ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Tjil – en eet – in Chile

First published in Die Burger, March 2018

Chile is tjokvol lekkertes

mercado central in santiago, chile is 'n seekosmekka

Mercado Central in Santiago, Chile is ‘n seekosmekka

Seekos en vis is sinoniem met Chile. Per slot van sake het dié land meer as 4000 kilometer se kuslyn.

Met al die vars seekos wat deel van die Chileense lewenstyl uitmaak, is dit verstommend dat worsbroodjies (wat hier vienesa genoem word) amper nét so gewild is.

Warmbrakke in Chile

graffiti is orals in santiago en valparaiso te sien_ soms is dit patrioties, ander kere is dit allesbehalwe patrioties

Graffiti is orals in Santiago en Valparaiso te sien

Só bestel die Chilene worsbroodjies: especial is met mayonnaise; dinamico is met avokadopeer, Italiano is met tamatie, mayonnaise en avokado omdat dit die kleure van die Italiaanse vlag verteenwoordig, en completo is met elke sous waaraan jy kan dink.

trots chileens in die strate van die stad

Trots Chileens in die strate van die stad

Sou jy lus wees vir ‘n versnapering (once in Chileens, spreek uit onsê) en ‘n worsbroodjie geval jou nie, is daar altyd empanadas waaroor Chilene, en Argentyne, bereid is om vuis te slaan. Die gewildste vulsel vir hierdie pasteitjie is maalvleis met baie uie, hardgekookte eier en ‘n swart olyf (pasop vir die pit raakbyt).

Maak jou merk by Mercado Central

Mercado Central is nie só sentraal nie, maar dis wel binne loopafstand van die stadskern van Santiago, en naby aan die suidelike oewer van die Mapocho-rivier. Die staalstruktuur wat hierdie sentrale mark huisves, is in Engeland vervaardig en in 1868 in Santiago opgerig.

ola ola groet almal by die vis-, groente- en vrugtemark in santiago, chile

Ola ola groet almal by die vis-, groente- en vrugtemark

Die toeriste wat wel soontoe gaan, lê die besoek merendeels aan die seekosmark af. Daar is egter ook vrugte-en-groenteafdelings wat die moeite werd is om te besigtig.

by die mercado central is die seekos vars, die diens flink en die skale hang in gelid

By die Mercado Central is die seekos vars, die diens flink en die skale hang in gelid

Die seekosmark sidder met palings, haaie en salm asook oesters, mossels, gapermossels, krappe en garnale. Om nie van die reuse seekatte te praat nie. Alles várs.

Visspesies wat nie vir my herkenbaar is nie, knipoog uit bakke en hang aan hake. Die visverkopers vlek elke vis behendig terwyl hul oor en weer praatjies aankoop.

Pablo Neruda se kosinspirasie

Die einste mark is deur Pablo Neruda, die Chileense digter wat in 1971 die Nobel-prys vir letterkunde verower het, besoek. Dis seker ook na só ‘n besoek wat hy sy Ode aan ‘n groot tuna op die mark as deel van sy Odas Elementales (Elementêre Odes) geskryf het.

Neruda het tussen sy drie huise – deesdae fassinerende museums – met speelse dekor in Chile gependel. Een van die drie, La Chascona, is op ‘n klein heuweltjie in Santiago en binne stapafstand van die mark (en van Como Agua Para Chocolate Restaurant – lees verderaan).

Dit moes vir Neruda hartseer gestem het om die tuna leweloos op die marktafels te sien lê. Vir hom was die tuna ‘n “gestorwe koning” en ‘n “pikswart glansende getuie van die diepste nag”.

Dalk is dit ook waar hy aan seepalingso(e)p gesmul het wat hom genoop het om in Ode aan see-palingsop te dig: “In die stormagtige / Chileense / see / woon die rosige paling, / reusagtige paling / van sneeuwit vlees. / En in Chileense / brediepotte / al langs die kus, / is die so(e)p gebore, / dik en geurig, / tot ‘n seën vir die mens.”

Verder aan raak hy liries oor een van die bestanddele in die so(e)p: “Nou / neem jy / knoffel, / streel, eers / die kosbare / ivoor, / ruik / sy ontstoke aroma” (vry vertaal). Behalwe knoffel word garnale ook by die sop gevoeg tot dit na die “essensie van Chile” smaak. Aldus Neruda.

Die ongewoonheid van seepampoentjiesop

In plaas van dik vissoep sit ek aan vir see-egelsop by ‘n klein restaurantjie in die omringende donkerige gangetjies van die mark, eerder as by Don Augusto Restaurant wat volgepak met toeriste en sakemanne sit.

Die groen seepampoentjie met sy riffelrandjies wat ons soms plaaslik op die strand optel, is die skulp van die see-egel (sea urchin). In Chile word hulle egter so groot soos sopborde.

In Japan word dit uni genoem, maar dit leer ek eers later. Die oranje ‘kattongetjies’ wat, terwyl dit nog rou is, saam met vars koljanderblare in ‘n waterige sop (amper soos verdunde seewater) bedien word, is eintlik die voortplantingsklier van die seediertjie, maar dis beter om liewer nie daaraan te dink nie.

Dit smaak na see sonder dat dit na vis proe en dis so romerig soos ‘n oester. Dis ryk, tog lig. Dis eenvoudig héérlik.

Een van die Chilene by die mark vertel dat uni die voedseltipe is wat die rykste aan cholesterol is. Of dit waar is, weet ek nie (ek lees later 100 gram uni bevat 97% van die daaglikse voorgestelde cholesterolinname per volwassene), maar dit laat jou wel totaal versadig voel, hoewel nie op dieselfde manier as ‘n Kersete nie.

Op ‘n eienaardige – maar nie onaangename – manier voel dit of ek die rykheid van die uni tot in my vingerpunte kan voel, maar dit voel terselfdertyd geensins of ek ‘n swaar maaltyd genuttig het nie.

Sit aan – en tjil – by Santiago se restaurante

Azul Profundo is een van die beste informele restaurante in Santiago. Dis in die Providencia-buurt geleë.

‘n Boegbeeld begroet jou by die deur en binne voel dit asof jy op ‘n outydse boot sit. Jy’s omring deur visnette, verkykers van vergange se dae, skeepsroere en nog boegbeelde.

Daar is ses verskillende soorte ceviche alleen; ook salm, kalamari, krap en parmesan-seekosgeregte.

In die knus ruimte – met gegote kandelare en roosblare op die tafels – van Como Agua Para Chocolate verlustig ek my in ‘n krap-en-parmesaangebak. Net daarvoor alleen sal ek Santiago weer besoek.

Como Agua Para Chocolate is (Chileense-) Spaans vir Like Water for Chocolate en is geïnspireer deur die roman, en latere fliek, met dieselfde naam. Hulle streef daarna om dieselfde atmosfeer en tipe disse te skep as waarvan die resepte in die boek voorkom en wat op die silwerdoek uitgebeeld is.

Falabella hou ‘n wye reeks likeurs en Chileense wyne, sowel as pisco, aan. Pisco is ‘n tipe amberkleurige brandewyn wat in Chile en in Peru gemaak word. Pisco is die eerste keer deur die 16de-eeuse Spaanse setlaars gemaak.

Verder weg in Valparaiso

Valparaiso is naby genoeg aan Santiago sodat ‘n dagekspedisie hierheen onderneem kan word. Selfs al sien jy net Pablo Neruda se tweede huis, La Sebastiana, sal ek jou aanraai om op die bus soontoe te klim.

Eet by ‘n restaurantjie in die sinkplaatdorpie op die heuwel – daar is ‘n hele paar heuwels – waar La Sebastiana geleë is. Ry met die kabelkarretjie, of eerder kabelhyser in hierdie geval, na bo.

Onder in die dorp is ook ‘n mark met vrugte, groente, vleis en vis, maar dit sien plek-plek maar gehawend daar uit. Die Chilene agter die tafels en toonbanke was egter uit hul vel van blydskap dat ons as toeriste hier kom ronddrentel het en kon nie vriendeliker gewees het nie.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 8, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .