ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

CESKY KRUMLOV – ‘N POPSPEELDORPIE IN DIE TSJEGGIESE PLATTELAND

First published in Die Burger, March 2013

Stadswapen van Cesky Krumlov

‘n Sprokiesdorp, sê Lonely Planet. Ek’t gehoor dis mooi, maar dis so ‘n geykte beskrywing dat my afwagting ietwat verflou.

RAPONSIE SE KASTEEL

Dis ‘n trein, dis ‘n bus, dis nog ‘n trein. En toe’s ons daar! Met bladsakkies – soos jagters van ouds – stap ons ‘n steil heuwel met ‘n nou paadjie af.  Ons dink so ewe dat ons ons eie dramatiese aankoms bewerkstellig, maar die eerste blik van Cesky Krumlov laat al ons vooropgestelde idees soos mis voor die son verdwyn. Geleidelik verrys ‘n statige kasteel. Die sirkelgang van die rivier is plek-plek sigbaar.

Ons stap Cesky Krumlov binne. Oor ‘n brug, en onderdeur die stad se klipkoepelingang. Nou kry ek hoendervleis van opwinding. Ons draf sommer met ons bladsakkies by Deli 99 in.

'n Boog in Cesky Krumlov

Daar’s ‘n pensao of hotylek (klein hotelletjie) in elke tweede straatjie. Ons boek terstond in sonder om tyd te vermors. Ons wil alles van Cesky Krumlov indrink en beleef. Tog is ons rasend honger, want dit het nogal ‘n groot deel van die dag geneem om hier te kom. Ons skop af met ‘n Italiaanse middagete mét Italiaanse wyn by Nonna Gina.

Probeer Vltava sê

Cesky Krumlov is in die rondings van die Vltava-rivier gebou. Daar is ‘n hele paar knikke in die rivier. Dis asof die water die geboutjies omhels. Orals waar jy stap, hoor jy kabbelende water. Dis so ‘n gerusstellende klank en dit dra by tot die sprokiesgevoel.

Die binnehof van die kasteel

Die pienk Renaissance-toring is bokant skewe dakkies uit amper elke straatjie sigbaar. Woerts om die hoekie en daar is weer ‘n blik op die Raponsie-styl toring in die middel van gegewelde, middeleeuse geboutjies in skakerings van ligblou, vaalgrys, dofpienk en verbleikbruin. G’n wonder dat UNESCO (en baie ander lui reisjoernaliste) Cesky Krumlov met Venesië vergelyk nie.

Baie reisigers weet al van Cesky Krumlov; tog is hier nie hordes toeriste met kamera’s om die nek nie. As jou voete jeuk vir oefening, kan jy in die omringende Sumava-berge gaan stap. Andersins is daar meer as ‘n handvol ou kroegies – sommige op die rivier se wal – wat Budvar-, Lobkowicz-  en die plaaslike, donker Eggenberg-bier bedien.

‘n Kasteel met ‘n grag, ‘n katedraal en baie boogbruggies

Kultuurkatte kan die goedgepreserveerde Krumlov Kasteel – met veertig geboue en vyf binnehowe – sowel as die St Vitus Katedraal en die sprokiesagtige pienk Renaissance-toring besoek. Diereliefhebbers – eintlik enigiemand met ‘n hart – word aangeraai om liewer nie na die bere in die kasteelgrag – sonder water – te kyk nie. Ek kry nou nog nagmerries na ek oor die rand geloer het.

Hier gaan 'n boef nie sommer inbreek nie

Terwyl jy ronddrentel, staan verruklike restaurantjies en piepklein kroegies se deure wyd oop. As daar êrens ‘terasa’ staan, is daar tafeltjies op die rivieroewer. Laibon nooi jou uit na hul ‘vegetarianska terasa’. Ons loer sommer orals in – so bang om iets mis te loop.

Op die bopunt van die heuwel word ‘n sinagoge gerestoureer; ‘n paar minute daarvandaan is Hotel Ruze, eens ‘n Jesoeït Klooster en Universiteit. Hotel Ruze bied vyfster-verblyf in kamers behang met brokaat; op houtvloere onder hoë dakbalke loop jy suutjies oor Persiese matte.

Ontdek die spys en drank van Bohemië

Koop in die verbyloop ‘n hol kaneelbol of crepe met bakappels by Trdelnik; drink ietsie by Cafe Van Gogh terwyl jy ‘n bordspeletjie speel; ontdek Boheemse gemmerbrood en heuninglikeur by Cesky Pernik. By die Vecerka Mini-Mark is gegeurde tee (granaat of bloubessie) en geblikte haring teen ‘n appel en ‘n ei te koop.

Die Cikanska Jizba (Gypsy) Restaurant is gesellig en gewild; dus moet jy vroeg  kom kleim afsteek – luister hier na sigeunermusiek en smul aan goelasj. Eet en drink Tsjeggies by Svejk Restaurant – die naam is ontleen van ‘n strokiesprentkaraktertjie met ‘n ondeunde seunsgesig –  Svejk, Die Goeie Soldaat. Vier ‘n huweliksherdenking by Jakub Restaurant. By Dve Vdovy skuur ‘n swart kat teen jou bene terwyl sy lui na die voëltjies kyk wat in die vlak rivierwatertjies bad.

By Rock Pub Gorila moet jy hare op jou tande (en dalk in jou ore) hê. Oorweeg die I Horor Kroeg net as jy daarvan by die huis wil oorvertel.

As die koruna’s ‘n gat in jou beursie brand

Belê in ‘n erfstuk by Starozitnotsi Antique;  verkyk jou aan wat by die weermagwinkel Army Vylet verkoop word; skaf iets vir jou klerekas by LAF (Long Avenue Fashion) aan; koop Bohumil Hrabal se lighartige boek, The King and I, by Shakespeare A Synove & Sons. Sulamit noem hulself met reg ‘n “alternativni butik”.

Besoek die Loutek Marionetmuseum waar marionette legendes oor piekelworsies en rowers wat in ‘n bos wegkruip, uitbeeld. Ons loop maar verby die wasmuseum wat heel onverklaarbaar met die ontslape Michael Jackson in die venster spog.

In Cesky Krumlov verwyl jy tyd sonder om besienswaardighede na te jaag. Dit is juis waarin die sjarme van hierdie dorpie opgesluit lê – ‘n drentelstappie; ‘n geselsie ‘n klipgooi van die Vltava; die verwondering en amperse ongeloof dat ‘n gewone, plattelandse dorpie so móóí kan wees.

Na zdravi! Gesondheid in die rondheid!

Niemand wat vooraf hul huiswerk gedoen het, verlaat Cesky Krumlov sonder om ‘n aand by Udvou Maryi (Two Mary’s) Restaurant deur te bring nie. Baie inwoners sowel as besoekers beskou die Two Mary’s as Cesky Krumlov se beste restaurant – die gebou is meer as vyfhonderd jaar oud ;  jy loop in ‘n nou keisteenstegie af om daar uit te kom; die kos is uitmuntend sowel as outentiek Boheems; en, les bes, jy kan by die wankelrige houttrap opklim om in klein, donker vertrekkies bo te gaan sit;  jy kan reg óp die rivierwal óf op ‘n soliede klipstoep by ‘n paar stewige tafels reg langs die deur aansit. As dit laataand stiller raak, kom meld die kelner hom by jou tafel aan en deel sy kennis oor die distrik, die dorpie en die Tsjeggiese Republiek.

As jou gô hierna nóg nie uit is nie, bedien die Zapa Bar absint tot lank na middernag!

Koffie word dringend benodig

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 14, 2017 by in Europa and tagged .