ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

TJOEKEPAKKE OOR SIR LOWRYS NA ELGIN

First published in Die Burger, July 2018

(Since this article has been published some details might have changed)

Soos wat die trein nader aan Sir Lowryspas kom is daar genoeg draaie sodat almal 'n goeie blik op die twee staatmaker-lokomotiewe kan kry

Soos wat die trein nader aan Sir Lowryspas kom is daar genoeg draaie sodat almal ‘n goeie blik op die twee staatmaker-lokomotiewe kan kry

‘n Praktiese besigheidsplan van plaaslike sakemanne van Ceres om aan hul dorp meer toeristevoete te besorg, het lokomotief-liefhebbers in rep en roer.

Vennote Derick du Toit en Simon Beckett het gróót planne vir toerisme en aangaande besigheidsgeleenthede in hul omgewing beraam, maar ironies genoeg is dit die passasiers wat ritte met die Ceres Rail Company meemaak, wat die meeste sterre in hul oë het.

Daar is dié wat saamry en dié wat entoesiasties kýk

Treinentoesiaste gryp naweke die geleentheid aan om die romantiek van ‘n treinrit met ‘n stoomlokomotief te beleef.

Ceres Rail Company se treinritte en stoomlokomotiewe ontlok glimlagte by al die passasiers

Ceres Rail Company se treinritte en stoomlokomotiewe ontlok glimlagte by al die passasiers, soos Esna Swart sal kan getuig

Dan’s daar ook nog die trein-spotters wat die treine volg. Hulle kyk vooraf waarlangs die trein gaan ry, ry self na ‘n geskikte plek en neem verwoed foto’s waarna hulle in hul motors klim en na die volgende stilhouplek jaag om opnuut te kiek.

Op ‘n onlangse treinrit van Kaapstad na Elgin was daar orals langs die pad trein-spotters: naby Eersterivier het ‘n ou en sy wolfhond onder ‘n brug gehurk, net buite Faure was ‘n oranje kombi beskilder met madeliefies die ryding van ‘n man met ‘n langlenskamera en naby Sir Lowryspas-dorp het ‘n gros mense by die spooroorgang gestaan.

Ma oppie trein

‘n Mens kan nie treinry sonder ‘n drankie in die hand nie!

Ceres Rail Company se treinritte vertrek vanaf Kaapstad-hawe (oorkant die Royal Yacht Club) hoewel die tuisdorp van die maatskappy – soos wat hul naam aandui – Ceres is.

Treingesprekke

Knap buite die hawe ry die trein deur ‘n lang tonnel onder Ysterplaat-vliegveld en kom aan die ander kant by Century City uit.

Treinentoesiaste is oud én jonk. Op die trein sit hipsters oorkant oumas, in die eetwa stoei  ambags- én sakemanne om sitplek by ‘n tafeltjie en wanneer almal by die stasie afklim, pluk ieder en elk kameras uit en poseer langs die ysterreus aan die voorkant.

Op die treinrit heers daar deurgaans groot opgewondenheid en op Sir Lowryspas hang almal by die vensters uit

Op die treinrit heers daar deurgaans groot opgewondenheid en op Sir Lowryspas hang almal by die vensters uit

Met my tweede rit saam met Ceres Rail Company kan ek my ore nie glo toe ek met ‘n mede-passasier met ‘n agtergrond in lugvaarttegnologie aan die gesels raak nie. Wanneer ‘n vliegtuig se kompas met ‘n grondkompas gekalibreer word, mag geen invloede van buite die lesings beïnvloed nie. Die ligging van die treintonnel op hierdie spoorlyn – toe dit donkiejare gelede gebou is – moes dus in ag geneem word sodat dit geen steurnis op die kompasswaaibaan sou veroorsaak nie.

Hy vertel my ook sommer van Roger Whittaker se liedjies oor treine (luister op Youtube na The Good Old E A R and H oor ‘n treinrit tussen Mombasa en Nairobi, Railway Hotel en Jenny – Midnight Train).

Al duur die lekkerte tussen Kaapstad en Elgin-stasie 'n paar uur wil 'n mens nie he die lekkerte moet ophou nie

Al duur die lekkerte tussen Kaapstad en Elgin-stasie ‘n paar uur, wens ‘n mens dit hou nooit op nie

By Elgin Stasie verkyk almal met die af- en opklim hulself weer aan die lokomotiewe en ou treinwaens

By Elgin Stasie verkyk almal met die af- en opklim hulself weer aan die lokomotiewe en ou treinwaens

Op die naweektreinrit vanaf Kaapstad na Elgin draai die trein weg by Bellville-stasie in die rigting van Eersterivier.  Vanaf Eersterivier begin ‘n mens die individuele karakters van die stasiekafees oplet. Op Somerset-Wes se stasie word daar drinkgoed, samoesas, pasteie en lugtyd verkoop.

Dit verskaf my groot plesier om na die gesprekke rondom my te luister.

Almal by Ceres Rail Company - masjiniste, vrywilligers en werknemers - is passievol oor die projek

Almal by Ceres Rail Company – masjiniste, vrywilligers en werknemers – is passievol oor die projek

Een van die tegnici wat vandag aan diens is, sê ‘n mens moet eintlik 20 sintuie hê om aan die stuur van ‘n trein te wees. Soos hulle op en af stap hou hulle alles met ‘n valkoog dop terwyl hulle terselfdertyd fyn luister.

“Watter geluid is dit?” vra een. Die ander antwoord flink: “Dis die pop-geluid van…” en daar verloor ek wat hy sê, maar jy kan hoor dis ‘n man wat kén van treine en spore, van lokomotiewe en van stook.

Met die verbystap na die kroegwa hoor ek twee omies wat in krakerige stemme oor treine in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog gesels.

Ek dink ek kan, ek dink ek kan

Sir Lowryspas is steil. Daar word selfs sand op die treinspoor gegooi om vastrapplek te verseker en twee lokomotiewe, Dominique en Jessica, word ingespan. Een lokomotief trek, die ander stoot.

Voor Dominique en Jessica die steilte van die pas aandurf, gaan staan ons eers. Met die wegtrek klink die wiele op die spore soos die kinderrympie oor die tjoe-tjoe-treintjie: ‘Ek weet ek kan, ek dink ek kan, ek weet ek kan, ek dink ek kan’.

Toe ons eers op dreef kom, verander die rympie na ‘Ou Sanna maak ‘n potjie pap, ou Sanna maak ‘n potjie pap’.

Die masjinis laat die trein uit pure lekkerte fluit en daar loop ons ‘sakke pakke, sakke pakke, sout en peper; gee my stoom, dan loop ek beter!’ tot die hele uitsig oor Valsbaai voor ons lê.

Só hou die lekkerte net aan en aan. Die motors wat langs die spoor op Sir Lowryspas verby die trein ry, blaas hul toeters en waai uitbundig.

Dís wat dit aan jou doen as jy verby ‘n stoomlokomotief ry en dan was jy nog nie eers deel van só ‘n treinrit nie. Die lekkerte vermeerder veelvoudig as jy binne in een van die treinwaens sit.

‘n Spoorwegmark in ‘n appelskuur neffens Elgin se stasie

Die Elgin Railway Market is ‘n nuutjie op die Kaapse kalender. Hul amptelike opening is in Junie 2018.

Suile lig van in poele op die vloer en elke dakwaaier is 'n funksionele kunswerk

Suile lig van in poele op die vloer en elke dakwaaier is ‘n funksionele kunswerk

Dis te danke aan Roger Orpen (‘n voormalige advertensiefilmvervaardiger en –regisseur wat regdeur Afrika en Indië gewerk het) dat die ou appelskuur langs die stasie waar die spoorwegmark voortaan gehou word, ‘n nuwe lewe gekry het. Die skuur is in die 1940’s deur Italiaanse krygsgevangenes gebou.

Orpen raak liries as hy oor die navorsing praat wat hy gedoen het voor hy die projek aangepak het. Die Art Deco- en Art Nouveau-tydperke het as sy inspirasie gedien.

So verduidelik Orpen sy beweegredes: “Alles om ons raak al meer minimalisties. Tog bewonder ons nie gewoonlik ‘n moderne glas-en-sement kantoorgebou met skewe hoeke nie; ons stap eerder by ou kerke in waar ons dan in verwondering staan. Dekades gelede het selfs funksionele en/of meganiese items ‘n element van styl gehad.” Dís waarvan die enorme dakwaaiers wat luiweg draal en die daksuile waardeur poele lig op die vloer val, getuig.

Op Elgin Railway Market se Facebook-bladsy vertel Anita Fletcher dat dié “kissieskuur” die plek was waar die skoolbus in haar kleintyd gestop het. Fletcher is in 1954 op die plaas Molteno gebore.

Die hele distrik sien uit na wat Roger Orpen nog by Elgin Railway Market in die mou voer.

Lees meer: www.elginrailwaymarket.co.za en www.facebook.com/ElginRailwayMarket/

Dagrit vanaf Kaapstad na Elgin Railway Market

Vanaf laat April 2018 loop Ceres Rail Company se treine op vooraf vasgestelde Saterdae en Sondae vanaf Kaapstad na Elgin Railway Market. Alternatiewelik is daar ook die Kaapstad–Ceres–Kaapstad-roete.

Dit kos R750 per persoon en R500 per kind (3-13 jaar oud).

Meld 7h45 oorkant die Royal Yacht Club in die Kaapse hawe aan. Die treinrit duur sowat 3 uur waarna passasiers by die Elgin Railway Market vir 2-3 uur kan kuier. As alles goed verloop, is jy 17h30 weer terug in die Kaap.

Vooraf bespreking is noodsaaklik. Kyk na die kalender en bespreek by: www.ceresrail.co.za of 0790775332

Breek weg vir ‘n paar dae

  • Die Red Devil Run is ‘n 4-dag 3-nag wegbreek met gastehuisverblyf.
  • Wacky Wine by Train bied drie opsies: Eenrigting-treinrit van Kaapstad na Robertson/Wacky Wine-dagekspedisie/Eenrigting-treinrit van Robertson na Kaapstad
  • Die treinrit na die Overberg is ‘n 4-dag 3-nag wegbreek met verblyf in die Houwhoek en Arniston Hotel. Vooraf bespreking is noodsaaklik.

Verkry meer inligting en bespreek by: www.ceresrail.co.za of 0790775332

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 26, 2019 by in About trains / Oor treine and tagged .