ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Laat Lutzville agter en mik suid

First published in Die Burger, April 2015

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Stop vir ‘n seekos en ‘n geselsie

Na ‘n besoek aan die meer afgeleë deel van die Weskus – net suid van Groenriviermond om spesifiek te wees – is die pad wat die minste tyd sal neem om terug in die Skiereiland te kom, eers die R363, dan die N7.

Vergeet daarvan om jou terug te haas; sit ‘n dag of twee uit om kuier-kuier kus af te ry.

Vanaf Brand se Baai en/of Gert se Baai ry jy eers Koekenaap raak. Ook net-net, want daar gaat nie veel op Koekenaap aan nie.

O koek, hier kom ‘n ding

Daar is nie eenstemmigheid oor hoe Koekenaap sy lekkersê-naam gekry het nie. Dit kon ‘n Khoi-woord, wat beteken waar die ram geval het, gewees het. ‘n Ander verduideliking lui dat een Duitse sendeling ‘n ander misverstaan het toe hy “guck hinab” (dit beteken daaronder) geantwoord het op ‘n vraag waar die vallei lê eerder as wat die naam daarvan is.

Draf by die Sentra Mini Market langs die poskantoor – nie dat jy dit kan miskyk nie – in vir ‘n koue koeldrank voor jy die langpad op jou tyd aandurf.

Loer na Lutzville se mooie kerk – soos so baie ander plattelandse dorpies regdeur Suid-Afrika kan hulle ook hiermee spog. Vat nou die R362 in die rigting van Strandfontein.

Net buite Lutzville lê die wingerde groen; die plaashuise se tuine is welig; en die murasies hier en daar vra vir kiekies.

Afhangende van die seisoen kan jy by Strandfontein walvisse of blomme sien.

Strandfontein Karavaanpark is uiters gewild; dit sal maar knor om binne seisoentyd ‘n staanplekkie hier te kry, sou jy nog ‘n dag of twee verlof hê. (Ek hoor dis nie meer deesdae die geval nie; maak seker voor jy planne maak of bespreek.)

Orals kan ‘n mens ook nou nie, helaas, inry nie; dus draai ons nie af by die speldepunt van Papendorp nie.

Papendorp lê by die mond van die Olifantsrivier. Ek lees na die tyd dat dit met hooggety moontlik is om met ‘n bootjie rivierlangs vanaf Papendorp tot by Lutzville te ry.

Hiert, jou doring

Die uitsig oor die baai van Doringbaai

Vanaf Strandfontein se afdraai tot by Doringbaai is dit teerpad. Doringbaai is prentjiemooi en die water blink turkoois tussen die bamboes. Persgeverfde klippe, kleurvolle malvas en ‘n skuit genaamd Skollie verwelkom jou by die ingang van die dorp.

The sun sets over Doringbaai and the lighthouse is bathed in soft light

Pinkie en l-a-a-a-a-a-a-angeraat

Doringbaai Vuurtoring is onbeman en ongelukkig nie oop vir die publiek nie, maar jy kan die allermooiste foto’s van die baaitjie, die ou hawegebou en die vissersbootjie teen die agtergrond van die lighuis neem.

DSC_1046

Koue Sauvignon Blanc en ‘n uitsig oor die see – die lewe raak nie makliker beter as dit nie

Op die kaai van die hawe in ‘n ou kreeffabriek is die proelokaal van Fryer’s Cove. Sou jy nog bestuur, kan jy sommer spoeg see se kant toe.

By die Cabin Restaurant kan jy op die dek van ‘n regte vissersboot sit en na die bamboes in die see oorkant die pad kyk.

Vanaf Doringbaai kan jy kortpad met die spoorlyndienspad langs die Sishen-Saldanha spoorlyn af ry. Daar is wel ‘n hek hoewel dit geredelik vir lede van die publiek met ‘n “gee daar ‘n ietsie” deur die hekwag oopgemaak word. By die tweede brug moet jy egter links draai; die volgende hek word glad nie meer vir deurry oopgemaak nie. (Maak seker die pad is oop; toe ek ‘n redelike tyd na die plasing van die artikel weer hierlangs gery het, was die pad nie oop nie.) 

Die pad wat weg van die spoorlyn af lei, skud tans jou derms los. Dis lanklaas geskraap en dis nie aanbevole dat jy dit met ‘n sedantjie ry nie. (Maak seker wat die huidige toestand van sake is.)

Wriemel jou neus by Lambertsbaai

As jy nie by Doringbaai ‘n happie genugtig het nie, kan jy by Lambertsbaai in die Lambertsbaai Hotel of by Weskus Kombuis aan seekos gaan smul.

Met die uitry by Lambertsbaai ry jy verby die immergewilde Muisbosskerm waar jy lánk vooraf moet bespreek en waar jy ‘n dag lank sou kon kuier.

Vroeër kon ‘n mens met die spoorlyn langs aanhou tot by Elandsbaai. Die pad is egter nou gesluit. Wat ‘n jammerte, want dit beteken dat jy heelwat ekstra tyd tot jou beskikking sal moet hê as jy by Elandsbaai wil aandoen.

En dis ‘n plek waar ‘n mens wíl aandoen. Nie net vir die ou Elandsbaai Hotel nie, maar ook omdat dit voel of tyd hier gaan stilstaan het. As een van jou passasiers ‘n branderplankryer is, sal jy die draai moet ry om by die baai se branders uit te kom. Branderplankryers praat sommer van e-baai (eintlik e-bay).

Druk jou neus Kaap toe

Met die ry swiep ons verby ‘n plaas genaamd Somergroen wat níé malsgroen vertoon nie; advertensieborde vir algemene handelaars by Sandberg sowel as Paleisheuwel; Het Kruis Stasie en ‘n afdraaibord na Droëryskloof. ‘n Handvol donkies, koeie wat wei, ganse op ‘n damwal.

DSC_0615

Net een in sy soort

Wat maak dat Leipoldtville met sy stil strate nog hier is? Met ‘n grote kerk daarby. En so netjies gehou word.

Dis blykbaar glad nie so stil as die Leipoldtvillers Kuierfees hou nie.

Die Leipoldtville Garage lyk of die gebou ‘n rol in ‘n fliek moet vertolk; die algemene handelaar – met twee yskaste op die onderdakstoep – is in 1898 opgerig.

As jou tyd aan’t uitloop raak, moet jy na Piketberg deurskiet en vandaar is dit redelik korte mette verby Moorreesburg, deur Malmesbury tot in die Kaap.

As die son nog nie naastenby water trek nie, kan jy ‘n draai in Redelinghuys gaan maak. Of dit vir ‘n ander dag laat oorstaan.

DSC_0480

Niemand weet waar ek skelmpies was nie…

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 25, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .