ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Te groot vir jou skoen(e)

First published in Rapport, October 2016

'n Allemintige skoen en grotte om te besoek

‘n Allemintige skoen en grotte om te besoek

 As jy nog die rympies wat jy kindertyd geleer het, onthou, kan jy dalk êrens op die pad tussen Ohrigstad en Hoedspruit begin prewel: Ou tante Viljoen, sy woon in ’n skoen; sy’t so baie kinders, sy weet nie wat om te doen; sy gee hulle pap sonder suiker en melk, en jaag hulle kooi toe met ’n latjie vir elk.

 Want daar, twintig kilometer noord van Orighstad, staan die Shoe Guesthouse. En dit lyk nes die een wat die meeste van ons in kinderrympie-boeke leer ken het.

Ron van Zyl, die eienaar en bouer, het die gediggie van ou tante Viljoen as inspirasie gebruik om die Shoe Guesthouse uit te dink.

Die bekendste Engelse weergawe – niemand weet presies hoe en waar dit ontstaan het nie, maar oor die eeue word dit al vir kleuters opgesê – klink so: There was an old woman who lived in a shoe, She had so many children, she didn’t know what to do; She gave them some broth without any bread;Then whipped them all soundly and put them to bed.

Die Shoe Guesthouse is nie opsigself ‘n gastehuis nie; dis ‘n yslike skoen van 20 m lank en binne-in kry jy deesdae ‘n museum, galery en winkel.

Buite lees jy: “Ou tante Koen het lank, lank gelede in die skoen gewoon… Die skoen is tans ‘n kunsgalery en ‘n museum van die Yster Tydperk. Vanuit die museum is die ingang na die grotte waarin die vierde dimensie uitgebeeld word. Donasies om bogenoemde te kan besigtig word aangewend vir gestremdes.”  Ook: “Old Lady of the Shoe – Born ? Died?”

Jy moet maar self besluit wat jy wil glo – of jou kinders wil wysmaak – aangaande ‘n ou tante met ‘n swetterjoel kinders wat kwansuis hier gewoon het.

Binne lees jy: “Die Ou Tante van die Skoen – Ons het geen idee waar sy vandaan gekom het nie, of waar sy die kinders gekry het nie, maar het glo baie groot gemaak. Maar wat ons wel weet van haar leefstyl, is dat sy ‘n onmaterialistiese, netjiese Christen dame was, wat alleen gebly het met haar versameling beelhouwerke nadat die kinders weg was. Haar grafsteen kan buite in die tuin gesien word.”

Groot kennisgewings waarsku dat jy nie op die skoen mag klim of op die bed in die ou slaapkamer mag lê nie.

Alhoewel dit nie jou kinders veel van taal- en spelreëls gaan leer nie, gaan dit wel hul verbeelding aanwakker. ‘n Gesig teen die muur waarvan dit lyk of die oë jou volg soos wat jy langs die heining af loop, gaan hul óf vermaak óf bang maak.

Akkommodasie is in chalets naby Die Skoen beskikbaar - Copy

Akkommodasie is in chalets naby Die Skoen beskikbaar

Binne-in die Groot Skoen is ‘n geskenkwinkeltjie en museum; daar’s ook ‘n teekamer. Dit kos R3 om deur die skoen te loop en met die trappe na bo te klim; dit kos R50 om twintig minute in die Christus-grot – neffens die Groot Skoen – te spandeer.  In die slaapkamer is ‘n gebreide lappieskombers op die bed en eenkant lê ‘n slaappop met ‘n hoepel om haar lyf.

Jy kan buite die Groot Skoen tee drink

Jy kan buite die Groot Skoen tee drink

Die grillerige beelde laat my egter besluit dat ek maar liewer nie die grot – wat die beeldhouer, Ron van Zyl, se visie van die spirituele wêreld uitbeeld – wil gaan besoek nie. Dié wat ek reeds in Die Skoen gesien het – soos ‘n Amasone-vrou met ‘n swaard en verwronge Bybelse gesigte – was genoeg.

Waar is die Groot Skoen? Op die Panorama-Roete op die R36, sowat 20 km buite Ohrigstad in die rigting van Tzaneen

In Ohrigstad self: Soek die vlakvarke by The Lamb and Ale

 

2 comments on “Te groot vir jou skoen(e)

  1. Pieter
    January 18, 2022

    Gaan besoek gerus die grot dit het n Geestelikke waarde wat jou lewe sal verryk

    • ilsez
      January 24, 2022

      Dankie vir laat weet, Pieter. Ek weet nie wanneer ek weer in daardie deel van ons land kom nie…

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 4, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .