ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

WALTER BATTISS – Fook! Kyk hierdie eiland!

First published in Beeld, April 2020

Die Walter Battiss Kunsmuseum is in Somerset-Oos

Verbeel jouself dat jy jou eie eiland besit. Of regeer. ‘n Eiland kompleet met sy eie vlag, geldeenheid, alfabet, bestuurderslisensies en medaljes wat na willekeur toegeken word.

Dís wat Walter Battiss (1906 – 1982) gedoen het. Homself verbéél het. En toe skep hy Fook-eiland. En noem homself Koning Ferd die Derde van Fook-eiland. Dalk net omdat ‘Ferd the Third’ rym, of dalk nie.

Wie was Walter Battiss?

‘n Foto van Battiss in die Walter Battiss Kunsmuseum in Somerset-Oos

Walter Battiss was ‘n kunstenaar wat allerweë as Suid-Afrika se vernaamste abstrakte skilder bekend staan. Hy is in Somerset-Oos – waar die Walter Battiss Kunsmuseum nou is – gebore en hy is op die ouderdom van 76 aan ‘n hartaanval oorlede.

Fook-eiland was Walter Battiss se verbeeldingseiland

Fook-eiland was Battiss se verbeeldingseiland wat sy lewensfilosofie uitgebeeld het. Die inspirasie vir die baldadige utopie wat hy geskep het, het uit sy besoeke aan Griekeland, Seychelles, Madagaskar, Zanzibar, die Comores, Hawaii en Samoa gespruit.

Battiss het sy verbeeldingsvlug self beskryf as “iets wat nie regtig bestaan nie”. Fook-eiland verteenwoordig “die eiland wat ons elkeen binne-in ons het”. Battiss wou dit in realiteit omskep en ‘n naam daaraan koppel.

Hoe het Fook-eiland gelyk?

Met Fook-eiland en ander kunsprojekte het Battiss aan die een fantasie na die ander gehoor gegee

Elke mens besluit self om sy/haar fantasieë – gepaardgaande met elke dag se realiteite – uit te leef, of nie. Dis wat Battiss geglo, en geleef, het.

Dis ook waarom hy Fook-eiland as verbeeldingseiland geskep het, maar terselfdertyd konkrete konsepte soos ‘n geldeenheid, die eiland se eie Olimpiese Spele en posseëls deel van die skeppingsproses en die uitbeelding gemaak het.

‘n Kaart van Fook-eiland

Battiss het ‘n kaart van Fook-eiland geteken, maar ter verduideliking verklaar dat sy fantasie-eiland nie op enige ander konvensionele kaart verskyn nie.  Natuurlik nie.  Dis dan in sy verbeelding!

Verskillende aspekte van Fook-eiland

Die eiland is groen en heuwelagtig.  ‘n Pyltjie dui aan waar ‘n grot geleë is. Die lug bokant die eiland is blou. Daar is ‘n waterval wat herinner aan ‘n waterval net buite Somerset-Oos wat een van Battiss se gunsteling plekke was.

‘n Voorbeeld van een van Fook-eiland se banknote

Battiss het hom verlustig daarin om te vertel dat sy Fook-paspoort amptelike stempels van Duitsland, Australië en Brittanje in het. Hy het met sy Fook-bestuurderslisensie in Amerika rondgery. Boonop is ‘n Fook-banknoot vir tien dollar by die lughawe in Rome omgeruil.

Kleurvolle banknote van Fook-eiland

Die naam Fook is deels afgelei van “fake” (nagemaak) en redelik lukraak gekies na Battiss deur ‘n telefoongids geblaai en vier mense met die van Fook raakgesien het. Hy het nooit sover gekom om hulle op te soek nie.

Die fassinerende persoonlikheid van Walter Battiss

Battiss was mal oor opdres. As die koning van Fook en sommer net wanneer hy so voel. In die Walter Battiss Kunsmuseum is van sy jurke en tabberds te sien. Toe hy as professor in Beeldende Kunste by UNISA gewerk het, het iemand eendag opgemerk dat dit moeilik is om te besluit of Battiss soos ‘n nar of ‘n boemelaar lyk.

Walter Battiss, of altans Koning Fook se koninklike jurk

Reeds van kindsbeen af was Walter Battiss ánders. Op ‘n foto saam met sy kleinboet, toe hy nie veel ouer as ‘n tjokkertjie was nie, blink sy oë ondeund, sy glimlag getuig van lewenslus en hy lyk of hy gereed is om van die stoel af te spring en alles aan te gryp wat die lewe hom moontlik kan bied. Daarenteen lyk sy boetie ietwat oorweldig deur die aandag van die kamera.

‘n Kinderfoto van Walter Battiss – met blink ogies en ‘n blink glimlag – en sy broer

In ‘n onderhoud wat in 1981 met hom gevoer is, het Battiss vertel dat hy reeds op drie- of vierjarige ouderdom begin teken het. In plaas daarvan om die alfabet neer te skryf, het hy prentjies geteken.

Sy pa het nie gedink kuns is ‘n volwaardige beroep nie en dus het Battiss as hofklerk begin werk. Deurgaans het hy aanhou teken en skilder. Hy het homself as ‘n Sondagskilder beskryf, want dis al wanneer hy werklik tyd vir sy passie gehad het. 

Deels omdat mense van die begin af sy skilderye gekoop het, het hy besluit om vir ‘n graad in Beeldende Kunste in te skryf waarvoor hy met die inkomste uit sy kunswerke betaal het.

Omdat hy so goed gedoen het, het hy beurse gekry. Battiss vertel: “Ek het vir hulle gevra of ek die geld op enigiets kon spandeer. Moet ek boeke koop of kan ek maar verf koop? Dit was wónderlik toe hulle sê ek kan koop wat ek wil.”

Dit som Battiss se lewensuitkyk op – die lewe is wónderlik, ‘n woord wat hy gereeld gebruik het.

Battiss ontmoet Picasso

In latere jare het Battiss en Picasso goeie vriende geword. Dit het begin deurdat hy Picasso se kunshandelaar opgesoek het toe hy in Parys was. Hy  het ‘n boek aan die handelaar oorhandig wat dié op sy beurt weer aan Picasso moes gee. Toe Battiss ‘n hele ruk later weer by die kunshandelaar instap, is hy meegedeel dat hulle oral na hom gesoek het. Picasso wou hom ontmoet.

Dit het vir Battiss soos ‘n droom gevoel, maar terselfdertyd asof dit so hoort. Hy was mos veronderstél om saam met Picasso aan’t huis te kuier.

Die eerste ding wat Picasso vir hom gevra het, is of sy hemp van Afrika kom. Toe Battiss nee antwoord, was Picasso sommer vies. Nie vir lank nie, want van toe af het hulle vir ‘n tyd lank elke Donderdagoggend om elfuur saamgekuier. Battiss het nooit in Picasso se ateljee geskilder nie, maar Picasso het hom baie geleer.

Walter Battiss aan’t gek skeer

Battiss se skilderye is meestal kleurvol en speels. Hier waai die wind ‘n meisie om; aan die ander kant dans ‘n ander meisie. ‘n Gevogelte bou ‘n nes op ‘n man se rug. Tarentaalvere word menselywe en hou voëltjies, ‘n herhaalde motief in sy kuns, vas. ‘n Kop het ‘n oop deksel waaruit letters stroom.

Om Battiss se kunswerke te sien, moet jy jou na Somerset-Oos in die Oos-Kaap begeef. Somerset-Oos is ‘n bestemming vir kunsvlieghengelaars en jagters – of vir rinkinkvinke wat die Walter Battiss Kunsmuseum wil besoek om hulself vir ‘n wyle in Battiss se droomwêreld te verloor.

* * *

Een van Walter Battiss se bekendste aanhalings:

“My vader was ‘n waterval en my moeder ‘n skoenlapper.”

‘n Waterval is sterk – soos sy pa – en idees tuimel voortdurend (soos water) uit ‘n kreatiewe verbeelding. Skoenlappers soek voortdurend nuwe plekke en nuwe geleenthede om hulself uit te druk, en dis soos sy ma was.

* * *

Wat Walter Battiss oor sy eie kunswerk gesê het

‘n Rooikop deur Walter Battiss

“Dis vir my baie moeilik om in woorde te verduidelik wat my skilderye uitbeeld. Ek probeer ‘n stemming vasvang. As mense verryk voel as hul daarna kyk, tree hul innerlike brein – of die siel as jy dit so wil noem – in werking. Dan leer hul iets oor hoe om hul eie lewe te lei, uit my werk.

* * *

Die Walter Battiss Kunsmuseum

Die Walter Battiss Kunsmuseum in Somerset-Oos

Die gebou waarin die Walter Battiss Kunsmuseum is, was ‘n ou offisiersmenasie en is in circa 1815 deur Lord Charles Somerset opgerig. Van 1914 – 1917 het Battiss se ouers dit as ‘n privaat hotel bedryf.

Die dokumentêre televisieprogram oor Walter Battiss wat jy in een van die vertrekke kan kyk is hoogs aanbevole.

Die Blue Crane Toerismekantoor word vanuit dieselfde gebou in Pauletstraat 45, Somerset-Oos bedryf.

Openingstye:  Weeksdae 8h30 – 17h00.

Skakel 042 243 1448 / 073 698 6539 as jy oor ‘n naweek daar is; die toerismekantoor is uiters behulpsaam en sal selfs spesiaal kom oopsluit as ‘n ander tyd nie vir jou geleë is nie.

Walter Battiss se handtekening onderaan een van sy skilderye

4 comments on “WALTER BATTISS – Fook! Kyk hierdie eiland!

  1. Tannie Frannie
    January 14, 2021

    Het dikwels verby die kompleks “Fook Island” in Menlopark, Pretoria verbygery, die oorspronklike voorkoms van die wit mure altyd bewonder – en tot my skande nooit die verwysing verstaan nie! Lyk my dis ‘n gastehuis (?) en om Battis se eertydse woonhuis gebou. Hoe wonderlik is sulke kreatiewe siele, ag, en hoe selde word hulle na behore waardeer!

  2. ilsez
    January 15, 2021

    Hi Tannie Frannie – Ek sou sooooo graag dit self wou sien! Weet jy of dit nog bestaan en wat nou daar is? Ek gaan sommer nou google ook. Jou laaste stelling oor kreatiewe siele kan nie meer waar wees nie. Ek sou verskriklik graag vir Walter Battiss wou ontmoet het.

    • Tannie Frannie
      February 28, 2021

      Was lank nie by die huis nie, maar is nou weer tuis. Sal eendag weer soontoe ry om te gaan kyk. Ek het Walter Battiss soms so van ver af gesien toe hy aan Unisa dosent was, altyd ‘n kleurvolle figuur!

  3. ilsez
    March 21, 2021

    Ek beny daai sien, Tannie Frannie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 14, 2021 by in Iemand - of iets - wat my fassineer.