ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Sibis Mouton se lewe is ‘n lied

First published in Die Burger, March 2015

20181208_215346

Om met Sibis Mouton te gesels, is so inspirerend dat jy sommer die hele wêreld wil aanvat as jy by haar uitstap. Wat ‘n seëning om soveel positiwiteit te kan uitstraal; soveel passie vir die lewe, die natuur en alles om jou te kan hê; en die begeerte te koester om dit met ander te deel.

Vandaar haar outobiografie, Journey to Joy – World Champ At Last , wat nou op die rak is. Dit was ook vir haar ‘n lewensreis tot waar sy vandag is. Op die reis het sy saam met dolfyne in die Miami Keys geswem, die Masai Mara-migrasie in Kenia afgeneem, meer as veertig eilande besoek, teen vulkane uitgeklim en ‘n paar maande in Frankryk spandeer.

Dis by verre nie al nie. Sibis Mouton het die Wêreld Ysterman-kompetisie (of is dit in hierdie geval die Ystervróú?) vir veterane op die ouderdom van 44 gewen. Sy wóú ‘n wêreldkampioen wees en sy het gesorg dat sy daardie doelwit verwesenlik.

Verder het sy Suid-Afrika op internasionale vlak in drie verskillende sportsoorte verteenwoordig: tweekamp, driekamp en moderne vyfkamp (swem, hardloop, pistoolskiet, skerm en perdry). Sy was op 38 kapteine van die elite Nasionale Springbokspan wat in 1993 na die wêreldkampioenskappe in Manchester, Engeland is.

Deesdae maak hierdie doktor (Sibis doseer Wiskunde by CPUT) en praktiserende gedragskinesioloog opslae met haar boek, Journey to Joy. Lewis Pugh het sy kopie ingepak op sy onlangse reis na Antarktika; en Hillary Clinton se kantoor het al laat weet dat sy die boek inspirerend gevind het. Inspirerend is dit beslis.

Die volgende stap met die boek is hopelik om motiveringspraatjies te lewer, deel Sibis my mee. En daarvoor is Journey to Joy, en dit wat Sibis al beleef en geléér het, uiters geskik.

Sibis se pad na en van spiritualiteit het in 2000 begin. Sy is in so ‘n mate beseer dat sy nie haar sport soos vantevore kon beoefen nie. Op daardie stadium van haar lewe was dit amper al wat haar laat tiek het.

‘n Plaaslike kinesioloog het haar gehelp en in die proses bevind dat haar liggaam se geheuebank haar kortwiek. Sibis se belangstelling is geprikkel – na sy ‘n lesing van Sue Myers, ‘n Amerikaanse kinesioloog en spirituele heler, bygewoon het en haar persoonlik ontmoet het, het sy self Myers se kursus by die Breakthru Institute in Florida voltooi en praktiseer deeltyds as kinesioloog. Sy léér jou dat die lewe wónderlik is.

“Was die lewe twintig jaar terug vir jou ook so wonderlik as nou?” vra ek, deels omdat ek stilweg wonder hoe sy ouer word hanteer. Onomwonde antwoord sy: “Já! Dit was net ‘n ander fase van my lewe. Ek het geóéfen. Ek was sterk. Táf, het Eben Human daardie tyd gesê. Hy sou my oorlog toe vat.”

En nou? Wat maak die lewe nóú ‘n lied? Sibis borrel oor van planne en idees. Sy is oppad om vir die negende keer die Seychelles te besoek. Sy is mal oor die see – vandaar haar voorliefde vir eilande, want jy kan roei, swem, hardloop en met ‘n bikini fietsry sodat jy die son op jou vel kan voel.

Met hierdie besoek gaan sy haar 49ste eiland aftiek. Die 50ste eiland gaan Robbeneiland wees, lag sy ingenome. Dáár gaan sy saam met goeie vriende vonkelwyn drink en die lewe vier.

Elke dag hou iets goeds en lekkers in. As die naweek kom, gaan sy perdry in Kleinmond. En ‘n mens sou sweer sy’t die lotery gewen, want sy lyk so opgewonde oor die vooruitsig van ‘n naweek in die natuur. Saam met mense en terwyl sy oefening inkry. Carpe diem word deur Sibis Mouton uitgeleef. Want dis wie sy ís.

Waar jy ook al Journey to Joy oopslaan, leer jy iets.

Hoe hoër jou bewustheidsvlak van die lewe is, hoe gelukkiger is jy. Om ‘n hoë vlak van bewustheid te bereik, moet jy integriteit hê en met ‘n sagte hart met mense omgaan.

‘n Artikel uit Die Burger word ook in die boek aangehaal. In die sestigerjare het daar in Bukoba, Tanzanië ‘n lagepidemie uitgebreek. Die kinders het gelag; die ouers het gelag; dit het oorgespoel na naburige dorpe waar almal onophoudelik gelag het.

Lateraan was die mense móég gelag; hulle het flou geval van te veel lag; hulle het dehidreer. Die Rooi Kruis moes ingeroep word. Sowat agtien maande later het die giggels opgedroog. Volgens Die Burger was dit die langste lagepidemie in Afrika.

“Is dit nie wonderlik nie?” lag Sibis saam. Dis belángrik om te lag. Dit stel endorfiene vry en endorfiene laat ons góéd voel. Wat ons ‘n onversadigbare lus vir die lewe gee. Dit wat Sibis Mouton in oormaat het. En lééf.

Skaf die boek aan:
·        Journey to Joy – World Champ at last – deur Sibis Mouton – is verkrygbaar by www.modjajibooks.co.za/titles/journey-to-joy-world-champ-at-last/ en www.loot.co.za/product/sibis-mouton-journey-to-joy/gcnw-3108-g7a0
·        ISBN 978-1-920590-87-1
·        Lees meer van Sibis Mouton en Journey to Joy by: www.zest4life.co.za

 

·        Sibis Mouton is beskikbaar om mense oor haar boek en haar filosofie oor die lewe toe te spreek. Sy is bereid om gratis by skole op te tree. Kontak haar by sibismouton@zestforlife.co.za

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 11, 2018 by in Iemand - of iets - wat my fassineer and tagged .