ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Suid, suider… spookhuis

First published in Die Burger, April 2013

DIE SUIDPUNT SE SPOOKHUIS

Die suidelikste vuurtoring loer na die suidelikste huis

Kleintyd het ons die wit huis met sy blou vensters en hortjies neffens die Kaap Agulhas Vuurtoring die spookhuis genoem. Ons het rillend vir mekaar stories vertel wat ons by ons ouers gehoor of sommer self opgemaak het.

Kort nadat ek vir Meg Cowper-Lewis ontmoet het, vra sy met ‘n stoute vonkel in haar oë of ek weet dat dit is wat baie mense haar huis noem. Sy verlustig haar van lekkerkry toe ek noem dat ek al van kindsbeen af self die huis so noem.

Die mees suidelike huis op ons kontinent

Hoe moet dit voel om in die mees suidelike huis op die kontinent van Afrika te woon, vra ek oor ‘n koppie tee met kondensmelk. En hoe het dit gebeur dat sy hier beland het, vis ek verder uit.

Die naam van die mees suidelike huis in Afrika (1)

Southermost – die regte naam van Meg se huis – is die eerste huis wat in L’Agulhas gebou is. Dis deur Michiel van Breda as ‘n familie-strandhuis opgerig. Die Van Breda-familie het ‘n groot deel van die suidelike Overberg besit; die ou familieplaas Zoetendalsvallei behoort steeds aan die familie.

Meg vertel kinderlik opgewonde dat Muriel van Breda haar een dag uit die bloute gebel het om haar mee te deel dat die fondasies op 18 Julie 1929 gelê is; dus deel Southermost ‘n verjaardag met Madiba, hoewel Madiba elf jaar ouer is.

In die vroeë 1940’s het Southermost weer van eienaar verwissel en daarna in 1959 het Meg se ouers, Freda en Tat Cowper, die huis aan die suidpunt van Afrika gekoop. Dis eers as strandhuis gebruik, weldra as permanente tuiste.

Oos wes, tuis bes

In 1996 het Meg hiernatoe verhuis. Sy’s absoluut passievol daaroor dat die huis nie van sy eertydse sjarme moet verloor nie.

So lyk Southermost van voor

Southermost – spel dit tog net reg, maan Meg, sónder ‘n “n” in die middel – is heeltemal uniek, maar terselfdertyd tipies Overbergs. Hekelkussings rus op ‘n verbleikte blomsofa; ‘n laslappiekombers is argeloos oor ‘n rugleuning gegooi; ou familieportrette loer jou agterna soos jy oor die krakende vloere loop. Kruissteek-kussings en –deurstoppers is nog deur Freda Cowper gemaak.

Meg se ma was ‘n regte “strandloper”, onthou sy met heimwee. Sy het ure op die strand deurgebring waarna sy teruggekom het met ‘n stuk dryfhout wat sy met ‘n tou agter haar aan huis toe sleep. Die volgende dag sou sy saag en skuur om die einste stuk hout te bewerk. Tafelpootjies het sy by pandjieswinkels opgekoop.In Southermost staan daar omtrent in elke kamer van haar bankies en koffietafeltjies rond.

Meg Cowper-Lewis is dolgelukkig op L'Agulhas

Boekrakke bult met boeke. Meg se pa was ‘n kranige leser. Sy enjinkamer met sy Lister is nog steeds daar. Op die ouderdom van 90 kon hy nog die slinger draai soos wat sy drie dogters hom nooit kon nadoen nie.

Êrens op ‘n rak lê Meg se plakboek oor haar lewe – van haar dae as lugwaardin by Sentraal-Afrika Lugdienste tot haar jongmeisie-eskapades. Jy’s baie bevoorreg as jy hierdeur kan blaai.

In Meg se kamer pryk ou fliekplakkate en ‘n kameel hou wag oor ‘n wierookhouer. In die gang hang treffende skilderye – een van die vuurtoring en een wat die argitektuur van Southermost uitbeeld.

‘n Huisie by die see

Beskut teen die wind in die binnehof

Op afskilfervensterbanke rus alikruk (of is dit nou alikreukel?) skulpe. Droë seewier is orals te bespeur. Soos dit ‘n huis betaam wat amper met een voet in die see staan, is die vensters toegewasem van die seelug.

Op ‘n windlose dag – aan die suidpunt waai die wind gereeld met mening – is Southermost geweerkaats in die stil water langs of in twee getypoele sommer hier reg voor.

Die beskutte binnehof waar jy heerlik in die sonnetjie kan bak of jouself in ‘n boek kan verdiep, herinner aan ‘n Meditterreense vissershuisie. Soveel te meer as jy na die verbleikblou vensterrame  en die wulpse potplante kyk.

blou-vensterrame-herinner-effens-aan-griekeland-1.jpg

In die tuin groei lang, regop aalwyne; in die lente is die veld oortrek met madeliefies; en in Maart spruit dieprooi Maart-blomme uit.Vanaf die fynbostuin het jy ‘n onverbeterlike uitsig op die Kaap Agulhas Vuurtoring. Meg het ook ‘n klein buitelug-skeepswrakmuseumpie met allerhande opdrifsels wat op die strand bymekaargemaak is.

Van Southermost se kamers word as bed-en-ontbyt uitverhuur. Die ontbyt wat bedien word, is vegetaries en sluit goeie ou boerebeskuit wat jy in jou koffie kan doop, in.

Hier’s geen geraasbesoedeling of besoedeling van enige ander aard nie; hier’s geen misdaad; hier’s nie die aanhoudende gelui van selfone nie – hier’s net totale rustigheid en die geluid van die branders terwyl die lig van die vuurtoring oor die tuin swiep. Dis eintlik allesbehalwe ‘n spookhuis, dié.

Sou jy daar wou gaan bly:
·       Besoek die webtuiste by http://www.southermost.co.za/
·       Kontak vir Meg Cowper-Lewis per e-pos by meg@isat.co.za; skakel haar huisnommer 028 435 6565  of kontak haar op haar sel by 073 026 8800 (slegs per sms).
·       Let wel: gedurende die wintermaande is die bed-en-ontbyt opsie nie beskikbaar nie. Badkamers is nie en-suite nie, maar private badkamers kan op versoek verskaf word. Rook – op die hele perseel – is streng verbode.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 22, 2018 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .