ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Vodka gee vavavoom

First published in Rapport, March 2022

Kaviaar en vodka is sinoniem

CNN Business in New York berig op 27 Februarie 2022 dat Russiese vodka – ná Vladimir Putin, president van Rusland, tot die skok van die res van die wêreld, Oekraïne binnegeval het – nou in verskeie state van Amerika geteiken word. Daar word ‘n beroep op drankwinkels gedoen om Russiese vodka van hul rakke te verwyder.  

Baie van die topverkoper-vodkas het oorspronklik in Rusland ontstaan, maar word egter al geruime tyd in verskeie ander lande insluitende die VSA distilleer. Dit lei tans tot grootskaalse verwarring.

Net so is Russian Bear-vodka wat amper op elke plaaslike drankwinkel se rakke pryk, allesbehalwe Russies. Slegs die naam Russian Bear is Russies; verder is dit 100% Suid-Afrikaans en word reeds sedert 1848 plaaslik vervaardig.

Gesondheid! of Nostrovia in slêng

Vodka is só gewild in Rusland dat NASA selfs die Russiese ruimtevaarders ‘n paar dekades gelede toegelaat het om vodka op ‘n ruimtetuig saam te neem. Weliswaar net genoeg om ‘n klein sopie – seker maar volgens Russiese standaarde – per dag te drink, hoewel NASA se streng beleid is dat géén alkohol in die ruimte geduld word nie.

Sluk hom, boetie!

Dan was daar ook die keer toe die Russe Moskow in 24 uur leeggedrink het toe hulle die aankondiging – op 9 Mei 1945 – van die einde van die Tweede Wêreldoorlog gevier het. Op 10 Mei was daar nie ‘n druppel vodka in dié stad oor nie. 

Tydens 1998 was daar ‘n paar maande wat onderwysers in Siberië deels in vodka betaal is! Die staat het vir ‘n paar maande nie genoeg geld gehad om hul salarisse te dek nie.

In die begin was daar…

Daar bestaan nie eenstemmigheid nie of vodka in Rusland of Pole ontstaan het.

Hoe dit ook al sy, kroegvlieë wêreldwyd lag steeds vir hul eie grappie wat lui: “Ek het gisteraand so baie vodka gedrink dat ek vanoggend met ‘n Russiese aksent wakkergeword het!”

Die woord “vodka” is afgelei van die Slawiese of Russiese woord “voda” wat water beteken; “vodka” is die verkleinwoord van “voda” – dus beteken dit, vry vertaal, “klein watertjie”.

Kartograwe sal dit interessant vind dat ‘n geografiese vodkagordel (balticrun.com/vodka-belt-europe/) bestaan.  Benewens Rusland en Pole is Oekraïne, Slowakye, Belarus, Estland, Letland, Litaue, Noorweë, Swede, Finland en Ysland deel van die vodkagordel.

Is dit net ek of smaak lemoensap snaaks sonder vodka… ?

Tradisioneel word vodka koud gedrink. Dit bring die inherente smaak uit en bring ook ‘n sagtheid op die tong na vore.

Vanaf die 1950’s tot 1970’s het vodka al hoe meer ‘n reputasie as ‘n in-drankie in die VSA ontwikkel. Gewilde drankies soos martinis, Cosmopolitans en Moscow Mules bevat almal vodka as een van die bestanddele.

Om nie te praat van James Bond nie wat in Dr No – die eerste Bond-fliek wat in 1962 uitgereik is – ‘n droë vodkamartini aangebied word wat nié geroer is nie. In GoldFinger (1964) bestel Bond self sy drankie terwyl hy sonder om ‘n spier te verroer, prewel: “Shaken not stirred please.”

As James Bond ‘n wodkadrankie bestel – soos hy steeds doen – móét dit mos koel wees.

Ek wou nee sê vir vodka, maar dis 40% sterker as ek…

Wodka-spindokters het nie ‘n gebrek aan bemarkingsfoefies nie.

Vodka is meestal heeltemal glutenvry. Vodka is suiwer – dit bevat geen cholesterol, sodium, gis, koolhidrate of vet nie. Vodka is gesond (mits jy jouself nie te buite gaan nie): in een sopie vodka is minder as 100 kalorieë.

Wodka is deel van baie Russe se daaglikse roetine; by kafees en supermarkies sien jy die koue vodka sommer tussen die bevrore groente en vleise

Daar word ook beweer dat daar minder toksiene in vodka is as in drankies met ‘n donkerder kleur soos rooiwyn, whisky en rum, wat beteken dat jou babbelas nie so erg is nie.  Die goue reël bly egter om nie te veel te drink nie; anders gaan jy waarskynlik in elk geval olik voel.

Vodka kan ook vir medisinale doeleindes aangewend word. Dis algemeen bekend dat dit met tandpyn help en wonde kan reinig. Sommige glo dit help om spanning te verlig, hartaanvalle te voorkom, slegte asem te verdoesel, hare te laat groei en koors te laat afneem.

As vodka nie as medisyne toegedien word nie, kan dit as skoonmaakmiddel ingespan word. Jy kan ruite en blink oppervlaktes daarmee skoonmaak, slegte reuke laat verdwyn en hardnekkige vlekke verwyder. Vra maar enige Oos-Europese huisvrou.

Vodka is boonop goed vir jou vel. As jy dit met water verdun en met ‘n bolletjie watte op jou gesig smeer, verwyder dit bakterieë, laat jou vel jonger lyk en verklein jou porieë. 

Met oplees vir hierdie artikel het ek selfs op ‘n resep vir naskeermiddel afgekom waar vodka – saam met ‘n kombinasie van gliserien, bloekom- en pepermentolie – ingespan word.

Volgens die Times of India kan vodka ingespan word as deodorant, gesigsreiniger, insekafweermiddel, raad teen skilfers en – hier is dit weer – naskeermiddel. Dalk is dit eerder ‘n bewys dat ‘n mens nie alles moet glo wat jy lees nie. Dié koerant maan darem dat jy nie die vodka wat jy vir bostaande gebruik het, moet drink nie!

Die volgende notas kan gerus deur vodkaliefhebbers neergepen word: Nasionale Vodkadag is op 4 Oktober 2022; plaas The King of Vodka: The Story of Pyotr Smirnov and the Upheaval of an Empire op jou leeslys (Smirnoff-voda het in die laat 1800’s in Rusland ontstaan, maar in die vroeë 1900’s het hul paaie geskei) en Zubrowka Bison Grass Vodka (wikipedia.org/wiki/%C5%BBubr%C3%B3wka) op jou proelys. In elke bottel Zubrowka is ‘n bisongrasspriet; geniet ‘n sopie Zubrowka verkoel op sy eie of voeg appelsap by. Dis ook heerlik oor vanieljeroomys.

                                                                    ***

Toets jou Wodka-IK

      Vrae

  1. Waarvan word vodka gemaak?
  2. Vir hoe lank kan jy vodka hou?
  3. Hoeveel weeg vodka?
  4. Wat is die gewildste vodka ter wêreld?
  5. Wat is die duurste vodka wat ‘n mens kan kry?

Antwoorde

  1. Vodka word hoofsaaklik van gefermenteerde graan en aartappels gestook. Vrugte veral druiwe kan egter ook gebruik word. (In Oregon, VSA is daar selfs ‘n distilleerdery op ‘n melkplaas wat ‘n tipe vodka van melk maak wat hulle “cowcohol” noem! Lees meer: atlasobscura.com/articles/alcohol-made-from-milk)
  2. Dis nie waar dat vodka vir altyd hou soos baie mense glo nie. Na omtrent ‘n jaar verflou die geur van enige vodka. Dit hou wel heelwat langer, maar die smaak gaan jou heel moontlik teleurstel.
  3. Vodka is ligter as water; een liter vodka weeg 50 gram minder as 1 liter water.
  4. Smirnoff. (Pyotr Arsenievich Smirnov, die skepper van Smirnoff, het met niks begin nie, maar later een van die rykste mense in Rusland geword. Lees meer: smirnoff.com/en-za/our-history/)
  5. Billionaire The Diamond Edition Vodka kos tot soveel as net meer as 7 miljoen dollar. Die geheime resep behels dat die water wat gebruik word deur diamante gefiltreer word. Kyk op facebook.com/OFFICIAL.BILLIONAIRE.VODKA/ (‘n Ander eksklusiewe, maar meer bekostigbare, vodka is Royal Dragon Superior Vodka – 23-karaat goue stukkies dryf in elke bottel vodka rond: royaldragonvodka.com)

                                                                  ***

Die hoop beskaam nie

In Februarie 2015 het Hope Distillery hul deure oopgemaak as die eerste gelisensieerde klein distilleerdery in Kaapstad. Hoewel hulle aanvanklik op jenewer gefokus het, was die plan van die begin af om vodka te maak.

Hope Small Batch Vodka word van druiwe gemaak, want die Bolandse wingerde lê mos net om die draai. Dit word in klein hoeveelhede van 200 liter op ‘n slag gemaak en in ‘n koperpotketel met die naam Mad Mary gedistilleer.

Hope-vodka is vrugtig met geurelemente van sitrus en appelliefie.

By Hope Distillery se proelokaal in Soutrivier, Kaapstad kan jy hul reeks jenewers en vodka proe sowel as die lekkerste Bloody Mary of martini-vodka met ‘n skeut vermoet, gegarneer met ‘n bloukaasgevulde olyf.

hopedistillery.co.za

Probeer ook die volgende plaaslike vodkas:

  • Waskis Vodka by Pienaar and Son

pienaarandson.co.za

  • Vachellia Vodka

vachellia.africa/products/vachellia-premium-vodka

  • Vusa Vodka

vusavodka.com

Soek en jy sal (dalk) vind:

Nemiroff Vodka van Oekraïne, by uitgesoekte drankwinkels wat dalk nog voorraad het

wikipedia.org/wiki/Nemiroff

four-magazine.com/tasting-notes/handcrafters-of-high-quality-horilka-nemiroff/

Ek het ‘n voëltjie hoor fluit…

As jy deesdae by sommige Kaapse kroeë ‘n White Russian-drankie bestel is dit nie meer beskikbaar nie omdat daar besluit is om Rusland te boikot. Jy kan wel ‘n White Ukrainian bestel. Die bestanddele (melk, vodka en koffielikeur) is dieselfde; net die naam verskil!

2 comments on “Vodka gee vavavoom

  1. selmaohlsson
    May 31, 2022

    What a fabulous informative article. Loved it, and will make it a mission to visit Hope distillery.

  2. ilsez
    May 31, 2022

    Do go, Selma! Esp for a sundowner. Try their martini…

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 30, 2022 by in Afrikaans foodies, Europa.