ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Hang uit by Harry’s Bar

First published in Die Burger, November 2017

Harry

So het die jong Harry gelyk – Illustrasie deur Hanlie Malan

Jy’t nog nie ‘n perske-bellini gedrink as dit nie by Harry’s Bar in Venesië, Italië was nie.

Nieteenstaande die naam is Harry’s Bar nie net ‘n kroegie nie – met sitplek vir sowat 30 mense by klein tafeltjies en met ‘n verdere ses kroegstoele – maar ‘n volwaardige restaurant.

Hoe het Harry’s Bar begin?

Giuseppe Cipriani is in 1900 in ‘n arm familie gebore. Sy ma het vir Italiaanse arbeiders kos gemaak om die pot aan die kook te hou terwyl sy pa ‘n messelaar was.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Giuseppe by Molinari Banketbakkery – hulle bestaan tot vandag toe en doen al meer as vyftig jaar lank besigheid – werk gekry;  later toe die eienaar na die oorlogsfront is, het hy die bakkery bestuur.

Na die oorlog het Giuseppe Cipriani as kelner van die een hotel na die volgende – in Frankryk, België en Italië – geswerf.

Op ‘n dag het die eienaar van die Hotel Europa, net ‘n paar meter vanwaar Harry’s Bar vandag is, ‘n opmerking teenoor Giuseppe gemaak. Dit het daarop neergekom dat hy voorstel dat Giuseppe ‘n kroegman moet word aangesien hy presies weet hoe om met kliënte te werk; boonop hou hulle van hom en hy was goed in tale.

Giuseppe het egter nie die geld hiervoor gehad nie.

In Februarie 1931 het ene Harry Pickering – aan wie hy lank terug geld teen sy eie beterwete geleen het – die geld, plus ‘n aardige bedraggie ekstra, teruggebring.

Giuseppe Cipriani het nie gras onder sy voete laat groei nie. Sy vrou, Giulietta, het spasie in ‘n ou pakhuis vir tou opgespoor.

Op 13 Mei 1931 het die deure van Harry’s Bar net om die hoek van St. Markus-plein in die hart van Venesië oopgemaak. Die oorspronklike kroeg was vyf meter by nege meter en dit was naby genoeg aan al die deftige hotelle wie se gaste die eerste kliënte was.

Arrigo Cipriani, Giuseppe se seun, is ‘n jaar later gebore.

Na 81 jaar in die besigheid moes die Cipriani-familie in 2012 as gevolg van miljoene ponde se skuld Harry’s Bar aan ‘n beleggingsmaatskappy van Luxemburg verkoop.

Wie was Harry?

Harry Pickering was ‘n Amerikaanse student wat saam met sy tante na Venesië gereis het. Hy was ‘n alkoholis en die veronderstelling was dat die tyd wat hy in Venesië sou spandeer, hom sou genees.

In Venesië aangekom, het hy egter die meeste van sy tyd in Hotel Europa – waar Giuseppe Cipriani kelner was – gespandeer waar sy tante en dié se hond saamgekuier het.

Daar word vertel dat Harry en sy tante na 2 maande ‘n uitval gehad het. Sy’s vort, maar die hond het agtergebly. Harry se geldkraantjie het met haar vertrek opgedroog.

Kelner Giuseppe het vir Harry 10 000 Italiaanse lire geleen. Lank na hy hoop verloor het om sy geld terug te kry, het Harry Pickering een dag uit die bloute opgedaag. Hy het gekom om die 10 000 lire terug te betaal en om sy waardering te betoon, het hy ‘n ekstra 30 000 lire daarby gevoeg.

“Nou kan jy die kroeg van jou drome oopmaak.” het Harry blykbaar gesê. “Dit kan Harry’s Bar genoem word. Glad nie ‘n slegte naam nie, né.”

Wie was al almal by Harry’s Bar?

As almal wat verklaar het dat hulle op die eerste dag wat hul oopgemaak het, by Harry’s Bar was, sou die plek so groot soos die hele St. Markus-plein moes gewees het, het Giuseppe Cipriani jare terug gespot.

Hy het ook gespog dat hulle in die 1930’s op dieselfde dag aan Koning Alfons XIII van Spanje, Koningin Wilhelmina van Holland, Koning Paul van Griekeland en Koning Peter van Joego-Slawië – by verskillende tafels – middagete bedien het.

Oor die jare het dramaturge soos Noel Coward, Truman Capote en Somerset Maugham, skrywers soos Ernest Hemingway, akteurs soos Charlie Chaplin, Woody Allen en Nicole Kidman, filmmakers soos Orson Welles en Alfred Hitchcock, die Woolworth-erfgenaam Barbara Hutton, die magnaat Aristotle Onassis, Baron Philippe de Rothschild en die kunsversamelaar Peggy Guggenheim – wie se huis in ‘n kunsmuseum omskep is en in Venesië besoek kan word – Harry’s Bar besoek.

Hoe maak ‘n mens ‘n perske-bellini?

Giuseppe Cipriani het met die oorspronklike idee van ‘n perske-bellini by Harry’s Bar vorendag gekom. Dié drankie is na die 15de-eeuse Venesiese skilder, Giovanni Bellini, vernoem.

Vir die perske-bellini by Harry’s Bar word daar nie sjampanje gebruik nie, maar prosecco soos Italiaanse vonkelwyn bekend staan.

Die prosecco, witperskemoes(puree) én die glase moet yskoud wees. Gebruik een deel witperskepuree by drie dele prosecco. Voeg ‘n bietjie suiker of suikerstroop by slegs wanneer nodig.

Moet nooit ‘n bellini met geelperskes maak nie, predik die webtuiste van Harry’s Bar. Of – behoede my – perskeschnaps byvoeg nie.

Die definisie van ‘n kroegtoonbank – volgens Harry’s Bar

  • ‘n Kroegtoonbank hoort net in ‘n kroeg. Nêrens anders nie.
  • ‘n Kroegtoonbank moet lank en laag wees.
  • Agter ‘n kroegtoonbank moet ‘n kroegman staan.
  • Die funksie van ‘n kroegtoonbank is om as buffer tussen oordrewe pronkerige – of skaam – drinkers en die kroegman te dien.
  • Die kroegtoonbank dien as toevlug en ‘n plekkie om te rus.

Die sielkunde agter ‘n restaurant- of kroegtafel en die eetgerei

‘n Restaurant- of kroegtafel moet nooit so hoog wees dat dit nodig is vir die klant om sy/haar elmboë te lig as hy/sy eet nie. Jy moet ten alle tye gemaklik kan sit.

As ‘n restaurant- of kroegtafel te hoog is, skep dit ‘n fisiese of sielkundige versperring tussen die mense wat om die tafel sit.

As ‘n te hoë tafel in ‘n vertrek met ‘n lae plafon gebruik word, kan dit die gaste laat voel asof die vertikale dimensies van die kamer hul vasdruk. Vandaar die laer tafels wat in die kroeg gebruik word en die ietwat hoër tafels in die restaurant by Harry’s Bar – die plafonhoogte verskil met twintig sentimeter.

‘n Ronde tafel werk altyd die beste.

Volgens Harry’s Bar is messe en vurke oor die algemeen te swaar en lomp. Dus gebruik hulle by die restaurant slegs eetgerei – messe, vurke en lepels – wat vir nageregte geskik is.

Hoe kies ‘n mens die regte kleur tafeldoek?

Jy moet nooit uit die oog verloor dat ‘n tafeldoek op die gesigte van die mense wat by die tafel sit, weerkaats nie.

Jy sal nooit ‘n aantreklike vrou sien wat rustig by ‘n tafel met ‘n groen tafeldoek sit nie, aldus Harry’s Bar. Niemand wil tog groen om die kiewe lyk nie.

Net so sit mans nie graag by ‘n tafel met ‘n pienk tafeldoek aan nie.

Daarom gebruik Harry’s Bar slegs ivoorwit of liggeel tafeldoeke.

Die belangrikheid van die regte wynglas

‘n Wynglas moet nie te swaar of te lig wees nie. ‘n Wynglas moet te alle tye deurskynend wees. Die lip van die glas moet dun en gerond wees.

Alle ander variasies skep dalk atmosfeer, maar is eintik nie aanbevole vir wyndrink nie. Só sê Harry’s Bar.

Lees meer oor Harry’s Bar en luister na die spyskaart wat in Italiaans gelees word: www.harrysbarvenezia.com

Harry’s Bar, Calle Vallaresso 1323, 30124 San Marco, Venesië

Daagliks oop van 10h30 tot 23h00

2 comments on “Hang uit by Harry’s Bar

  1. VANESSA WILLIAMS
    July 31, 2019

    ilse that really is a stunning photo of you!!!

    • ilsez
      July 31, 2019

      Taken quite a while ago… I’ve aged since, giggle giggle. Thank you!

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 30, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .