ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

LAFENIS IN DIE LANGEBERGE

First published in Die Burger, November 2014

A road sign in Montagu

In die Langeberg vind jy soveel ervarings (eet, drink en beleef) dat dit jou sekerlik meer as ‘n jaar se naweke sal neem om almal een vir een te besoek. Dit laat jou ampertjies hyg van opwinding – en dis nog voor die versengende hitte van die somer aangebreek het. Wees gerus, daar’s ook – soms net ‘n klipgooi ver – ‘n gastehuis en/of restaurant waar jy lafenis vir jou siel (en liggaam) kan vind. Als saam met Langebergse gasvryheid.

Kikker die dag op met koffie en croissants

‘n Kafeïeninspuiting verskaf die nodige energie vir alles wat jy wil aanpak. By Strictly Coffee (‘n restaurant en koffieverspreider) kan Parysenaars leer hoe om croissants voor te sit.

Sou jy dieetbewus wees, kan die toebroodjievulsels in slaaie omskep word; hul bak brood met polenta; en Strictly Cured is hul nuwerige reeks charcuterie-produkte wat saam met plaaslike of Franse kase bedien word.

Vat die langpad

Koukus eers gou met jou mede-passasiers. Eérs olyfolie en ‘n hond wat warm hoendereiers onder ‘n verontwaardigde hen uitsteel óf kaasproe op ‘n plaas met sy eie berg as deel van die plaaswerf.

DSC_0503

Marbrin lê op ‘n knobbelrige pad in die Klaasvoogds-distrik; die pad laat jou eers laat wonder waarheen dit dan nou lei, maar nie vir lank nie. Eers malse pienkpers bougainvillea weerskante van die pad; dan ‘n prentjiemooi vallei voor en langs jou.

Twee Airedale terriers wat soos besems lyk (een van hulle is die astrante hoenderdief wat sy vonds versigtig oopbreek en uitlek) dien op die verwelkomingskomitee.

By Marbrin proe jy olyfolie, tapenade met verskillende geure, balsemiekasyn en suurlemoenlikeur (limoncello) tussen olyftenke. ‘n Absint-advertensiespieël vertel van ‘n lewe voor olywe, maar deesdae word daar net olywe gepraat, geboer en gedroom.

La Montanara, die tuiste van La Mont-kase, is op die pad tussen Ashton en Swellendam. Op die plaas word 30 000 – 40 000 liter melk per dag gebruik om 3-4 ton kaas te maak.

Jy leer gou: om kaas te proe moet jy dit teen jou verhemelte stukkend vryf. La Mont(anara) is veral bekend vir hul Deense feta en gegeurde haloumi (ment, suurlemoen en swartpeper, rissie, en knoffel). Feta-smeerkaas is ‘n nuutjie.

Min mense weet dat kaas wat in die somer gemaak word lekkerder is as kaas wat in die winter gemaak word aangesien daar in die somer meer bottervet in die melk aanwesig is.

Waar die perde wei

G’n Kapenaar kan so lank sonder dat daar iets nats oor die lippe veeg nie.

Maak speel-speel jou eie versnit by Excelsior

By Excelsior is met ‘n trefferkonsep vorendag gekom. Eers die gewone wynproe; daarna kan jy uit boepensvaatjies (cabernet sauvignon, shiraz en merlot) jou eie versnit na smaak in ‘n proefbuisie tap. Proe – as dit jou (nog) nie geval nie, doen dit weer. En wéér. Tot jy soos ‘n pseudo-wynmaker voel.

Nou kan jy jou versnit in ‘n bottel tap, self kurk en die kapsule opsit, ‘n etiket met ‘n gevatte naam wat jy self uitdink, opplak – en by jou vriende gaan spog.

Tussen die proe deur kyk jy uit oor ‘n allemintige dam. Twee perde poseer mooi skuins links, so ewe asof iemand hul leibande skelmpies aan ‘n boom vasgebind het.

Maar moenie glo nie – as die wynproeërs na Graze, Excelsior se restaurant vir ligte middagetes, drentel, galop hul nader ingeval daar dalk wortels gevoer gaan word.

Worcestersous, met eisj ja, in Robertson

Komma in, komma in, nooi hulle by Klipdrift. Welkom tuis, groet ‘n ander naambord, en jy wonder wat dink diegene wat reeds te veel sopies agter die blad het, as hulle dit lees.

'n Klipmuur by Klipdrift

By Klipdrift kan jy by die Brandewyntuin Restaurant aansit; ‘n fassinerende keldertoer onderneem; ‘n insiggewende video in outydse projektor-styl kyk; en ‘n brandewynproe gekombineer met sout (begin met boerewors gevolg deur Argentynse, Toulouse en Siciliaanse worsies, elk met sy eie sousj) en/of soet pasmaats (gegeurde fudge, karamelmalvalekker en dadeltruffel) geniet. Na jy hierdie bekroonde brandewyne geproe het, neurie jy nooit ooit weer o, brandewyn laat my staan nie.

Patriotiese worsie-en-brandewynproe

Nee, jy’t nie te veel Kraaifontein Kokteil, soos Klippies en Coke soms spottenderwys genoem word, gedrink nie – al die horlosies se tyd staan wel stil op twee minute oor agt. Dit herdenk die tyd toe die eerste Klipdrift brandewyn jare gelede gedistilleer is.

In die skadu van Mimosa

Niemand sê nee vir ‘n pamperlangsessie nie. En by Mimosa Lodge laat hulle jou soos ‘n prins(es) – sonder ‘n ertjie onder die matras – voel.

Ma Cuisine, the award-winning restaurant at Mimosa Lodge

Jy’t skaars in Kerkstraat, Montagu remme aangeslaan of jou oornagtas word weggeraap en ‘n muskadel-verwelkomingsdrankie geskink.

In Mimosa Lodge se tuin kom jy nie eers agter dat jy in die dorp is nie

Deel jou tyd so in dat jy ‘n skemeruurtjie in die uitgestrekte tuin kan deurbring. Knoop ‘n gesprek met die ander gaste onder die wilgerboom aan of kies ‘n stil wegkruiphoekie.

Die geregte wat die Switserse sjef, Bernhard Hess, by Ma Cuisine optower, laat jou sommer lus voel op op te tof vir die geleentheid. In die kombuis word daar getoor met tarentaal; aartappel-en-preisop spog met ‘n kaasstrooitjie en ‘n garnaal; en sjokoladetert word met bloubessies afgerond. Mimosa se eie wyne word daarmee saam bedien.

Waar rose rank

‘n Wa op die voorstoep en rakke tot boordenstoe vol met marsepein, Portugese patatbrood, dadel-en-peerblatjang, vye-en-gemmerkonfyt, wulpse voorskote, breipoppies, inlegkoejawels, Tankwa-Karoo dadels en kweperjellie. Dis wat jou by The Rambling Rose inwag.

The Rambling Rose se rakke is tjok en blok vol

Smul aan pasteis de nata (Portugese vlatertjies), kreefsterte, kekerertjie-en-spinasiekerrie of vegetariese lasagne (sampioen, spinasie en denneneut). Boonop is hier Mosambiekse Laurentina-bier op die koop toe.

Nog plek vir iets soets? Wat van amaretti-kaaskoek of glutenvrye amandel-sjokoladekoek?

Voor jy aanstaltes maak, kielie die kenne van die kafeekatte, Miemie, Lulu en Rusty en gooi ‘n munt in die wensput.

‘n Klipkothuis in die bos

By Saggy Stone sit die mense bankvas, veral op ‘n Sondag. Nie net oor die mikrobrouery se bier nie, maar om by die kliprestaurant, gebou uit die plaas se eie rivierklip, tussen pruimboorde te ontspan.

Vier biere word verbrou – Desert Lager, Dark Horse, Big Red Ale en California Steam. Saggy Stone is een van net twee brouerye in Afrika wat natuurlike fonteinwater gebruik.

 

Vind meer uit:
·        www.strictlycoffee.co.za
·        www.marbrin.co.za
·        www.lamontcheese.co.za
·        www.excelsior.co.za
·        www.klipdrift.co.za
·        www.mimosa.co.za
·        www.saggystone.co.za

 

 

Waar lê die Langeberg
 
Die Langeberg bestaan uit vyf dorpe: Montagu, Robertson, Ashton, Bonnievale en McGregor. Voorheen was die distrik as die Breederivier bekend. Die distrik verkry sy huidige naam van die bergreeks wat tot noord van Mosselbaai strek.
Vanuit Kaapstad neem dit jou so twee uur en tien minute tot in Robertson (dis 158 kilometer via die N1; dan R60); nog so twintig minute verder (op dieselfde roete) bereik jy Montagu.

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 13, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .