ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Styl vir elke kampplek

First published in Die Burger, May 2017

Lekka Ou Jan is eerste in die ry

Lekka Ou Jan is eerste in die ry

(Since this article has been published some details might have changed)

Soos die jaar begin aanstap, het Jan Rap en sy maat soms ‘n vinnige wegbrekie nodig om batterye te herlaai ten einde opnuut op werksladings te fokus.

Kappityt in Kleinmond

Die strand by Kleinmond het al blouvlag-status verwerf; jy kan op jou strandhanddoek sit en walvisse kyk; en daarna vér op die wit sand gaan stap.

Aaa, dis die ene fynbos as jy by Kleinmond Karavaanpark inry. So knie- na bekkenhoogte – ek draai summier die venster af om diep in te asem. By die hek is dit stil behalwe vir ‘n boepens worshond wat verwelkomend blaf. Kom in, kom in – ons hou van gaste en ek wil jou gou my storie vertel. Ek woef sommer terug om te wys ek voel nou welkom.

‘n Stroompie murmel hier en daar; varings rank tussen die fynbos; voor jou is die see en agter jou ‘n piek van die Perdeberg. Dis ‘n skamele honderd meter se stap na die gholfbaan as jy lus is om ‘n hou te gaan slaan.

So met die geur van fynbos gemeng met seelug, mymer ek oor die seebries, die oop ruit … en haarstyle. As Kleinmond Karavaanpark ‘n haarstyl was, was dit ‘n stylvolle – maar nie te gestileerde – Franse vlegsel, met sulke plesierige slierte wat wys dat dinge hier reg verloop, maar dat dit geensins pret inhibeer nie.

Stel jou visier op Kogelbaai/Korrel na Kogelbaai

Teen die tyd wat jy al langs Clarens-rylaan vanaf Gordonsbaai na Kogelbaai (of Koe-oe-oelbaai soos dit onder die studente bekend staan) gery het, is jou siel al gelaaf deur die uitsig oor Valsbaai – al die pad tot by Simonstad as jy dit op ‘n mooi dag tref. Rol die venster af en adem diep in; laat die wind deur jou hare swiep.

Vanaf Gordonsbaai strek die pad al langs die see af en die uitsigte is tot aan die ander kant van die baai

Vanaf Gordonsbaai strek die pad al langs die see af en die uitsigte is tot aan die ander kant van die baai

Vanaf Gordonsbaai kan jy seelangs vir atmosfeer ry of bo om vir gemak en ‘n vinnige verbyskiet tot waar dit voel of die regte Clarens begin.  Van daar ry jy verby geplaveide uitkykpunte, Steenbrasriviermond (kyk vinnig links en regs) al langs die mooie pad tot by Kogelbaai se wit strand waar die branderplankryers uithang. En waar daar– na ‘n baie tragiese insident waarin ‘n jong branderplankryer sy lewe verloor het – haaikykers aan diens is.

Min mense weet dat net neffens waar branders gery word, ‘n skeepswrak, die Colebrook, lê. Die Colebrook het in 1778 in een van die Kaap se berugte storms gesink. Die skip is meestal toe onder sand behalwe as die noordwestewind stormsterk waai – dan steek daar enkele kanonne bokant die sand, maar onder die water, uit.

Sjoe, 'n uitsig oor die see en 'n berg wat sy voete natmaak

Sjoe, ‘n uitsig oor die see en ‘n berg wat sy voete natmaak

Die uitsig is ‘n voorsmakie, so ‘n aptytwekkertjie van dit wat jy sommer so vanuit jou tent kan sien as jy in die minder boomryke deel kamp. By Kogelbaai Oord sit jy met jou voete in die sand met ‘n allemintige klont rots aan Rooi-Els se kant van die strand en ‘n kuslyn met in- en uithamme aan die kant van die Strand se strand. Die berge keer meestal die wind weg.

Sou jy aanry na Rooi-Els – van Gordonsbaai tot by Rooi-Els is twintig kilometer – kan jy binne vier mure ‘n koue skuimkop gaan drink; sou jy nog ‘n ent verder petrolpedaal intrap, kan jy by Hook Line and Sinker vars vis gaan eet as jy (of die wederhelf) nie self ‘n blinklyf uitgetrek kry nie.

Oppad soontoe ry jy eers verby ‘n dagkampeerplek met ‘n getypoel; dan verby Klippertjies waar lekker kreef geduik kan word (op die bittermin dae wat daar deesdae geduik kan word); daarna moet jy by ‘n steil, klipperige pad afklim as jy by Manganese, ‘n ou mangaanmyn,  in die water wil klim.

Klaarblyklik het Kogelbaai sy naam daaraan te danke dat die rotse vir die Hollandse setlaars soos koeëls (kogels in Hollands) gelyk het. Kogelbaai herinner aan so ‘n tipe los Farrah Fawcet-haarstyl van láánk terug – dis mooi, maar sonder onnodige fieterjasies.

KOM ‘N ANDER DAG WEER

Gordonsbaai is na genoeg om sommer vir ‘n piekniek oorkant die kerkie naby die hawe of ‘n sonbrandsessie op Bikini Beach deur te ry. Sou jy eerder jou kop vir ‘n nag of twee wou neerlê, moet jy maar by Hendon Park Munisipale Vakansie-oord jou kanse vat.

Van buite lyk dit nie so uitnodigend as die ander plekke wat ek op dieselfde dag besoek het nie. Binne wil hulle my nie laat sien nie – slegs per afspraak en ook nie vandag nie; kom ‘n ander dag weer. Dis toe ook sommer die einde van hul storie. Sommer net so.

Ek lees wel op die kennisgewingbord by die kantoor dat daar ‘n ou skulphoop is. Probeer ‘n vlugtige blik vanaf die hek kry.

Op die inligtingsbord lees ek dat dit ook Duin 111 of Sandkop genoem word. Dis een van die laaste oorblywende duine aan hierdie deel van die kus. Die skulphoop sluit beendere van diere wat gejag is en skulpe van die seekos wat versamel is, sowel as klip- en beengereedskap, in.

Met die wegry, dink ek so skalks: as Hendon ‘n haarstyl was, dink ek dit was dalk ‘n mullet – so kort bo, en langer agter.  Dis wel naby aan die stad, maar ‘n entjie verder is daar meer interessante opsies.

Vanuit die geroesemoes van die stad:
·         Die vinnigste manier om tot in Gordonsbaai te kom, is met die N2. As jy vanuit die noordelike voorstede vertrek, neem die R300 na die N2.
·         Vanaf Gordonsbaai lei Clarence-rylaan (R44) jou al langs die Valsbaai- kus af na Kogelbaai en vandaar via Rooi-Els; hierna maak die pad ‘n draai en lei tot waar jy verby Pringlebaai deur Bettiesbaai na Kleinmond ry.  In 1998 is die R44 opgegradeer; dus is dit die hele ent in ‘n puik toestand.
·         By www.mountainpassessouthafrica.co.za/find-a-pass/western-cape/item/95-clarence-drive,-gordons-bay.html kan jy meer oor Clarence-rylaan lees en ook ‘n pragtige insetsel kyk wat vir jou presies wys wat om te verwag.
·         Sou jy eerste na Kleinmond wou ry, is dit vinniger om Sir Lowryspas te gebruik.

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 26, 2019 by in Die res van Suid-Afrika.