ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die bekoring van Kroasië

First published in Beeld, December 2017

Son, see, water en 'n goeie boek om te lees op die eiland van Hvar

Son, see, water en ‘n goeie boek om te lees op die eiland van Hvar

Kroasië is ‘n land – wat meer as ‘n duisend eilande insluit – met ‘n blinkblou oseaan wat lyk asof jy daarop kan loop; growwe klipgeboutjies wat van eeue gelede dateer; seiljagte wat eindeloos in- en uitvaar; en mense wat na hul onstuimige geskiedenis geleer het om toerisme – en die derduisende gepaardgaande toeriste – met ope arms te verwelkom.

Dis dus g’n wonder dat Suid-Afrikaners – en baie ander nasionaliteite – die afgelope paar jaar na daarheen stroom nie. Om Kroasië se skoonheid en atmosfeer in te drink, moet jy egter probeer om buite seisoen – terwyl dit reeds, of nog, warm genoeg is, te gaan.

‘n Besoek in 2000 en 2017

Met ‘n onlangse besoek hierdie jaar loop ek – nou saam met my man – op my spore van die jaar 2000 – toe saam met ‘n jarelange vriendin op ‘n uitgerekte, selfbeplande treinreis – terug. So baie het verander, tog is só baie nog dieselfde.

Terug in 2000 is ons op ‘n skommelende bus van Split, die tweede grootste stad in Kroasië, na Dubrovnik, wat een van die mees besoekte toeristebestemmings in die Mediterreense See sou word.

Vanuit die bus kon ons die prentjiemooi platteland van Kroasië sien. Die see was blouer as blou, soms turkoois, en selfs vanuit die bus kon jy tot op die bodem van die see sien. Smaraggroen riviere en wit kranse, ou mense wat lappies groente bewerk en malvas wat oral blom – dit het onwerklik gevoel en gelyk.

Al wat die prentjie toe versteur het, was halfklaar geboue, ‘n redelik onverskillige busbestuurder en hier en daar ‘n motorwrak langs die pad.

In Dubrovnik het ons ‘n privaatkamer by Silvana en haar pa gehuur. Daardie aand het sy vertel dat die Kroatiese Onafhanklikheidsoorlog die ergste in Dubrovnik en Vukovar was. Die meeste kinders met vrouens het gevlug; sy het verkies om by haar pa agter te bly. Humanitêre organisasies het bote met kos gestuur; hulle moes ure in rye daarvoor staan.

Nou kan ‘n mens egter nie glo dat hier nie so lank terug – dit was in die negentigerjare – oorlog gevoer is nie. Kroasië het dit wat gebeur het, agterweë gelaat en met rasse skrede begin ontwikkel.  Hulle ontwikkel steeds met behulp van die enorme finansiële inspuiting wat toerisme bied.

Van orals het toeriste hiernatoe begin stroom – vir ontspanning, vir natuurskoon, vir die Romeinse ruïnes en vir geskiedenis. Kroasië se toerisme groei steeds: dis sonnig, die strande en agt nasionale parke is gewild, dis nie so duur soos Europa nie en meer en meer mense word deur seiljagvakansies verlei.

Dêps ‘n besoek aan Dubrovnik

Ou Dubrovnik het stadsmure wat plek-plek tot 25 meter hoog is. Dié stadsmure –  lank gelede was hier ‘n grag ook – strek reg rondom die dorpie en dateer uit die dertiende eeu. Alles binne-in ou Dubrovnik is uit witterige klip gebou en al die dakke het langwerpige baksteenrooi teëls.

In 2000 was ons omtrent al toeriste wat met die Stradum (die marmerwandelgang van die Ou Stad) langs na die plein – met die Sint Blaise Kerk en Dubrovnik Katedraal – aan die onderkant gestap het. In die oorkantse hoek van die plein is die uitgang na die seiljagvasmeerplek. Tóé ‘n paar bootjies. Nou ‘n volwaardige seiljaghawe in die kleine.

Almal probeer iets aan die toeriste verkwansel

Almal probeer iets aan die toeriste verkwansel, selfs op die stadsmure

Sewentien jaar later is dit gepak met toeriste en ‘n magdom restaurantjies, kroegies en winkeltjies.

Na Game of Thrones grotendeels in Dubrovnik verfilm is, het aanhangers van hierdie reeks ook hiernatoe begin stroom. Nou sien jy oral Game of Thrones-gidse met kettingharnasse as deel van hul wapenrusting rondloop terwyl hulle vir foto’s poseer.

Vanaf die hawetjie kan jy ‘n bootjie na Lokrum-eiland neem. Dit duur so twintig minute om daar te kom. Oppad soontoe sien ‘n mens privaatstrandjies, pragtige – vermoedelik privaat – huise en uitgeholde grotte. Orals is verroeste wit leertjies waarmee jy in die water kan klim.

Die prentjie van Dubrovnik soos dit voor jou uitrys, is onvergeetlik. Selfs as jy nie op die strand wil gaan lê nie, is dit die moeite werd om Lokrum te besoek nét om die stadsmure en die dakke wat bo dit uitloer, vanaf die water te sien.

DSC_0642

Die sitadel van Dubrovnik

Saam met sy gewildheid het Dubrovnik se pryse gestyg. In 2000 het dit R9 vir ‘n kaartjie gekos om reg rondom die dorp op die stadsmure langs te loop. In 2017 kos dit R300.

Gelukkig het Airbnb intussen verrys. Amper twee dekades later bevind ek my weer in privaatverblyf – Apartment Nina het selfs drie soorte tuisgemaakte likeur op die bedkassie en koue bier in die yskas.

Korcula is koel

Die eiland van Korcula is gewild onder toeriste in Kroasie

Die eiland van Korcula is gewild onder toeriste

Die bewoners van Korcula reken hulle geniet 2700 ure van sonlig in ‘n jaar.

Dis nie al waarmee hulle kan spog nie. Korcula het lieflike strande, daar word wyn op die eiland gemaak en in die Ou Dorp – wat soms Klein Dubrovnik genoem word – is ‘n huis waar Marco Polo volgens legende vir ‘n tyd lank gewoon het.

Korcula is ook een van die groener eilande wat meer bebos as die meeste ander is terwyl daar ook baie olyfbome voorkom. Dis ideaal vir stappers.

Ons het die kans gebruik om die eiland te gaan verken om van die twee vuurtorings waarvan ons gehoor het, foto’s te gaan neem. Op ‘n snikhete dag kon ons nie daarin slaag om die vuurtorings te vind nie, maar ‘n koue bier op Bilin Zal-strand het ons gou beter laat voel.

Bilin Zal is aan Lumbarda se kant van die eiland en maklik bereikbaar met die plaaslike bus. Dis net die plek om jou batterye te gaan herlaai.

As jy om die baai stap, kom jy by ‘n klein vissershawetjie uit. ‘n Entjie verder kan jy by een van die enkele restaurante aansit of wegneemetes by die supermarkie koop.

Haas jou na Hvar

Hoe gewild Hvar ook al mag wees, sy sjarme boet hy nooit in nie. As jy geoefen is en Hvar reg kan uitspreek, klink dit amper soos ‘n gans wat blaas.

Almal wil Hvar sien en baie wil in Hvar gesien word. Hvar verower harte.

Dis ‘n eiland waar jy oral laventel sien en laventel ruik.

Hvar is die eiland van laventel

Hvar is die eiland van laventel

Dekades gelede was ‘n groot deel van die eiland oortrek met laventel – jy kon op ‘n heuweltjie staan en reg rondom jou die deinings van pers landerye sien.

Hoewel daar nog steeds baie laventel verbou word, het veldbrande en inwoners wat na groener weivelde verhuis het, veroorsaak dat hier nou baie  minder laventel te sien is as wat daar vyftig jaar gelede was. In Velo Grablje op Hvar word egter nog steeds elke Junie ‘n Festival Levande (Laventelfees) gehou.

Die res van die seisoen is daar laventelkraampies orals op die kaai, voor restaurante en in die stegies van die Ou Dorp.

Drentel deur die Ou Dorp van Hvar tot jy die  raakloop: Atelier Marina Carr (www.ateliermarinacar.com) verlei met kreatiewe, handgemaakte juweliersware.

DSC_0136

Atelier Marina Car

Ook: Nonica Café Bar & Patisserie (www.nonica.com.hr) se gebak gebruik resepte van Dalmasiese oumas; en saans lok die rooi gloeilamp by Red Red Wine Bar (www.facebook.com/RED-RED-WINE-bar-HVAR-1409056489346937/?_rdc=1&_rdr) jou om van die plaaslike rooi- of witwyn te kom drink.

In Hvar het Trojanka Apartment etlike kamers en woonstelle te huur wat net sowat 100 meter van die kaai waar die veerbote jou aflaai, geleë is. Synde nuwe Airbnb-gebruikers was ons maar skepties aan die begin – hoewel ons nou sonder twyfel weer hierdie tipe verblyf sal bespreek – maar Tannie Trojanka het ons wildste verwagtinge oortref.

Die gezoem van die bye in Zagreb

Toeriste wat Kroasië besoek, neig dadelik kuswaarts terwyl die hoofstad, Zagreb, ‘n pols van sy eie het en ook verskeie historiese besienswaardighede bied.

In die middestad kan jy jou verwonder aan die Jugendstil- of Art Nouveau-boukuns wat deur motiewe van blomme en plante sowel as krom en vloeiende lyne gekenmerk word. In Kaptol (deel van die Bo-Dorp van Zagreb) laat die neo-Gotiese Marijina Uznesenja Katedraal jou na jou asem snak.

‘n Straatblok verder is die geroesemoes van die Dolac-mark. Onder rooi gestreepte sambrele word daar sewe dae per week vrugte, groente en blomme verkoop. In die kelderverdieping – waarvan baie besoekers nie eers bewus is nie – word kase, brode en kouevleise verkoop. Die vriendelike verkopers bied proehappies aan en glimlag gemoedelik sou jy ‘n foto wou neem. Dis nét die plek om padkos vir ‘n treinrit of ‘n piekniek aan te skaf.

Zagreb se inwoners sit saans die sypaadjiekafees vol. K & K Milcec (www.facebook.com/pages/KK-Mil%C4%8Dec/121726277912524?_rdc=1&_rdris) ‘n boheemse koffiekroeg wat ‘n ontslape skrywer herdenk, bedien koffie met karamel en glühwein in ‘n knus kamer waar jy omring deur boeke, kuns en sepia-foto’s sit. Otto & Frank (www.otto-frank.com) is sewe dae per week oop en is bekend vir geurige ligte middagetes en vlytbier.

As jy terug by die huis met Kroasiese kos wil eksperimenteer, kan jy alles wat jy gaan nodig hê by Crop (www.shop-crop.com) aanskaf: seesout met Mediterreense speserye of swarttruffel, olyfolie gegeur met roosmaryn of pampoenolie, wildeappelasyn, kastaiingheuning of vyekonfyt.

Dis in die hart van Zagreb wat ‘n mens agterkom dat die Kroasiërs hul nuwe toekoms omarm en koester. Daar heers ‘n lewensvreugde wat lyk of dit onblusbaar is.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 21, 2019 by in Europa and tagged .