paneel met sy klomp knoppies wat álles in die aanleg beheer en jy word indringend gewaarsku dat daar één rooi knoppie is waaroor jy nie eers mag buk nie, om nie eers te praat van aanraak nie. As jy gelukkig genoeg is, sien jy op die regte stadium van fermentasie ‘n tenk (dit herinner aan ‘n ou sementplaasdam) wat heeltemal oorborrel. Die groot ‘seepbelle’ laat dit lyk of Alice in Wonderland saam met die Paashaas daarin sou kon speel.

As jy gelukkig is tref jy die fermentasie-'dam' met borrels wat dreig om oor te loop, aan en dis omtrent 'n belewenis om te sien

As jy gelukkig is tref jy die fermentasie-‘dam’ met borrels wat dreig om oor te loop, aan en dis omtrent ‘n belewenis om te sien

Oud, maar nog nie koud, by Nuweland

Die Nuweland Brouerye is nie net die land se oudste brouery nie, maar is ook een van die oudste industriële terreine in die Kaap.

'n Heildronk word op Charles Glass by die Nuweland Brouery gedrink

‘n Heildronk word op Charles Glass by die Nuweland Brouery gedrink

Dit het alles só begin: Jacob Letterstedt het in 1820 in die Kaap aangekom en die oorspronklike Mariendahl Brouery opgerig. ‘n Gedeelte van hierdie brouery kan steeds by Nuweland Brouery besigtig word.

In 1888 het Anders Ohlsson al die brouerye insluitende Mariendahl in die omliggende omgewing opgekoop en so het Ohlsson se Kaapse Brouery ontstaan. In 1895 is SAB (die Suid-Afrikaanse Brouery) gestig. Reeds in 1956 het SAB met Ohlsson en United Breweries saamgesmelt om SAB Beperk te vorm.

In Oktober 2016 het SAB en AB Inbev hande gevat en sedertdien is hulle saam in die besigheid van bierbrouery.

By Nuweland Brouerye is standaarde van netheid hoog en alle werksaamhede loop goed geolie

By Nuweland Brouerye is standaarde van netheid hoog en alle werksaamhede loop goed geolie

By Nuweland Brouery neem dit minder as 60 minute vir ‘n bierlorrie om in te ry, gelaai te word en weer uit te ry. Daar word 60 000 blikkies bier per uur op die verpakkingslyn hanteer. Luister na die interessante metode wat gevolg word wanneer ‘n bierbottel verseël word, as jy die brouerytoer meemaak.

Die Nuweland Brouery bied van Maandae tot Saterdae (gesluit op publieke vakansiedae) biertoere aan. Bespreking is noodsaaklik. Lees meer by: www.newlandsbrewery.co.za

*  *  *

Die mees suidelike bierbrouery in Afrika

Fraser's Folly was eers in Struisbaai gesetel; nou is hulle op die wynlandgoed Black Oystercatcher

Fraser’s Folly was eers in Struisbaai gesetel; nou is hulle op die wynlandgoed Black Oystercatcher

Dit het alles in Struisbaai begin. Struisbaai lê langs Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika.

Die tuiste van Fraser's Folly is by Black Oystercatcher buite Elim in die Overberg

Die tuiste van Fraser’s Folly is by Black Oystercatcher buite Elim in die Overberg

Vir ses jaar het Fraser Crighton in Struisbaai vlytbier gebrou. In 2016 het hy na die wynlandgoed Black Oystercatcher, net buite Elim in die Overberg, verhuis en dis waar Fraser’s Folly Brewing Company ‘n nuwe tuiste gevind het.

Dis maklik om raak te sien as daar ‘n Fraser’s Folly-vlytbier op die rak staan. Elke bottel is in ongedrukte koerantpapier, waarop slegs die naam van die bier in groot letters gedruk is, toegedraai. Dit het eintlik die eerste keer per toeval gebeur toe hul plakkers in 2010 per ongeluk opgeraak het. Nóú maak dit deel van die persoonlikheid van dié bier uit.

Crighton se arsenaal Fraser’s Folly-biere bestaan uit die volgende: Pale Ale, India Pale Ale, Duitse-styl Weizen, Pilsner, Wild Raspberry wat na jellielekkers smaak, Hoppy Lager wat van Suid-Afrikaanse Southern Passion-hop gemaak word, Moer Koffie Stout met kondensmelk en Brandy Cask Finished Ale wat, ja, regtig, in brandewynvate verouder is.

Crighton stel voor dat jy, na jy sy biere geproe het, by die Black Oystercatcher Restaurant aansit en die volgende pasmaats uitprobeer: die biefstukpan met ‘n Pale Ale, die gourmetburger met Weizen, die Pilsner met hoenderciabatta en die sjokoladenagereg met Moer Koffie Stout.

Die beste bier op ‘n rivier

Met name wat hulde aan ‘n admiraal, meermin, kaptein en ‘n dubbelbok bring, moet jy jou gereedmaak vir biere wat voetstoots gedrink moet word. Hul uit-die-boks etikette sal jou ook na jou beursie laat gryp.

'n Bieretiket spog met 'n pyprokende admiraal met 'n monokel

‘n Bieretiket spog met ‘n pyprokende admiraal met ‘n monokel

Op die bottel van The Admiral Leichtes Weizz, ‘n bier in Bavariaanse styl gemaak, pryk ‘n besnorde admiraal met ‘n monokel en ‘n langsteelpyp; op die etiket van The Mermaid Pale Ale is dit ‘n vróú wat pyp rook en op die Dunkel Weizen Doppel Bok, ‘n Duitse styl-bier, loer ‘n blouoogbok met Kersboomhorings na jou.

By Berg River Brewery, op die oewer van die Bergrivier in die Paarl, word ‘n reeks van 12 biere gebrou.

Proe bier op die oewer van 'n rivier by Berg River Brewery

Proe bier op die oewer van ‘n rivier by Berg River Brewery

By dié brouery kan jy nie net bier proe nie, maar ook in ‘n beskutte binnehof of in die Taphuis kuier of ‘n musiekfees by die Davy Jones-bierhuis bywoon (Davy Jones was ‘n seerower wat matrose ontvoer het en in sy bierhuis gevange gehou het). Die hele brouery kan ook vir funksies gehuur word.

  • Lees op bergriverbrewery meer oor hul biere en kyk na watter musiekvertonings volgende aangebied gaan word.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 7, 2020 by in Afrikaans foodies and tagged .