ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

DÍS MOS MOSSELBAAI

First published in Die Burger, January 2012

Mosselbaai is eintlik ‘n plek van skepe, nie van mossel(kraker)s nie. Eers was daar Bartolomeus Dias – wie onthou dit dan nou nie van hul laerskoolgeskiedenis nie? – wat die eerste Europeër was wat in 1488 om die suidpunt van Afrika geseil het.

Toe was daar in 1988 die replika-karveel wat nou in die Dias Museumkompleks pryk. Carike Keuzenkamp se Dias-deuntjie bly steeds in jou kop draal as jy dit êrens per abuis weer te hore kry. Dis ook hier waar jy nog steeds ‘n brief by die eerste ‘poskantoor’ in Suid-Afrika – ‘n melkhoutboom wat al 500 jaar oud is – kan pos.

Net voor jy na die kliplaerskool (in 1909 gebou) links draai om gou te loer hoe die see by die Punt lyk, kry jy Huijs Te Marquette wat sedert 1990 deur die Bosmans bedryf word. In 1734 het “Huijs te Marquette”, ‘n driemasskip van die VOC, amper in die baai gestrand. Weens ‘n sameloop van omstandighede wat met die amperse stranding van die skip verband hou, is ‘n VOC- verversingstasie by die huidige Mosselbaai gestig. So het die gastehuis vanwee die skeepskonnotasie sy naam gekry.

Die eienaars van Te Marquette het in 1992 ook met die eerste blyplek vir rugsakreisigers op die dorp begin en Mossel Bay Backpackers is steeds baie gewild onder plaaslike en oorsese reisigers.  Een van die gaste by die gastehuis het die Bosmans laat weet dat daar ook ‘n Chateau Marquette in Heemskerk, Nederland is – hierdie Marquette het ‘n “sfeerrijke Bibliotheek in ‘n eeuwenoude kasteel”.

Dis nie net Boetie Bartolomeus wat aan Mosselbaai ‘n ryke geskiedenis gegee het nie.  In 1900 is die eerste gebou van die walvisstasie opgerig; in 1913 is die laaste walvis by De Bakke geskiet. Aldus Pieter Viljoen wat jou dae lank kan besig hou met alles wat hy van sy dorp weet. Gaan kyk gerus die ou foto-uitstalling in die Herbert Baker-geboutjie oorkant sy huis. Die einste geboutjie was met ‘n bruggie met die dubbelverdiepinghuis aan die agterkant verbind sodat die destydse eienaar van W.J. Swart Carpenters & Joineries vinnig vir ‘n koffietjie kon oorloop.

In Montagustraat was ‘n ou tannie wat in vanmelewe se dae gereeld haar porseleinkoos oor die koggelende seuns uitgegooi het wat onder die bloekom voor haar huis krieket gespeel het. In Cuffstraat is die uitgeholde vensterbanke nog sigbaar waar die vissermanne – oppad na die hawe – hul messe geslyp het.  Waar Shoprite deesdae is, is destyds kruiwaens en rolle doringdraad verkoop. Teen die ou doeane-gebou is ‘n ou beskermklip steeds te sien. ‘n Wa se nok steek mos verder uit, verduidelik Pieter Viljoen. Ek knik instemmend; al weet ek nie eers wat ‘n wa se nok is nie.

Die klip – ook die mooie pienk klip – waarmee St Blaize-vuurtoring gebou is, is reg langsaan die plek waar die vuurtoring staan, uitgekap. Toe St Peter’s Anglikaanse Kerk gebou is, kon geen Protestante in diens geneem word nie. Sê nou maar hulle ontheilig die klippe, is gevrees. Nie een van die 22 klipmesselaars uit Cornwall het ooit met die Cornwalliese skrynwerker gepraat nie; hy het immers die Protestantse kerk se preekstoel gemaak.

Die storie dat die rondawelagtige Pavilion deur ‘n volstruispaleisboer vir sy skelmpie gebou is, blyk toe hoorsê te wees.

Van toeka tot nou

Vandag se Mosselbaai het ‘n gesonde kwota interessante mense en kuierplekke.

By Blessings is alles handgemaak en kreatief. Jy gaan ver soek vir ‘n beter ontbyt as Le Bistro se posjeer-eiers op spinasie met spek en kaassous daarby. Koop sommer terselfdertyd ‘n stylvolle snuistery by hul geskenkwinkel en betuig jou simpatie dat hul Victoriaanse bad vir die tweede keer van die sypaadjie gesteel is.

Net verder af in Marshstraat is die Kliphuis-koffiewinkel – die klipgebou dateer uit 1905 – waar jy plaasontbyt of bultende sjokoladekoek kan eet. Sommer om ‘n lang gemeenskaplike tafel – met ‘n kunstige mobiel wat bokant wieg – as jy so voel. By Café Havana hang die jonger klomp dag en nag uit.

‘n Hollandse geurtjie

Wim Klapwijk het met die Romonza-bootritte om Robbe-eiland – ‘n ent weg van Benekesklip – begin. Hierdie Hollander was ‘n geheime agent wat op die Nazi’s in die Tweede Wêreldoorlog gespioeneer het en hy het so ampertjies voor ‘n vuurpeleton gesterf. Na die oorlog het hy homself in Mosselbaai gevestig en ‘n deel van sy lewensverhaal is al as promosie vir Mosselbaai gebruik.

Zandra Klapwijk, Wim se dogter, het onlangs met ‘n ateljeetjie, Harbour House, begin. Ry verby die geel kafee – álmal in Mosselbaai weet waar dit is – in die rigting van die see. Hier’s funksionele glaskuns (wat sy by haar pa geleer het), Tretchikoff-horlosies en handborduurwerk. Die agterste stoepkamer is aan Outa Lappies opgedra. Langsaan is Duitsland in die kleine in die vorm van Rosenheim,‘n regte Duitse deli, met koue vleise en aartappelkrokette.

‘n Mosselbaaier in die Groot Appel

Mosselbaai spog selfs met ‘n kunstenares wat al na New York genooi is. En dit deur drie verskillende galerye. By House of Maria borrel Arnelda (Maria) Oosthuizen) oor van lewenslus.

Oppie see

Aan die kant van die hawe is The Sea Gypsy Café vir seekos-middagetes. Net ‘n entjie verder is Kaai Vier Braairestaurant wat wraggies die enigste plek in Suid-Afrika moet wees waar jy ‘n braaibroodjie van die spyskaart af kan bestel. Alles by hierdie kaaibraaiplek is onopgesmuk – van die wyn in blikbekers tot die ietwat lendelam tafels. Om tyd hier te verwyl, lei onwillekeurig na ‘n jeukerigheid om nog langer tyd hier te verwyl.

By Kaai 4 moet jy dit vat soos jy dit kry, maar dis 'n lekker vat

Delfino’s – digby die swemstrandjie waar almal by die Punt branderplankry – het oorgenoeg sitplek. As jy buite sit, kan jy die branderplankryers goed bekyk; as jy binne sit, kan jy sorg dat die son jou nie verbrand nie; en as jy weet waar, kan jy mik vir die fluweelbank of die herwonne houttafel op die sandvloer.

By Delfino's kan jy buite sit.JPG; by tipiese kafeetafeltjies.JPG; of by 'n sandvloer op 'n Victoriaanse bank

Helaas, Jazzbury’s is nie meer daar sodat jy harige mopaniewurms wat jou tong borsel, kan uitprobeer nie. Maar Mosselbaai het steeds die beste handwerksentrum wat ek nog ooit te siene gekry het – net duskant die toerisme-info voor jy bult af vir jou blikbeker wyn by Kaai Vier.

KRY HOUDING BY LATTITUDE
Vergeet van slof-slof loop. By Lattitude koop jy insteekskoene met hóúding. Voor Divvie sandale begin maak het, het hy herwaarts en derwaarts met seiljagte rondgevaar. Daarna het hy vir ‘n jaar lank op ‘n eiland in Thailand gewoon waar hy met sy Elna-naaimasjien voor op sy skoetertjie rondgery het en vir die vroue klere gemaak het.  Hy praat dromerig van die einste Elna-naaimasjien asof dit sy meisie is. Na hy na sy tuisdorp teruggekom het, het dit ‘n tydjie gevat voor hy besluit het wat hy gaan doen. Nou maak hy insteeksandale in allerhande kleure; party vertoon trots ‘n kaart van Afrika of ‘n mikrovlaggie wat “MBAY” uitbeeld.

Kyk na hulle superkoel nuwe stewels by http://www.facebook.com/Leka-attitude-Custom-Plakkies-655213871231833/

 

RAAK NOSTALGIES BY DEJA VU EN MONROE-TEATER
Bedags word aandhandsakke, hoedebokse en opdresklere by Deja Vu verkoop.  Sorg egter dat jou besoek aan Mosselbaai op ‘n Woensdagaand val. Trek jou uitvatklere aan en kom kyk ‘n fliek van Marlene Dietrich of Marilyn Monroe. Sommige Woensdagaande tree Cornelle Carstens op en sowat van talent, professionalisme en danspassies het jy lanklaas raakgeloop. Dis kabaret wat jou lus maak vir wyn drink. Jy gaan nooit weer met dieselfde oë na ‘n “batebestuurder” kyk nie, en jy loer oor jou skouer om te kyk of die “guitige groenoog” waarna sy verwys, dalk in die gehoor sit.

 

 

AS JY BEPLAN OM MOSSELBAAI TE BESOEK
·         In 2012 is die Dias Fees op 2-5 Februarie
·        Kyk hoe Maria se skilderye lyk by www.mariaart.co.za
·        Ondersteun L’@ttitude op Facebook.
·        Boek ‘n bootvaart om Robbe-eiland deur 044 690 3101 te skakel of te e-pos: romonza@mweb.co.za
·        By die Kliphuis Koffiewinkel (Marshstraat 25)kan jy ook by die Detail ateljee grafiese ontwerp of drukwerk laat doen en kunsbenodighede by Artist’s Corner aankoop.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 9, 2017 by in Die res van Suid-Afrika.