ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘Staan vas’ – en toe sink die skip

First published in Rapport, February 2023

Vandag  ̶  presies 171 jaar gelede  ̶  op 26 Februarie 1852 het die troepeskip HMS Birkenhead by Danger Point, Gansbaai gesink. As gevolg van gebeure tydens dié sinking is die Seewet van “Vroue en Kinders Eerste” hierna in gebruik geneem, of so word daar geglo.

Wat, waar en hoe

In Januarie 1852 het die Birkenhead, met Robert Salmond as kaptein, vanuit Portsmouth, Engeland geseil. Aan boord was Britse soldate op pad na Algoabaai om by die garnisoene van die Agste Grensoorlog aan te sluit, sowel as van die offisiere se gesinne.

Op 23 Februarie 1852 het die Birkenhead vir ‘n kort wyle by Simonstad aangedoen. Hier het die meeste van die vroue en kinders die skip verlaat. Nege perde en bale hooi as perdevoer is opgelaai.

Om sesuur op 25 Februarie 1852 het die Birkenhead met tussen 630 en 643 passasiers vanuit Simonstad geseil. (Getalle wissel na gelang van watter bronne gebruik word.) Niemand is seker presies hoeveel bemanningslede aan boord was nie.

Ten einde so vinnig as moontlik in Algoabaai aan te kom, het Kaptein Salmond besluit om “aan die kus te klou” (die Engelse skeepsterm lui “to hug the coast”). Daar was geensins ‘n aanduiding dat enigiets verkeerd sou kon gaan nie; die see was stil en kalm.

Toe die Birkenhead verby Bettiesbaai vaar, het die kaptein gewonder of dit Kaap Agulhas (meer as 70 seemyl verder) was. Later is vasgestel die skip se kompasse is nie in Simonstad gekalibreer nie, soos moes gebeur het.

Die Birkenhead was 11 meter wyd en 63 meter lank. By ‘n vorige herdenking het Eerwaarde James Gray, ‘n geskiedenisentoesias wat gereeld praatjies oor historiese persoonlikhede en gebeurtenisse in die Overberg hou, juis na die Birkenhead as ‘n “drywende sardientjieblikkie” verwys.

Nietemin, die Birkenhead se bemanning sou die lig van die destydse Danger Point-vuurtoring kon sien soos wat dit drie keer elke veertig sekondes flits. (Die huidige vuurtoring is in 1895 in gebruik geneem.)

Soos James Gray verduidelik, is die Danger Point-vuurtoring nie verniet só gedoop nie. Daar het al 140 skepe tussen Danger Point en Cape Infanta gestrand. Dis dus geen wonder dat hierdie strook kus as die begraafplaas van skepe bekendstaan nie. As ‘n vuurtoring “praat”, moet ‘n mens luister.

En toe…

Naby Danger Point het die Birkenhead twee-uur in die nag onverwags ‘n rots geslaan. Juis omdat die water “soos ‘n spieël” was, was daar geen manier om vas te stel wat onder die water geskuil het nie.

Baie van dié aan boord was vas aan die slaap in hul kajuitbeddens. Volgens oorlewering het miljoene liter seewater die skip binnegestroom en baie van die passasiers het oombliklik verdrink. ‘n Mens kan jou verbeel hoe ander óf poedelnakend óf in hul pajamas paniekbevange na die dek gestroom het om op instruksies te wag.

Daar word vertel dat Kaptein Salmond dadelik opdrag gegee het dat die anker laat sak moet word, die soldate water uitpomp en die reddingsbote ter water gelaat word. Toe die kaptein besef hoe ernstig die situasie is waarin hulle hulself bevind, het hy ‘n verdere opdrag gegee dat die skip agteruit moes ry. Dit het egter ‘n groot deel van die skip laat oopskeur wat nóg meer water laat instroom het.

Boonop kon party van die minder as tien reddingsbote nie losgekry word nie. Slegs drie bootjies kon as reddingsbote ingespan word; dit het nie die twee groter bote wat elk 150 mense kon neem, ingesluit nie.

Vroue en kinders is eerste toegelaat om in die reddingsbote te klim.

Net voor die Birkenhead finaal gesink het, het Kaptein Salmond opdrag gegee dat almal wat kan swem, oorboord moes spring en na die bote moes swem.

Ene Luitenant-Kolonel Seton het egter besef dat as die manskappe dit sou doen, almal, insluitende die vroue en kinders, sou verdrink, aangesien daar nie genoeg plek op die reddingsbote was nie. Hy het dus opdrag gegee dat die soldate “vas moet staan”.

Die perde is losgelaat sodat hulle na die strand kon probeer swem. Agt van die nege perde het oorleef.

Toe die skip onder die water verdwyn het, het sommige van die soldate daarin geslaag om na die strand, sowat 5 km ver, te swem. Die meeste het egter verdrink of is deur grootwithaaie, waarvoor die gebied bekend is, opgevreet.

Dís die rede waarom daar tot vandag toe mense in die distrik is wat van ‘tommiehaaie’, eerder as grootwithaaie, praat. Die Britse soldate is soms Tommies genoem omdat die denkbeeldige naam Tommy Atkins klaarblyklik op vorms wat rekrute gewerf het, ingevul was.

Daar word geglo dat 193 mense van die Birkenhead oorleef het. Die res het almal gesterf.

Gerugte dat die Birkenhead goue munte ter waarde van 240 000 pond aan boord gehad het, het nog nooit gaan lê nie.

Ons onthou…

Sedert 2002, met die 150-jaar herdenking van die stranding van die Birkenhead, word hierdie tragiese gebeurtenis jaarliks op 26 Februarie in die Overberg herdenk.

Vandag, 26 Februarie 2023, vaar vyf bote vroegdag vanaf Kleinbaai-hawe, net buite Gansbaai, na die presiese punt waar die Birkenhead onder die see verdwyn het. Soos elke ander jaar word ‘n kort diens ter see gehou en blomme op die water gewerp. Oranje rookfakkels word ook aangesteek.

Later in die oggend vind ‘n gewyde seremonie met kransleggings by die Danger Point-vuurtoring plaas. Die seremonie word onder andere bygewoon deur lede (voormalige gevegsliniesoldate) van M.O.T.H. (Memorable Order of Tin Hats – ‘n internasionale organisasie wat na die Eerste Wêreldoorlog gestig is om hulpbehoewende veterane by te staan en gesneuweldes te vereer).

Soos Overstrand Toerisme inderdaad opmerk: “Mag ons nooit die dapper soldate vergeet wat teruggestaan het, selfs toe die skip besig was om te vergaan, sodat die vroue en kinders eerste in die reddingsbote kon klim nie.”

Leer meer:

  • Die herdenking van die sinking van die Birkenhead word elke jaar op 26 Februarie gehou. Kontak Gansbaai Toerisme vir meer inligting: gansbaaitourism1@overstrand.gov.za of 028 3848336 / 028 3848325
  • Salmonsdam-natuurreservaat in die Overberg is na Kaptein Robert Salmond vernoem.
  • Lees meer oor skeepswrakke aan die Overbergse kus: whalecoast.info/quoin-point-shipwrecks/

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 10, 2023 by in Oral(s) in die Overberg.