ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die Buffalo Rally: Wroemm wroemm by die see

First published in the Mossel Bay Advertiser, March 2013

Die koelste sonbrille by die Buff

Wat soek ‘n Bolandse vrou sonder balans – op twee voete, om nie te praat van twee wiele nie – hierdie afgelope naweek op Mosselbaai? Dis dan die redelik berugte Buff, samekoms van hardebaard drinkers, getatoeërde wildewragtigs en wielspin verslaafdes.

Ek sien vir jou en jy sien vir my

Eintlik was ek nogal altyd nuuskierig – vrek nuuskierig – oor hierdie tipe naweek. Van nuuskierigheid – eerder as ledigheid – is die tronke vol en die kerke leeg – sou my ma seker gemurmel het.

Groen Vulcan

‘n Sameloop van omstandighede het my hier uitgebring. ‘n Troue verder op teen die Tuinroete wat saamval met ‘n kuier aan Hessie Die Bosvrou, ‘n dekadelange vriendin. Aan’t herstel van ‘n rugoperasie is haar energie dit wat my goed sal doen.

Vat so, katvis

Ek't ook 'n kamera

Maar ek’t nie met die energie van die Buff reken gehou nie! Sommer Buff in kort – eintlik die Buffalo Rally wat al van toentertyd dateer en wat die afgelope paar jaar in Mosselbaai byeenkom. Lyk my die dorp verwelkom hul met ope arms; al is dit maar raserige klomp hierdie. Die Buffalo Rally word deur die Nomads Motorfietsklub van Kaapstad georganiseer, hoor ek; die Nomads skenk ruim geld aan verskillende welsynsorganisasies op die dorp; en hulle – sowel as individuele groepleiers – sorg dat dinge nie te erg handuit ruk nie.

Gooi 'n doughnut

 

Tot my teleurstelling – ek’s nou al erg opgewerk oor hierdie Buff en kan nie wag om dit te beleef nie – is dit Donderdagaand stil op die kusdorp met sy gematigde temperatuur. Te stil na my sin. Toe ons knap voor middernag sommer ‘n draai by die Punt gaan stap, is daar nie eers ‘n motorfiets in sig nie.

Grinnik

Selfs teen laatmiddag Vrydag gebeur daar nie veel nie. Die Buff blyk ‘n gerug te wees, begin ek vermoed. Hessie paai en beveel geduld aan; ek is nie oortuig nie. Al wat verby ons gesuiker gekom het, is ‘n grys bebaarde baaiker wie se Maltesie met sy eie bandana ewe kordaat voor by hom op die motorfiets sit.

Brrmm, brrmm

Dreadlocks

Alle goeie dinge kom na dié wat wag. Glo dit maar. Voor die son sak verskyn allerhande tweewiel gevaartes in Marshstraat. ‘n Lemmetjiegroen blits. Vlamme wat langs die kant af swiep. Fraiings aan handvatsels. ‘n Motorfiets-taxi met ‘n ou ballie agter die stuur. ‘n Bromponie hier en daar wat ook probeer spiere wys. Saaidkarre soos wat ek nog nooit gesien het nie.

Die manne se zef baadjies vertel elkeen ‘n storie op sy eie. Meer lapelwapentjies op een paneel as borsspelde in ‘n Vrystaatse tannie se juwelekissie. Gepraat van die Vrystaat – dit lyk of ‘n klomp van hierdie manne, of omies, daarvandaan kom. Die Buff is nie net vir ‘n klomp jong latte wat hulself petrolkop hou nie. Die Buff is vir ieder en elk wat ‘n baaik kan bekostig en wat nog woema in hul pype het. By wyse van spreke natuurlik.

Doughnut Ella

‘n Drankie of drie, vlamme wat blaas en ‘n geroesemoes in die straat

Kamera en al sak ons af na waar die meeste geraas vandaan kom. Hoe later, hoe kwater. Hier kook dit in die hoofstraat. Maar als steeds gemoedelik. Die manne in hul swart onderbaadjies – meestal sonder hemp; al het hul jare laas die gimnasium gesien – poseer soos mak lammetjies vir foto’s. Hul bult hul spiere, staan eenkant as dit nie hul beurt vir ‘n fotosessie is nie, en streel hul baarde.

Mosselbaai se hoofstraat lyk soos 'n toneel uit 'n fliek van Tarantino

‘n Vuurblaser tart vlamme op die sypaadjie. As ek ‘n tatoeërkunstenaar was, het ek hier kom idees vir ontwerpe steel. Elke af en toe draai iemand sy versneller oop om oordrewe trots met sy baaik te spog.

‘n Paar leepoë hou niemand terug nie 

Saterdagoggend is dit tyd vir ‘n optog deur die strate van Mosselbaai. Elke tweewieler is gepoets en die laaste dowwe plekkies met ‘n spoegie weggevee. Daar heers ‘n tasbare opwinding in die lug terwyl al wat leef en beef ‘n staanplekkie soek waarvandaan hul als kan bekyk. Vanaf Te Marquette tot bo teen die bult op staan die Mosselbaaiers en naweekbesoekers ingeryg.

Gewere en Rose

Hier kom hulle! Om die draai van Die Punt af. Groot en klein, oud en jonk, aan’t waai of koel soos komkommers – hier’s honderde motorfiets-entoesiaste. En ‘n Bolandse vrou wat om die beurt glimlag asof sy aan ‘n skyf waatlemoen kou en trane wegvee.

Exhale

Volgende jaar is ek weer hier! Hierdie keer sonder ‘n rugstut, sonder moet-gaan-lê – ek het nog maar net gehoor van toertjies by De Bakke wat tot láát aanhou. Ek wil weer die kentekens op die leerbaadjies van naderby beskou, die petroldampe ruik en bowenal die samehorigheidsgevoel beleef. As ek op sestig met my eie twee koel wiele na die Buff wil kom, sal ek op vyftig met ‘n bromponie moet begin oefen!

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 23, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .