ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Haas jou hierheen, smulpaap

First published in Beeld, August 2020

Kaapse bederfbestemmings vir smulpape

Die amuse-bouche by The Test Kitchen lyk soos ‘n stillewe en proe soos ‘n droomnagereg

Sou jy jouself as ‘n smulpaap beskryf? Hou jy van lekker eet?

As jy op die tweede vraag ja geantwoord het, moet jou antwoord op die eerste vraag ook ‘n onomwonde ja wees.

Die woord smulpaap is ‘n samestelling van smul en paap, ‘n ander woord vir pous. As jy gaan oplees oor waar die woord vandaan kom, sal jy raaklees dat daar vanmelewe geglo is dat net die kerkowerstes rojaal mag eet en drink. Vandaar die destydse nuutskepping. Dankie tog dis nie meer die geval nie!

In Kaapstad vier lekkerbekke hoogty. Maak solank ‘n lysie vir jou volgende besoek aan die Moederstad, die Boland en hul buitewyke.

In die hartjie van – en rondom – Kaapstad

La Perla (www.laperla.co.za) doen al van 1959 besigheid in Seepunt vanwaar jy vanaf hul terras oor die oseaan kan uitkyk. Dit wil gedoen wees!

La Perla in Seepunt doen al dekades lank besigheid

Vir dekades lank hang die wie’s wie al hier uit. Selfs Marlene Dietrich, Sophia Loren en Sting het al by dié Italiaanse restaurant met ou-styl kelners wat tafels grasieus – maar met ‘n houding! – bedien, skouers geskuur.

Eet Italiaans terwyl blinkertjielippe oor jou skouer loer of vir jou knipoog – by La Perla

Op die spyskaart verskyn pastas, seekos en nageregte soos crema catalana, zabaglione en tiramisu.

As jy een keer die voorreg gehad het om by The Test Kitchen (www.thetestkitchen.co.za) in Woodstock te eet, vergeet jy dit nooit weer nie. Ja, dis dúúr. Dit kos spáár. Dis egter ‘n een-keer-in-‘n-leeftyd ervaring.

Vandat hul deure geopen het, wen The Test Kitchen die een toekenning na die ander. Dis dubbel en dwars verdiend!

Met die oorvertel aan al wat leef en beef (want só liries gaan jy oor hierdie gastronomiese ervaring raak) gaan woorde jou heel moontlik ontgaan. Die geure en smake sal bly draal.

Waaroor gaan die bohaai? Geure soos heuning met ras el hanout (‘n Marokkaanse speserymengsel), porcini-brosbrood, truffeljellie, beet- of goue sout en ravioli met blomkool en kwarteleiers gee jou ‘n idee van wat jy kan verwag.

Terwyl ons nog in beroering na ons maaltyd gesit het, het die kombuispersoneel allemintige skinkborde met opgestapelde murgbene na binne gedra. Die murgbene word naglank in die pizza-oond gebak.

Dís die aandag aan detail wat The Test Kitchen hul benoemings besorg.

The Wild Fig spog met verskeie disse – soos Griekse lam met ment in filodeeg – waarvoor gaste al dekades lank terugkeer

Hoewel The Wild Fig (www.thewildfig.co.za) op die Valkenberg-landgoed in Observatory slegs ‘n kwartier se ry vanaf die middestad is, voel dit vir jou of jy vér van die stadsgedruis is. Vir dekades kom lojale klante reeds terug vir The Wild Fig se alombekende hoofgeregte soos lemoeneend met Van der Hum-sous en Griekse lam in filodeeg wat met mentjogurt bedien word.  

Halfpad tussen Kaapstad en die Boland

Vanaf De Grendel (www.degrendel.co.za) se gemaklike stoep kyk jy al die pad vanaf die noordelike voorstede tot waar Tafelberg in sy volle glorie pryk.

Ek belowe ek het nog nie een van De Grendel se borde gegaps nie, maar ek het al opgehou tel hoeveel keer die versoeking daar was

Tafels in dié elegante restaurant word gedek met die mooiste borde in menseheugenis. Of so voel dit vir my. Dit herinner aan die VOC-borde van weleer, maar die Graaff-familiewapen pryk hierop. Die begeerte om net een die pad na ‘n handsak te laat vind, moet teen wil en dank bestry word.

By De Grendel is verskillende spyskaarte beskikbaar. ‘n Terg-jou-Tong aptytwekker bestaan uit twee Namibiese oesters en ‘n glas Méthode Cap Classique; as hoofgereg is die varkvleistrio, en as nagereg die sjokolade met soutkaramel, veral gewild. Die sjefs by De Grendel gaan jou, tot jou groot genot, aan bestanddele bekendstel waarvan jy bes moontlik nog nooit gehoor het nie.

Soos by De Grendel, is daar twee trekpleisters – die uitsig en die uitmuntende disse op die spyskaart – vir ‘n besoek aan Mariella’s Restaurant (www.capaia.eu/restaurant/) op die Capaia-landgoed tussen Philadelphia en Durbanville. By Mariella’s kry plaasprodukte ‘n moderne of internasionale kinkel sodat die disse wat voor jou neergesit word, kontemporêr, tog steeds trooskos, is. Luister na die kelners se aanbevelings – hulle weet waarvan hulle praat!

Moenie huiwer om Homespun by Matt (www.homespunbymatt.co.za) in Bloubergstrand te betree nie.

Van buite sal jy nooit raai wat binne by Homespun op jou wag nie

Van buite lyk dit so ‘n bietjie soos Aspoestertjie voor sy kristalpolfyne aangetrek het. Binne wag ‘n maaltyd op jou wat jy baie moeilik enige ander plek in ons hele land nagedoen sal kry. Sjef Matt Schreuder het by verskeie Michelin-restaurante wêreldwyd sy ondervinding opgedoen. Dit wýs – en jy kan dit proe – op jou bord!

By Castella Amare in Melkbosstrand sit jy amper op die strand

By Castella Amare (kyk op Tripadvisor) in Melkbosstrand sit jy amper óp die strand. Die see is ‘n klipgooi weg; die porsies seekos is ruim (daar is burgers en pizzas ook) en daar is enkele Portugese geregte op die spyskaart.

Wyk uit na die Boland

Net die uitsig alleen is al genoeg rede om die Devon Valley Hotel in Stellenbosch te besoek

Die Devon Valley Hotel (www.devonvalleyhotel.com) – met drie restaurante – is ‘n goed bewaarde geheim. Weliswaar nie vir ‘n handjievol oud-Maties wat reeds in die tagtigerjare sommer by die swembad uitgehang het om kwansuis te studeer nie. Tóé was daar ‘n gemmerkat in die knus kroeg wat homself teen almal aangevly het.

Flavours Restaurant by die Devon Valley Hotel is bekend vir hul Kaapse cuisine; jy kan ook lekker pizzas op die stoep onder die bome eet

Die oorspronklike houtgebou is in 1947 opgerig; in 2003 en in 2008 is die Devon Valley Hotel opgeknap sonder om sy rustige atmosfeer in te boet. Deesdae kan jy by Flavours aan Kaapse cuisine weglê, by Cedarwood Lounge & Bar in sofas wegsink of onder die akkerbome op die Vineyard Terrace oor die Helderberg uitkyk.

Mulderbosch (www.mulderbosch.co.za), op die Polkadraaipad buite Stellenbosch, is net dié plek om in te loer vir ‘n vinnige pizza en ‘n glas topkwaliteit wyn. Kaas- en kouevleisborde sowel as burgers is ook beskikbaar.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 20, 2021 by in Afrikaans foodies.