ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Sweed kuier in die Wes-Kaap

First published in Die Burger, April 2018

Kom kuier weer in Suid-Afrika, vra ek vir Maria Drangel, my penmaat uit die dae toe koeverte en posseëls nog nodig was om te kommunikeer.

Ag toe, jy was twee dekades gelede hier. Suid-Afrika het baie verander. Hier is nóg meer om te sien.

Na haar besoek is Suid-Afrika een van Maria se gunsteling lande

Na haar besoek is Suid-Afrika een van Maria se gunsteling lande

Heel onverwags laat weet Maria, ‘n taalspesialis en deeltydse aktrise, sy kom inderdaad. Nou kos dit beplán. Per slot was Maria al in sowat 70 lande. Ek – en die Wes-Kaap – sal moet uithang om haar te beïndruk.

Die e-posse vlieg heen en weer. Wat wil jy wéér sien, wat wil jy núút sien, wat wil jy beleef, vra ek.

Pikkewyne! Dié geveerdes is boaan haar lys; sy’t nog net een keer in haar lewe – op ‘n afstand van 100 meter – pikkewyne gesien.

Kan ons Knysna toe ry om oesters te gaan eet, is die volgende versoek. Sy wil graag weer perlemoen proe; dit het haar nog net een keer vantevore in Nieu-Seeland te beurt geval. Wat van Port Elizabeth om tee saam met ‘n Egiptiese vriendin wat sy  in Switserland ontmoet het, te drink?

Hmm, hierdie Sweed wat in hul hoofstad Stockholm woon, het nie ‘n begrip van afstand nie, kom ek agter.

As jy weet by die huis is dit ysig koud, smaak 'n draairoomys in Suid-Afrika ekstra lekker

As jy weet by die huis is dit ysig koud, smaak ‘n draairoomys in Suid-Afrika ekstra lekker

Ek verwoord my e-pos versigtig. Ons kán Knysna toe ry, maar ons hóéf nie al die pad soontoe te gaan om oesters te eet nie. Dít kan ons in Kaapstad ook doen. Om vir ‘n tee-afspraak Port Elizabeth toe te ry, maak egter nie sin nie.

Jarelange penmaats kuier saam in Swede

Jarelange penmaats kuier saam in Swede, en voor en na dit in Suid-Afrika

Groot is die weersiens by Kaapstad Internasionale Lughawe. Maria het laas in 1995 by my in Suid-Afrika kom kuier; ‘n paar jaar gelede was ek by haar in Stockholm en tussenin het ons mekaar al in Frankryk, Pole en Serwië ontmoet.

Dag 1 – ‘n Terugkeer na die Kaapse Skiereiland

Die oggendstond het goud in die mond. Dit was juis vroeg donker en laat lig toe Maria uit Swede vertrek het.

Van Seepunt ry ons deur Kampsbaai met Chapmanspiek-rylaan (www.chapmanspeakdrive.co.za) langs. Oe, sug Maria, dis nog mooier as wat ek dit van laas onthou.

Daar’s honde op die strand, roep Maria, ‘n groot diereliefhebber, in Houtbaai (www.capepointroute.co.za/seeit-houtbay.php) uit. As jy in ‘n woonstel in Stockholm woon, is dit nie maklik om troeteldiere aan te hou nie.

Ons smul aan seekos by die Chapmans Peak Hotelrestaurant (www.chapmanspeakhotel.co.za/restaurant-e.htm) wat al meer as 25 jaar ‘n gewilde bymekaarkomplek is. Dit kos ‘n fraksie van die prys wat dit in Swede sou gekos het.

Maria koer oor pikkewyne by Boulders (www.capetown.travel/visitors/see-do/get-to-know-the-african-penguins-at-boulders-beach), ons loer in by Kalky’s (www.facebook.com/kalkys.seafood/?_rdc=1&_rdrn) drink koffie by Olympia Café (www.olympiacafe.co.za) . Sy kan nie glo dat die Macassar-pad met sy mooie duine nie ontwikkel is nie en verkyk haar van ver af aan die outydse seilskepe by die Kaapstadse Filmateljee (www.capetownfilmstudios.co.za) langs die N2.

Ons woerts-warts deur Stellenbosch (www.stellenboschexperience.co.za) aangesien Maria vantevore heelwat tyd hier spandeer het.

Dag 2 en 3 – Besoek vriende in die Swartland

‘n Skandinawiese stadsjapie kan net baat vind by ‘n besoek aan die Kaapse platteland; dus gaan eet ons middagete by Mama Cucina (www.mamacucina.co.za) in Riebeek-Kasteel (www.riebeekvalley.info),  een van my gunsteling dorpe in die Wes-Kaap.

Oor middagete gesels ons oor Jacques Pauw se ‘The President’s Keepers’. Voor ons na Moorreesburg vertrek, gaan loer ons gou by Pauw se Red Tin Roof –gastehuis en restaurant (www.riebeekkasteel.co.za)   – en by Eve’s (www.facebook.com/EvesEatery/?_rdc=1&_rdr) vir ‘n drankie – in.

By vriendin Vicki, wat saam met my by Maria in Stockholm gekuier het, beleef Maria haar eerste braai. Sy verskaf ons baie binnepret toe sy eers vra waarom almal buite by die vuur sit. Nie te lank daarna verklaar sy dat sy dit begin verstaan – daar is iets kalmerend, amper magies, daaraan. Boonop is mielies en braaibroodjies op die rooster gebraai haar nuwe gunstelinge.

Plaasname fassineer die Sweed wat die Wes-Kaap besoek en soos wat ons ry, moet die plaasname vertaal word

Plaasname fassineer die Sweed wat die Wes-Kaap besoek en soos wat ons ry, moet die plaasname vertaal word

Om die vuur praat ons oor historiese plaasname – Allesverloren, Moeggeploeg, Misgun(d), Moedverloor – wat die wroeging van die oorspronklike naamgeër uitbeeld.

Dit gee omtrent ‘n gegiggel af toe ons die volgende dag verby ‘n plaasnaambord ry waarop daar staan: Karnemelksvlei, De Rust Familieboerdery, Nedbank. Dit kos weer verduidelik. Dié boer moet ‘n ongewone sin vir humor hê.

Die Sweedse stadsjapie verkyk haar aan die bokkies in die Swartland

Die Sweedse stadsjapie verkyk haar aan die bokkies in die Swartland

Elke steenbokkie, duikertjie of bloukraanvoël word gekiek.

DSC_0714

Gasvrou Vicki Grimwood leer vir Maria van braai in die aand en in die oggend

Op die plaas Sterhuis is Maria eers uiters verbaas oor ‘n ‘braaiplek in die huis’ toe sy die kombuisherd van ouds sien. Daarna neem Sterhuis se boer, Deon Steyn, haar op ‘n rit op ‘n koringstroper.

Toe dié logge gevaarte uit die waenhuis gekruie kom, is Maria uit haar vel van opgewondenheid. Niémand wat sy in Swede ken, het al op ‘n koringstroper gery nie! Skaars terug op die werf of Maria klim op ‘n Massey-Ferguson met ses allemintige wiele.

'n Sweedse stadsjapie ry op 'n Massey-Ferguson

‘n Sweedse stadsjapie ry op ‘n Massey-Ferguson

Ons vier Maria se plaaservaring op ‘n regte plaasstoep met vonkelwyn. Tjoppies en mielies op die vuur word haar gunsteling maaltyd van haar hele verblyf in die Wes-Kaap.

DSC_0804

Gasheer Deon Steyn leer vir Maria om in ‘n kroeg uit te hang

Na ‘n draai by die plattelandse hotelkroeg in Hopefield ry ons terug na die Boland.

Dag 4 – Alle paaie lei na die Waterfront

Die Waterfront (www.waterfront.co.za) is nie verniet een van die mees besoekte plekke in Kaapstad nie. Maria is verbaas oor hoe baie ontwikkeling sedert die negentigerjare hier plaasgevind het. Hoewel duurder as die res van die plekke waar sy reeds was, is dit nog steeds baie meer bekostigbaar as soortgelyke plekke in Europa, merk sy op.

Dag 5 – Ons pak die Tuinroete aan

Sommer met die inklim vertel Maria dat sy op haar een hand kan tel – terwyl daar nog vingers oorbly – op hoeveel ‘road trips’ sy al in haar lewe was. Min mense in Stockholm het hul eie motors en baie kan nie bestuur nie.

Ons eerste stilhouplek is by Die Pampoenstalletjie (www.facebook.com/pages/Pampoenstalletjie/448239005328619?_rdc=1&_rdr) buite Worcester, ons eet heerlik middagete by Nuy on the Hill (www.nuywinery.co.za) en ons verken die hoofstraat van Swellendam (www.visitswellendam.co.za).

Maria verkyk haar aan die uitsig oor Mosselbaai

Maria verkyk haar aan die uitsig oor Mosselbaai

Ek verlekker my in Maria se gesig toe sy die 180-grade-uitsig oor die baai van Mosselbaai (www.visitmosselbay.co.za) vanaf vriendin Hester se balkon sien.

Dag 6 – Lipleklekker oesters in Knysna

Met melktertjies en koeksisters as padkos vertrek ons na Knysna waar ons deur die straatjies en markstalletjies drentel. Maria kan nie glo dat sy Knysna (www.visitknysna.co.za) op haar vorige besoek aan Suid-Afrika misgeloop het nie.

Die datum 1935 op die houthek by die tuiningang van die St. George-kerk laat Maria opmerk dat dit só onlangs is dat hulle in Swede nie eers daaraan sou dink om dit aan te dui nie. Net nog een van die verskille tussen ons en hulle, tussen Swede en Suid-Afrika.

Oesters by Freshline Fisheries(www.freshlinefisheries.co.za) oortref Maria se wildste verwagtinge. Dit word ‘n hoogtepunt van haar besoek aan die Wes-Kaap.

Die uitsig oor Wildernis (www.wilderness-info.co.za/town) laat haar snak na haar asem.

Die Santos-pawiljoen in Mosselbaai is omskep in Jackal on the Beach

Die Santos-pawiljoen in Mosselbaai is omskep in Jackal on the Beach

Vir die tweede keer op een dag stap Maria kaalvoet in die sand toe ons ons na Jackal on the Beach (www.thejackal.co.za) in die ou Santos-pawiljoen  in Mosselbaai vir aandete begewe.

Dag 7 – Dis mos Mosselbaai

'n Sweed laat haar deur 'n Suid-Afrikaner ompraat om douvoordag in Die Poort by Mosselbaai te swem

‘n Sweed laat haar deur ‘n Suid-Afrikaner ompraat om douvoordag in Die Poort by Mosselbaai te swem

Maria laat haar ompraat om douvoordag by Mosselbaai-punt saam met Hester en haar vriendinne, vir wie dit ‘n oggendritueel is, te swem. Dis kóúd, bibber die Sweed, maar na die tyd straal sy. Niks wat ‘n skeut Amarula-likeur nie kan regstel nie.

Die Kaap St Blaize-vuurtoring in Mosselbaai

Die Kaap St Blaize-vuurtoring in Mosselbaai

Na ‘n Siriese ontbyt by Carola Ann’s (www.carolaann.com) val ons weer in die pad. Eers ry ons om Mosselbaai-punt, ‘n ritueel sedert my studentedae. Totsiens, Mosselbaai, Kaap Agulhas, hier kom ons.

Aandete is by Pelicans (www.facebook.com/pelicansharbourcafe/?_rdc=1&_rdr) – daar’s perlemoen op hul spyskaart – waar ons oor Struisbaai-hawe (www.struisbaai-info.co.za/town) en die tjakkies (vissersbootjies) uitkyk.

Dag 8 – Hemel – en hel – op aarde

Die golwende heuwels van die Overberg bekoor Maria en sy neem talle foto’s soos wat ons ry.

By Creation (www.creationwines.com)  in die Hemel-en-Aarde-vallei bederf ons onsself met ‘n pasmaatete, Die Storie van Creation. Maria drink agt soorte tee in plaas van wyn, ‘n innoverende konsep by hierdie wynlandgoed.

Ongelukkig word drie van ons die aand op Brekfisbaai, Vermont deur ‘n aanvaller met ‘n mes beroof. Met genade van Bo is almal ongedeerd.

Só leer Maria Suid-Afrika met al sy nuanses – goed en sleg – ken.

Dag 9 – Die mees suidelike punt van Afrika

Maria tiek haar lysie af: staan by die mees suidelike punt van Afrika en klim die Kaap Agulhas Vuurtoring (www.discovercapeagulhas.co.za).

Dag 10 – Vis en tjips by Arniston

Die vissershawe by Arniston waar al die bote se name vir Maria vertaal moes word

Maria wou al die name van die bote na Engels vertaal om te hoor wat dit beteken

Maria het gehou van die idee dat Arniston ook as Waenhuiskrans bekend staan

Maria het gehou van die idee dat Arniston ook as Waenhuiskrans bekendstaan dee dat Arniston ook as Waenhuiskrans bekend staan

In Swede is uiteet dúúr; by ons is dit deel van ons lewenstyl. Maria kan nie genoeg van ons seekos kry nie en die uitsig vanaf die stoep van die Arniston Hotel (www.arnistonhotel.com) laat haar swymel.

Dag 11 – ‘n Stukkie van ons geskiedenis op Robbeneiland

Na ‘n gespook om kaartjies in die hande te kry, besoek Maria uiteindelik Robbeneiland (www.robben-island.org.za) op die laaste dag van haar verblyf in die Wes-Kaap.

Met die afskeid neem beaam sy: die Wes-Kaap was een van haar beste vakansies ooit en Suid-Afrika een van die mooiste lande van ál die lande wat sy al besoek het. Sy wil weer kom.

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 4, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .