First published in Die Burger, October 2015
Frikkadelle, hawermoutpap en aartappels is Sweedse husmanskost (huiskos), maar ook waarmee die meeste van ons grootgeword het. Kleintyd moes ons egter nie aan tafel bly sit totdat ons brandnetelsop of gefermenteerde haring op is nie.
Swede is ‘n land van bessies – bloubessies, swartbessies, frambose, aalbessies, appelliefies, wilde-aarbeie, brame en bowenal lingon-bessies.
Nie net word ontbytpap met bessies besprinkel nie, maar frikkadelle – en soms bloedpoeding – word tradisioneel met roomsous en lingon-bessiekonfyt (dit smaak amper soos bosbessiesous) bedien. Kool- en visfrikkadelle is deel van elke huiskok se spyskaart.
Vrugtesoppe soos roosvrugsop en bloubessiesop (blabarssoppa) word koud, in die kort somer, of warm voorgesit.
Van die somer gepraat, my eertydse penmaat sedert my laerskooldae, Maria Drangel, by wie ek gekuier het, reken hierdie jaar was hul somer op Woensdag! Op ‘n meer ernstige noot was daar sonskyn op drie dae in Junie, drie dae in Julie en twee weke in Augustus. Dís die tyd om roomys te eet!
Of dit nou somer of winter is, sedert die Middeleeue is Donderdag sopdag. Toe daar nog van kombuishulpe in Swede gebruik gemaak is, was Donderdag die algemene afdag wat beteken het dat sop die dag vooraf berei kon word. Dis steeds die gebruik by baie restaurante om op hierdie spesifieke weeksdag veral ertjiesop te bedien.
Ek was maar heimlik bly dat Maria eerder op wildesampioensop besluit het. Ek kan maar maak wat ek wil; myne is nie so geurig soos hare nie. Dalk omdat sy self die woudsampioene naby hul wegbreekplekkie in die platteland gaan pluk het.
In Swede geld die allemansrätten-beginsel wat ‘die reg van elke mens’ beteken. Volgens hierdie wettiese beginsel het almal toegang tot die natuur; dit sluit die pluk van veldblomme, sampioene en bessies in.
‘n Ander groot bederf wat my en Vicki, my reisgenoot, te beurt geval het, was ‘n kreefpartytjie, ‘n jaarlikse instelling in Swede. Die krefies is piepklein in vergelyking met ons s’n. Jy kry sommer ‘n hele skottel vol om op jou eie oop te kraak en uit te suig.
Die knypers laat jou omtrent spook; al is hulle so klein. Die kreef word met sout, ‘n bietjie suiker en baie vinkel opgekook. Daarmee saam word gewoonlik västerbottenpaj (kaaspastei) opgedien.
Saam met jou bord krefies drink jy glögg, ‘n tipe soet speserywyn.
Die Swede is ook besonder lief vir Suid-Afrikaanse wyn. Slegs Italië verkoop meer wyn aan hulle as ons en dis onlangs wat die Italianers ons verbygesteek het. Slegs Systembolaget (drankwinkels in regeringsbesit) mag alkoholiese verversings met meer as 3.5% alkohol verkoop.
Wat ons dooswyn noem, noem hulle sak-in-boks en – dalk omdat die lewenskoste so hoog is – is dit wat die Sweedse verbruiker meer kere as nie, kies.
Welwetend dat Maria net by uitstekgeleenthede wyn drink en dat sy vantevore genoem het dat sy Allesverloren Shiraz geniet, is dit wat in my bagasie saamgaan. Net om daar aan te kom en om te sien dat dit presies is wat Maria – as deel van die verwelkomingsete – by Systembolaget gaan aanskaf het.
In Stockholm is restaurante dúúr. Jy kan maklik tot R500 vir ‘n hoofgereg in ‘n bistro betaal.
Supermarkrakke wemel egter van bekostigbare produkte soos wat ons nooit hier kry nie: haring in suurroom of mosterdsous, roomkaviaarsmeer, amandelpatee, sjokolade-pretzels, karretjie-malvalekkers(ahlgrens bilar) en drop- en vislekkers.
Soettande sal maklik in Stockholm aard. Die gemiddelde Sweed eet die ekwivalent van 316 soetrolletjies per jaar. Die gemiddelde Sweedse gesin eet 1,2 kg lekkergoed per week.
Lördagsgodis verwys na die gewoonte om Saterdae lekkers te eet. Die ontstaan daarvan is te danke aan ‘n kontroversiële projek wat van 1945-1955 deur die Sweedse regering ondersteun is en ten doel gehad het om tandbederf te bekamp.
Pannekoeke (die Sweedse vertaling pannkaka klink nie so aptytlik nie) en wafels (daar’s ‘n nasionale wafeldag op 25 Maart) is gelief. Die gewildste is egter kaneelrolletjies (kanelbullar) met kardemomdeeg. Chokladbolle en saffraanrolletjies staan nie ver agter nie.
As daar iets is om te vier, kom ‘n prinseskoek (prinsesstarta) met groen marsepeinversiersel en ‘n pienk marsepeinroos te voorskyn.
As die Swede nie soetgoed eet nie, eet hulle salm. Sommer drie keer per dag asof dit brood-en-botter is. Knäckebröd (kraakbeskuitjies) word daarmee bedien.
As jy ‘n Sweed ken wat ‘n jagter ken, én jou hart verhard, kan jy proe hoe hul Bambi-bokkies (radjur in Sweeds) smaak.
In die sewentigerjare was Flygande Jacob sowaar die gewildste dis. Moeilik om jou in te dink as jy hoor dat dit ‘n hoenderkasserol met piesangs, grondboontjies en spek was!
Dis nie al wat ‘n besoeker aan Swede liefs nie wil eet nie. Surströmming is gefermenteerde, suur Baltiese haring wat selfs onder Swede as ‘n aangeleerde smaak beskou word. Ons het ook ‘n wye draai om bloedkluitjies en bloedwors gegooi.
Ek en Vicki was wel vóór ons vertrek braaf genoeg om van voorneme te wees om te soek tot ons surströmming êrens kry. Maria (en Anders, haar man) het ons net een kyk gegee; hulp sou nie van hul kant kom nie. Seker maar end goed, als goed.
Sedert ons terugkeer het ons nog nooit weer salm te proe gekry wat naby Sweedse salm kom nie. Helaas.
Smul aan smorgasbord
‘n Smorgasbord is per definisie ‘n Sweedse buffet, maar ook soveel meer. Smorgas beteken oop broodjie en bord beteken tafel. Sweedse oop broodjies dateer uit die 1400’s toe snye brood as opdienborde gedien het. Visdisse (haring, salm en paling) is eerste aan die beurt; dan koue gevolg deur warm disse. Gravlax word nooit agterweë gelaat nie. Soms word ‘n nageregbuffet ingesluit. Julbord is ‘n smorgasbord wat oor Kerstyd voorgesit word. Smorgastarta is ‘n ‘toebroodjiekoek’ wat my aan ‘n soet gatsby laat dink. By die Grand Hotel word hul eie schnapps, 1874 Grand Aquavit, gegeur met karwysaad, steranys en vinkel, saam met die smorgasbord, die beste in Stockholm, bedien. |
Bederf jouself in Stockholm
· Drink die atmosfeer van Stortorget-plein, Gamla Stan in terwyl jy by Chokladkoppen fika (koffie) drink en aan ‘n kaneelrolletjie knibbel. · Geniet ‘n skemerkelkie by Gondolen in Sodermalm terwyl jy oor die stad uitkyk: www.eriks.se · By Kryp In Restaurant is daar takbok as hoofgereg – vir knap onder R500 : www.restaurangkrypin.se · Gedra jou soos ‘n Suid-Afrikaner en besoek die Ice Bar waar álles, selfs jou glas, uit ys gemaak is. Met die intrap kry jy ‘n warmstola en handskoene, maar jy gaan steeds bibber. En die storie by die huis kom oorvertel. Drink Wolf Paw met lingon-bessiesap: www.icebarstockholm.se · Verras jou vriende deur Abba-produkte (haring, kaviaar en ansjovis) terug te bring. Abba het niks met ABBA, die ikoniese musiekgroep wat in 1972 in Swede gestig is, te doen nie hoewel hulle gereeld verwarrende telefoonoproepe by die maatskappy kry: www.orklafoods.se/english/Our-brands/Abba/Abba-vs-ABBA |
Dankie Ilse, dit is pure ‘homesick stuff’ vir my.
Kan dit glo, Ronelle. Dalk is dit weer tyd vir jou to pop over!