ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die dag as Eva jou verlei

First published in Die Burger, October 2017

(Since this article has been published some details might have changed)

Bokant die deurkosyn van die binnehof by Eve's is 'n rooikopmannekyn wat jy nie vergeet as jy haar eers gesien het nie

Bokant die deurkosyn van die binnehof by Eve’s is ‘n rooikopmannekyn wat jy nie vergeet as jy haar eers gesien het nie

Hier’t, kyk wie begroet my hier voor Eve’s Eatery and Bar!

‘n Krulkopdolla met ‘n pers blinkertjiebloes, ‘n string pêrels en pienk wighakskoene sit kruisbeen by die eerste tafeltjie soos wat jy by die stegie in Kortstraat in Riebeek-Kasteel inloop. Wag, kyk weer. Dis ‘n lewensgroot lappop!

Is dit Eve... of dalk nie...

Is dit Eve… of dalk nie…

Of haar naam nou Eve is of nie, sy som die essensie van Eve’s Eatery and Bar op.

Dis ‘n plek waar jy sommer net kan kuier, sonder pretensie bedien word en lekker kan eet.

By Eve’s sit gaste in die winter knus by die vuur en in die somer ontspan hulle in die binnehof bedags saam met voëltjies wat tjirp en saans by die gloed van kerslig.

Binne-in Eve’s is dit so eklekties as wat jy kan kry; daar is selfs gerugte dat gaste na ‘n besoek aan Eve’s ‘n nostalgiese item uit hul eie – of ouma se – huis met ‘n volgende besoek saambring om by die versameling by te voeg. As ‘n kiskar soms in die hoek gebêre word, was daar al ‘n gas wat pens en pootjies met fluweelrok en al binne-in geklim het en die hoendertoeter laataand geblaas het. Glo my, ek was daar.

Bo die buitenste deurkosyn hang ‘n tweede mannekyn – ‘ n rooikop met rooi lipstiffie en naelpolitoer, swart polvye en ‘n geblomde rok. Sy het ‘n sjampanjeglas in haar hand en dit lyk of sy die gaste dophou om seker te maak dat hulle van werk en verpligtinge vergeet terwyl hulle hier is.

'n Rooikopmannekyn loer vir die gaste vanaf die plafon

‘n Rooikopmannekyn loer vir die gaste vanaf die plafon

By Eve’s is daar ‘n á la carte-spyskaart sowel as verskeie spesiale aanbiedinge op die swartbord. Verwag geurige Sondagkos deur ‘n goeie kok voorberei.

Besluit tussen peri-peri hoenderlewertjies, lamstjops met tjips of varktjops met kaneelpatat, beide met geroosterde groente, tuisgemaakte viskoekies, spaghetti met Italiaanse frikkadelle of macaroni-en-kaas.

Vegetariërs word nie afgeskeep nie. Groente-lasagne of ‘n vegetariese burger verskyn deurgaans op die swartbord.

Eve glo aan seisoenale bestanddele en hou selfs haar eie vryloophoenders aan wat sy haar ‘dames’ noem en wat die eiers vir die restaurant verskaf.

Soms verras Eve haar gaste met ‘n gratis glas wyn om die hoeveelste gereg wat hier bedien word, te vier. Op ‘n ander keer maak Midde-Oosterse geregte, vars tuna of geelstert in seisoen, of Weskus-mossels volgens ‘n Belgiese resep met knoffel en kruie gemaak en met Belgiese frites bedien, hul opwagting.

Op Woensdae-aande kan jy vir lewer op kapokaartappels met ertjies teen minder as R100 per kop aansit (afhangende van die weer kan die dis van die dag aangepas word); op Donderdagaande maak Eve gewoonlik ‘n spesiale pasta-dis. Paella-aande het al ‘n aanhang in Riebeek-Kasteel verwerf.

Jy weet ‘n plek is gewild as die plaaslike inwoners van ‘n dorp saam daar uithang. Hulle vra sommer gou baie joviaal waar jy vandaan kom en hoekom jy juis daardie dag op Riebeek-Kasteel kuier. By Eve’s weet almal as die steekhaarbrak Whisky daar opdaag dat hy weereens uit die erf gebreek het en sy honde-ma kom soek.

Eve’s Eatery & Bar is sewe dae per week oop; slegs op Sondagaande is hulle toe. Hulle bedien ontbyt (vanaf nege-uur), middagete en aandete. ‘n Reeks wyne van die Riebeek-Vallei sowel as vlytbier is beskikbaar.

 Aitsa, kyk dan nou so ‘n winkel

‘n Hanetree van Eve’s Eatery & Bar is Aitsa wat in 2005 deur vriende begin is en later ‘n familie-besigheid geword het.

Aitsa se leuse is ‘local is lekker’. Dis seker dus geen wonder dat die naam van die plek op sinkplaat pryk nie. Ook nie dat die deli-afdeling van dié rooistreepwinkel volgeprop is met tuisgebakte koeke, pasteie, plaasbrood, melktert, fudge, sjokoladebruintjies, konfyte en biltong en droëwors nie. Daar is ook ‘n reeks olyfprodukte beskikbaar.

‘n Aparte deel is as boekwinkel ingeruim. Hier is verskeie winskope te kry en boekwurms sal ‘n ekstra tydjie vir rondsnuffel moet inruim.

Aitsa het ook ‘n geskenkafdeling – vir klein en groot. Dis hier waar jy keer op keer iets raakloop om ‘n vriendin mee te verras.

Aitsa is Maandae tot Saterdae van 9h00 – 17h00 oop en op Sondae van 10h00 – 16h00.

 ‘n Versameling wyne – met ‘n verskil – onder een dak

Om by The Wine Kollective in die hartjie van Riebeek-Kasteel in te stap, is amper soos om by ‘n kunsgalery en boekwinkel ineen – wat nét met wyn te doen het – in te stap.

Hierdie wynboetiek verkoop nét wyne uit en van die Swartland. Of soos The Wine Kollective self dit stel: solank dit nie verder as ‘n 2-uur donkierit vanaf Riebeek-Kasteel is nie.

Hoe hulle dít presies vasstel, weet nugter alleen, maar wat wel duidelik blyk is dat die wyn met die hand uitgesoek is.

Die wyne by The Wine Kollective is van klein wynkeldertjies, beroemde wynkelders en totaal onbekende wynkelders in die Swartland.

Wat die wyne meestal in gemeen het, is verbeeldingryke etikette én wynname wat emosie by jou ontlok, jou laat glimlag, of sommer net laat wonder waar op deeske aarde hierdie naam vandaan sou kom.

The Wine Kollective is nie sommer jou gewone wynwinkel nie

The Wine Kollective is nie sommer jou gewone wynwinkel nie

Daar is wynname soos Silwervis, Kolbroek, Nativo, Katvis, Lemberg Lady, El Bandito, Hermit on the Hill, Knights in Tights, Koggelbos, Elementis, Tobias, Saffraan, Dark Matter, Jolly Roger, Testalonga en Spekulasie.

Daar is wynetikette waarop ou Suid-Afrikaanse seëls of ‘n stokmannetjie-branderplankryer pryk, daar’s ‘n groen sambreel op een en ‘n skamel geklede meermin op ‘n ander, daar’s ‘n bandietmeisie met ontblote boude op een rak en langsaan ‘n bandietbabadogtertjie, ene Baby Bandito,  met ‘n pleister op een vinger en ‘n duim in haar mond.

Daar is wyne wat as wynpornografie beskryf word, wyne wat deur ‘n petrolkop gemaak word en Petrolhead Wines genoem word, ‘n wynmaker wat van wyn hou en reken dat dit goedkoper as gholf is en ‘n ander een wat homself ‘Swerwer’ noem, en Swaan Tonikumwater wat waarborg dat jy nie malaria sal opdoen nie mits jy in malaria-vrye areas hou.

Tres Estellas se wyn- en lewensfilosofie som dit dalk die beste op: dit was prettig om hierdie wyn te maak en te proe, maar dis nie vir die algemene samelewing bedoel nie. Dis net hier – nêrens anders nie – gesertifiseer as ‘Inner Peasant Wines’. Die etikette is in Spaans en Russies om die anargisme wat met die maak van hierdie wyn gepaardgaan, uit te beeld. Nietemin is dit die amptelike wyn van Gouda se Boekklub. Glo dit of nie.

  • The Wine Kollective, Kortstraat Mall (oorkant die Royal Hotel), Riebeek-Kasteel
  • Vergewis jouself van The Wine Kollective se unieke uitkyk aangaande wyn en die lewe: thewinekollective.co.za

 

One comment on “Die dag as Eva jou verlei

  1. Tannie Frannie
    September 1, 2019

    ‘n Boekklub met ‘n amptelike wyn! Ook net in Kaapland…

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 31, 2019 by in Afrikaans foodies.