ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Ouwêreldse sjarme op dié roetes

First published in Die Burger, December 2019

Verken die Kaap – ry dan nog verder

Gert Lubbe het reeds in 1997 met die idee van Cape Country Routes vorendag gekom

Gert Lubbe het reeds in 1997 met die idee van Cape Country Routes vorendag gekom

Eendag was daar ‘n hoteleienaar wat van mening was dat hy nog nooit ‘n dag in sy lewe gewerk het nie. Al wat hy gedoen het, was om sy stokperdjies te beoefen.

Dié hoteleienaar is Gert Lubbe, die eienaar van Montagu Country Hotel, die enigste art deco hotel in Suid-Afrika. Lubbe het die hotel op ‘n bankrotveiling gekoop en in ‘n viersterhotel omskep.

Reeds voor hy die Montagu Country Hotel aangeskaf het, was hy ‘n visioenêr wat met die idee en konsep van Cape Country Routes vorendag gekom het.

Gert Lubbe het reeds in 1997 die behoefte raakgesien om gaste na gastehuise en hotelle op roetes wat sin maak, te kanaliseer. Hy het mede-eienaars van hotelle en gastehuise om ‘n tafel laat sit en so is met Cape Country Routes begin.

Dié projek het ‘n gaping in die mark gevul en terselfdertyd verblyfbestemmings wat deur individue besit word, bemark. Die samebindende faktor was dat alle bestemmings sjarme, karakter en ‘n element van romanse moes hê. Aanvanklik was Cape Country Routes op Roete 62 van Kaapstad na Port Elizabeth gefokus.

In 1997 was die oorspronklike lede van Cape Country Routes die Alphen Boetiekhotel in Constantia en Winchester Mansions in Seepunt, Kaapstad; D’Ouwe Werf in Stellenbosch; Montagu Country Hotel in Montagu; Queens Hotel in Oudtshoorn; Matoppo Inn in Beaufort-Wes; Lake Pleasant in Sedgefield; Belvidere Manor in Knysna en laastens The Beach Hotel in Port Elizabeth.

Winchester Mansions in Seepunt was een van die oorspronklike lede van Cape Country Routes

Winchester Mansions in Seepunt was een van die oorspronklike lede van Cape Country Routes

Vanaf die negentigerjare tot nou het daar nie net baie in ons land verander nie, maar ook Cape Country Routes is heeltemal herstruktureer. Die fokus is steeds in sommige gevalle op dieselfde roete d.w.s. van die Wes-Kaap na die Oos-Kaap, maar die roetes (daar is ook aktiwiteite tot die portefeulje bygevoeg) is ook uitgebrei.

Só slaap jy oor in Stellenbosch

 Dis nie net Simon van der Stel wat reeds in 1679 liries oor Stellenbosch geraak het nie; baie beskou dié dorp, die tweede oudste dorp in die land, as een van die mooiste in Suid-Afrika. Stellenbosch en die omringende omgewing bied natuurskoon, argitektuur, kuns, wynplase en eetplekke; die Adventure Shop (www.adventureshop.co.za) reël begeleide fietstoere asook Vine Hopper-wyntoere.

As jy by Evergreen Manor & Spa (www.evergreenmanor.co.za) of by Eendracht Hotel (www.eendracht-hotel.com) oorbly, is jy binne stapafstand van alles wat in die hart van die dorp gebeur. Bespreek vooraf ‘n tafel op die stoep by Helena’s Restaurant by die Coopmanhuijs Hotel sodat jy die bedrywighede in Kerkstraat kan dophou.

Pak af in die Paarl

 Net soos Stellenbosch bied die Paarl veral argitektuur en wynplase. Op ‘n historiese staptog deur die Paarl (www.paarlhistoricaltours.co.za) leer jy nie net van die geskiedenis en die verskillende boustyle nie, maar jy hoor ook die interessantste staaltjies van die inwoners van ouds.

Dis nie net plaaslike en internasionale besoekers wat graag in Cascade Country Manor se tuin rondhang nie; 'n rammetjie-uitnek gemmerkat rol ook soms op die gras rond

Dis nie net plaaslike en internasionale besoekers wat graag in Cascade Country Manor se tuin rondhang nie; ‘n rammetjie-uitnek gemmerkat rol ook soms op die gras rond

By Cascade Country Manor (www.cascademanor.co.za) bly jy oor in ‘n imposante herehuis omring deur olyfboorde net buite die dorp. By d’Olyfboom (www.dolyfboom.co.za) bly jy binne die dorp, maar teen die hange van Paarlberg. Beide verblyfopsies spog met ‘n pragtige uitsig.

Ry oor die berg na die Overberg

 Die naam Overberg beteken letterlik “oor die berg” en is volgens oorlewering die broodmandjie van die Kaap. Rondom Caledon, Napier en Bredasdorp is die golwende heuwels groen in die winter, die graan staan geil in die somer en die kanola blom goudgeel in die lente.

Die Overberg kan stadskinders laat wonder of die sprokie van 'n pot goud aan die einde van die reenboog perdalks waar is

Verken Overbergse paaie

Die Overberg is ‘n onderskatte bestemming met ouwêreldse sjarme.

De Hoop Natuurreservaat (www.dehoopcollection.com) is bekend vir walviskyk, die Walvisstaproete en die spierwit duine by Koppie Alleen. Ywerige voëlkykers kan meer as 150 spesies probeer uitken.

Rek jou litte en stap vanaf Agulhas Country Lodge na die Agulhas-vuurtoring

Rek jou litte en stap vanaf Agulhas Country Lodge na die Agulhas-vuurtoring

Agulhas Country Lodge (www.agulhascountrylodge.com) is ‘n flukse stappie (net meer as vier kilometer) vanaf die mees suidelike punt van Afrika. Jy kan met 71 trappies tot bo in die Kaap Agulhas-vuurtoring klim. Ongelukkig het ‘n kortsigtige besluit daartoe gelei dat Agulhas, die mees suidelike dorp op ons vasteland, nie meer oor ‘n toerismekantoor beskik nie.

This slideshow requires JavaScript.

Die Arniston Spa Hotel (www.arnistonhotel.com) sit amper óp die see en die vissershawetjie met kleurvolle skuite is ‘n klipgooi weg. Arniston en Agulhas is minder as 50 kilometer van mekaar.

Arniston se vissershawetjie met gekleurde skuite is prentjiemooi

Arniston se vissershawetjie met gekleurde skuite is prentjiemooi

As jy avontuurlustig is, kan jy by Marine Dynamics (www.sharkwatchsa.com/en/home/) in Gansbaai ‘n haaihokduik bespreek.

Die enigste art deco hotel in die land is in Montagu

Jy hoef nie ‘n art deco-liefhebber te wees om die atmosfeer van die Montagu Country Hotel (www.montagucountryhotel.co.za) te geniet nie. Dis egter onvermydelik dat dié dekorstyl en die gepaardgaande neiging na die kitsch-fenomeen in jou gesprekke insluip as jy hier tuisgaan. Amper almal diep iets uit hul geheue op, of dit nou jou ouma se spieëlkas of jou oom se leunstoel met staanderasbakkie is.

By die Montagu Country Hotel eet jy soos in vanmelewe se dae by kerslig en gestyfde tafeldoeke. Jy kan ook ‘n ekskursie met American Dream Cars (www.capecountryroutes.com/pages/american-dream-cars-2/) by die hotel bespreek. Dis nie sommer gou weer wat jy die kans gaan kry om met ‘n Cadillac in Robertson te gaan wynproe nie!

Ry met American Dream Cars deur Montagu of gaan proe wyn in Robertson

Ry met American Dream Cars deur Montagu of gaan proe wyn in Robertson

By Four Cousins in Voortrekkerlaan, Robertson kan jy wyn, vlytbier en whisky proe en aan pizzas smul.

Montagu se NG Kerk is 'n klipgooi vanaf die Montagu Country Hotel

Montagu se NG Kerk is ‘n klipgooi vanaf die Montagu Country Hotel

Nie net volstruise in Oudtshoorn

Die verblyf by De Zeekoe Gasteplaas (www.dezeekoe.co.za) of Wildehondekloof Privaatnatuurreservaat (www.whkloof.co.za) is nie een in ‘n voormalige verepaleis van Oudtshoorn nie, maar dit beteken nie hulle hoef ‘n tree terug te staan nie. Die vere- of volstruispaleise van die veerbaronne dateer uit die tye (1865-1870 en 1900-1914) toe die volstruisveerbedryf gedy het.

De Zeekoe se naam is ontleen aan die Nederlandse naam vir dié lusernplaas, Zeekoegat. Hier gaan jy weliswaar nie meer ‘n seekoei raakloop nie, maar wel een van die “Skaam 5”, eerder as die “Groot 5”, word op hul webwerf verduidelik. Die “Skaam 5” is die aardvark, ystervark, aardwolf, bakoorvos en meerkat. By De Zeekoe kan jy douvoordag saam met die meerkatte (www.dezeekoe.co.za/meerkat-tours/) uithang sonder om hulle te versteur.

As die stad se gedruis of jou werksdruk vir jou te veel raak, kan jy jou siel voed en jou lyf se battery herlaai deur die berg- en rivieruitsigte by Wildehondkloof in te drink.

Verken Knysna

 Knysna kan met Stellenbosch meeding as een van die mooiste dorpe in die land. Knysna ís die hart van die Tuinroete.

By The Lofts-boetiekhotel (www.knysnahotel.co.za) op Theseneiland word jy gepamperlang; ruim genoeg tyd hiervoor in aangesien daar baie is wat jou in Knysna kan verlei. Dit sluit in bootvaarte met sonsondergang, oesters eet, in die woud gaan stap en inkopies doen.

‘n Uur vanaf Port Elizabeth

Jeffreysbaai is nie nét vir branderplankryers nie. Al kan Jeffreys oor die seisoen besig raak, verloor dit nooit sy stranddorpgevoel nie. As jy op pad na Port Elizabeth of die res van die Oos-Kaap is, kan jy by Supertubes Gastehuis (www.supertubescollection.co.za) oorbly.

Jeffreysbaai is nie net vir branderplankryers nie

Jeffreysbaai is nie net vir branderplankryers nie

Zuurberg Mountain Village (www.zuurbergmountainvillage.co.za) is, soos Jeffreysbaai, sowat ‘n uur se ry vanaf Port Elizabeth. Vanaf Zuurberg is daar ‘n lieflike uitsig oor die Addo-olifant Nasionale Park.

Neig noord

 Daar’s mense wat so passievol oor die Karoo voel as wat ander oor die see voel. As Karoo-sand en ‘n hemelruim vol sterre die ding vir jou doen, moet jy jou na New Holme-gasteplaas (www.karoogariep.co.za) in die Karoo Gariep-natuurreservaat begewe. Dalk is jy selfs gelukkig genoeg om op ‘n nagrit ‘n aardwolf of aardvark te sien.

Die buiteaansig by Naries Namakwa Retreat verklap nie die luukse wat binne op jou wag nie; boonop strek die uitsig tot in die oneindigheid

Die buiteaansig by Naries Namakwa Retreat verklap nie die luukse wat binne op jou wag nie; boonop strek die uitsig tot in die oneindigheid

Tyd vir skemerkelkies op een van Spektakelberg se koppe by Naries Namakwa Retreat

Tyd vir skemerkelkies op een van Spektakelberg se koppe by Naries Namakwa Retreat

So 'n sonsondergang by Naries Namakwa Retreat vra vir 'n jenewer-en-tonikum

So ‘n sonsondergang by Naries Namakwa Retreat vra vir ‘n jenewer-en-tonikum

By Naries Namakwa Retreat (www.naries.co.za), ook in die Noord-Kaap, kan jy ook die sand tussen jou tone laat krul en na die sterre staar. As jy see se kant toe mik, kan jy skeepswrakke gaan uitkyk en in die blomseisoen sal jy ver soek om ‘n beter plek te kry om blomme te kyk.

2 comments on “Ouwêreldse sjarme op dié roetes

  1. Tannie Frannie
    March 26, 2020

    Het nou so lekker saam met jou gereis!

  2. ilsez
    April 3, 2020

    Dankie, Tannie Frannie! Lekker naweek!

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 26, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .