ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Tog te lekker in Turkye

First published in Die Burger, July 2018

Bring ongewone speserye soos soemak terug huis toe

Bring ongewone speserye soos soemak terug huis toe

Orals in die Midde-Ooste en Noord-Afrika is kebabs ‘n gewilde straathappie of vinnige ete om aanmekaar te slaan. Kebabs is in Persië die eerste keer genuttig, so sê hulle.

‘n Kebab is ‘n sosatie, of nie

Die Arabiere het die Hollanders aan kebabs bekendgestel en op hul beurt het die Hollanders die resep in 1652 saam met hulle in die Kaap aan wal gebring. Die Kaapse weergawe is in kerrie, borrie, asyn en suiker gemarineer, en sosaties gedoop.

Dis nie net die doner kebap en şiş kebap wat jou op ‘n gastronomiese besoek aan Turkye – en Istanbul – sal verlei nie.

As jy die Tokat-kebap teëkom, verflou die smaak van die ander Turkse sosaties. Eers word sosatieprikstokkies met lam en eiervrug in ‘n bakoond gebak. Die lamsousies bedruip die eiervrug waar dit vertikaal in die oond hang.

Tamaties en pepers word apart gaargemaak. As alles mooi gaar is, word blokkies van al vier op ‘n stokkie geryg en murgsagte geroosterde knoffel word daarby bedien.

Watter soort kos kan jy verwag?

Simit, ‘n reuse broodpretzel met sesamsaadjies en pekmez (granaat- of druiwestroop) besprinkel, is nog ‘n heerlike straathappie waaraan jy sommer in die loop kan knibbel.

Snack Cart

Mielies soos by die huis

So ook mielies wat, soos by ons, oor die kole gaargemaak word.

Yaprak sarma oftewel Turkse dolmades is wingerdblare gevul met speseryrys of maalvleis.

Behalwe dolmades is imam bayildi (gevulde eiervrug) ‘n vegetariër se droomgereg. Imam bayildi beteken: “Die imam (‘n gebedeleier in ‘n moskee) het flou geval.” Dit is kwansuis wat gebeur het toe ‘n imam vir die eerste keer proe hóé geurig die vulsel van knoffel, uie en tamatie (soms met ment of kaneel daarby) smaak.

Daar word gesê dat daar meer as 200 eiervrugresepte in die Turkse resep-annale bestaan.

Onder die eiervrugresepte tel darem nie ‘n soet weergawe nie, maar die Turke maak wel lensiepoeding. En natuurlik Turkish Delight sowel as baie ander soethappies.

Moet jouself egter nie laat bluf nie – The Pudding Shop, ‘n klipgooi van die Sultanamet-toeristebuurt,  waar amper alle toeriste wat Istanbul die eerste keer besoek, heen stroom, verkoop nie (uitsluitlik) nagereg nie. Slegs as jy daarop aandring, kom daar iets vanaf die ongeskrewe spyskaart – met verskuilde kostes, wees gewaarsku – tevoorskyn.

Selfs die Beatles was daar

Toe die hippies van die sestigers – en die Beatles – in Istanbul arriveer, het die Istanbullers blykbaar agter hul hande gefluister. Is dit ‘n man of ‘n vrou? Met lang hare én ‘n wyepyplangbroek. Destyds was verligte haarstyle en –modes nog nie in Istanbul te sien nie.

Op die mure van The Pudding Shop het die hippies boodskappe vir mekaar gelos. Boodskappe soos: “Slaapplek in Teheran gesoek!” En “Op soek na ‘n kitaarspelende doedie om saam na die mistiese Midde-Ooste te reis”.

Gemaalde rissie gegradeer van sterk tot sterker tot net mooi sterk genoeg om aan jou skoonma te bedien

Gemaalde rissie gegradeer van sterk tot sterker tot net mooi sterk genoeg om aan jou skoonma te bedien

If you can find Urfa pepper, you are lucky as it's quite rare and it has an unique flavour

Wees versigtig om speserye van goeie gehalte te koop

Weeg nou mooi

Weeg nou mooi

By die Pudding Shop kan jy maar verbystap, maar ‘n besoek aan die Egiptiese- of Speserybasaar, hoewel dit wemel van toeriste, is ‘n moet. Nie net kan jy hier eindeloos peusel aan Turkish Delight (van rosig tot psigedelies pienk, van pistasieneut- tot heuninggeur), stroperige baklava, appelkose gevul met amandels en gekarameliseerde neute nie, maar aankope van gegeurde tee (appel, lemoen, suurlemoen en granaat), speserye (maak seker die saffraan is die ware Yakoob), heuning en rooskonfyt gaan jou beursie dunner maak en jou bagasie laat bult.

Vis sonder tjips – met raappiekelsap

Mik vir die Bosforus-rivier aan die onderpunt van die heuwel en daarna vir die Galata-brug. Onder die oksel van die brug eet Turkse base en klase braaivisbroodjies wat hul met raappiekel-en-agurkiesap afsluk. Ouer Turke het ‘n voorliefde vir raappiekelsap en dis die jong Turke se boereraat teen babelaas. Nie-Turke sluk swaar aan die eerste mondjievol, wat ook sommer die laaste slukkie word.

As jy nog altyd gewonder het of daar ‘n ons Turkse bloed in jou are vloei, stap oor na die nargileh(waterpyp)-kafees en kyk of jy bolwang aan ‘n waterpyp kan trek en daarna kringetjies rook kan uitblaas.

Toeris- en veerbote vaar van net anderkant die brug tot by Kanlica. Verwyl tyd op die oewer by die Asirlik Kanlica Yogurdu Kafee met ‘n bakkie jogurt waaroor suursuiker (sherbet) gesprinkel word.

So word Turkse koffie bedien

So word Turkse koffie bedien

As jy in Turkye kuier, maak jy soos die Turke – drink bedags vingerhoedjies Turkse koffie en saans raki.

Turke maak al sedert die begin van die vyftiende eeu Turkse koffie (kahvesi) op hul spesiale manier, word daar vertel.

Daar is meer as een legende oor presies wanneer en hoe koffie in Istanbul gewild geraak het.

Een weergawe lui dat die Ottomaanse regeerder, Ozdemir Pasha, in 1517 bewus geword het van ‘n nuwe drankie wat deur sy mense gedrink word. Dié drankie was koffie en Pasha het die sultan, Suleiman die Manjifieke, daaraan bekendgestel. Die sultan het dadelik sy koninklike goedkeuring gegee. Die res is geskiedenis, soos hulle sê.

‘n Tweede weergawe lui dat twee Siriese mans, een van Aleppo en die ander van Damaskas, met hul verhuising na Istanbul koffiebone saamgebring het. Hulle het twee aparte koffiehuise in ‘n werkersklasbuurt van Istanbul oopgemaak. Só het die Turke ‘n smaak vir hierdie tipe koffie ontwikkel.

Nog ‘n legende lui dat ‘n baanbrekerwet destyds geproklameer is. Hiervolgens kon ‘n vrou van haar man skei sou hy nie in staat wees om in haar daaglikse koffiebehoeftes te voorsien nie.

Raki is ‘n onversoete alkoholiese drankie met die geur van anys. Raki kom ook in Griekeland voor, maar die smaak en geur verskil heeltemal. Raki word saam met seekos en meze-borde voorgesit, of daar word sommer net oor ‘n paar glasies tot laataand gekuier.

Die twee kositems wat ek elke keer – selfs na my vyfde besoek aan Turkye – terugbring, is Turkse koffie en pekmez. Pekmez is gewoonlik dik druiwe- of granaatstroop, maar kan ook van dadels gemaak word.

Gebruik pekmez in plaas van, of saam met, balsemiekasyn oor jou slaai. Drup oor roostergroente voor jy dit in die oond druk of oor braai-aartappels tydens die laaste paar minute in die oond. Vryf hoender daarmee in voor jy dit rooster of gebruik as ‘n marinade vir lam of varkvleis.

Inkopiewenk: As jou tas reeds te swaar is, skaf beide Turkse koffie en pekmez by die kleurvolste belastingvry-winkel op die lughawe aan.

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 18, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .