ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Reis in Thai(land) was nie ‘n taai toffie

First published in Rapport, March 2020

‘n Besoek aan Bangkok net voor die pandemie het goed afgeloop en hou steeds die reismiere in bedwang

Hoe gemaak as jy ‘n uitnodiging as deel van ‘n mediagroep kry om na Thailand te reis terwyl ernstige reiswaarskuwings net-net begin kop uitsteek? Nie een in ons groep van sewe het gehuiwer om die geleentheid aan te gryp nie.

Die vlug vanaf Suid-Afrika na Thailand, met ‘n oorklim op Singapoer-lughawe, het glad verloop. Ál die vlugpersoneel was gemasker; slegs enkele passasiers het maskers opgehad.

Op hierdie stadium was daar 59 Covid-19 gevalle in Thailand. Een sterfte is aangemeld. 34 mense het reeds herstel. 

Die lewe in Thailand het normaal voortgegaan hoewel daar minder verkeer en amper geen toeriste was

Reeds met ons aankoms in Bangkok op 12 Maart 2020 het ons opgelet dat daar baie min toeriste te siene was. Dít in ‘n land wat in 2019 veertig miljoen toeriste gehad het, soos berig deur die Thailand Tatler.

Thailand is uiters gewild onder reisigers, juis omdat dié Asiatiese land só baie het om te bied, veel meer as net eilandvakansies.

Hoewel dit gelyk het of – volgens ons eie rowwe skatting – sowat 50% van die mense op straat maskers dra, het die lewe verder gewoonweg aangegaan. Daar was wel minder verkeer in die strate, het ons toergids ons meegedeel. Sy het ook verduidelik dat van die mense wat maskers dra, dit doen omdat die lugbesoedeling bokant ‘n sekere kerf, wat nie meer as veilig beskou word nie, gestyg het. ‘n Verdere feit is dat baie Thais nie maskers kan bekostig nie.

‘n Paar dae later was maskers orals uitverkoop, soos ook hier by ons.

Vanaf Bangkok is ons op 13 Maart na Ayutthaya, sowat 80 kilometer vanaf Bangkok. Ayutthaya was eens die hoofstad van die Koninkryk van Siam, soos Thailand eers bekend was.

Op Koh Samet-eiland was baie restaurante toe of heeltemal leeg, maar die diens was steeds warm en flink; boonop het ons ‘n asemrowende vuurwerkvertoning gesien

Hier het nóg minder mense maskers gedra; by die Ayutthaya Geskiedkundige Park met sy ongelooflike paleisruïnes en antieke Boeddhistiese tempels was ons bykans die enigste besoekers. Gewoonlik verdring mense mekaar hier vir foto’s, het ons gehoor.

Vir die volgende twee nagte het ons by die Thann Wellness Destination in die Bangsai-distrik oornag. Dit was ‘n salige tyd waartydens ons skaars bewus was van wat in die buitewêreld aangaan.

Op Sondag, 15 Maart, het ons na Koh Samet-eiland vertrek; drie dae later is daar aangekondig dat alle spa’s sowel as rolprentteaters, gimnasiums, kroeë en sportstadions gesluit moet word.

‘n Mens kan ‘n jaar in Bangkok spandeer en nog steeds sal jy nie uitgekuier wees nie

Op 15 Maart het die Bangkok Post in sy hoofberig die tekort aan maskers in Thailand gedek. Op 16 Maart het die Bangkok Post voorspel dat tussen 5 000 en 7 000 restaurante in Thailand in die komende jaar hul deure sal moet sluit.

Op Koh Sahmet-eiland was daar enkele ander toeriste saam met ons by die Paradee Hotel; baie van die restaurante op die res van die eiland was toe. Tydens aandete en ‘n vuurvertoning by die Ploy Talay Restaurant, een van ‘n rits eetplekke op die strand, kon ons ons net probeer voorstel hoe dit normaalweg hier sou lyk. ‘n Mens se hart het uitgegaan na die Thais wat in die toerismebedryf werk wat nou sonder ‘n inkomste sou moes klaarkom. Toerisme is een van Thailand se hoofbronne van inkomste.

Op 17 Maart het ons groep joernaliste weer na Bangkok teruggekeer. Op die oog af het daar nie veel in die stad verander nie. Die blommemark wat 24 uur van die dag besigheid doen, was steeds laatnag ‘n miernes van bedrywigheid.

Orals waar jy gaan, is handsaniteerder binne reikafstand geplaas. Jy is vriendelik versoek om dit te gebruik, of jy nou ‘n hotel, restaurant of winkel betree. By die ingang van inkopiesentrums is almal se temperatuur gemeet alvorens hulle verder kon gaan. As jy nie koorsig was nie, is ‘n plakkertjie op jou klere geplak om te wys dat jy reeds getoets is.

Op 19 Maart het ons huis toe gevlieg. Dit het amper surrealisties gevoel. Jy voel of jy terugkeer na ‘n wêreld waarin so baie dinge verander het terwyl jy weg was. Dit voel ook so ‘n bietjie of jy midde-in ‘n fliek is. Die regte lewe was nog nooit so bisar nie.

Thailand het van die begin af proaktief op die pandemie gereageer

Op Saterdag, 21 Maart, het die Thailand Ministerie van Openbare Gesondheid 89 nuwe gevalle van Covid-19 aangekondig. Dit het die totaal van Covid-19 gevalle tot 411 opgestoot. Daar is steeds nog net een sterfte aangemeld. 44 mense het reeds herstel.

Statistieke verkry van: http://www.who.int/thailand/emergencies/novel-coronavirus-2019/situation-reports

Meer inligting oor Thailand

  • Kontak Tourism Authority of Thailand (TAT) in Johannesburg: 011 463 8195
  • Kyk na Amazing Thailand – South Africa op Facebook

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 14, 2021 by in Asië.