ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

La mia famiglia Italiana

First published in Rapport, April 2022

Oe patatta, proe die pasta!

Soos seker almal weet het die wêreldberoemde aktrise Sophia Loren eenmaal verklaar: “Alles wat ek is, is te danke aan pasta.”

Sy het ook gesê dat die beste manier om spaghetti te eet, is om dit soos ‘n stofsuier op te slurp.

By die Italiaanse klub van Kaapstad (ICCT staan vir Italian Club of Cape Town) smul jy nie net aan spaghetti (kies tussen ‘n napoletana-, ragu- of pestosous of met mossels in ‘n napoletana- of witwynsous) nie, maar ook aan ‘n wye verskeidenheid van ander pastas en eg Italiaanse geregte.

Dié Italiaanse klub is in die 1960’s gestig sodat Italianers wat in die Wes-Kaap woon, hier bymekaar kan kom. Die visie van die stigters was dat dit vir Italiaanse immigrante soos ‘n huis ver van hul oorspronklike tuiste moet wees.

Oorspronklik kon net lede van die Italiaanse klub hier saamkuier hoewel daar soms aande gereël is waar klublede van hul vriende kon ‘inteken’.

Op hul webtuiste getuig Club Italiano di Citta del Capo dat hul na ‘n paar dekades ‘n belangrike sosiale spilpunt in Kaapstad is en dat hulle diversiteit, vermaak, kultuur en ‘n reeks aktiwiteite te bied het.

Sicarumente! Hier kan jy kom boogskiet, sokker of bocce (Italiaanse rolbal) speel, by bingo-tafels aansit (‘n dobbelspel waar elke speler nommers op ‘n kaart afmerk wanneer dit uitgeroep word), jou asem laat jaag by die fiksheidsentrum, die Italiaanse klubbiblioteek besoek, funksies hou, in die kroeg kuier, Italiaans leer praat of – madonna! – uit die boeke eet.

As iemand – dis meestal ouerige omies wat speel – by die bocce ‘n speelbeurt afwag, gesels hulle graag en vertel stories van die ou dae toe die Italiaanse klub nog in sy speelskoene was. Moet net nie dat hulle begin om die reëls van die spel vir jou te verduidelik nie; dan gaan hulle jou so lank besig hou dat jy lateraan smag na ‘n glas wyn.

Af en toe hou die Italiaanse klub ook ‘n fees met ‘n gepaste tema soos die Festa Italiana. Getrou aan hul kultuur en gewoontes draai só ‘n fees van Italiaans wees hoofsaaklik om kos. Die prosecco (Italiaanse vonkelwyn) vloei; daar is Italiaanse kase, kouevleise, roomys en koffie te koop; ‘n knaloranje Kombi bedien perdalks Aperol Spritz en jy kan kosdemonstrasies bywoon.

Kom kuier vir Kiki

Jy hoef egter nie vir die volgende Italiaanse fees te wag om jou kombuiskas met egte Italiaanse produkte te vul nie.

Kiki Ciman-Frauenknecht sorg dat La Bottega Deli se rakke tot boordensvol toe vol is met vars pasta en mascarpone wat hulle self maak sowel as ‘n wye reeks ingevoerde Italiaanse pasta, geblikte tamaties, kekerertjies en bone met Italiaanse handelsmerke, olywe, Italiaanse kase, salami’s en kouevleise, pesto, balsemiekasyn, olyfolie, koffie, piekelgroente, sjokolade, ansjovis, gemarineerde eiervrug, geblikte tuna in olyfolie, pastasouse, suurlemoenlikeur, amandel-biscotti en klaar voorbereide pasta- en hoendergeregte wat jy tuis in ‘n oogwink kan verhit en geniet.

Doen saam aan Sondagsgedrag

Elke laaste Sondag van die maand is buffet-dag by die Italiaanse klub. Dis ‘n instelling en ‘n fees in die kleine.

Sou jy wou gaan, moet jy sorg dat jy sommer ‘n hele paar Sondae voor die tyd bespreek. Die tafels sit dan vol met oupa- en oumagrootjies, oumas en oupas, ma’s en pa’s en kinders en kleinkinders wat lyk of almal terselfdertyd praat én luister. Dis ‘n wonderlike geroesemoes van Italiaans, vurke en messe wat klingel en glase wat gevul word. Dis gewild onder ieder en elk – van ‘n Italiaanse barbier tot ‘n geoktrooieerde rekenmeester wat liewer ‘n restauranteienaar wil wees.

Sorg dat jy honger opdaag! Hier is verskeie gange wat begin met antipasti (voorgeregte) wat slaaie (insalate) insluit, gevolg deur primi wat na verskillende pastas met eiesoortige souse verwys, dan secondi met hoofgeregte soos piepkuiken, kalfsvleis of calamari en laastens dolci (nageregte).

Dis juis hier waar ek jare gelede die eerste keer geleer het dat elke soort pasta sekere souse as pasmaats het.

Lintpasta soos tagliatelle, fettucine en pappardelle werk goed saam met ryk vleispastasouse soos ragu. Romerige souse en pesto vra vir spaghetti.

‘Hol’ pasta soos macaroni, penne en rigatoni kom tot hul reg met pastasouse wat op grofgekapte groente steun. As jy daaroor nadink, maak dit sin – die dik pastasouse kruip tot in die pastakrulle en dit gee ekstra smaak sowel as tekstuur. Hierdie soort pasta werk ook goed vir gebakte pastageregte sowel as met vleis- en kaassouse.

Gebruik pasta-‘skroewe’ of –spirale saam met ligte romerige souse of pesto wat aan die pasta kleef sodat elke mondvol die ene lekkerte is.

Sou jy lus wees vir ‘n ligter maaltyd is daar ook 15 pizzas om uit te kies. Sommige gereelde klante reken dis die beste pizzas in Kaapstad.

Op die a la carte-spyskaart  (nie beskikbaar op Sondae) is die gemarineerde calamarislaai as voorgereg gewild; ‘n kieskeurige Italiaanse vriendin reken hulle maak ‘n besonders geurige lasagne (‘n gereg waaraan sy Italiaanse restaurante meet); hul gnocchi het al ‘n fynproewerreputasie en die tiramisu tref elke keer die regte smaakpapille. Nóg twee pastas wat uitstaan is die spaghetti vongole bianco (spaghetti met mossels in ‘n witwynsous) en die tagliatelle salsiccia (gekruide Italiaanse varkwors met lintpasta in ‘n napoletanasous).

‘n Suid-Afrikaanse Italianer wat al vanaf haar jongdae die Italiaanse klub besoek, som dit so op: “Dis ‘n restaurant wat almal pas. Jy kan jou gesin vir ‘n Sondagmiddagete soontoe neem of jy kan ‘n aand saam met jou vriende omkuier. Dis onpretensieus en die porsies is ruim – niemand gaan honger huis toe nie!”

Waar dit my aangaan, is net mooi alles Che bello! by die Italiaanse klub.

                                                                ***

Die Italiaanse klub van Kaapstad

Donegalstraat 16, Milnerton

  • Italian Club Restaurant

Dinsdag – Saterdag 11:00 tot 23:00

Sondag 11:00 tot 16:00

Maandag gesluit

Op Vrydag en Saterdagaande is daar lewendige vermaak. Bespreking is noodsaaklik.

Kyk op facebook.com/Italianclubcapetown/ vir spesiale aanbiedinge en aktiwiteite.

Daar is oorgenoeg parkering binne die kompleks beskikbaar.

  • La Bottega Deli

Dinsdag – Donderdag 10:00 tot 18:30

Vrydag 10:00 tot 18:00

Saterdag 10:00 tot 16:

Sondag 10:00 tot 15:00

Maandag gesluit

Kyk op facebook.com/kiki.cimanfrauenknecht vir spesiale aanbiedinge en produkte soos bv. murgpampoentjiebloeisels.

italianclub.capetown

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 25, 2024 by in Afrikaans foodies.

Navigation